Ek dreig al so lank om meer te vertel oor hysbakke en hysbakmaniere in Ust. Ek het nie foto’s van al die variasies geneem nie, maar ek dink tog ek moet dit vandag vertel.
By ons eerste woonstel in ‘n baie fancy woonstelblok buite die stad, was daar hysbakke. Mooies. Maar, toe ons vir die landlord vra waarom dit nog nie in gebruik is nie, moes ons hoor dat dit eers in werking gestel sou word as die plek 90% bewoon is.
Dus moes ons die trappe na die derde vloer klim. Ek weet jy gaan nou sê dat dit nie baie is nie, so laat ek verduidelik.
Die verskil tussen die hoogte van twee vloere was veel meer as in gewone geboue omdat die kompleks aanvanklik gebou is om as hospitaal te dien. Iewers het fout gegaan, die plek het iets soos twintig jaar leeg gestaan en toe het iemand die idee gekry om dit in woonstelle te verander. Dus het mens twee keer tussen vloere gedraai om by die volgende vloer se deur in te stap. En eintlik vyf vloere geklim as jy op die derde een bly.
Die traparea is nie goed verhit nie, dus het mens nogal koud gekry op pad boontoe en ondertoe. Doen dit bietjie met pakkies in die hand, wat jy alles op een slag moet dra omdat die taxi-man mens net aflaai en ry. Of met vier swaar tasse wat elk 30 kg weeg. En dan is daar nog die vier kleiner tasse wat wag om ook boontoe gedra te word.
Dit nadat ons doodmoeg hier geland het na twee dae in vliegtuie en op lughawens.
Net voordat ons besluit het om nader aan die stad te trek, is die hysbakke vir twee dae geaktiveer. En kry ons die verassing van ons lewe. Daar is knoppies maar die hysbak is doof!
Ons moes eers ‘n kaart wat amper soos ‘n bankkaart lyk kry om, net soos in speelparke ‘n aantal rye te laai. As die rye klaar is, moet jy weer die trappe aandurf totdat jy nuwes gelaai het.
Op soek na ons tweede woonstel het ons na ‘n paar woonstelblokke gaan kyk. En rillers gesien.
As die gebou drie en minder vloere het, is daar geen hysbak nie. Dan word daar gereken dat mens nie verniet bene gekry het nie. En moet jy trappies klim.
Die toestand van die hysbakke van verskeie van die geboue waarna ons gaan kyk het, het my oortuig om in elk geval trappies te klim. Sommige van die hysbakke se deure het nie lekker toegemaak nie. Ander het so gebewe dat my mynbou-ingenieur man wou weet of dit gereeld gediens word.
Jy kon ook nie net inklim en ry nie. Die eienaars van die woonstelle moes afkom na ons toe, ‘n snaakse sleutel gebruik om die hysbak te aktiveer en eers dan kon ons die hysbak saam met hulle gebruik.
Hysbakke is besonder klein en dit is te verstane, want ek het nog nie regtig oor die geboue vertel nie.
Woonstelblokke is baie, baie groot. Lank uitgerek. Maar elke woonstelblok is in kolomme ingedeel wat afsonderlik funksioneer. Elke kolom het sy eie trappe en hysbak (as dit meer as drie vloere het), en op elke vloer is toegang tot drie of vier van die woonstelle op dieselfde vloer.
Ek wonder nogal gereeld hoe die mense die meubels vir die woonstelle by die woonstelle kry, ek neem aan dat die trappe daarvoor gebruik word. Ek sou nie graag ‘n yskas of wasmasjien nege vloere hoog wou dra nie, maar daarvoor het die meubelplekke ‘n plan.
Mens betaal ekstra per vloer wat die meubels opgedra moet word. Asof dit jou skuld is dat jou woonstel so hoog in die lug is.
Ons woonstel se hysbak werk anders. Jy druk die knoppies en word na jou vloer of die grond geneem.
Maar, daar is etiket.
En dit het ons maar so op die harde manier geleer.
Ons hysbak vat ons na al die woonstelle op ‘n vloer van die gebou omdat die gebou smaller as ander woonstelblokke is. Die hysbak luister vir een opdrag op ‘n slag. En volgens hysbaketiket klim mens in, vra jy vir die ander na watter vloer hulle gaan. As hulle vloer onder joune is, druk hulle die knoppie. As joune die laagste is, druk jy die knoppie.
