Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Ek moet Russies leer praat!

Toe ons hierheen getrek het, het ek besluit dat ek Russies moet leer praat. Intussen het die lus verflou, die taal is, soos ons in Afrikaans stel, Grieks. Enigste probleem is dat Grieks dalk veel makliker as Russies is om aan te leer, die Russe verwar mens nogal baie.

Daarom het ek tot nou toe op enkele woorde en gebaretaal staatgemaak om my sin te kry en my koop te koop.

Dit is nie meer goed genoeg nie. Die mense leer my ken, en wil met ons gesels. En ons verstaan te min om saam te gesels, selfs om net te verstaan wat hulle praat.

So staan ek in Kari, ‘n oulike skoenwinkel, om te betaal vir my paar gumboots. Hier dra die vrouens gumboots met ritssluiters wat met warm materiaal gevoer is. Die ene prentjies. Die was hierdie blinkertjies die naaste aan wat ek sal dra. En dit is heerlik om nie meer vir elke plas te koes nie.

So terloops, Towerinne, ek kan met die paar skoene saam die gumbootdans doen. Mits dit in ‘n sub-zero grot is. Want dit gaan nie in die RSA werk nie. Die skoene is so warm dat ek uit dit sal gly van die sweet, die materiaal sal nie alles kan absorbeer nie. Vir hier is dit die lekkerste skoene in my kas, al het ek so bietjie geweifel voor ek dit aangetrek het.

Veral omdat ek skoene net soos my vriendin s’n gekoop het, ek kan my nie insien met rooi rose of allerhande ander prentjies op my skoene nie.

Ek dwaal af. So staan ek by die kassier om te betaal. Een van die winkelassistente het my boks met die sware skoene in by my kom vat terwyl ek na beenverwarmers gekyk het. En toe ek by die betaalpunt kom, is sy en my skoene soek.

Ek kry dit toe ek om die toonbank loer, maar toe het een vrou reeds my plek in die ry gevat. En moet ek agter haar staan. Terwyl ek wonder hoe ek vir die assistent gaan sê watter van die pare by haar op die grond my paar is.

Die volgende oomblik is die reuk/geur/stank van alkohol oral om my. Oorweldigend. Man agter my, sy vrou stampend en stotend langs my. Druk verby en gaan staan aan die ander kant van die vrou wat betaal, reg om volgende gehelp te word. Ek weet hoe om te sê jy is ongeskik, tie ghrubie, maar ek vermoed die twee gaan dit nie goed vat nie. En hulle staan reeds op my, teen my, soos in ‘n drukgang op my pa se plaas.

Maar, ek is ook nie lus om terug te staan nie. Ek het ‘n warm jas aan, warm skoene, warm kouse, warm alles. Meer as een laag bloes en nog ‘n warm onderhemp ook. En dit is warm in die winkel. Soos somerwarm. Omkapwarm.

Ek sal omkap as ek langer daar staan as wat ek moet. Die sweet tap af en ek sweer ek sal hitte-uitputting kry. Met die twee so in my persoonlike spasie. As ek nie saam dronk word nie. Suiwer alkohol in die lug. Dus draai ek ook so dat ek die asems van voor en agter mis. Net vir ingeval.

Dus staan ek met drie probleme. Woorde ken ek nie om my skoene te vra nie. Die twee om my is te diep in my persoonlike spasie om gemaklik te voel en ek kry te warm om om te gee of ek die skoene wil hê, selfs al het ek baie ver gestap om dit te gaan koop.

Die vrou voor my is gehelp en ek staan reg om die winkel te verlaat sonder die skoene toe die assistent my groet, buk, die skoene op te tel en vrae begin vra.

Ek verstaan karta, wil ek winkelkaart hê? En ek antwoord, Da, ja ek wil. Die Qazaqvrou wat wou indruk, staan en stoom langs my. Mens kry egter goeie pryse as mens kaart het, dus doen ons die kaartding. Want die vrou voor my het 1000 tenges afslag gekry … en ek hou van afslag.

Laat dit my nou weer aan PG du Plessis dink. Netpryse. Dit is die pryse wat vrouens vir hulle mans gee as hulle iets koop, al was dit baie duur. “Kyk die ou mooi skoentjies, ek het dit vir NET soveel en soveel gekoop.” Wel, my netprys was goed vir die dag, minder as 5 000 tenges, dus so naby R150. Dit was 10 000 tenges, dus het ek regtig net 5 000 betaal.

Die vrou stoom en haar man stoom. Die vrot alkoholreuk is oorweldigend. Maar ek staan vas. En toe hoor ek haar in Russies afgaan. Verstaan niks, behalwe robottai. Werk.

Ek neem aan sy het gal gebraak omdat ek in Qazaqstan werk, maar nie die taal kan praat nie. Met ‘n verby-dronk mens sou ek nie wou in gesprek tree nie, maar sou lekker wees om vir haar te sê dat ek nie hier werk nie. En dat sy eintlik baie onbeskof is. En dat ek dit sal waardeer as sy nie so met haar borste in my arm indruk nie.

