Die wonder van ‘n nuwe lewetjie

Jare gelede, toe ek met my dogter swanger was, het die dokter een sonar gedoen om te kyk of alles reg is. En nie weer nie. Toe was daar nie iets soos 4-dimensionele sonars nie. Alhoewel ek gesukkel het om te sien wat die dokter sien, was ek klaar verlief op die babatjie wat op pad was. Ons wou nie die geslag weet nie, het net gebid dat die babatjie gesond sal wees. En sy was. Ons rabbedoetjie is op die verwagte dag gebore.

Vyf jaar later, toe seun op pad was, is daar steeds ‘n enkele sonar gedoen. En weereens wou ek en manlief nie die geslag weet nie. Ons was ek klaar verlief op die lewetjie wat in my vorm aangeneem het. Ons rustige seun wat twee weke later as die verwagte datum gebore is.

Ek kan nie onthou of mens die hartkloppie tydens die sonar vir die eerste keer gehoor het nie, maar ek kan wel onthou dat ek later nie kon verduidelik waar die koppie of lyfie op die piepklein foto’tjies was nie. Dit was genoeg om die hartkloppies te kon hoor.

Sterk. Vinniger as myne. Maar dit het my hartklop ook vinniger gemaak. Ons babatjies was gesond. Sterk. Veilig.

Veilig het die Here ons ou seuntjie in sy nessie bewaar toe ons ons motor op ‘n grondpad tussen Standerton en Volksrus gerol het.

Ek was drie maande swanger.

Ek is uit die motor geslinger. Sukkel om wetsgehoorsaam te wees daarna. As ek veiligheidsgordel aangehad het, was ek dood. My kant van die kar was tot op my sitplek se kopstuk platgedruk.

Ek was bewusteloos. My hele lyf was vol bloukolle, lang sny oor my heup, eintlik twee, korter sny oor my pols en op my kop. Diep gleuf oor my bobeen waar iets wou oopsny, maar nie deur my langbroek kon druk nie. Gebreekte rib en nek, kompressiebreuk. Twee werwels in mekaar gestamp. Sonder om my rugmurg te beskadig.

Maar my maag het geen enkele merk of stamp of sny gekry nie. Al is daar geen been wat die babatjie kon beskerm nie. Seun se nessie was spierwit, die res van my lyf was rooi, blou en pers. Vol bloed. Goed beseer.

Hoe kan mens nie glo dat God hom beskerm het nie? Ons almal gespaar het nie?

Manlief is beseer. Rugwerwels se vashoubeentjies gebreek. Sussa se bo-beentjie het gebreek. Oupa het niks oorgekom nie. Ons almal was veilig. Ons kar was afgeskryf.

Tans word ouers en vriende ook anders ingelig as in my tyd.

Daardie tyd het ons sommer vir pa en ma gebel en laat weet dat hulle eerste kleinkind op pad is. En vyf jaar later dat ons vir die derde ene gesorg het.

Ons pigeon pair was volmaak. Ousus en kleinboet. Vyf jaar uitmekaar. Ek het vir al twee baie tyd gehad gedurende hulle kleuterjare. Eers weer skoolgehou toe hulle op drie kleuterskool toe is.

Intussen het sonars verander. Mammas en pappas kan hulle kleingoed in vier dimensies sien. Amper presies weet hoe die babatjie gaan lyk as hy of sy gebore word.

So het ons ons drie kleinseuntjies van my dogter se kant af “ontmoet” lank voor hulle gebore is. Foto’tjies van hulle gekoester, veilig in hulle nessies besig om te ontwikkel. Wondermooi. Wonderlik.

Maar ons is nie met die nuus gebel nie.

My verjaarsdaggeskenk vir my 50ste verjaarsdag was ‘n klein, sagte pakkie. Toe ek dit oopmaak, staan op die geel babygrow Ouma, met 50 daaronder en ‘n hartjie. Genade tog, mens se brein het vir ‘n oomblik nie verstaan wat sy lees nie. Die dingetjie gaan my nie pas nie. En toe die woeste opgewondenheid. ‘n Kleinkind is op pad!

Die tweede keer het kleinseun ‘n hempie gedra wat die koms van ‘n boeta aangekondig het.

Die derde keer het twee kleinseuntjies op die tafel in my sitkamer gesit toe ek en oupa instap. Met hempies aan waarop die koms van ons derde kleinseuntjie aangekondig is.

Die spesiale manier om ons te vertel was nie vir ons seun en sy vroutjie beskore nie. Ons woon sedert Maart in Qazaqstan.

Ons wou hulle vliegkaartjies bespreek. Hulle sou wit kersfees by ons kom vier het. En skielik het hulle gedraal. Oupa het standpunt ingeneem, ons moes nog uitnodigingsbriewe geskryf kry en dit vat tyd. Ons moet praat.

