Gepubliseer in Joernaal

Kuberbekruipers …

Ek geniet dit om nuwe Afrikaanse woorde te sien ontwikkel. Een wat onlangs my aandag getrek het, is kuberbekruiper.

‘n Kuberbekruiper is iemand wat so obsessief met ‘n ander persoon geraak het dat hy of sy die persoon met kwade bedoelings aanlyn bekruip (vervolg/agtervolg). Hoofsaaklik omdat hy of sy ‘n ongesonde belangstelling in die persoon ontwikkel het. ‘n Vorm van negatiewe gedrag wat as kuberbekruiping (cyber stalking) bekend staan.

Ek wil vandag daaroor gesels omdat dit in die meeste lande as ‘n ernstige misdaad beskou word.

Om iemand aanlyn te volg verskil hemelsbreed van aanlyn bekruiping. In die eerste geval word die skrywes gelees omdat die leser van die skrywer se werk hou, goeie bedoelinge met die skrywer het. In die tweede geval word skrywes gelees met die hoofsaaklike doel om iets te soek om die skrywer te na te kom. Dus word die persoon met kwade bedoelings bekruip.

Kuberbekruiping kan in verskillende gedaantes voorkom.

Daar is mense wat bekendes soos Steve Hofmeyr en Donald Trump bekruip om meer oor hulle te wete te kom om skietgoed te kry om hulle in ‘n negatiewe lig in hulle kringe te bespreek. Skietgoed gaan hulle beslis kry, want Steve en Donald is nie op hulle bekke geval nie. Wat ek nie kan verstaan nie, is hoe hierdie vorm van bekruiping lekker kan wees? Wat kry mens daaruit as jy iemand – wat nie eens van jou bestaan bewus is nie – in ‘n swak lig bespreek?

Dan is daar mense wat bekendes bekruip om meer oor hulle te wete te kom met die hoofsaaklike doel om hulle in die werklike lewe te na te kom. Sodanige kuberbekruipers stuur ongevraagde e-posse en smse aan hulle teikens. Maar hulle kan ook verder gaan en die mense in die werklike wêreld bekruip om hulle skade aan te doen. Die skrik op die lyf te jaag. Negatiewe gedrag wat veroorsaak dat bekendes baie geld op sekuriteit moet spandeer om hulle teen bekruipers te beveilig. Hoe kan dit lekker wees om ongevraagde en onwelkome toenadering te soek?

En dan is daar mense wat bloggers se persoonlike skrywes fynkam omdat hulle dink dat hulle sensuur op die persoon se persoonlike ervaringe, herinneringe en skrywes moet toepas. Vele van my bloggervriende word in so mate bekruip dat hulle op sommige van hulle skrywes ‘n wagwoord stel wat hulle net met vertrouelinge deel. Om te verhoed dat die betrokke skrywe gelees word deur vriende, familie, kennisse, kollegas en ander wat hulle te na wil te kom. Ek wonder egter of dit ‘n goeie metode is. Sal dit nie juis die kuberbekruiper se aandag trek nie? Hom of haar noodsaak om die wagwoord te probeer bekom nie?

Ek kan kuberbekruiping nie verstaan nie omdat ek geen behoefte het om ander te agtervolg met die hoofsaaklike doel om hulle te na te kom nie.

Ek volg verskeie bloggers omdat ek hulle skrywes geniet. Sommiges deel pragtige foto’s, ander vertel stories rondom hulle foto’s en nog ander skryf interessante blogs en verhale wat ek soggens lees om my dag op te kikker.

Self is ek so gelukkig om te kan noem dat ek so 96% volgelinge het.

Aangesien kuberbekruiping ‘n baie negatiewe vorm van gedrag is, maak ek seker dat die bloggers wat ek volg weet dat ek nie ‘n kuberbekruiper is nie.

Ek raak by hulle blogs betrokke deur daarvan te hou of kommentaar te lewer. As ek nie daarvan hou nie, lewer ek nie kommentaar nie. En as hulle aanhou om goed te skryf wat my nie aanstaan nie, ontvolg ek hulle. Hulle lewens, hulle besluite, hulle persoonlike skrywes. Ek is nie hulle baba-oppasser nie. En het geen begeerte om sensuur op hulle werk te wil toepas nie.

Dit is vir my belangrik om myself sigbaar te maak. Want ek is nie ‘n agtervolger, vervolger of bekruiper nie.

Ek wonder of kuberbekruipers weet dat die tegnologie beskikbaar is om hulle 24/7/365 uit te snuffel. Selfs al dink hulle dat hulle hulle teikens anoniem bekruip. In lande soos Amerika, die Europese Unie, die Verenigde Koninkryk, Australië en Suid-Afrika word die data gebruik om kuberbekruipers op te spoor, te rapporteer en die reg tot toegang vir hulle toestelle te weier.

Persoonlik sien ek nie kans vir die lang, uitgerekte proses om my toestel se nommer weer skoon te kry as dit eers as die toestel van ‘n kuberbekruiper gebrandmerk is nie. Want dit is bykans onmoontlik om groot maatskappye soos Apple, Facebook en Google persoonlik in die hande te kry om die toestel weer as ‘n betroubare toestel erken te kry.

