As plaasdiere eers name het …

Ek lees gister ‘n bloginskrywing van ‘n blogvriendin. En haar hartseer omdat haar baas ‘n geliefde koei ter slagting stuur. Een waarvoor sy ‘n naam gekies het. En wat sy ontdek het dat die koei se baas ook vir haar ‘n naam gehad het. En dit het heimweë na my eie kinderjare gevat.

***

Ons het op ‘n plaas grootgeword. En ons kon eers nie verstaan waarom my pa nie wou hê dat ons plaasdiere name kry nie.

Tog het ons vir hulle name gegee, want hoe moet die skaap of bees nou weet wie jy roep as jy nie ‘n naam gebruik nie?

Gou het ons besef waarom nie. Want plaasdiere is eintlik kos. En as hulle name het huil vyf dogtertjies hulle oë uit as pa sê dat ‘n spesifieke dier ‘n kolletjie gaan kry.

Die kolletjie is die kolletjie op die kop waar die bees geskiet is. Ons was dankbaar dat pa van ‘n kolletjie gepraat het om die daad te versag. Want hy was ook die persoon wat die dier moes skiet.

Ek onthou een spesifieke geval. Ek was nog bitter klein. Want ons het aan die einde van my standerd 4-jaar Chrissiesmeer toe getrek. En dit het op ons Modderfonteinplaas gebeur.

Ons het ‘n bul gehad, ‘n statige Brahmaanbul. En ons het hom 100 gedoop. Honderd omdat hy my pa soveel geld daardie tyd uit die sak gejaag het.

Ons was bang vir die bul want my pa het ons geleer dat mens nie te mak met diere word nie. Maar ons het met hom by ons niggies en nefies gespog. As hulle op die plaas kom kuier het.

Vertel dat hy oor telefoondrade kan spring. Daarom moet hulle hom nie by die die drade pes nie.

Stadsjapies was vir ons van die domste mense. Hulle het geen begrip van gevaar gehad nie.

Ja, 100 is mooi. Ja, 100 is groot. En nee, ‘n bul is nie ‘n speelmaat nie.

Bulle is nie dom nie, hulle onthou wie hulle gepes het. En hekke is nie altyd toe nie. Dus moes hulle mooi verstaan dat die mooie dier ook gevaarlik is.

Ons het 100 op ‘n afstand bewonder. Altyd gesorg dat daar ‘n draad met ‘n hek tussen ons en 100 is.

En toe hoor ons dit. Hy is gemerk vir ‘n kolletjie. Want hy raak te swaar vir die koeie.

Nou kyk, ons is baie preuts grootgemaak. En ek is dankbaar daarvoor. Ons het geen probleem daarmee gesien nie, die koeie moes net in ‘n ander kanp bly. Het niks geweet van drange nie.

Ongelukkig het 100 dit nie verstaan nie. Hy is so ingestel om sy gene goed te verdeel. Soos Danie Craven se hond in daai liedjie van Steve Hofmeyr. En hy het gekla. Gebulk. En sy nek so lank uitgestrek om die weeklaag harder te maak.

Hy het ‘n werk en die draad is in sy pad.

Ons kon hom nie red nie.

Maar ons het geweier om die vleis te eet. Natuurlik nie voor pa en ma nie. Hulle sou seker maak dat ons eet.

Aan tafel het ons al om die vleis geëet. En as pa en ma nie kyk nie, is die honde onder die tafel gevoer.

Wat natuurlik ook veroorsaak het dat ons nie kon skree as die hond te gulsig gryp nie. En ‘n vinger of twee hard met tande kennis maak nie. Dan het ons die vleis sommer net laat val.

Maar dit was veiliger as die hond dit kry. Anders sien ma die vleis as ons opstaan.

Daarna het my susse nog name gegee. Dink ek.

Ek het nie. Dit was ‘n baie, baie slegte ervaring.

Daarom verstaan ek vandag Bondels se probleem toe haar baas ‘n koei waaraan sy geheg is, ter slagting wou stuur.

Net soos ek as kind, het sy ook nie beheer oor die baas van die plaas se besluit om te laat slag nie. Omdat plaasdiere daarvoor aangehou word.

Sterkte Bondels, mens se hart is daarna nog vir baie lank seer.