Hulle het gesê hulle videobel die aand. Aangesien ons gereeld so kuier, het ons niks verwag nie. As ek nou daaraan dink, moes ek die gloeiende opgewondenheid gesien het. Skoondogter is ‘n skaam enetjie. Soos ekke.

Hulle het iets gepraat van gesondheid en ek het gesê hulle is mos gesond. Ek kan dan sien, né!

Toe vra seun: En skoondogter? My verstand het nie vir een oomblik aan siektes gedink nie, my eerste gedagte was dat hulle verwag.

En ons het saam gelag en ek en oupa het trane gepink. ‘n Van Staden babatjie is op pad. Ons kon darem die sonarfoto’tjie sien. So dankbaar vir tegnologie!

Skoondogter wou weet of ek geweet het. Maar nee, seun kan geheime hou. Min met sy ma gepraat. Net vir in geval sy weer vra wanneer sy dan aan sy kant ook ouma gaan word.

Hulle wou eers stilhou tot hulle geweet het alles is reg. En hierdie oupa en ouma moes stilbly. Ons wou mos so aandring op vliegkaartjies! En jok sou die twee nie jok nie. Nie oor so ‘n belangrike gebeurtenis nie.

Ek kan nie stilbly as ek goeie nuus het nie. Dus het ek met min mense gesels.

Net vir Mia gesê ek het goeie en slegte nuus gekry. Toe ons brood bak. Sy het gevra wat die slegte nuus is en ek het gesê seun kom nie meer Desember nie.

O my word! Laat ek maar eerlik wees hier. Mia het geweet dit is slegte nuus. Sy het geweet hoe ek uitgesien het.

As ons in die strate geloop het, moes sy hoor wat en wat en wat ek alles vir die twee wou wys. Manlief wil nie saam trem ry nie, dus weet Mia hoe graag ek dit saam met die twee wou doen. Die twee hou van alles verken waar hulle is, ek het daarom min in winkels rondgesnuffel. Dat ons drie dit saam kon doen.

Mia het my verras aangekyk en toe self uitgewerk wat die goeie nuus is. Ek wou nog sê dit is dat ons kersfees huis toe gaan. Maar sy het geraai dat seun en sy vroutjie vir ons vierde kleinkind gesorg het.

Daaroor kon ek nie stry nie. Mens jok nie ook sulke goed nie. Sy ken geen mens wat ek ken nie, is nie op Facebook nie. Kan nie per ongeluk iets uitlap nie. Dus het ek net mooi geglimlag en niks verder gepraat nie.

Hulle kan nog baie kom kuier, ons is so opgewonde soos net ‘n oupa en ouma kan wees.

En … ons gaan dan Suid-Afrika toe. As Mohammed nie na die berg toe kom nie … Sal foto’s van die wit kersfees hier saamvat!

Al het ons nou vierdimensionele beelde, wonder ons oor sy kleur haartjies.

Ons hele gesin se paartjies is so, die een ‘n donkerkop, die ander blond. Manlief blond, ek nie. Dollatjie donkerkop, haar man nie. Seun blond, sy vrou nie. Dus wonder ons elke keer oor haarkleur.

En natuurlik ogies. Want ons oë verskil ook. Ek groen, manlief blou. Dollatjie groen, haar manlief blou. Seun blou. En hier is die ding wat interessant gaan wees. Sy vrou het donker oë.

Ek het te lank laas Biologie gehad. Maar iewers wil dit vassteek dat bruin dominant kan wees. Op ‘n manier kan hierdie kleinseun van ons anders wees. Blond met bruin ogies? Donkerkop met bruin ogies? Of gaan pa se blou oë sy stempel afdruk. Ek sien die kans vir blou oë is 50%.

Vir die twee verrassings sal ons moet wag tot hy gebore is. En selfs dan is alles nie set in stone soos die Ingelse sê nie. Want seun is as ‘n pikswartkoppie gebore. My Irish beauty, wat twee weke later as sy verwagte datum gebore is. se haarkleur het uitgewas. So spot ons. En toe het ons ‘n blondekop seun en ‘n donkerkop dogter.

Aan dolla se kant het ons drie blou-oog kleinkinders. Twee blondekoppies, een donkerkoppie wat so baie na sy ma lyk, dat dit soms voel soos dejavu. Asof ek in jare teruggegaan het. En my poplappie vashou. Nie my kleinkind nie.

Boeta kon haar lekker verras met die nuus. Haar genooi vir huiswyspartytjie. Wat gedraai het, want daar is ingebreek en die kinders se goed moes vervang en reggemaak word.

