Twintig twee-en-twintig het nie lekker afgesluit nie en ek sukkel om rede te kry om in 2023 te lag. Selfs om te glimlag. Inteendeel, dit voel of ek verswelg.
Een van die redes waarop 2022 sleg afgesluit het, is dat Shilo opgetree het asof hy seergemaak is. Hy wou doodeenvoudig nie trappies klim of in die huis inkom nie. Ek het ‘n kwart Disprin gegee want die veearts is Stilbaai het nooit plek vir mens nie.
Die 7de Januarie was Shilo nog ok, die 8ste het hy begin swaar loop aan die linkerkant. Na vier stelle x-strale, wat my ‘n fortuin gekos het, is hy na ‘n rugspesialis om deur ‘n MRI masjien ondersoek te word. Bykans R15 000 later het ek die skokkende nuus gekry. Shilo het gevordere kanker en niks kan gedoen word nie.
My woefkind het pyn medikasie gekry en ons gaan hom so lank as wat die medikasie werk by ons hou. Met die hartseernuus pas gekry, moet manlief twee weke oorsee gaan vir werk. Om my stoksielalleen agter te laat.
Ja, stoksielalleen omdat kleinkind nou in die groot skool is. En ek hom nie meer drie dae per week aan my sy het nie.
In hierdie tyd voel ek goor, Shilo ook. Dokter diagnoseer seer ore, seer keel, sinus se skuld. Die medisyne laat my moeg voel, dus slaap ons sommige dae sommer net die mmeste van die tyd, ander dae staan ek by my rekenaar en werk. Omdat ek my bene lam sit, het ek my groot iMac so opgestel dat ek kan staan en tik.
En so kry ek rugpyne wat ek nie kan hanteer nie. So erg dat ek begin wonder of die Here my wil laat verstaan presies hoe seer Shilo kry. En dat ek hom fyn moet dophou en medikasie betyds moet gee. Op tyd.
So is ek terug dokter toe, want Deep Heat en Transact en ander plakkers wil nie genoeg help nie. Om te hoor dat my postuur my probleem veroorsaak. Ietsie is te kort en moet gerek word, ietsie is te pap en moet styf gemaak word.
Reguit fisio toe om die pyne uit te vryf en oefeninge vir die twee ietsies te gee. Dit help, en ek staan ook nie weer so lank aaneen voor die rekenaar nie. daardie pyne was naby aan te erg om te hanteer.
Intussen loop Shilo op die seer beentjie, hy doen al sy dinge. Eet al sy kossies op en die pyn is onder beheer. Maar, hy kan nie ver stap nie, hy loop rus-rus.
Dus het ek vir hom ‘n rolstoel bestel, weereens ‘n fortuin en hulle kan dit nie vinniger vir my maak nie. En toe loop ek een op Amazon raak wat ek amper dadelik kan kry. Donderdag bestel, dit het Dubai vanoggend verlaat en sal dalk al môre reeds by my wees. Ek moes net duurder betaal vir ‘n vinniger diens.
Ek hoop en bid en glo dat dit Shilo gaan help as ek en hy bietjie kan gaan stap, bietjie uit die huis kan kom.
Ek vrees die dag wanneer ek ‘n besluit oor lewe en dood moet maak. My kind is nog nie een 10 nie.
Hy verjaar die 23ste, dan sal hy 10 wees.
Die eerste week is darem amper verby, die tweede week kan vinnig omgaan as ek al my aandag aan my navorsing gee, met my woefkinders om my voete.
Foto: weereens deur kunsmatige intelligensie op my versoek geskep. So ma aan Shilo dat ek net wil huil.
Ek is bly jy’s darem beter … ‘n rugpyn kan ‘n mens sommer erg siek laat voel. En dis wonderlik dat jy Shilo se lewe so maklik as moontlik wil maak. Sterkte Christa, dit kan nie maklik wees nie 💌.
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, ek maak myself bankkrot. Maar, as ek na die gesiggie kyk, die lewe in die lyfie, die opgewonde waggel na die voordeur as hy mense hoor en die kwaai knor as hy nie dink die mense hoort by my deur nie, dan weet ek dit is nog nie tyd nie. OOk as hy my oral deur die huis volg, al moet hy treetjies vir tweetjies loop. Dus het ek vir hom ‘n speelplek ook gekoop, amper soos vir ‘n baba. Dan trek ek hom na waar ek is, eerder as dat hy stap.
LikeLiked by 1 person
Ai, Christa, jammer dat jou woef kind so sukkel, maar sy mens mamma sorg goed vir hom💕 pas jouself ook goed op. Rugpyn is geen grap nie.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Aletta, ek voel darem beter. My hart is ‘n ander saak.
LikeLike
Dis baie swaar, Christa – sterkte vir jou.
LikeLiked by 1 person
My hart is stukkend, Frannie, en ek weet nie wat om te doen nie. Na my mening is dit nie my plek om oor lewe en dood te besluit nie. En dit gaan op my afgedwing word. Weer ‘n keer. Maar die keer met my spesiale woefkind, die een wat my nie onder sy ogies laat uitgaan nie. Wat almal laat verstaan dat hy my kind is.
LikeLike
My hart huil saam met joune…
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin, ek is sommer weer in trane.
LikeLike
Sterkte Christa, jy doen alles wat jy kan – en jy is alleen. Ek hoop hierdie week gaan gou verby.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Anne, ek is regtig stoksielalleen – maar ek het ook drie woefkinders om my. Weet nie wat ek sonder hulle sou doen nie.
LikeLike