Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Tender African flower … ekke?

Ek en my Suid-Afrikaanse vriendin, Mia, gesels vanoggend so op WhatsApp oor ons vingers wat in ons handskoene koud kry.

Handskoene wat ons in hierdie koue land gedurende die koudste maand sover gekoop het om ons vingers warm te hou. Dit moet tog werk? Dié wat ek by Cape Union Market in Suid-Afrika gekoop het, is te lig in die broek, ek bedoel te dun om vingers warm te hou.

Myne is by Sportmaster gekoop en ek dink sy het gesê dat hare by Limpopo gekoop is. Dit is die twee groot sportwinkels in ons stad, Oskemen, ala Ust’-Kamenogorsk. Hierdie handskoene is nie warm genoeg nie.

Ek het intussen al op aanbeveling van my swaer wat ‘n Harley het dunner handskoene in Suid-Afrika gekoop wat as voering vir handskoene dien om hulle warmer te laat voel. Cape Storm handskoene, wat hande in Suid-Afrikaanse winters op hul eie warm hou.

Op hulle eie is hulle warm. In my dik handskoene help weinig vir my vingerpunte, dié kry deur die voering en die dik handskoene koud. Yskoud. So koud dat ek hulle met handskoen en voering en al in my jas se sakke druk. En dan eers ontvries my vingerpunte.

Dit kan wees dat die senuwees na my vingerpunte steeds ontevrede is omdat ek hulle aan ligte vriesbrand bekendgestel het. En dat hulle nou sommer wolf skree as my vingers nie eers regtig baie koud kry nie. Want, dit is nou enkel syfers subzero. Ek het vriesbrand opgedoen toe dit -28 grade Celsius buite was.

Dit is wel moontlik, want iemand het onlangs vir my gesê dat haar vriend se voete se senuwees in Kanada beskadig is toe hy met die verkeerde skoene in die winter daar gaan rondloop het.

Ek twyfel egter so bietjie omdat ek van nature koue hande het. self voel ek nie dat hulle koud is nie, hulle pla my dus nie as ek in warmer plekke is nie. Maar, ek weet hulle is koud.

My kleinseuns het elkeen al hulle asempies skerp ingetrek toe ouma hulle doeke ruil en per ongeluk aan warm magies geraak het met die oop- of toemaak van die doeke.

Manlief het ook al gekla as ek my hande in die nag om sy lyf sit, die skielike koue hande maak wakker. Maar, soos ek geskryf het, die koue hande het my nie gepla nie omdat ek nie gevoel het dat hulle koud kry nie.

Ek het die dag toe ek vriesbrand opgedoen het, besef dat daar fout is toe my vingerpunte skielik gebrand het. So erg gepyn het dat ek in die woonstel in is om hulle onder lopende warm water te laat ontvries.

Snaaks hoe mens onbewustelik die regte ding doen. Seker maak dat die water nie te warm is nie, want dit kan die vingers brand sonder dat jy dit agterkom. Maar, ek weet ook nou dat ‘n paar minute nie genoeg is nie. Dit meot elke paar uur vir 40 minute in 15 grade Celsius water gehou word om seker te maak dat die skade beperk word.

Ek het nie. Hoofsaaklik omdat ek nie gedink het dat ek vriesbrand opgedoen het nie. Nou weet ek dat eerstehulp noodsaaklik is. Na bykans twee maande kan ek weer tik sonder om in die vingerpunte gepynig te word.

Punt is, ek en Mia gesels vanoggend oor handskoene. En dat ons hande koud kry, binne in dik handskoene met ekstra handskoene wat as voering dien.

En ek besluit om Elena, my Russiese vriendin, te vra wat sy van my handskoene dink en of ek iets beter kan koop. Want sien, Marat, my man se drywer, dra dunnerige handskoene met pels daarin. Altans, dit lyk vir my so.

Ek vra toe maar reguit raad, en sy deel haar raad uit. My handskoene lyk vir haar soos handskoene wat vir ski goed is. Nou kyk, as dit vir ski goed genoeg is, moet dit darem wraggies vir vier blokke op bevrore sypaadjies ook voldoende wees. Maar ek sê dit nie, vra eerder uit oor wat sy dra.