Ek stap maar in, se vosem (8) wat die tweede hoogste is en los hulle om die knoppie te druk.
Daar is net een vloer bokant ons en ek het nog nie saam met iemand gery wat op die boonste vloer bly nie. As hulle uitklim, druk jy die knoppie om na jou vloer geneem te word.
Hoe my man die verduidelik verstaan het, weet ek nie. Maar ek wou hom nie glo toe hy met die nuus by my aangekom het nie. Hy was egter reg, dit is hoe dit werk!
As jy te stadig is, en iemand anders het die hysbak geroep, kan dit gebeur dat jy op en af gaan ry voordat jy by jou eie woonstel uitkom. Dit het nog nie gebeur nie, want ons onthou sover om weer te druk as die persoon saam met ons uitklim.
Op pad ondertoe stop die hysbak nie by verskillende vloere nie, want hy luister, soos ek gesê het, net na een opdrag op ‘n slag. Dus ry jy al die pad ondertoe op jou eie, behalwe as iemand op jou vloer saam met jou vir die hysbak gewag het. Dit gebeur baie, baie selde. Hier is net ses woonstelle per vloer.
Ek het al vertel dat ek al een of twee keer saam met ons een buurman af is. En dat die oompie net wil gesels.
Vandag het ek saam met ‘n ouer man gewag om op te gaan. Ek het ons vloer se nommer in Russies gesê en hy het geglimlag en sewe gedruk. So kom ons hier reg, soms is min woorde genoeg om alles te doen wat gedoen moet word.
Ander kere wens ek dat ek die taal vinniger kan verstaan. ‘
‘n Vrou en haar dogter staan vanoggend toe ek van my stappie af terugkom voor ons trappies en praat. Dit lyk of hulle soek, maar ek kliek nie sy praat met my nie. Omdat sy nie vir my kyk nie.
Sy kyk so verbaas vir my omdat ek nie reageer nie. Punt is ek verstaan nie en as sy nie vir my kyk nie, weet ek nie sy probeer met my praat nie. Dus sê ek net my gebruiklike Ja ne panemajo PoRuski en sy verstaan dat ek nie verstaa nie.
Wys na die vrou van ons gebou wat so pas uitgekom het en probeer verduidelik dat die vrou sal kan help.
Wat die vrou natuurlik doen, sy het die probleem sien aankom.
Ek weet nie of hysbakke in ander lande ook so werk nie. Vertel gerus in die kommentaar as dit doen. Dit is die eerste keer wat ek so iets raakloop. En dit fassineer my steeds.
Gelukkig, werk hulle hier, soos ons daaraan gewoond is. Snaakse gewoontes, op sommige plekke.
LikeLike
Dit is nogal, ons leer maar so in die proses. Waar is hier Coetzee?
LikeLike
Hier, is in Paraguay, waar ons seker eintlik woon. Plaas verhuur, maar woon nog op die plaas, dan ‘n woonstel, in Brasilië, op die grens met Paraguay. Soos die gier, ons beetpak, beweeg ons tussen die twee, 350 km uitmekaar.
LikeLike
Klink amper soos ons in die RSA, twee plekke 340 km van mekaar, of is dit nou 240 km. Dink laasgenoemde is reg
LikeLike
Ek dink ek verkies ons hysbakke. Ek het engtevrees en is nie lief vir hysbakry nie… soek nie nog ‘n komplekse hysbak wat net een opdrag op ‘n keer uitvoer nie. 😊
LikeLike
Ek stem vir daai ene
LikeLiked by 1 person
Laat my dink aan die Staatsteater se hysbakke…wat ‘n riller!! Dit was baie vinniger en beter om maar met die pad af te stap tot onder by die parkering. ‘n Hysbak is ‘n snaakse ding!
LikeLike
Dit is waar nê Woordnoot, ek kyk elke keer of hy regtig daar is voor ek oor die lyn tree
LikeLike
Ag ek geniet jou vertellings tog so.🤗
LikeLike
Dankie Una ❤️❤️
LikeLike