Gepubliseer in Joernaal,kleinkinders

Kleinkind, ek en tuinslakke

O my goeiste, as daar een ding is wat vir my baie grillerig is, is dit ‘n tuinslak. Vir my is die enigste goeie tuinslak ‘n dooie een.

Want ek vrees die dag wat ek buite gaan stap en daardie kraakgeluid hoor wanneer ek hom poegaai getrap het. Natuurlik hou ek ook nie van die silwerstrepe oor die paadjies wat wys waar hulle snags gewandel het nie.

En raai wie ontdek tuinslakke in my vooorste tuin?

Soos ek verstaan, hou hy baie van slakke omdat hy Turbo kyk. ‘n tekenprent oor slakke.

Gewoonlik kry ons een of twee slakke. En dan speel hy hulle op. Hulle loop op sy armpies, hulle loop of my tafel (ja, ek weet ek gril, maar ouma verstaan die leerproses). O ja, dit kan mos maklik skoongemaak word en hy speel ure lank met die slakkies.

Vanoggend is ons weer uit vir die slakke. En raai wat? Daar is baie. Met baie bedoel ek baie!

Hy is opgewonde die bedding in, en ek hoor net “one more” soos wat hy hulle in sy vuisie sit. Hy is so besig dat ek hom eers in die huis inkry om ‘n groter bak vir sy slakke te kry.

Ek was gewoonlik roomysbakke om as bakke te dien, dus gee ek aan van die roomysbakke vir hom. En hy is superopgewonde, sy “arme” slakkies het nou ‘n blyplek.

Ouma maak net seker dat een van die arme slakkies nie onder my voete beland in die huis nie. Ek maak ook seker dat ek nie kaalvoet loop nie. Dit gaan ek nie oorleef nie.

Die Coke-bottel het ek speels gegee om te kyk wat hy daarmee maak.

Hulle is in ‘n ry op die bottel gesit terwyl hy die bottel vashou. Ek het aan ander kleinkind se marmot se speelgoed gedink … Toe hy los en die bottel rol om as gevolg van die gewig, het hy die arme slakkies gered en weer in die roomysbak gesit …

Om seker te maak die arme slakkies ontsnap nie terwyl hy ‘n middagslapie vat nie, sny ek gate in die deksel, of eerder snye sodat hulle nie kan ontsnap nie, maar darem ook kan asem kry.

Ek gebruik nie weer ‘n glasbottel met deksel met gaatjies in nie. Siestog, een van sy vorige vangste het ‘n vinnige (hopenlik) dood gesterf toe ons gaan stap het en die son vol op hulle geskyn het. Toe ons weg is, was daar geen son nie, maar ouma moes darem vooruit gedink het.

So slapies die een bak met slakke en vra hy dat ons weer gaan soek.

Ek stem in, hy het alles wat ons gesien het die eerste keer opgetel. Maar nee … sy vuisie word gou weer vol en ons is weer in die huis in om ‘n groter bak te kry. Weereens ‘n roomysbak. En weereens maak hy die slakke bymekaar.

Hy speel en speel en speel en speel en speel met die slakke. Haal twee grotes en twee kleintjies uit en dan sing hy vir hulle: Daddy Slak, Daddy Slak en Mommy Slak, Mommy Slak en Sister Slak en Brother Slak!

Dan wil mense weet waarom ek hom toelaat om Baby Shark te kyk. Hulle kan die musiek nie verdra nie.

Kleinseun leer so baie wanneer hy na die stories kyk. En juffrou Christa geniet dit hoe wat hy leer in ander situasies toegepas word. Kreatiewe, slim breintjie.

Want, toe ons nou twee bakke met slakke het, sny ek groter gate in die tweede deksel. En slim slakkies ontdek die gate, hulle wil uitklim! Toe ons die deksel afhaal, sit baie reeds teen die deksel vas. Op pad na die gat wat vryheid kan verseker!