Jy wonder wat jy kon doen om te red, maar daar is niks wat ek of jy daaraan kon doen nie.

Mens leer wel uit die fout om ‘n plaasdier ‘n naam te gee.

Altans die soort wat Suid-Afrikaners op die tafel sit. Geen bees of skaap of vark of hoender het daarna weer ‘n naam gekry nie.

Daar was geen manier waarop ek myself weer deur daardie hartseer sou sit nie. Om te weet dat ek my gunsteling dier se lewe nie kon red nie.

Ons perde kon name kry. Poon, Ponie en vele meer. Hulle was veilig, hulle sou nie op ons tafel as kos eindig nie.

Waarom? Het ek eers hier in Qazaqstan ontdek. Toe ek weier om perd te eet, maar dit mooi moes verduidelik aan mense wat perd op die tafel sit. Wat dit eintlik as bederf beskou as hulle dit vir my aanbied!

Volgens my pa eet ons nie die vleis van diere waarvan die hoewe nie gesplit is nie. Dit is ons geloof en dié antwoord word hier aanvaar. Waar mense nog sterk volgens tradisies en kultuur lewe.

Baie, baie jare later is 100 steeds in my gedagtes as ek aan daardie tyd dink. Naam en al. Dit het ‘n geweldige impak op my as kind gehad.

En nou oorweeg ons om plaas toe te trek. En ons eie diere aan te hou. Ek gaan sorg dat elkeen van hulle ‘n naam het sodat hulle van ouderdom kan omkom eerder as om kos op my eie tafel te word.

Anders sal ek hulle op ‘n vendusie verkoop. Waar ek nie hoor wat hulle lot gaan wees nie.

Miskien moet ek met stoetdiere werk. Want hulle word ook nie ter slagting verkoop nie. Daarvoor is hulle heeltemal te duur.

Dankie vir jou skrywe Bondels, dit het my hart met ‘n punt na my kinderdae getrek.

Fotokrediet

26 comments

      1. Ek lees tussen die lyne hoekom mense so veg teen gewig. Hulle vrees daai kolletjie.

        Koos se skape is mos bloedskenkers.

        Oom daar by Kroonstad stap huilend tussen tweehonderd Bonsmaras deur, vra vergiffenis vir wat wag en groet elkeen met ‘n soen. Hy is LIEF vir sy diere.

        Like

      2. Jip. Ek het al gaan help beeste boer. Friese, Jerseys, Simmentalers en daai lieflike Brahmane. Charolais en Hugenote is vir my mooi. Daai Hugenote het ek gesien by Steenbokpan naby die Botswana-grens. Reusagtig.

        Ek het ‘n boutknipper want ek hou van beesstert.

        Like

      3. Die lewe is vreeslik. Ek sien elke dag die wreedheid van oud word, hoe harteloos die mensdom is teenoor die liefste ou tantetjies wat winkel toe skuifel vir ‘n sakkie melk. Hulle almal sit alleen, deur jonges verlaat, en wag vir hulle kolletjie. En die lewe woerts te vinnig vir hulle. Soms wil ek hulle aanneem en saamvat huis toe. Maar ek woon op ‘n posseël.

        Like

  1. Dis soos daardie dag toe my ma ons troetel hoender laat slag het vir onverwagse gaste. Almal smul heerlik en ons kinders sit met trane in die oë en raak nie aan die vleis nie. Nee as jy ‘n dier eers ‘n naam gegee het is dit hartsake.

    Like

  2. Mooi skrywe, Christa. Ons middel dogter het ń vegetariër geword die dag toe sy hoor ons Brahman koei is geslag. Twintig jaar later en sy is steeds een.🙈

    Like

      1. Die gevaar is wanneer jy werklik betrokke is by die diere. Ek weet dat dit altyd moeilik is vir die melkstalbestuurder as dit sy gunstlingbul is wat geslag moet word, of ‘n ekstra spesiale koei. Daar is mos maar van die diere wat jy net liewer voor is as van die ander.

        Like

  3. Ek dink, julle, kon maar met ou 100 gespeel het. Geen bees, word so mak soos ‘n Brahman nie. Onnthou ook maar, stoetdiere, al is hulle hoe oud en al was hulle baie duur, moet ook maar een of ander tyd, geslag word. Dankie, lekker gelees.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.