Gepubliseer in Foto-stories & uitdagings,Joernaal

Dag 17: WRG se 21 dae van dankbaarheid

Wat ‘n heerlike uitdaging! My gunstelingplek en waarom ek daarvan hou.

My gunstelingplek is altyd, maar altyd my huis. Of ek nou in Kazakhstan in die lug in ‘n woonstel bly, in Gauteng in my huidige huisie, by die rivier of in ons nuwe nessie waarna ek baie uitsien, is my hart waar my huis is. As dit nodig skuif, skuif my huisie, maar dit is nie noodwendig maklik nie.

Maar ek skuif maklik na ‘n ander huisie, solank my hart daar kan wees.

Ek lees gisteroggend Scrapy se inskrywing oor haar trek na ‘n nuwe huisie. Kleiner as die ene wat sy tans het, daarom moet sy van haar goedjies verkoop om daar te kan gaan woon. Soos sy al vorige kere ook moes doen. Alhoewel dit lekker gaan wees want sy is dan by haar kind en kleinkinders, gaan dit met heimwee gepaard. Want die goedjies is mettertyd gekoop om haar nessie lekker te maak.

En ken ek dit nie?

Ons het in Maart 2019 ses tasse gepak om vir drie jaar in Kazakhstan te gaan bly. Die plan was om genoeg te spaar om goed af te tree, maar toe werk dinge anders. ‘n Pandemie, waarvan die basis tans ernstig bevraagteken word, tref die aarde. En ons is vasgevang in die land waarheen ons vrywilliglik getrek het.

Sewe maande later het ons skielik die geleentheid gekry om vir goed huis toe te kom nadat ons 18 maande van drie jaar kontrak in Kazakhstan gewoon het. Na sewe maande wat ons in Kazakhstan vasgevang was weens toe grense, was ons van die eerste mense wat kon terugkeer sonder om in die regering se swak isolasieplekke te gaan bly vir 10 dae. Ons sou ons kleinkind kom ontmoet, maar toe het die Here ander planne met ons. Terug wou ons nie regtig gaan nie, maar ons sou omdat die kontrak nog 18 maande lank was.

En toe gebruik die Here ‘n pion om ons huis toe te bring. Vir goed.

En maak hy steeds deure vir ons oop. Soos altyd. As ons net op Hom vertrou en aanvaar wat gebeur het ‘n groter doel. Die skielike teregkom het veroorsaak dat ons Dusty skielik moes verkoop en op die verkoop verloor het. Dat ons nuwe meubels om van die huis af te werk, spotgoedkoop van die hand moes sit. Dat ons kaste vol kos en ander goed moes weggee. Al my duur potplante ook. En het ek nie gesukkel om hulle lewendig vanaf Ust-Kamenogorsk na Almaty te vervoer nie? Dit was egter niks teen die wete dat ons huis toe kom nie.

Terug by die huis het ek in ‘n huis ingetrek wat in Julie 2019 leeggetrek is omdat sy ‘n skelm koper gehad het wat nie die geld gehad het om te koop nie. Tussen Julie 2019 en Oktober 2020 het ons stuk-stuk meubels teruggetrek van die rivier af waar alles gestoor was. Aangesien dit makliker was om in ons eie huis te bly as ons vakansies huis toe gekom het. Twee beddens, ‘n yskas, skottelgoedwasmasjien (moenie lag nie) en ‘n wasmasjien. Om blaaskans ook te kry tussen al die kuiers.

Tuis het ons sommer ‘n kamptafeltjie in die TV-kamer gesit en ‘n plastiese tuinstelletjie spotgoedkoop gekoop toe dit op ‘n 75% af uitverkoping te koop was. En my drie Schnauzers het saam met ons kom bly.

Skaars was ons terug, of manlief het kontrak in die Noord-Kaap gekry. En al blyplek wat ons kon kry was ‘n gemeubileerde dubbelgarage wat in ‘n huisie verander is. In Kathu. Sonder my honde, al was ek weer tuis. Dit was nie lekker nie, die eienaars van die huis was die hele dag deel van my lewe. Maar manlief was saam met my, dus was my hart by die huisie ook. sonder my drie woewe was dit moeilik, maar mens oorleef omdat jou hart ook daar is.

Toe trek ons met ‘n paar meubels vanaf die rivier waar dit gestoor was na Kurumanom eerder in ‘n baie lelike huisie op ons eie te woon. Ons is so gewaarsku teen die gevaarlike dorp, maar ons het heerlik daar gebly, met my drie woefkinders wat saam kon kom. En toe verstryk manlief se kontrak en kom ons terug na ‘n huis wat in die laaste fase van verkoop was. Sou enkele dae duur voordat dit die nuwe eienaars se huis is.

