Gepubliseer in Joernaal

Onaangename tuiskoms met vrot yskas

Ons was vir drie weke weg van die huis. Behalwe vir die tyd wat ons in Kazakhstan gebly het, is dit die langste wat ons van ons huis af weg was.

Toe ons baie moeg na 15 ure op die pad in die huis instap, werk geen krag nie. Eers wil ek weet of manlief krag gekoop het en hy bevestig dat hy het. Toe toets hy by die bord en die krag bly uitskop. Daar is fout.

Terwyl hy die fout probeer opspoor, maak ek die yskas oop om die goed wat ingepak moet word in te pak. Om met een geweldige stank begroet te word.

Ons het een van die spieëlglas dubbeldeur LG yskaste wat aan die een kant ‘n yskas is en aan die ander kant ‘n vrieskas.

Die krag moes baie lank af gewees het want die yskas en die vrieskas het afgeloop. Nie lank genoeg dat die vleis vrot en vol wurms was nie, maar dit was af en het reeds begin stink. Die pakke groente en vrugtestukkies was opgeblaas van die vrotgeid. Blouerige kleur aan al wat sakkie en pakkie is.

Die yskasgedeelte het een bruingroen massa ingehad. En die kaas en ander produkte het vrot geword in bakke. Ek is nogal ongelukkig oor een van my bakke want die glasbakke met die houtdeksels het ‘n fortuin gekos. Die bak is skoon, die deksel het penisilin vlekke na die vrotword.

Die reuk aan die yskaskant was oorweldigend, ek kan dit nie beskryf nie. Daar het die vrotgeid reeds lank gestook, die vrieskas gedeelte moes eers ontvries voor die kon begin vrot. Gelukkig is ek die reuk van baie vrot vis en vleis gespaar!

Piepklein muggie-agtige goggas het in die yskas rondgevlieg.

Ek het meganies begin skoonmaak, want manlief het skielik baie besig by die bakkie geraak. Te besig om te help. Siestog, ek het hom nie kwalik geneem nie, hy kan nie opgooi nie.

Hy roep George erg, maar dit help niks. Het ek al van die episode met vrot vleis in die karavaan vertel?

Manlief se drie insulienpenne se boksie is gemuf, dit moes weggeooi word. Bykans R2000 skade – net vir die penne!

Nadat ek die goed in die swart sakke gegooi het, en die rakke wou skoonmaak, het ek die slegter verrassing gekry. Die hele yskas was vol nete. En dit het Afrikaanse spreekwoorde sommer letterlik gemaak. Jy weet, daardie ene: Iets klou soos ‘n neet.

Ek het my poegaai gesukkel om al die rakkies en laaie gewas te kry. Moes sommige van die rakke met ernstige gesukkel uitmekaar haal om by elke neet uit te kom.

Toe al die rakke mooi skoon gewas is, kom ek agter dat daar nete agter die lig is.

Manlief gaan haal sy skroewedraaier en maak los en die polistreenbakke agter die yskas se lig is vol nete. Wat so plak dat ek dit met moeiete los kry.

Ons maak die yskasdeure oop en toe elke keer as ons iets gedoen het, want die stank is oorweldigend, selfs nadat ek die yskas gewas het.

Toe hy die lig in die vrieskasgedeelte ook uit het, vou die deksel oop om nog nete ten toon te stel. Vasgeplak op ‘n sponsagte deksel. Honderde van die goed.

Teen daardie tyd is ek by ontsteld verby. En gee ek boedel oor.

Ek soek nie meer die yskas nie, ek gaan nie daardie gemors van die goed afsukkel nie. Die yskas is gedoem, ek soek ‘n nuwe een.

Los die yskas net so.

Die volgende dag (Sondag) na kerk vaar ons Hirsch in. Ons soek ‘n nuwe LG glasdeuryskas.

Die verkoopsman wil Samsung aan ons verkoop, ons weier om eers te gaan kyk. Nadat ‘n peperduur dubbeldeur opgepak het, is manlief teen alle Samsung produkte gekant. In Kazakhstan het die verkoopsmense ons ook afgeraai om Samsung te koop met hulle geradbraakte Engels:

Njet, njet, njet (Nee, nee, nee).

You buy once, you buy twice.

En dan het hulle Bosch en LG voorgestel.

Manlief se soort verkoopsmense.

Die verrassing was groot.

Daar is nie meer spieëlglas yskaste nie. Ek wonder waarom nie? Die naaste aan een is ‘n swart yskas, teen ‘n allamintige R35 000. Kleiner as myne.

Die nuwe soort het klopvensters. Jy klop en dan gaan liggie in yskas aan.

Dit beïndruk my glad nie, want die rakkie in die yskas se deur is baie breed. En hoofsaaklik vir biere bedoel. Dus sien ek nie werklik die inhoud van die yskas nie. Baie makliker om liewer die deur oop te maak. En die skokkende nuus: Hierdie yskaste se pryse wissel tussen R95 000 en R68 000. Dit gaan ons nie vir ‘n yskas betaal nie.

