Vandag moet ek gesels oor op wie ek altyd kan staatmaak en waarom. Dit is inderdaad ‘n maklike ene, want dit is my kinders en my manlief.
Ons is vandag oor ‘n maand 40 jaar lank getroud. Ek was tweedejaar onderwysstudent aan Tuks (Universiteit van Pretoria) toe hy saam met ‘n vriend jool toe gegaan het. Ek wou nie gaan nie, maar vriendinne het aangedring dat ek saamgaan. Toe herken een ‘n vriend en sit ons by die vriend se groepie en gesels. Waarvan manlief een was. Hy was toe ‘n leerlingmyner op Evander.
Ek het my nogal vir hom gewip toe hy nie wou glo dat ek en hy in dieselfde skool was nie, hy was twee jaar voor my matriek. Ons het mekaar nie geken nie, maar hoekom sou ek jok oor die skool waar ek gematrikuleer het. Deur die loop van die aand het ons afgepaar omdat ons lekker kon gesels oor ons skool en skooldae. Hy het my koshuis toe gevat, ‘n afspraak vir die volgende dag gemaak en die res is geskiedenis. Ons was van daar af onafskeidbaar saam.
En as daar in die tyd een mens is op wie ek altyd staat kan maak, dan is dit hy. Selfs al was ek nou-net vir hom kwaad, sal hy my kom red as ‘n spinnekop of vlermuis my privaatspasie binnedring.
Ons het al ‘n hele paar sakke sout opgeëet, was al goed vies vir mekaar, maar as ons weer moet kies, kies ons mekaar.
Ek het een keer laf gespot dat ons moet skei en weer trou. Met die rokke en pakke en alles. Hy het geweier, gesê hy sal dit nie doen nie, net nou sê ek nee as hy my weer vra om te trou.
Ek luister so na almal se maniere waarop die mans gevra het dat hulle trou. My eie seun het sy meisie Durban toe gevat, van die brug oor die stadion af laat bungi-jump en toe gesê sy het klaar een groot sprong gegee, nou kan sy die tweede ene waag.
Ons twee kan nie onthou hoe manlief my gevra het nie. Ek onthou wel dat hy op ‘n stadium gereeld voor Sterns se vensters gaan staan het en gevra het van watter ring ek hou. Of gewys waarvan hy hou. Ons verhouding het net so verdiep dat dit die logiese volgende stap was om verloof te raak en te trou.
Ons het intussen twee kinders ryker geraak, ‘n dogtertjie en ‘n seuntjie. Hulle het ons soveel plesier gegee, maak ons steeds trots met die keuses wat hulle maak. Hulle is intussen getroud en het vir ons vier kleinkinders gegee, almal seuntjies.
Mense vra of ek nie na dogtertjie-kleinkinders verlang nie, en die eerlike antwoord is nee. Ek het nogal gehoop dollatjie se derde seuntjie sou ‘n dogtertjie wees, maar ek is so dankbaar hy is toe nie. Hy is die frisste van die drie seuntjies, ‘n regte, egte hartebreker.
So vertel dollatjie my van sy (vyf jaar oud) gesprek met die bure se dogtertjie Liebe wat drie jaar oud is. Sy het gesê sy hou baie van hom, hom eintlik soort van laat verstaan dat sy sy meisie is. Toe sê hy vir haar hy hou ook baie van haar, maar daar is ‘n ander meisie (my dogter se vriendin se kwaai dogtertjie wat skaars jonger as hy is), en hy gaan eendag met haar trou! Ek sal die kind opvreet as hy suklke dinge voor my kwytraak.
Iedergeval, ek wou mos eintlik skryf dat manlief die een is waarop ek staatmaak en waarom. Dit is so half ‘n moeilike waarom, want ek dink soms ek weet beter as hy …
Maar ek maak op hom staat omdat ons lief is vir mekaar. Omdat hy my sy eerste prioriteit maak. Hard werk om vir ons twee te sorg. En bykans alles kan doen, ons eie handige man in die huis.
Ek maak op hom staat omdat hy my kinders se pa is. En hulle net so lief het soos ekke. Ons het selde indien ooit ‘n meingsverskil oor die kinders. En dit maak dit heerlik om met hom oor ons kinders te gesels.
Ek maak op hom staat omdat hy nie lui is nie, inspring waar hy kan. Maar altyd my man is, die een aan my sy.
Ek maak op hom staat omdat hy my gelukkig maak.
Ek het lekker hier gelees, Christa. Ons het agt jaar voor julle getrou en leef nog gelukkig saam; het drie kinders in vier kleinkinders – net een is ‘n seuntjie. Hulle het almal my lewe verryk. Mag hierdie jaar ‘n goeie een wees vir jou en jou familie 🙂
LikeLiked by 2 people
Dankie Anne, mag dit vir julle ook ‘n pragtige jaar wees.
LikeLike
Ook lekker gelees Christa, ons is hierdie jaar al 45 jaar getroud! Lekker as jou man jou steunpilaar is! Wonderlike jaar vir julle!
LikeLiked by 3 people
Baie dsankie, pragtige jaar vir julle ook.
LikeLiked by 2 people
Dankie 💕
LikeLike
Ons was op die pad en dit was moeilik om te tik. Dankie vir die saamgesels, ek waardeer jou vriendskap baie.
LikeLiked by 1 person
Altyd ‘n plesier Christa! 😊
LikeLiked by 1 person
45 jaar getroud, baie geluk!
LikeLiked by 1 person
En jy, Andrew?
LikeLiked by 1 person
23 this time round.
LikeLiked by 1 person
That is awesome, congrats.
LikeLike
Baie dankie Andrew!
LikeLiked by 2 people
Mag 2022 vir jou en jou liewe man net goed wees.
LikeLiked by 3 people
Dankie Toortsie vir julle ook.
LikeLiked by 1 person
You are so luChrista, jy is so gelukkig om ‘n huweliksmaat soos hy te hê.
LikeLiked by 2 people
Dankie, Andrew, mooi Afrikaans daardie.
LikeLiked by 1 person
Ek’s mal daaroor as vrouens sulke mooi woorde oor hulle mans skryf (of mans oor hulle vrouens ook 😉). Dis die mooiste voorbeeld van liefde vir my! Ek’s bly jy het so ‘n man en een wat vir jou goed is – dis ‘n seen.
En ek’s ook so geseend om vir Berto aan my sy te he (ons is weliswaar nog “net” 25 jaar getroud), maar dis vir my die grootste lekkerte om te weet hy’s daar vir my … in goeie en slegte tye!
LikeLiked by 1 person
Baie dankie vir die saamgesels. Dit is so waar, goeie en slegte tye. Dit is self al baie lank, baie geluk.
LikeLiked by 1 person
Ons het seuns en meisies in hul laat 40’s. Tweede Huwelike, hierdie keer, amper 23 jaar. Die oudste seun uit my eerste Huwelik is 48.
LikeLiked by 1 person
A, ek sien jy het geantwoord. Dit is ‘n lang tydperk, baie geluk.
LikeLike