Ek weet ek skryf dit gereeld, maar hierdie tweejarige kleinkind van my het die empatie van ‘n grootmens. En … ek moet dit ook beter beskryf, want ek ken werklik min grootmense wat empaties is.
Vanoggend kom hy oulik by my aan. Sommige dae is hy kwaai, maar vanoggend is hy oulik.
Ek maak ‘n grappie met hom en hy is onmiddellik kwaad vir my. Slaan sy handjie teen ‘n tafel en toe huil hy omdat dit seer was.
Ek kry hom jammer, maar ek besef toe dat hy wel leer as ouma praat. Hy het my verlede week in die gesig geklap toe hy kwaad was. En ek het baie kwaai vir hom gesê as hy my weer klap, klap ek terug.
My hand so saggies op sy wang gesit en gesê dat dit baie seer was en dat mens nie aan jou ouma slaan nie. Beslis nie in haar gesig nie.
Toe klap hy eerder die tafel en besef hy dit is baie seer!
En so moet sy pappa sy oggend begin met ‘n kind wat huil omdat ouma met hom gespeel het. Ai toggie tog.
Die kinders noem dit hangry (hongerkwaad?). Hy is kwaad omdat hy honger is. En hy wil nie eet voordat hy kom nie …
Ouma is vanoggend nie in sy goeie boekies nie. En die eerste deel van die oggend is hy regtig goor met my. Jaag my met ‘n vingertjie weg as ek op die stoep kom waar hy stories kyk:
“Maak kos!”
Dan wip ek my nogals hoor!
Iedergeval, ek besluit toe om nie soos gewoonlik by hom te sit nie en doen die wasgoed. Baie lakens om te was nadat ons die rivierhuis leeggetrek het.
Dan loer ek vanuit die kombuis of hy nog OK is. En gaan aan om wasgoed op te hang.
Ek sien toe dat hy na my kom soek, maar ek is steeds vies omdat ek so weggejaag word. En stap weer uit om wasgoed op te hang.
Hy volg my en ek staan agter die lakens dat hy my voete sien, maar nie my gesig nie. En hy sit en speel op die trappie met ‘n karretjie.
Hy weet so waar ek is baie vies.
Toe stap ek in die huis in, vat my koffie en gaan sit in die TV-kamer. En toe verras die 2-jarige my.
Hy loer om die deur en sê:
“Askies, Ouma!”
(Toe ek sy ma en pa vertel, het hy die woord nie by hulle geleer nie! Ek gebruik dit wel baie.)
Ek kyk nie vir hom nie en hy probeer weer:
“Askies, Ouma!”
Ek kyk nie vir hom nie en drink my koffie.
En toe verras hy my baie!
“Drink koffie, Ouma. Beter voel.”
Ag jitte, toe lag en vir hom. En kom sit hy op my skoot.
Is dit nie wonderlik nie?
Volgens sy pappa en mamma sê hulle dit nooit nie!

So leer ons almal 🙂
LikeLiked by 1 person
Ons doen, Anne. Julle leer ook dat ek ongeduldig kan raak …
LikeLiked by 1 person
My kleinkind se woorde is soos musiek in my mond as sy sê love u. Wens sy kon meer tyd by my deurbring
LikeLiked by 1 person
Myne ook. Musiek.
LikeLike
Ek geniet jou kleinkind stories baie
LikeLiked by 1 person
Baie dankie, vriendin, ek gaan hom vreeslik baie mis volgende jaar
LikeLiked by 1 person