Toe vra hy haar om na die helder beeld van die nuwe TV te kyk. En maak dit by sonarfoto oop.

Ek hoor sy was superopgewonde oor kleinboet nou ook ‘n babatjie gaan hê. So dankbaar ek het begin brei dat dit klap. Om my mond toe te hou. Besige hande kan nie gou boodskappies tik nie. Seun-hulle se verrassing wou ek nie bederf nie.

Tans weet mens watter geslag die kindertjies gaan wees. Ek en manlief wou nie met ons eie weet nie.

Eerste kind kon enige geslag wees, tweede een het ons mooi gevra of ons een van die ander geslag ook kan kry. En vas geglo dat die Here ons gebede verhoor. Ons doof gehou vir mense wat sê, ja, en sê nou dit is ‘n seuntjie en daar is groot fout?

Ons Here speel nie so met gelowige harte nie, dus het ons nie weer met sulke ongelowige Thomasse gepraat oor ons kindjie wat op pad is nie. En nie laat loer nie. Al het die dokter gebars om ons te vertel

Dit is egter lekker om te weet wat die geslag is, het ek met my kinders se kinders agtergekom.

Ons kan saam beplan en gereed maak vir die dag waarop hulle gebore word.

‘n Huis vol seunskinders. Vir ‘n ouma wat in ‘n huis vol sussies grootgeword het. Daar gaan vir lank groot lawaai tydens gesinskuiers wees.

En nou het ons ons eerste kleinkind aan seun se kant so pas ontmoet. Nog ‘n seunskind, met drie groter nefies wat alte lekker saam met hom gaan speel.

En ek en oupa sien vreeslik baie uit. Want sien, ons het die voorreg om ‘n gesin te wees wat nie met mekaar veg nie.

Ek verduidelik nie meer vir ander mense dat my kinders nie veg nie. As mense dit nie self uit ons gesinsfoto’s kan aflei nie, is dit hulle saak.

Maar om ‘n gelukkige gesin te wees, kom nie vanself nie.

Ouers is die gom wat hulle kinders bymekaar hou. So hoor ek by ander mense. Dit is egter nie volgens my die waarheid nie. Buitendien, wat gebeur wanneer die ouers nie meer daar is nie? Is die gom dan weg?

Ons gom is verhoudings met mekaar. Ons sê ons is jammer as ons iets sê of doen wat verhoudings kan laat uitrafel.

Dit gebeur egter selde. Want sien, ons geniet dit om by mekaar te wees.

Ons kersetes is een groot vet fees. Almal het werkies. Pa maak die kalkoen en gesoute varkboud gaar. Boeta en sy vroulief sorg vir die voorgereg. Sussa en haar manlief vir die nagereg.

En ekke vir die ander kos. Want daar moet darem groente ook wees. Ek is egter die swakste kok van ons klomp. Hulle aanvaar dit so. Help soms om myne ook na Master Chef se kos te laat lyk.

Wat my dan weer by die rede vir hierdie inskrywing bring.

‘n Nuwe lewetjie is besig om in sy mamma se lyf gevorm te word. Die sesde enetjie wat my en manlief se gesin uitbrei. Eers ons eie en nou hulle kindertjies.

‘n Wintie enetjie, lê sommer so dat ons mooi kan sien dat nog ‘n seunskind op pad is. En wintie gaan hy moet wees, want hy het reeds drie nefies wat sal wil speel sodra hy vir die wêreld kom hallo sê.

Liewe seunskind, ons almal is in verwondering oor die skep van ‘n nuwe lewetjie. Jy gaan van jou ouers hou, net soos jou nefies van hulle ouers hou. En natuurlik van ouma en oupa.

Ons was kwaai met ons kinders, maar is sag met ons kleinkinders. Kwaai is ma en pa se werk, hulle moet sorg dat jy vir ‘n lewe gereed gemaak word.

Ons almal sien vreeslik baie uit om jou in die uitgebreide Van Stadengesin te verwelkom.

Jy gaan nie alleen wees nie, jy is die vierde gesinslid met ‘n April verjaarsdag. Dus verjaar 40% van die gesin in April! Lyk my alles gaan in viere vir jou? Selfs die vierde maand. Is dit dalk ook met jou geboortedatum so? 4? 14? 24?

Welkom!

Foto: Skoondogter het die foto met ons gedeel. Net betyds vir hierdie inskrywing wat gedraal het. Hoop sy gee nie om dat ek dit vir my blog gebruik nie.

17 comments

  1. Ek het êrens al gelees dat die babatjie oppad is. Hy en ons kleinseun gaan naby mekaar in die wêreld kom. ‘n Mens spekuleer maar lekker oor die nuwe mensie wat gebore gaan word. Dit moet moeilik wees om vêr weg te wees.

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.