Hy raak moeg, want ouma wys vir hom almal wat op pad uit is. En hy moet hulle weer terugsit.

Planmakertjie, moet ek hoor:

“Your turn, Ouma”

Ouma eewweee net, aan die slak gaan ek nie raak nie. En sy antwoord laat my skaterlag.

“My turn”

En daar pak hy die slakke maar weer terug in die bak.

Gelukkig raak die slakke verveeld, of moeg of so iets.

Die arme slakkies slapies nou onder in die twee bakke.

En nou kan ons twee rus.

Iedergeval, vir die eerste keer raak ek bekommerd oor die veiligheid van slakke op kleinkind se handjies.

Toe lees ek oor slakke op.

Ek het nie geweet dat ons tuinslakke ook ‘n delikatessen is nie. Dus is hulle beslis nie gevaarlik of giftig nie. Net grillerig.

Aangesien hulle mooi aan die plante kou, is die blare nie beskadig nie. As hulle kleinkind gelukkig en kreatief besig hou, is hulle welkom in my huis.

In bakke.

***

Toe ons so week of drie gelede Stilbaai toe is, het my kleinkind in daardie geweste vir my sy baba marmot gewys. Maar sommer so op my afgestorm en toe wil hy die rot (ek weet dit is nie een nie) in my hande prop.

In ‘n donker gang, ek het amper aangevat ek toe ek die dingetjie sien, het ek my hand weggepluk. En amper gevoel hoe ‘n hartstilstand voel! Sy mamma moes vinnig keer, want twee woewe was baie opgewonde oor die eetbare dingetjie in sy hande. Hy sou dit nie maak as hy op die vloer geval het nie.

En dan was ouma beslis in die hondehok. Vir baie lank. Want, hy het baie, baie lank gewag voor die babatjie groot genoeg was dat hy hom by sy maatjie kon gaan haal. Plus, hy is met marmot getroos toe sy hondjie aan die slaap gemaak is, hulle het nie weer vir drie woewe kans gesien nie …

En, dan moet ek weer afdwaal en ook vertel van my eerste jaar as onderwyseres by Hoërskool Noordheuwel. Dit is daar waar ek geleer het om my vrees vir kinders se speelgoed weg te steek.

Die ryk kinders het Tarantulas vir speelgoed gehad. En skool toe gebring. Ek het gemaak of ek vreeslik nuuskierig was en nie bang was nie.

Daar was daagliks ‘n gil in die klaskamers langs myne as ‘n juffrou of meneer ‘n troeteldier in hulle laai kry as hulle oopmaak.

Ek is gespaar, want ek sou mos nie skrik nie.

Het ek byvertel dat ek my klasse ook duidelik laat verstaan het dat ek eers slaan en dan dink as dit by ‘n spinnekop kom. Dus, as hulle die perperduur troeteldiere lewendig wou hou, moes hulle my nie laat skrik nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

8 gedagtes oor “Kleinkind, ek en tuinslakke

  1. Toe my oudste in Graad 1 was het hy slakke van die skool huistoe gebrink in sy kos bakkie! Toe ek begin skoolhou het ek gou geleer om my handsak oop te los sodat ek die seuns se slange daarin kan sit en dit toemaak todat ek die slange in die veld kon los laat. Hulle het nooit agter gekom hoe bang ek was, en binne ‘n week of twee het hulle daarmee opgehou!

    Liked by 1 person

    1. Dit is beslis. Maar ek het met die wurms geboer! Was skoon teleurgesteld toe my eie kinders n8e belanggestel het nie. En vriendin, as ek nou aan een moet vat, kap ek net daar om. Ek kan sowaar die koue gevoel onthou!

      Like

  2. Christa, slakke kan wel gevaarlik wees. Hulle is soms draers van parasiete wat jou kan aanval. Was maar goed die slakspoortjies af en maak baie seker hy bring hulle nie naby sy mond nie. Ek het skoolgehou vir n dogtertjie wat verlam is agv n slakkie in haar brein

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.