Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Qazaqstan: ‘n terugreis na 50 jaar gelede …

Ek dreig al so lank om hierdie inskrywing te maak. Dan begewe my moed my weer. Redeneer ek dat ek dit dalk eerder moet skryf wanneer ons weer in ons eie land is. Is ek te krities as ek dit so sien? Dalk moet ek sommer glad nie skryf nie.

Want, Qazaqstan is wel in baie opsigte modern. Ons het goeie telekommunikasiestelsels, ons kan maklik oorsee gesels. Die twee hoofstede het wel uiters moderne geboue.

In Astana, die huidige hoofstad, is supermoderne geboue. Plekke wat mens aan die nuwe dele van Dubai herinner. Soveelso dat die Qazaqs wel spottenderwys na Astana as klein-Dubai verwys.

Ek het hierdie foto deur die glasvensters van die toring in Astana geneem. Augustus 2019.

Sal wel eendag bietjie van daardie foto’s in ‘n plasing deel. Om te wys hoe modern die land op plekke is.

Ons stad met 400 000 inwoners is nie modern nie. Vanaand is ek dus lus om te vertel waarom dit soms voel of ek 50 jaar in tyd teruggegaan het …

Qazaqstan, maar veral Öskemen, die stad waar ons woon, herinner my aan Suid-Afrika 50 jaar gelede, toe ek ‘n kind was. So, laat ek vertel.

Net soos in oom Danie van der Walt se plaaswinkeltjie van my kinderdae is alles agter toonbanke in die meeste van die winkels. Selfs in die apteke.

Jy stap in en vra vir die mense agter die toonbanke wat jy wil koop. Dan haal hulle uit die rakke en gee aan en jy betaal. Gewoonlik streng kontant.

Net soos in my kinderjare was daar tot Desember 2019 daar nie iets soos winkelsentrums nie.

Alles word by klein winkeltjies aangekoop. Sowaar, jy kan selfs jou onderklere in bokse koop. Soos toe ek die goedjies begin dra het en saam met ma winkels toe is om my eerste stelletjie te koop.

So anders as in die klein winkels van nou, waar dit vir almal se oë uitgestal word … In party winkeltjies. In ander staan jy so in die gangetjie en wys vir die vrou wat jy soek. Daarom koop ek nie daar nie …

Net soos die ouer mense van daardie tyd, het baie van die ouer Qazaqs ‘n goue glimlag. Spog hulle met een of meer goue tand. Wanneer laas het ek ‘n goue glimlag in Suid-Afrika gesien?

Net soos in die vragmotors en busse van daardie tyd se voorste vensters hang gordyntjies by die bestuurders, daardie soort wat gedrapeer word, met tossels en al. Ek kan nie onthou wanneer laas ek so iets in Suid-Afrika gesien het nie.

Van vragmotors gepraat, die vragmotors is of oud of dit word nog steeds so gemaak. Ons sien nie die soort wat op Suid-Afrikaanse paaie beweeg nie. Dit lyk soos hierdie ene.

Sien? Trokke op Suid-Afrikaanse paaie het mos al baie lankal plat neuse. Is daar ooit nog sulkes op die paaie? In ons stad lyk al die trokke so!

Opskepbakke is van deurskynende glas, met blommetjies op. Pyrex as ek reg onthou uit my kinderdae.

Baie van die plastiese bakke het ook nog blommetjies op, soos toe ek nog ‘n kind was. Ek dink ek het dit jare laas in Suid-Afrikaanse winkels gesien. My hart sukkel om hulle te koop.

Mure van woonstelle en eetplekke en hotelle is met muurpapier beplak. Ons plaashuis in my kinderdae se mure was met muurpapier oorgetrek.

Maar iewers baie lank gelede het dit uit die mode geraak en nie weer teruggekom nie. Nou ja toe, elke muur van ons woonstel is met muurpapier beplak. In die winkels soortegelyk aan Builders kan jy kies en keur. Ek het al daarvan vertel.

Kinders speel in speelparkies by woonstelle en in woongebiede. Veilig. Sonder grootmenstoesig. Wanneer laas het ek so iets in Suid-Afrika gesien. Mooi, netjies opgepas. Geen vernielsugtigheid en grafiti hier nie.

Die hooffoto is Saterdag geneem. Ons trems is horingoud, ry saam met motors op die paaie. Tussen die motors. En dan staan trem en motor so langs mekaar en wag, vir ‘n verkeerslig om oor te slaan.

So naby dat jy daaraan kan vat …

Dalk herinner dit jou aan jou ouma se tyd as jy hier lees. Dalk is jy my tydgenoot.

Ek geniet die terugreis na my kinderjare, sou dit nie veel anders wou sien nie …

Wonderlik om stokoud en splinternuut so langs mekaar te beleef.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

16 gedagtes oor “Qazaqstan: ‘n terugreis na 50 jaar gelede …

  1. Dis interessant en ek besef hoe min ek weet wat in ander lande aangaan…
    Hoe die oud en jonk …outyds en modern mekaar aanvul is iets wat my verstom. Ek kan ongelukkig nie die lyn trek na Suid Afrika 50 jaar terug nie….ek was nog bittter klein maar ek’t darm ñ goeie idee.
    Dankie vir die skrywe. Dis lekker leesmateriaal.

    Like

  2. O gits, ek onthou nie meer sulke detail nie, Christa. Moontlik omdat ek as kind in Durban grootgeword het, en glad nie die platteland geken het nie. Ek gaan tog probeer, my gedagtes bietjie laat gaan…

    Like

  3. Stokoud en splinternuut langs mekaar. Oulik gesê. Toe ek in 1971/72 in Suid Amerika het hul n “parade” gehou. Mense het nuwe moters op ou vragmotors in die strate vervoer as deel van die parade. Jy het geen moderne motor op paaie gesien nie. Was heeltemaal iets anders gewees( dit was in Buenos Aires gewees)

    Like

      1. Ek het fotos wat ek afgelaai het van skyfies. Dis op my ou stadige laptop en sal bietjie kyk wat ek kan doen. Die mense in die parade het of perd gery of met stokou vragmotors en karre gery.(dink nou aan regte woord dit was n optog wat hul n parade genoem het)

        Like

  4. Ek herken sommer baie van dit wat jy hier vertel. Dit was lekker om te lees. Ons huis se mure was ook beplak. Ek dink dit was om vogtigheid te verbloem.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.