Ons kyk toe na ‘n nuwe soort yskas. Beko. Geen glasdeure nie, maar oulike konsepte. Ek hou van die een wat bo dubbeldeure het. En as jy oopmaak het jy rakke oor die wydte van die yskas. Daar kan goed nie agter verdwyn nie. En twee laaie vir die vrieskasgedeelte. Wat uittrek. Die een onder die ander een. Ek sukkel so bietjie met die gedagte, maar dit groei oor die naweek op my. Beter as ‘n diep vrieskas, beter as die smal rakkies van my vrieskasgedeelte. En die prys is billik, onder R25 000.

Ons bel versekering oor die skade, want hierdie yskas het sy dae gekry. Ek gaan dit nie verder skoonmaak nie.

Hulle sê dit is nie ‘n noodgeval nie, daardie gedeelte van die versekering maak eers Maandag oop. Manlief sê hy sal daaraan werk, maar teen tienuur, toe ek vra, het hy nog niks gedoen nie. Eerste dag op kantoor, besig met vergaderings.

Ek bel die versekering om die verrassing te kry. Hulle maak nie goggas skoon nie, betaal wel vir die skade aan kos in die yskas en vrieskas. Ek vertel ook van die peperduur penne wat ek moes weggooi.

Ek moet die yskas aanskakel om te kyk of dit werk.

Ek verduidelik dat dit onmoontlik is, die ligtepanele is verwyder en ek gaan nie die toets doen en die yskas beskadig nie. Sy sê dat hulle slegs tegnikus uitstuur as die yskas nie aanskakel nie.

Moes ek nie maar gelieg het nie? Dat een uitgestuur word? Maar nee, ek sal nie vir versekering jok nie.

Ek bel toe LG se tegnikus, wat volgens homself baie besig is. Kan eers Donderdag kom help. Ek verduidelik vir hom dat dit te laat gaan wees, die yskas vrot steeds. En die nete kan begin uitbroei. Ek soek die goed uit!

Toe bel ek LG se hoofkantoor, om ook te hoor dat hulle nie uitstuur vir vrot yskaste se skoonmaak nie.

Eers later dink ek daaraan om weer te bel en te vra dat een uitkom en die yskas uitmekaar haal. Ek sal was en dan sit die tegnikus weer aanmekaar.

Want, toe ek die sponsgedeelte skoongemaak het, sien ek dat daar nete agter die waaier is. En dit gaan ons nie kan uithaal nie. Ons het nie kennis van die binnegoed van yskaste nie. Daar was min werk oor, dit sou gou gaan.

Ek bel weer en die keer kry ek beter hulp omdat ek begin met julle wil my nie help nie. Kan julle my so help?

Sy boek ‘n tegnikus vir my en gee ook raad. Maak koeksoda met warm water aan en was die yskas uit.

Soos wat ek uitwas, begin die stank minder raak.

En sien ek kans om die nete met ‘n ou tandeborsel af te skraap.

Intussen bel die tegnikus wat ek die oggend gebel het om te hoor of ek reggekom het. En ek stuur vir hom foto’s van die yskas en wat ons gedoen het. Hy prys ons dat ons goed gedoen het, en verduidelik oor die foon hoe om die gedeelte met die waaier los te maak.

Ek bel manlief en vra dat hy vanilla essence koop op pad huis toe. Groot bottel. Ons yskas ruik al beter.

Toe manlief by die huis kom, moet hy daardie takie verrig. En staan ons voor ‘n yskas wat minder stink. Met sy staalstuktuur wat tot op die been skoongemaak kan word.

Tevrede dat elke liewe neet verwyder is, begin manlief die yskas weer aanmekaar sit. Soos wat hy losgemaak het.

Toe laat ons die yskas een dag so staan, deure toe, rakke nog nie teruggesit nie. Suurlemoenskyfies in ‘n bord op die vloer, vanilla essennce in bakkies op die borde.

Gister het ons die rakkies ingesit sodat ek op elke liewe rak ‘n bak vanilla essence kon sit.

Ons het die yskas aangesit en hy werk klopdisselboom. Geen probleem nie. Manlief is nou ook sommer ‘n LG tegnikus.

Gisteraand bel die tegnikus wat LG aangestel het. En lig ek hom in dat twee dae laat te laat i,s Ek kon nie vir hom wag nie. Die yskas sou dan opgevrot het.

Ook dat ‘n ander tegnikus my oor die foon geleer het om dit self te doen. My telefonies gelei het om die yskas uitmekaar te haal.

Ek wou die man daarvoor betaal, maar hy het geweier. As hy nie uitkom nie, kan hy nie betaling verwag nie. Watse goeie diens is dit nie? Hy verduidelik ook dar hy nie vir die stank kans gesien het nie, maar dit nie wou noem nie. Ek het sommer weer vertroue in Suid-Afrikaanse besigheidsmense.

Maar ek weier om enige kos in die yskas te sit.

Ek moet eers weet dat elke liewe neet uit is.

Ons het nou bottels koeldrank ingesit.

En ek kyk elke nou en dan of ek enige nete sien.

Daar is niks, ek weet ek het elke liewe een onder ‘n vergootglas gesoek.