Ons dubbelverdieping huis in die stad het in Desember 2020 ‘n koper gekry, maar die proses het gesloer omdat hulle huis eers verkoop moes word. Dus het ons naweke steeds huis toe gekom om in ons huis te bly. Soort van om te groet.

Soveel drome was in daardie huis, soveel herinneringe gemaak. Daar het ek my PhD voltooi, kleinkinders sien grootword (aan dogter se kant). Daar het ons en die kleinkinders roosbome vir elkeen en ouma en oupa geplant. Voor die huis staan ses boomstruike wat seun vir my verjaarsdag gekoop het toe ons in hierdie pasgeboude huis ingetrek het. En daar het my Husky – Nevan – grootgeword en ook doodgegaan nadat hy siekte in sy rug opgedoen het. Daar het ek BB (my Schnauzer) gekoop, as teler geregistreer en haar twee keer babas laat kry dat sy haar eie maatjies het. En daar is Bekka (eerste werpsel) en Shilo (tweede werpsel) gebore en het hulle grootgeword om BB se regte, egte maatjies te wees.

In Junie 2021 maak ons aanbod op ‘n klein meenthuisie in Centurion en trek ons in Julie 2021 daarin. Om te besef dat dit nie ons aftreehuis kan wees nie. Dit is heeltemal te klein, veral toe ek begin om twee keer per week na kleinseun aan seun se kant te begin kyk. En manlief van die huis af begin werk. Ons het ruimte nodig as ons wil werk aan ons beroepe.

Daar sit ons vir ons nuwe garagedeure in, is ons so trots op die nuwe vorkoms van ons huisie om ‘n dreigbrief van Travalgar te kry wat die plek bestuur. Die ou deure moet onmiddellik terug.

En is dit die kersie op die koek.

Ons het dringend ‘n nuwe huisie nodig.

Die komplekslewe is toe inderdaad kompleks.

Kyk op die internet, soek in een landgoed ‘n spesifieke huisie: Enkelverdieping, siersteen, drie slaapkamers. Maak afsprake met twee agente, waarvan een vir ons twee plekke sal wys (dubbelverdieping) en een ‘n enkelvlak siersteen huisie.

Die eerste meenthuis kan ons nie sien nie, die mense isoleer, maar ons mag omstap. Agter die hoë agterste muur is die begraafplaas die buurman en ek wil dit nie vat nie.

Die tweede een se trappies na bo is soos ‘n waaier en ek sien al hoe ek, manlief of baba mistrap en na onder tuimel. Dit wil ek ook nie vat nie, mooi soos dit is. Veral omdat die kombuis piepklein is.

Die derde huisie is perfek. Ek sal nog daarvan vertel, maar ek giggel hier waar ek sit en skryf.

Het ek so pas soos die drie klein varkies geklink?

Of soos Goue Lokkies wat die bere se kos geëet het?

In beide gevalle is die derde huisie/bord kos perfek.

Ons het aanbod ingesit en dit is aanvaar. Reeds ver in die koopproses, ek dink dit gaan vroeg in Janaurie registreer.

Ons huidige meenthuis het reeds ‘n koper en die proses is ver gevorder. Indien dit nie verkoop nie, gaan ons huurders insit. Maar ons glo vas die Here het hierdie spesifieke kopers op ons pad gestuur.

Koop of verkoop is dit tans vir ons ‘n wen-wen situasie. Verkoop dit, groet ons. Verkoop dit nie, het ons keuses later in ons lewens.

Want die plekkie is pragtig, ons het groter nodig.

En dan het ons hierdie rivierhuisie wat ons in 2002 begin bou het. Hier kan ons asemhaal na die gejaag van die stad, vergeet van verkeer, vuil lug en vrylik asemhaal.

Al sit ek tans met erge sinus weens die doringbome se blommetjies en stuifmeel en hou ons die vlak van die rivier met ‘n valkoog dop omdat twee sluise van die Vaaldam weens die oorvloedige reën oopgemaak moes word.

Ek twyfel of ons sal vloed omdat die bestuur van die dam reeds op 107% sluise begin oopmaak het. Ek glo die rivier gaan miskien tot op ons grasperk kom (6 meter styging), maar nie tot in ons huis nie (9 meter styging).

Kla gaan ek nie, die reën is broodnodig. Ons huisie het mos al in 2010 en 2011 gewys dat sy die pas kan vat as die rivier wel binnekant kom loer hoe dit lyk.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.