En word tot in my tande geskok! Sy dra handskoene wat haar vriendin vir haar gebrei het. Dit was een te veel en ek skryf toe dat gebreides glad nie vir ons help nie. Die wind waai dwarsdeur die wat ek spesiaal gaan koop het.

Ek voeg toe maar by dat hulle waarskynlik daaraan gewoond is.

En sy laat weet dat ek ‘n ‘tender flower’ is, en voeg by ‘tender African flower’.

Ek dog ek lag my slap!

Hoeveel mense dink dat Afrikaanse blomme sag is? Ek dink bitter min.

Aalwyne groei daar en hier! Hoeveel mense dink dat Afrikaanse mense sag is? Ek skat ook besonder min. Ons oumas is kaalvoet oor die Drakensberg. Toegegee, ek twyfel ernstig of hulle dit hier sou waag.

Hoeveel mense dink dat mense van Suid-Afrika sag is? Ek skat baie min. Hoeveel mense dink dat mense van Afrika sag is? Ek dink regtig ons van Afrika word deur baie min mense as ‘tender’ beskryf.

Dus sit ek nou met die gedagtes en speel. Om te verstaan waarom hierdie Afrikaanse Suid-Afrikaner ‘n ‘tender African flower’ is.

Vanuit ‘n Qazaq of Russiese perspektief is ek waarskynlik sag as my handjies seer kry as dit -28 grade Celsius is. Sy sê egter gou dat hulle ook vir sulke temperature versigtig is. Want dit kan tot -48 grade Celsius in ons stad word. In ander stede is -56 grade Celsius al aangeteken.

Hulle weet egter dat dit weer warmer gaan word. Dat die sneeu nêrens heen gaan nie. Dat dit môre steeds daar gaan wees. En dat mens foto’s gaan neem wanneer die temperature nie so verby vriespunt is nie.

Ek lees dat die mens se bloed reeds teen -2 grade Celsius kan vries … Dit gebeur darem seker nie sommer as die bloed in die are nog pomp nie.

Ek lees dat die brein werk om sy kern warm te hou as ons te koud kry. Bloed word na die kop en hart gepomp om die areas warm te hou. Vingers en tone en oorlelle en neuspunte word nie as deel van die kern beskou nie. Dus kan hulle maar koud kry, die kern moet beskerm word. As die Russe en Qazaqs se vingers en tone nie koud kry nie, het hulle seker al oor jare heen aangepas om die brein te laat verstaan dat hulle kern die vingerpunte, tone en oorlelle insluit. Die hele lyf, nie net ‘n stukkie wat ander mense se brein as die noodsaaklikste deel van die liggaam beskou het nie.

Mens kan ook anders daaraan dink. Maar ‘n tekort aan verstand is nie in hierdie land nie. Anders sou hulle beslis nie in hierdie uiterstes koue kon oorleef nie.

So terloops, as iemand vir my gevra het of ek by die pole wou gaan woon, sou my antwoord natuurlik nee gewees het. Dankie, maar nee dankie. Hier verskil dit die afgelope twee maande nie van hoe ek prentjies van die pole sien nie.

Ek het gister so gekyk na ‘n man wat met sy twee honde aan leibande stap en besef wat hier natuurlik sou lyk. Slees in plaas van taxi’s en busse. Ek sou dit net nie gebruik het nie, want die busse en taxi’s is verwarm.

Ek wonder of die mense wat aan hierdie klimaat gewoond is in Afrika sou oorleef. Veral oor die ewenaar waar dit nooit koud word nie.

Dit sneeu die afgelope ruk weekliks vir ‘n paar dae aaneen. En dan kry ek ‘n spesifieke biep op my foon, anders as die wat ek instel.

Soort van ‘n noodsein waaraan aandag gegee moet word. Hierdie noodseine is lewensbelanglik vir die inwoners van Qazaqstan. Dit laat weet hulle (en natuurlik ons) watter hoofpaaie toegemaak is weens ‘n oormaat sneeu, maar veral wanneer die windspoed 15m/s bereik het.

