A Waas? Dit ken ek darem …

Ons woonstelblok se ingang is deftig teen die ander in die straat. Woonstelblokke se ingange is aan die agterkant van die geboue, aan die voorkant is dubbeldeure so hier en daar en as jy by een van daardie deure ingaan, is jy verras oor alles wat in die winkels verkoop word.

Die winkeltjies laat mens aan die winkels in Hillfox in Weltevredenpark se China mark dink. Sommiges het glasafskortings wat winkeltjies skei, ander het toonbanke soos die wat mens in Pick a Pay sal kry waar mens broodbolletjies koop. Maar, ek dwaal al weer af, sal later oor die winkeltjies skryf. Ek wil hier meer vertel oor ‘A waas?’

Soos ek geskryf het, is ons woonstelblok se ingang deftiger as die meeste van die ingange in Ust-Kamenogorsk. Die ander het elke nou en dan ‘n staaldeur vir ‘n blok of kolom van die gebou. Mens druk ‘n kode in om die deur oop te maak en kry dan die reuk van ‘n ‘dungeon’ – koue, natterige reuk wat aan sement herinner. Daar is gewoonlik nog ‘n deur voordat mens met trappies na bo gaan. As daar minder as vier verdiepings is, is daar nie sommer ‘n hysbak nie. Ons gebou het nege verdiepings, daarom is daar ‘n hysbak. Soos ek reeds vertel het, is ons ingang deftiger.

Mens gaan met trappies na ‘n wit deur met glaspanele. As jy dit oopmaak, is daar nog ‘n deur en dan loop jy in ‘n babagrootte glasafskorting vas waaragter ‘n tannie sit. Ek het al so drie verskillende tannies daar gegroet. Daar is ‘n rekenaar, maar dit is die meeste van die tyd af as ek daar verbyloop. En ek is ook nie seker wat die tannie se werk is nie, maar dit is so lekker om ‘n deur oop te maak en in ‘n vriendelike gesig vas te kyk.

Ek is vanoggend gou af om te gaan vleis en naellakverwyderaar en ‘n botteltjie naellak te koop. Die vleis is gekoop met ‘n vinger na die maelvleis en ‘adien’ om aan te dui dat ek een kilogram wil koop. Die naellakverwydereraar met ‘n vraagteken op my gesig en ‘n vinger wat oor die naels vee om te wys dat ek die cutex wil afhaal. En die naellak kon ek gelukkigsonder woorde vat en saam neersit. En toe kon ek weer huis toe gaan.

Vanoggend is ek egter nie die enigste een wat by die gebou wil ingaan nie, ‘n galante oompie wag vir my en hou die deur vir my oop. Ek bedank met die min woorde wat ek ken – spaciba – en hy stap pratende saam met my hysbak toe. Ek verstaan niks!

By die hysbak praat ek Engels (damn) om te verduidelik dat ek nie verstaan nie en dit pla hom min. Hy slaan oor na Duits en tel vir my tot tien. Ek skrik so effens, wil nie die week vir ‘n Duitser in Kazakhstan aangesien word nie. Hulle vier fees, ‘n fees om die oorwinning teen die Duitsers tydens die TWO te vier. Klaarblyklik word Duitsers verdra, maar nie gedurende hierdie week nie! Ek verduidelik ek is van Afrika, Suid-Afrika. Hy lyk of hy verstaan en gebruik sy lyfie om so vir my vertel te vertel dat hy sy arms, bene en skouers geoefen het. Daar buite wys hy met ‘n vinger, het hy gaan gym.

Agter die gebou langs ons is ‘n oulike buitelug gym (sien foto), dus verstaan ek dit is waar hy gaan gym het. Die mammas en pappas en kindertjies oefen elke aand daar, ek kyk net van bo af, manlief wil nie saamgaan nie. En alleen gaan seker nie lekker wees nie? Ek glimlag om te wys dit is oulik. Die hysbak kom en ons twee klim in. Dit is nou nadat ek dit oorweeg het om die trappe te vat, maar besluit het om braaf te wees.

In die hysbak wys hy na 8 en ek skrik. Hoe weet hy waar ek bly? Dit kom nou van my braaf wees. Toe onthou ek dat die hysbak net een opdrag per keer uitvoer. Jy kan nie twee vloere kies nie, hy vat net een en dan moet mens weer intik as hy by daardie vloer gestop het. Die oompie gaan ook na 8, maar wag eers ewe galant dat ek kies, hy sal maar saam op en af ry …

In die hysbak gesels hy steeds. Ek verstaan op een stadium dat ek die woord wat hy so pas gebruik het, moet herhaal. Toe ek dit doen, besef ek dat dit sy naam is. Klink amper soos Johan, maar daar is goed vooraan en agteraan wat veroorsaak het dat ek die naam nie hoor nie.

En toe kom die: “A waas?” Daai ene ken ek. Dit beteken “En jy?” Hy het homself voorgestel en toe vir my gevra wat my naam is. Ek vergeet skoon dat ek weet hoe om myself voor te stel, naamlik met “Mienja zawoet Christa.” Dus is dit net Christa. Hy proe net, soos ek aan, die die vreemde naam. Kriesta? Ek “da” vir ja en hy proe weer daaraan. Kriesta! Die hysbak stop en ons tweetjies klim uit, ek eerste.

Om die hoek, deur die deur en in die kort gang af is ses woonstelle, waarvan ons s’n die enigste aan die linkerkant van die gang is. Hy besef dat ek skrikkerig is, stap vooruit en wys vir my watter woonstel syne is. En ek is sommer baie meer op my gemak. Die eerste gesiggie wat ek in die blok woonstelle gesien het, was die van sy vrou. ‘n Baie vriendelike tannie wat dadelik gegroet het toe sy my die eerste keer gesien het. En steeds met groet as sy ons sien.

Ek wys dat ek verstaan en stap aan na myne toe. Eers later die middag besef ek dat ek vreeslik ongeskik was. Het nie eens vir hom “paka” gewaai nie, dit is darem een woord wat ek beter kan gebruik. Hierdie taal moet onder die knie gekry word, die mense is vriendelik, ek moet oefen en die taal so aanleer.

Advertisements

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.