Ek gaan eers teen Sondag kos in my yskas sit. Hy het genoem dat mens twee weke moet wag om die stank uit te kry. Ons yskas ruik reeds spanne beter. Sal Sondag eers toes en dan insit.

Maar, die episode het my iets geleer.

Al hoe die piepklein goggatjies in die yskas kon kom, was as hulle eiertjies op die blaargroente was. En dit uitgebroei het terwyl die temperatuur gunstiger geraak het.

Daar is geen manier waarop ek ooit weer blare gaan eet nie, insluitend kale wat kastig so goed is vir mens. Daar is geen manier waarop die blare skoongewas kan word nie, ek moes skuur om dit van die yskas te verwyder. Dus is daar geen manier waarop ek ooit weer blaargroente gaan eet nie – die kans is net te groot dat daar eiers op is.

Behalwe as dit ordentlik gekook en afgespoel is nadat dit gekook is.

Ek het nou deeglik kennis gemaak met die feit dat nete wel klou. En met groot moeite losgemaak word.

Die yskas ruik nou lekker. Of moet ek eerder sê dit is veronderstel om lekker te ruik?

Want ek ruik vanilla as ek oopmaak.

Die enigste probleem is dat die reuk my nou naarmaak.

Vir manlief ook.

Dus het ek gister suurlemoene gekoop om die bakke vanilla vandag te vervang.

Hoop nie suurlemoene maak my daarna naar nie.

Raad: Om vieslike stank uit yskaste te kry nadat dit af was en goed gevrot het:

Koeksoda het gehelp om die stank te verminder dat ek dit kon verdra om in die yskas te werk. Glo my, ek wou nie, ek wou die yskas weggooi. Dit was aaklige werk.

Vanilla het gehelp om die stank verder te verminder.

Suurlemoene help ook …

Ek gaan nie foto’s wys nie.

Hooffoto: Gedeelte van die spieëlglas waar die logo is. Terloops, ek besef die naweek eers waarvoor LG staan. Life is good. Wel, myne was so amper baie sleg, maar ek het die bul by die horings gepak. Die yskas gaan wel weer gebruik kan word omdat ek dit self moes skoonmaak. Dit is so skoon soos toe ons dit gekoop het omdat elke liewe laai uitmekaar gehaal en skoongemaak is. Dit het ek nog nooit gedoen nie. Ek was die hele tyd bang ek gaan dit breek, maar dan kry ek die knoop deurgehaak.

‘n Nuwe yskas gaan ons nie op die oomblik koop nie. Ons het nie besef hoe duur LG’s geword het nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Onaangename tuiskoms met vrot yskas

  1. Dit het al met ons gebeur: twee uur in die oggend huistoe gekom na ‘n lang rut. Die stink toe ons die voordeur oopgemaak het het ons laat wonder of iemand in die huis doodgegaan het! Ek onthou goed hoe lank dit geneem het om die yskas skoon te maak. Ek het baie koeksoda en suurlemoene gebruik, maar alles het reg gekom.

    Liked by 1 person

    1. Ag, Anne, dit is so lekker om dit te hoor, Nie dat dit ook met jou gebeur het nie, maar dat koeksoda en suurlemoene wel werk. Ek gaan vandag die suurlemoene insit. En die vanilla uithaal. Ek het na dese vreeslike sinus, my neusgate kla seker omdat ek hulle aan soveel stank blootgestel het. En terloops, ek het jie vertel nie. Die ersekering het baie vinnig R5000 uitbetaal vir die kos wat verlore gegaan het – en die insulin. Dit help darem omdat hulle nie wou help skoonmaak nie. Ek los nooit weer kos in die yskas as ek so lank weggaan nie! Terloops, ek moes skoonmaak na 15 ure op die pad. Onaangename ervaring

      Liked by 1 person

  2. Ons het ook al ‘n vrieskas gehad waar die vleis en vis vrot geword het terwyl ons weg was. Dit was ‘n vieslike spul. Ek het ook koeksoda, suurlemoensap en asyn gebruik om die reuke ut te kry. Aartappel, gesny, help dan weer om van die reuke wat agterbly te absorbeer. Dit is ‘n nare ondervinding

    Liked by 1 person

  3. Ai, jammer dat jy dit moes oorkom na so baie ure op die pad en al die skade. Sjoe, ek is bly ek was nie jy wat dit moes skoonmaak nie. Met ons trek het die trekmaatskappy gouer by ons aangekom en toe was die goed nog nie uit die yskas en vrieskas gehaal nie en hulle wou die yskas en vrieskas wrap. Na 3 – 4 maande in hulle stoorplek, was my goed ook gemuf. So, ek moes ook skrop. Jik, Handy Andy, suurlemoensap, koeksoda, asyn en vanilla was my wondermiddels.

    Liked by 1 person

  4. Sjoe dit is nie n aangename taak nie! Ons yskas het gedurende Desember ook besluit, tot hiernatoe en nie verder nie. Te veel beurtkrag en “power surges “. Gelukkig het ons n ander een in motor huis gehad wat maar moes instaan totdat Takealot kon kom aflewer!

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.