Gister is die hoofpad tussen Almaty (die ou hoofstad) en Oskemen (hoofstad van die Oostelike gebied waar ons woon) toegemaak weens windspoed. Neem asseblief in ag dat Almaty in die suide geleë is. En Oskemen in die noorde van qazaqstan, met 1000 km wat die twee stede skei. Kan jy dit oorvertel? Dit beteken dat ‘n pad so lank soos die pad tussen Kaapstad en Pretoria weens gure weer toegemaak is.

Ek moet tog onthou om ‘n inskrywing te maak oor die pad tussen Almaty en Oskemen. Dit kan glad nie met die pad tussen Kaapstad en Pretoria vergelyk word nie. Ek wil asseblief tog nie op daardie eensame pad gestrand wees as die pad skielik toegemaak word nie.

Ek dink ek het al vertel van die lanings bome wat langs die hoofpaaie geplant word. Die qazaqs het vir ons vertel dat dit geplant word om die sneeu te keer. Dit het my die hele tyd gepla.

Ek verstaan nou beter, dit word nie geplant om die sneeu te keer nie, want dit val van bo af. Dit word geplant om die motors op die pad teen ongure winde te beskerm. Die wind het gister op een van die hoofpaaie teen 28 myl per sekonde gewaai, wat my man as 100 km/h vertaal het. Wild, is dit nie?

Op die oog af is ek dus ‘n ‘tender African flower’. In my hart weet ek dit is nie die waarheid nie. Ons staan net nou op onbekende grond. Hier sal ons wel so taai soos Afrikaners kan word. As ons die lae temperature met ontsag behandel. Soos die inwoners van hierdie land.

Afrika is nie gewoond aan hierdie lae temperature nie. Dit is nie so vogryk soos hierdie land nie. Daar oorleef blomme sonder water, kruip hulle selfs onder die grond weg om op te kom sodra die eerste reën val. Ons blomme is mos dan tawwe blommetjies?

Nee, ek moet tog met Elena saamstem. Dink ekke. Want ek sou, as ek ‘n blommetjies was, verkies om so sonder water te wag vir beter dae. Eerder as om vir maande lank met dik lae sneeu om my wortels te sit. Sneeu wat selfs op die takke rusplek vind. Om ‘n boom tot in die lewe in te vries. En tog sterf hierdie bome nie.

Sommiges gooi hulle blare af om kaalgat te staan in die ysige weer. Ander weier, hou hulle dennenaalde en dra swaar aan die vrag as die sneeu op die punte van takke in die arms van die takke gaan vastrapplek kry. En hulle bly groen. Lowergroen. Asof dit nie winter in ons wit bevrore stad is nie.

Ja-nee kyk, as ek myself so teen die bome meet, dan moet ek tog erken dat ek ‘n sagte Afrikablommetjie is …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

25 gedagtes oor “Tender African flower … ekke?

  1. Daar is beslis n verskil in warmte of koue. Ons wat gewoond is en groot geword het in die “warmte”van Afrika kry swaar in die koue waaraan die mense daar waar jy nou is gewoond is. Na tien jaar hier het ek redelik goed aangepas of eintlik verander. Die winter is nie meer so koud soos in die begin nie. Beste van als is dat ek nou die warmte nie kan hanteer nie terwyl ek groot geword het met warmer weer as wat dit hier is. (Maak ek sense?)

    Like

      1. Presies. OP die oomblik is dit so 20 grade en ek kannie buite toe gaan nie want dis te warm. In winter dra ek nie eers meer regte warm jasse nie, dis te warm. Nou moet ek bysê die warm jasse is met gansdons gevul wat heel snoesig en warm is. Ook merino wol. Dis hoekom die gebreide handskoene gedra word omdat dit van regte skaapwol gemaak is.

        Like

          1. Ek weet van daardie wind wat deur gebreide goed waai. Ek kry gebreide buitekant wat gevoer is sodat wind nie deurkom nie. Ek dink ook nie mens kan in daardie koue by jou sonder dik warm jasse buite beweeg nie!

            Like

          2. Ons kan nie. Het gister met K Way baadjie buite geloop, en lekker dik broek. Sal kyk vir handskoene, maar die mense gebruik nie truie nie. Dan sou hulle mos gebreide klere ook dra? My hande kry kouer as my lyf. 🙉

            Liked by 1 person

  2. Terug pieng: Sneeu96 – WhimSickle

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.