Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Hoe koud is dit in Qazaqstan, ma?

Ons het in Januarie kom kyk of ons in so ‘n koue land kan oorleef. En in ‘n sprokieswêreld van wit sneeu en dansende poppies by die stad se groot sirkel langs die rivier verlief geraak op Oskemen, ala Ust-Kamenogorsk.

Ek onthou ek het so in die Dedemanshotel se venster gesit en afgekyk op die ysige Irtishrivier wat teen ‘n spoed verbyvloei het en vir seun gesê koud is koud.

Sub-zero is koud.

En dit het sommer sy gunsteling stelling oor koue geword.

Nou kyk, ek weet nie of ek in ‘n dwaal was nie, want sedert ons hier bly, het ek van mening verander.

Daar is iets soos koud, kouer, koudste, met die intensiewe vorm yskoud.

Dan is daar seker ook iets soos yskoud, yskouer, yskoudste. Met die intensiewe vorm van vrieskoud.

En dan is daar beslis ook iets soos vriesend, vriesender en vriesendste. Met die intensiewe vorm van bevrore.

Want, daar is iets kouer as vriespunt. En daardie iets is nogals baie koud. En kom jy eers agter as jy hier bly.

Want sien, toe het ons uit die hotel in ‘n kar gewoerts. En is ons voor die deur waar ons wou wees afgelaai. Om weer daar soos ‘n warrelwind in te woerts. Laggend omdat jy so vinnig nie regtig voel hoe koud jy gekry het nie.

Jy weet, in daardie paar sekondes kan mens nie regtig ‘n oordeel fel nie. Oor hoe koud -38 grade Celsius is nie. Veral nie omdat daardie temperature in die nag bereik word wanneer ons slaap nie.

As jy hier bly, is dit anders. Ons het wel vir Dusty gekoop, maar sy kan nie voor die woonstel gelos word nie, sy sal vries.

As sy vir ‘n week nie gery is nie, moet haar olie en ek weet nie wat alles vervang word. Batterye sê dankie, maar nee dankie, ek gee oor. En dan moet nuwes gekoop word. En bande moet hulself loswikkel uit yskloue, wat hopies om die wiele gemaak het.

Anders as in Suid-Afrika, is jou garage nie noodwendig naby jou woonstel nie. Dus stap jy nie gou oor na jou garage, klim in die kar en ry nie. Jy pak die weer aan en stap na jou garage toe.

Wat in ons geval twee of drie blokke verder is.

In die somer ‘n lekker stappie.

En in die winter drie ysige blokke.

As jy by die voordeur van die woonstelblok uitgaan, moet jy om die hoek loop, en dan twee blokke stap in die straatjie agter die ander blokke woonstelle.

Wat almal aanmekaar gebou is. Met drie deurgange vir motors wat aan die voet van die woonstelblokke oopgelaat is om jou na die voorkant van die geboue te neem. Ons voordeure sit mos aan die agterkant van geboue!

Ek weet nie waarom nie, maar daar waai altyd ‘n woeste wind van die hoofstraat se kant af deur die deurgange.

Soms so erg dat jy jou voete moet plant om staande te bly.

Jy kan nie gou verbyhol nie, want daardie selfde koue veroorsaak dat die sneeu op plekke vries. En so glad soos seep is. Daarom vat jy maar die ysige koue punch in die gesig soos ‘n man.

Kop omlaag, nek in die sagte dons om die kraag van jou baadjie of jas ingedruk, soos wat gaanse maak as hulle koud kry. Al vries alles wat nie in lae bedek is nie.

En dit moet jy nog twee keer doen. Voordat jy by Dusty se garage kom.

Dan moet jy versigtig trap. Want baie mense het die sneeu platgetrap, dit het gesmelt en jou voete dreig die hele tyd om onder jou uit te gly.

En dan eers kan jy ontspan. Want in Dusty se garage is dit 2 grade Celsius. Windloos. En hierdie Suid-Afrikaner dink dan sowaar dat dit warm is.

Dit is eintlik warm. Mens vries nie as jy in Dusty klim nie.

Ons ry nie oral waar ons wil wees nie. Want ons het nog voor ons by die garage gekom het, aan die agterkant van die apteek en ‘n klomp klein winkeltjies verbygeloop. Waar jy melk en eiers en tee en hoender en roomys en eintlik alles wat jy nodig het, kan koop.

En iewers in die toekoms gaan die mall, wat reg langs Dusty is, sy deure oopmaak. Dan sal ons die vierde blok ook stap. Om na die nuwe mall te gaan.

Dus word Dusty net naweke uit haar nessie gehaal. Sodat ons na groot winkels kan gaan. Wat ook seker sal verander as die mall eers oop is.

Ons durf die twee blokke in wind en weer aan om die nodige in die week te koop. Soontoe is makliker as teruggaan, want teruggaan gaan met pakkies gepaard.

En as jy jou handskoene vergeet of aspris gelos het, is jy in vir ‘n ding.