Daar is natuurlik verskeie metodes wat gebruik kan word om van kuberbekruipers ontslae te raak. Ek sluit met ‘n paar af:

  • Gebruik ‘n wagwoord, maar ek vermoed dat dit juis ‘n kuberbekruiper se aandag. En dan wil hulle juis in.
  • Verwyder skakel na jou joernaal en deel dit net met mense wat jy vertrou, maar dan kan jy nuwe lesers ook uithou.
  • Verwyder skakels wat kuberbekruipers na jou ander skrywes neem. Hier dink ek veral aan die toepassings wat in die sykolom geplaas kan word: soos vorige skrywes, volgende skrywes, temas, sleutelwoorde, soekfunksie en top skrywes. Dit jaag jou statistiek onnatuurlik op terwyl kuberbekruipers jou skrywes fynkam.
  • Verander skakel na jou joernaal dat dit bekruipers na ‘n webblad neem waar cyber stalking bespreek word. Hopenlik lees hulle dit. En ek ska hulle behoort die boodskap te kry …
  • Skryf oor die verveligste onderwerpe denkbaar tot hulle moeg raak om jou te bekruip. Nuwe teiken gaan soek. Maar gaan dit nie jou 96% vervolgers ook verveel nie?
  • Hou vir ‘n baie lang ruk op om te skryf. Hulle mag dalk net verveeld raak. ‘n Maand is waarskynlik nie genoeg nie.
  • Vermy om oor mense te skryf wat jy eintlik al lankal vergeet het. Gaan sommer ook deur al jou skrywes en verwyder verwysings na sodaniges indien daar eniges is. Dit is ‘n bevrydende proses …
  • Skryf oor mense wat ‘n glimlag op jou gesig sit as jy die skrywe later lees. Daarvan het ek oorgenoeg om nog jare lank te skryf. En dit is wonderlik om weer oor hulle te lees.
  • Omring jou met positiewe mense, dit skep geleenthede vir heerlike staaltjies om jou eendag aan hulle te herinner.
  • Blok kuberbekruipers as niks anders werk nie. Verwyder hulle van jou lys van volgelinge.
  • Rapporteer kuberbekruipers by groot maatskappye soos Apple, Google en Facebook. Veral Facebook maak dit maklik om kuberbekruipers te blok en rapporteer.

Dalk kan jy raad by die lysie in die kommentaar voeg?

Ek wil met die volgende afsluit.

Bloggers skryf subjektief, hulle beskryf die wêreld vanuit hulle eie perspektief, hoe hulle dit beleef het, hoe hulle verhoudings ervaar. Dit is ons persoonlike ruimtes.

Die skryfproses is bevredigend, dit voel regtig voel of ‘n ledemaat verwyder is as jy nie meer skryf nie. Ons mis die saamgesels, die kommentaar, die onkende volgeres wat geliefde vriende en vriendinne geword het as hulle ophou skryf om van bekruipers ontslae te raak.

Maar, dit is vir ons bykans net so lekker om ander se skrywes te lees. Daar is min mense wat sulke wonderlike vriende maak soos diegene wat ek in blogland raakgekuier het. Ek wil niemand uitsonder nie, ek raai dat hulle spesiale vriende word omdat ons almal ons blootstel wanneer ons skryf of foto’s deel. Blogland is ‘n plek waar mens ware vriende maak.

Moenie toelaat dat kuberbekruipers jou vreugde steel nie. En hier dink ek spesifiek aan twee van my blogvriende wat net ophou skryf het.

Dit is eintlik een blogger met twee blaaie, een vir haar en een vir haar hond. Die hond het onderhoudende kommentaar op my blogs geplaas en ek het dit verskriklik baie geniet. Ek kon nie wag om te gaan kyk wat hy weer te sê gehad het as ek die kennisgewing kry dat hy kommentaar gelewer het nie. En toe verdwyn altwee net so … waarom weet ek nie. Maar, ek vermoed dat dit as gevolg van kuberbekruiping kan wees omdat hulle nie gegroet het nie. Maar ook omdat die blogs gesluit is. As hulle iets oorgekom het, sou die blogs nog beskikbaar gewees het.

Ek beskou dit as ‘n misdaad teen die mensdom dat bloggers soos hulle verdwyn. Want lesers soos ek – wat hulle blogs altyd eerste gelees het – word saam met die kuberbekruipers gestraf. Ons kan nie eens weer vorige skrywes lees nie omdat die blogs gesluit is.

Ek kan verstaan dat mens wil ophou skryf en blogs sluit om van kuberbekruipers ontslae te raak. Maar, soveel mag kan nie aan hulle toevertrou word nie. Jou gereelde lesers, wat persentasie-gewys beslis meer as 96% van jou volgers uitmaak, word van die lekkerte ontneem om jou skrywes te lees as jy die blog bloot sluit omdat dit die enigste uitweg geword het om van kuberbekruipers ontslae te raak …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Kuberbekruipers …

  1. Christa, gemene skepsels sal jy oral kry. Mense wat op ‘n heksejag daarop uit is om spontane bloggery te demp. Ek stel voor ignoreer kuberkruipers sodat hulle kan ophou teer op jou emosionele energie.

    Liked by 2 people

  2. Dit is tragies, skandelik, siek dat daar sulke mense is wat nie genoeg positiewe dinge het om hulle mee besig te hou nie en dan ander te moet bekruip sodat die een wat bekruip word se vreugde gesteel word. Sulke mense hoort in die tronk.

    Liked by 1 person

  3. ‘n Oulike nuwe woord – net soos ‘toep’ vir ‘n App (ek moet nog steeds aan die woord – toep – gewoond raak, ek wil net elke keer ‘stoep’ se! lol) Gelukkig hou ek my nie op met kuberkruip nie, daar is net te veel beter dinge in die lewe om te doen as dit! Maar soos Letty-Ann se, jy sal hierdie tipe mense oral kry, in elke vlak van die samelewing – op blogs/sites maar ook werklike lewe. Hierdie mense is mense met ‘n (sielkundige) probleem.

    Liked by 1 person

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.