Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Speelgoed vir die winter in Qazaqstan

Ons is vanoggend na Komfort om ‘n paar goed te koop. Toe moet manlief my oral aanja, want die winkel het nuwe speelgoed. Baie anders as wat ek ken.

Hierdie goedjies is blykbaar gewild om teen hange af te gly. En ek verstaan Ust het ‘n plek waar glyplanke van ys gemaak word. Vir winterpret. Ons sal gaan kyk wanneer dit oopmaak, maar ek kan nie dink dat ek die goedjies sal vat om te gly nie.

Inteendeel, ek sien myself eerder in ‘n koffiewinkel terwyl ek kyk hoe ander dit doen.

Hierdie mooi goedjies word ook gebruik om oral af te gly. Asof dit nie vreeslik koud is nie. En kyk die oulike slees!

Is dit nie oulik nie? Ook goed my kleinkinders is nie hier nie. Hoe hou mens hulle binne as hulle sulke lekker slees het?

Die pienk ene het my hart getrek. So terloops, pienk is ‘n baie gewilde kleur hier.

En dan is daar die mooiste ysskaatse. Te kies en te keur. Nog iets wat ek nie gaan probeer nie.

Dit alles word sommer in die hardewareplek, soortgelyk aan Builders, of dalk eerder aan Metro? verkoop.

Terwyl pappa die hardeware soek, kan kinders pas en aanpas en begeer en dalk ook kry.

Ek het nog nie gesien waar hulle met die goedjies speel nie. Sal beslis foto’s neem wanneer ek dit gewaar. Dit moet ongelooflike pret wees.

Ek het vanaand die oulike slee in Sulpak gesien. Waarin babatjies getrek word.

Weet nie hoe dit werk nie!

Dit was vandag warmer. Asof mens kan onderskei tussen -7 wat soos -13 voel en -21 wat soos -25 voel. Weet nie waarom hulle nie maar net die voel een gee nie, dit is tog wat ek voel wat saak maak.

Ons is bietjie uit die stad uit. Met Dusty wat in haar 2 grade Celsius garage staan. Dit is toe waar! Dit is baie warmer in die ondergrondse garage. Omdat die grond nie dieper as 1,9 m vries nie.

My dik mussie was nie doeltreffend nie. Die wind het my ore onder die mussie gevries. Met ‘n mussie op die kop, vergaan mens weer van hitte in die kar.

Toe sien ek ‘n mooi prentjie. Wat net vra om gekiek te word. Manlief het gestop en ek is uit die kar, om terug te stap na die deel van die rivier wat onder die brug deurloop.

Om die foto te neem.

Mooi nê! Die klippe lyk so vreemd met die wit tussenin in plaas van sand of grond. Stukkies ys dryf in die rivier. En sneeu lê op die klippe in die rivier.

Ek het net twee foto’s geneem. Toe hol ek terug kar toe. Al op die korrelrige sneeu om nie te vK nie.

Want ek het my handskoene en mussie in die kar vergeet.

Die ysige, klam wind het my hare opgepluk, rondgepluk en sommer ‘n blow wave gegee. Ongevraagd. Maar sowaar beter as wat ek kan doen.

My hare het gelyk of ek dit so pas deur my GHD getrek het. Gereed om uit te gaan. So koud dat dit koud in my nek en teen my wange gelê het!

Sien, dit is waarom ek nie dink dat ek soos die kinders op daai speelgoed gaan klim om teen ‘n helling af te swiep nie.

Ek vermoed hierdie gaan famous last words word. Ons sal seker iewers uitgedaag word om in die pret te deel.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Speelgoed vir die winter in Qazaqstan

  1. Ja nee….’n Towerin laat haar nie deur ‘n bietjie sneeu afskrik nie…..as jy deur tonnels en gange met geraamtes kon stoei, is die sneeu ‘n vulletjie! Jy moet ten minste een keerprobeer…net om ons te vertel daarvan!

    Like

    1. Moenie my uitdaag nie, nie tot ek die regte klere het nie. Niks van my voel warm genoeg vir my bene nie. As ek uitgaan, klem die koue om my bene vas. Al het ek drie lang onderbroeke aan. Meer kan ek nie, dan pas my langbroeke nie. En my skoene ook nie. Ek dink tog ek sal probeer as die grade baie minder is.

      Like

        1. Ek weet nie of ek gaan nie, Woordnoot. Ek was gister laf en het in -21 my handskoene uitgetrek om foto’s te neem. My vingers was binne sekondes ‘n pynigende rooi. En is steeds seer. Ek dink nie ek is gebou vir hierdie koue nie.

          Like

          1. Moet asb nie iets doen wat jou kan skade aandoen nie….kom eerder in een stuk terug..ons wil nog ontmoet en n towerin toer reel skotland toe!

            Like

  2. Ek weet ook nie of ek op hierdie hogere ouderdom nog braaf genoeg sal wees om teen sneeuhange af te gly nie. Wens ek kon net so nou en dan teruggaan in tyd en weer ‘n kind wees.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.