Die koue van die sneeu onder jou voete en oral om jou slaan op na die kaal vingerpunte, palm en hand. En kleur dit rooi terwyl die bloed in die are stol. Dink ekke, want dit pyn as dit warm word en weer begin vloei.

Is daar ‘n graadverskil onder sub-zero?

Gewis.

Ek toets die temperatuur op die stoep van ons kamer op die agtste vloer van die gebou.

Ek kyk na die temperatuur op die toep en trek aan soos ek dink ek gaan warm kry. Dan toets ek.

As ek die deur oopmaak en my jas en kouse en hele kamer is tot by die verste muur onmiddelik yskoud, gaan ek nie uit nie.

Dink net hoe ek na twee blokke sal voel? Mens loop al hoe stadiger tot jy seker bevrore tot stilstand sal kom? Om soos Lot se vrou te staan?

As ek die deur oopmaak en uitgelok word na die stoep, staan ek daar en wag so rukkie om te voel of my bene kla dat hulle koud kry. As hulle kla, trek ek dikker en dikker kouse aan totdat ek warmer voel. En dan durf ek eers die koue aan.

Want ek gaan nie gou in ‘n taxi klim nie. Ek gaan stap. Blokke ver. En ek moet die koue kan hanteer.

So vra ek nou die aand vir manlief of ek nie maar ‘n taxi vir die drie blokke kan bestel nie.

En hy vra of ek laf is!

Nee, ek is nie laf nie, ek dink dit is ‘n baie goeie idee. As ek so koud kry dat my warmste klere soos swemklere voel, wil ek nie stap nie. Ek hoef mos nie?

Kry hy dan nie koud nie?

Hy doen. Sê dit net min.

Ek het my gister amper ‘n papie gelag. Toe hy sê dit is so koud dat sy neushare in sy neus vries.

Nou kyk, daai plek is een plek waarin ek nie kyk nie. Toe vra ek maar hoe hy weet. En hy sê dit voel soos stokkies in sy neus!

Ek voel nie daai vries nie. My neus word in die pels om my kraag of in my serp weggesteek.

My voete kry koud. Binne-in gevoerde stewels wat tot by my knieë kom. As ek nie twee paar warm kouse aantrek nie. Meer kan ek nie, die stewels sal bars.

Ek het vandag nie, dit is mos maar -7?

Toe kry my tone koud en loop ek so en trek my tone op en af en beweeg hulle heen en weer. Want mens wonder tog. Dit is ver onder vriespunt en dit kan dalk vries?

Bevrore goed breek tog maklik. Dwarsdeur.

Morsaf.

En wat sal ek in die somer sonder tone maak?

Ons het die naweek entjie uit die stad gery. En iewers langs die pad wou ek stop en foto’s neem. My mussie wat ek gebrei het, is te dun. Al lyk hy so dik! En daarom het ek sommer sonder hom uit die kar geklim, entjie teruggestap tot op die brug om foto’s te neem.

Sien, regtig sonder mussie en handskoene ook. Dit is tog net so 20 treë?

Fout!

Die hand wat die foon moes vashou, wou verkluim. Die wind wat in die riviervallei afwaai, het my hare opgelig en rondgeswaai en met ‘n ysige wind geblow wave. Mooier as wat ek eintlik met hitte kan doen. En beter platgestryk as met my GHD.

Dit het ek eers gesien toe my hare ontdooi het.

Hoe die nomades dit in hierdie klimaat oorleef het, weet ek nie. Die een dag amper leefbaar koud, dan drie dae se sneeu en ‘n ysige aarde om jou.

Tog lyk dit of die mense aangepas is vir die koue. Hulle loop met baadjies en sykouse as ek met ‘n jas en twee paar sykouse en ‘n langbroek loop.

Ysbere? Eskimo’s?

Nee, net aangepas om in uiterste temperature te leef. En dit te geniet. Vir hulle is die koue lekkerder as die warm maande!

En daar kom verras manlief my so pas met nuus:

Dit is die laaste dag wat ons mag stap, van nous af moet mens nie stap nie!

Halleluja, ek kry van nous af taxi tot by Dusty!

Spot sommer, sal dit seker net in uiterste gevalle doen.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Hoe koud is dit in Qazaqstan, ma?

  1. Christa, SAL staak, so ek kan toe nie kom kuier nie… En dit het nou nie met jou skrywe te doen nie, hoor. Wie is dan nou bang vir ń bietjie koue?😉🥰

    Like

  2. Nee o vodde – drie blokke na jou kar toe is darem te ver. Hoe bly is ek dat myne onder die huis se dak net langs my kombuis is. As ek nou in hierdie gure weer (18°C op die oomblik) buitetoe moet stap om iewers heen te ry, bly ek liewer by die huis 😮 Ek geniet darem jou stories oor die koue en die sneeu.

    Like

      1. Hulle het seker geklimatiseer. Ek kom agter dat op dae wat ons hier as koud en mislik bestempel, swem die Vaalies heerlik op die strand – hulle is immers gewoond aan ‘n baie kouer klimaat.

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.