Gepubliseer in Woefkinders

Woefkinders ontmoet Stilbaai se see …

Ons is vir die week by die see. Manlief werk van die huis af en ek maak reg vir Desember. Dit is nou die vyfde keer by die see, maar die eerste keer wat die woefkinders saamkom …

BB het die see al ontmoet toe sy klein was. Ek weet nie of sy kan onthou nie, maar sy stap fier en regop aan haar leiband, ver van die water af. Dankbaar dat sy aan manlief se hand gelei word. Hy stap vanself ver van die water af. Natuurlik lag hy vir haar, terwyl ek saam lag, maar vir hom.

Shilo en Bekka is aan my hand, met my foon en my hand. Ek moet tog onthou om iets saam te vat om los goed in te sit, dit dra baie moeilik!

Ek is nie bang vir die water nie, loop wel met my voete in die water, maar vandag effens dieper in die see in. En hulle trek aan die leibande, dat die seewater nie aan hulle voete kan raak nie.

Shilo veral. Hy weet nie wat die goed is wat na hom aangerol kom nie. Dit was dan nou net baie ver … en nou kom dit reguit na hom toe.

Nou, ek weet nie of jy Schnauzers ken nie, maar hulle is rumoerige woewe as hulle iets of iemand sien wat na hulle smaak te naby aan my kom. Hoor en sien vergaan vir ‘n ruk, wat my nogal de vieste in maak. Weet hulle dan nou nog nie dat ek niks gaan oorkom as daar mense naby is nie? Ek weet wanneer om versigtig te wees.

So kom mense van voor af gestap met hulle honde los. En kan ek eers vertel dat dit my die hoenders in maak? As vreemde honde na my aangejaag kom en ek nie weet wat hulle bedoeling is nie?

Daar is twee redes daarvoor.

Ek moes een keer vir ‘n ma van ‘n kind die kind se boeke gaan aflaai omdat hy of sy siek was. Toe is daar die klein keffertjie. Wat reguit op my afstorm. Die ou vrou sê nog hy gaan my nie byt nie, toe byt die hond aan my hak. Nie groot gat nie, lankal weggegaan. Maar ek was verby kwaad toe ek na my kar toe stap. En nou kan mense my by die hek ontmoet, ek stap nie by hulle honde in nie.

Die ander keer het ‘n hond in ‘n karavaanpark my kleine Tikka aan haar leiband met een hap doodgebyt. My kinders het met haar gaan stap, dollatjie in graad 6 en boeta voorskool. Toe het ek ses maande in Welkom agtergebly en die kinders het solank by pappa in die karavaan gebly en na die nuwe skool geskuif. Omdat sussa op pad na graad 7 was en ‘n kans wou hê om op die prefekte raad te wees. Wat sy toe ook gekry het … Ek en Tikka het naweke deurgery Benoni toe.

En so word my Tika die laaste naweek voordat ons na ons huis toe trek doodgebyt. En kom my kinders met my wit poedeltjie vol bloedrooi bloed by ons aangestap. Die lyfie sag en gevou in hulle handjies. Ek was in trane want ek moes alleen teruggaan na ‘n alleen huis in Welkom. My reisgenoot begrawe in ‘n karavaanpark langs ‘n dam.

Ek neem aan jy verstaan dat dit ‘n blywende merk gelaat het. Veral omdat my kinders dit nie alleen moes aanskou nie, maar ook self gebyt kon word deur ‘n hond wat nie in ‘n vakansieplek hoort nie.

Iedergeval, so stap ons gister langs die strand. Vanaf die mond na die hawe. En kom ‘n vrou en haar hond van voor af gestap, met haar hond los om reguit op my honde af te peil.

En myne sit ‘n keelgat op.

Wie dink jy is jy? Skoert! Trap! Voertsek!

Dit is al so in my ingeoefen om kleinseun se aandag af te trek as hy ‘n vloermoer wil gooi, dat ek dieselfde met my woefkinders probeer. Ek hou die golwe mooi dop en toe ek sien dit gaan oor hulle spoel, stap ek net so bietjie in die see in met die twee manne.

Hulle aandag is so by die wintie woef op die strand dat hulle nie vir die see kyk nie. Ek moet hulle nog leer dat mens nooit jou rug op die see draai nie.

En toe hulle weer sien, hoes en proes hulle en die water drup van hulle ruggies af.

Die ander woef is toe reeds saam met sy baas verby. En hulle mik toe maar druipstert strand se kant toe. Skoon vergeet om soos lawwe brakke aan te gaan as hulle iemand sien ….

Ai tog, wanneer gaan hulle leer om stiller te wees? Sagter te groet?

Ek dink nie dit gaan gebeur nie …

Tog lief ek hulle vreeslik baie, selfs as ek soos hard moet praat om bo hulle gehoor te word. En selfs dan hoor BB nie meer nie …

Tweede foto bo: BB voor saam met pappa, Bekka agter haar en Shilo wat seker maak mamma is ook by. Laaste foto: Ons twee op bankie by die mond, kyk net ons skaduwees teen die muur. So terloops, hoekom klink dit soos ‘n liedjie?

Ek het nooit gedink ek gaan Kaap toe trek nie. Snobistiese vriendin van jong tyd het so aangegaan oor mense wat nie in die Kaap bly nie. En ek wou nie so wees nie.

Maar, ek is oortuig die Wes-Kaap is ‘n heerlike plek, kyk net die sagte wit sand. En dan, natuurlik, die wind wat so gereeld en heeldag in Stilbaai waai, verras my. G’n stilte nie, maar heerlik. Ek het geen lugverkoelers nodig nie, die wind waai deur die huis.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Woefkinders ontmoet Stilbaai se see …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.