Ek kla egter met ‘n wit brood onder die arm. Die meeste van die tyd gaan dit beter. Wil die mense met my gesels.

Soos toe ons laas naweek vleis gaan koop het. Die twee vrouens by die een staanplek is ongeskik. As jy nie by hulle koop nie. Dus loop ek verby na die vriendeliker vrouens toe, want ek wil nie so behandel word as haar stuk vleis my nie aanstaan nie. Ek het tog al vertel dat vleiskoop ‘n nagmerrie is. Dit is juis vir haar wat manlief ingelig het dat hulle die vleis verkrag. En sy het ingestem, al het sy geen snars verstaan nie.

Toe ek die vleis het, vra sy iets. Ek verstaan niks. Want sien, woorde het soveel uitgange dat dit nie eens help om hulle te leer nie. Sy vra haar maat om te help en die beduie met hande in driehoek voor haar gevou. Ek verstaan niks, en sê garasjiô. Ek neem aan sy sê die vleis is goed. Daardie amper gebed gebaar verkeerd verstaan as dit is goeie vleis.

Toe nie, haar gesig sê dit is die verkeerde antwoord. Manlief verstaan sy wys huis, bly ons hier? Want sy sien ons nou gereeld. En toe hoor ek dom [huis]. Ons antwoord ja ons huis is nou hier, en dit was die regte antwoord! Halleluja.

Gister in Metro haal die vrou die papier op foto uit en gee dit vir ons nadat ons betaal het. Ons het daar ook winkelkaart. Sy praat en praat, ek sê ons verstaan nie.

Sy wys die datums. Najabr is November. In Russies. Karasha is November, in Qazaq. Sy wys na items in ons waentjie. En sê adien. Een. Trek die 10% plakker en wys dat ek dit op een item kan plak, op daardie datums. Dan kry ek 10% afslag op die produk. Wat ek kies. Tot 20% op ‘n item. Vier items kan teen afslag gekoop word.

Later in die kar lees ek met Google Translate dat daar voorwaardes is. Geen promosie-items, die regte prys van die produk en dit moet meer as 1kg weeg. Mens kan daarby uitkom, gelukkig het ek dit gelees. Anders sou mens in die ry gaan staan met jou geplakte items. En ‘n lesing kry waarvan jy geen snars verstaan nie.

Gisteraand gaan ons saam met vriende by Sochi eet. Mens moet baie, baie honger wees as jy daar wil eet. Dus het ons in Januarie laas daar geëet. Toe Ust aan ons bekendgestel is.

Dit lyk klein as dit so op die foto ingepas is. Vier sosaties. Genoeg vir twee dae se eet vir vier mense! Daai is groot vark tjoppies, een vir elkeen van ons. Ons spot so lekker daaroor terwyl ons eet. Dit is hoeveel kos ons op ‘n slag koop. Om so twee weke lank te hou. Op baie lang sosatiestokke! Nog ‘n foto om ‘n idee te probeer gee van die hoeveelheid kos.

Kyk hoe groot is die brood teen die vurk.

Ons stap in en word nie na tafel geneem nie. Die ou sê net bar, soos kroeg en wys daarheen. Ons wil nie kroeg toe gaan nie en verstaan so half dat die plek vol is, maar daar is baie tafels oop. En ons is honger.

Dus vra ek stohl? (Tafel) en tsitierie (4). Hy wys na die kroeg en ons kry ander kelner toe ons verder stap. Ons 4 wil hier sit, by hierdie tafel. Hy sê ja, en ons vrouens sit terwyl die mans kroeg toe is om die kos daar te bestel.

Goedkoop, met meer as R300 vir al die kos, ‘n bottel rooi wyn vir vriendin, pot tee vir my, liter boks appelsap en liter gegeurde water.

Uiteet in restaurante is oor die algemeen baie goedkoper as in Suid-Afrika.

Die punt is, ek gaan die week begin om aktief te leer. Al is Russies vir my onverstaanbaar, sal dit seker beter gaan as ek besluit ek gaan nou leer en klaar.

En as mens nou regtig wil bewys ‘n taal is moeiliker as Grieks, kan mens na Qazaq kyk. Daai ene gaan ek nie eens probeer leer nie. Ek het julle al so hier en daar aan die vreemd van Russies voorgestel. Nou moet ek myself oortuig om die taal te leer praat …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Ek moet Russies leer praat!

  1. Sterkte met jou taallesse, hoewel dit vir my lyk asof jy goed oor die weg kom sonder Russies. Ek gaan nou hierdie vleisfoto’s vir my man wys – hy gaan só jaloers wees.

    Like

  2. A nee a dr van Staden….as iemand wat soveel kennis al met die wêreld daarbuite kon deel, kan een ou vreemde taatljie seker nie so erg wees nie? Hahahaha…ek spot net, hoor. Miksien moet jy op Babbel gaan kyk. Ek wou Frans so deur hulle leer.

    Like

  3. I know this language is ridiculously difficult… but trust me, its worth it. I feel so much more confident that I can understand people better. And be perhaps understood? That part im still struggling with

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.