Sjoe, ek is daar. Die 21 dae is verby en ek kan weer oor iets anders skryf. Maar ek is dankbaar oor die geleenthede wat dit geskep het. Hier is dan die laaste inskrywing oor dankbaarheid.
Die positiefste nuus wat ek onlangs ontvang het, is tweevoudig. Ons aanbod op ‘n nuwe meenthuis is aanvaar en ons huidige meenthuis is verkoop. Ons het die verkoop van die huidige meenthuis nie aan die koop van die nuwe meenthuis gekoppel nie omdat ons die plek wou kans gee om eers waarde te bou. Ons het dit in Julie gekoop, ons sou eerder verhuur tot die plek waarde gebou het om dit teen ‘n wins te verkoop.
Toe gee ons vir die agent ‘n twee maande venster om die plek te verkoop. Sy was nie baie optimisties nie omdat ons meer gevra het as waarvoor ons aangekoop het. Ons verloor steeds op die transaksie omdat ons verbeteringe aangebring het en die oordragkostes het ook diep in ons spaargeld ingesny.
Ons het reeds ‘n huurder in plek gehad, maar dit was nie noodwendig die beste keuse nie omdat sy huismaats sou moes kry om die plek te bekostig. En ek het net een oggend gestaan en kommer: As sy in ons plek iets oorkom omdat sy mense moes vertrou om saam met haar te bly om die plek te bekostig, sal ek nie daarmee kan vrede maak nie.
Die agent het twee kopers aangebring wat ek sommer net geweet het hulle is nie die nuwe eienaars van ons meenthuis nie. En toe bring sy ‘n Afrikaanse vrou, met ‘n man wat ook op die myne werk. Ouerige mense, en ek het net geweet dit is haar huis. Sy gaan hier gelukkig kan lewe omdat haar man in die week uitstedig is. Hier kan sy vriendinne maak en lekker bly.
Ek weet ek het geskryf dat die Here ons met die koop van die huidige plek bygestaan het. Wat is die kans dat mens nadat jy na 20 huurplekke gekyk het, na een enkele plek kyk en dit het alles wat jy nodig het om gemaklik te leef? Net die Here kon weet dat ons die dag na die plek moes kom kyk voor ons terug is na Kuruman. Drie weke voordat ons moes terugtrek na die stad. En ek glo dit steeds, want dit is ‘n belegging. En nou het die plek ‘n koper nadat dit skaars op die mark gesit is.
Ek weet ook die Here het ons gehelp om die nuwe plek te kry. Ons was baie spesifiek – enkelvlak, siersteen, drie slaapkamers, dubbele garage, ordentlike kombuis. Het ek al vertel dat ‘n eikehoutkombuis met marmerblaaie my soos ‘n magneet trek?
Die kompleks waar ons huidige meenthuis is, is te klein vir my. Of laatek dit baie anders stel, ek moet elke straatjie drie tot ses keer op en af stap om 30 minute op my Apple horlosie te stap. En dit is vir die mense hier vreemd, ek word snaaks aangekyk. Ons nuwe kompleks is baie kleiner, daar is net ses meenthuise. Maar, dit is in ‘n leefstyl landgoed en ek kan soggens so 7 kilometer stap. As ek nou daarby gaan uitkom, tans is 2,5 km vir my genoeg.
Ek kan met kleinseun ver gaan stap, na die water toe gaan, en dalk kan ons twee eendag saam muurbal speel. Of tennis? Ek verkies muurbal, my bal kom terug na my toe. Tennisballe wat oor die drade gaan is nie oulik nie.
Soos voorheen, is dit interessant om te noem dat ons Afrikaanssprekende Christene is, dat Afrikaanssprekende Christene by ons koop, en dat ons by ‘n Afrikaanssprekende Christen koop. Ons dubbelverdieping huis in ‘n landgoed in Krugersdorp, is ook verlede jaar (kan jy glo 2021 is verby) deur groot Afrikaanssprekende Christene gekoop. In al vier gevalle, is die agente ook Afrikaanssprekend Christene.
Dit is vir my ‘n teken dat die Here met ons is. Altyd. Soms maak mens verkeerde keuses, maar dit word gou in positiewe verander.
Ons is dankbaar.
Die Here is goed vir ons.
Dit was dan die laaste inskrywing vir die 21-dae van dankbaarheid uitdaging van die WRG. ‘n Pad wat my daaraan herinner het dat ek soveel het om voor dankbaar te wees. En dat ek regtig nie rede het om swartgallig te voel nie.
Dit was ‘n goeie idee om hierdie 21 dae van dankbaarheid aan te pak. Al was die uitdagings nie altyd maklik nie, dink ek dat jou manier van uitdrukking oor die tyd makliker gevloei het – amper asof dit jou gehelp het om jou persoonlike skryf spiere los te maak.Ek het hierdie reis saam met jou geniet, Christa.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Anne, ek het ook die groei gevoel. Die spiere sukkel in die laaste tyd omdat ek onder geweldige stres leef, soos almal tydens die pandemie. Ek sien uit na dae sonder maskers, gewoonwees, menswees.
LikeLiked by 2 people
So bly dat julle huis so vinnig verkoop is Christa, nou kan jy rustig na jou nuwe plek trek sonder bekommernis oor huurders.
LikeLiked by 2 people
Dit is so waar, Aletta, mens stres maar as jyn huurders insit omdat hulle soveel “regte” het. Ek sien baie uit na die veranderinge vir 2022.
LikeLike
Wonderlik!
LikeLiked by 1 person
Geluk met jou 21 dae, Christa.
LikeLiked by 2 people
Dankie Frannie, en toe is dit verby. Kan jy dit oorvertel?
LikeLiked by 1 person
Dankie, het dit geniet om jou 21 dae te deel🌻🌻
LikeLiked by 1 person
Dankie vriendin, en toe preek dominee oor dankbaarheid om 2022 mee te begin. Vroulike predikant, pragtig. En pragtige preek.
LikeLike
Wow, en hoe great jy sluit jou jaar af ennnn begin die nuwe een met dankbaarheid. Awesome🌻🌻
LikeLiked by 1 person
Is dit nie presies net so nie? Dit het my laat besluit om elke aand, soos sy versoek het, op die dag te reflekteer en redes te soek waarom ek dankbaar is.
LikeLike
Oh wat ‘n goeie idee. Eintlik slim want mens is amper neg geprogrameer, so jy dink daaraan, regtig slim
LikeLiked by 1 person
Ek gaan daaraan werk.
LikeLike
Dit is wonderlik dat hierdie 21 dae uitdaging ‘n mens leer vir hoeveel dinge daar is waarvoor ons eintlik dankbaar kan wees! Baie geluk met die “huis uitdagings” … dit is net genade as alles so mooi in plek val!
LikeLiked by 1 person
Net genade, dit is al wat ek en manlief die hele tyd vertel. Hoe anders kon dinge so goed verloop het?
LikeLiked by 1 person
Dit is sulke goeie nuus, Christa! Een van hierdie dae gaan ek by jou nuwe plek kom inloer.🤗
LikeLiked by 1 person
Jy is baie welkom, ek nooi julle graag daarheen. Hier is te klein, ek en manlief maak die plek vol. Of liewer, ek hoef nie te nooi nie, jy is altyd welkom by my.
LikeLike
🤗🥰
LikeLike