Einde Januarie moes ons alweer ‘n nuwe grassnyer vir die rivierhuis koop. Daardie een is poegaai. Manlief is op sy trekkergrassnyertjie om die gras te sny en daarna is ons Klerksdorp toe om ‘n nuwe een te koop. Want die trekkertjie is manlief se speelding, dit gaan nie gery word as hy nie daar is nie.
Die reën het net genoeg bedaar dat die gras gesny kon word. En toe sous dit weer toe ons na Klerksdorp toe is. Ek wil nie sleg praat van Noordwesters nie, maar waar ons ookal deur ‘n swak motoris gekonfronteer is, daar was die registrasienommer NW. Dus wil ek amper iets skryf soos: “I rest my case your honour!”
Ewenwel, ons is builders toe. Ons het nie tyd nie, want teen 12 moes ons die pad na Kathu vat. Sommer so Wolmaranstad om. Maar ons is nie haastig nie. Manlief bestuur, anders as toe hy jonger was, rustig. Niks jaag hom nie. En ek voel dit dan altyd so effens aan my bas dat ek hom net so ‘n klein bietjie wil aanjaag, as ons tyd beperk is.
Maar, dan onthou ek hoe ‘n wilde wragtig hy was, en geniet ek die rustigheid in die kar. Ek lees tans boek as hy bestuur.
Toe ons deur Klerksdorp se middestad (dorp) is en op die Potchefstroom pad wil draai, is ‘n baie stewige man in ‘n klein karretjie voor ons by die robot. En asof hy nie verstaan wat ‘n groen lig is nie, begin hy eers ry wanneer die robot na oranje oorslaan. Sodat ons net-net oor ‘n veilige robot is.
So gaan dit by elke robot tot by Builders se afdraai. Ook by die robot is ons net betyds om te draai voordat die robot na rooi oorslaan. Dit reën, maar dit is mos geen rede om so te maak nie.
Ook by die indraai na Builders maak hy so. Ons moet wag vir aankomende verkeer wat nog baie ver was, maar die mannetjie doen dieselfde. Wag tot dit amper te laat vir ons is om ook in te draai. Hy ry, die motor van voor draai ook in en ons twee motors tou agter hom aan, hy wat al hoe stadiger ry.
Toe draai hy oor die merke vir twee rye motors, asof hy agterom die twee rye gaan ry. En net toe ons wou verby kom, draai hy weer terug, reg voor ons in. Amper in die motor voor ons vas. En beide motoriste moet gevaarlik rem in die reën.
Teen die tyd is manlief nie meer vriendelik nie.
Die man doen dit duidelik aspris. Asof dit sy doel die oggend is. Maar ons het keuses. Dus ry manlief agterom die twee rye motors, om so van agter af in een van die twee rye parkering te kry.
Ons is gelukkig, daar is so drie langs mekaar oop, eerste en tweede ry, manlief kan sommer so naby die ingang parkering in die voorste ry kry.
En wat gebeur so in stadige aksie voor ons oë.
Terwyl manlief oor die agterste ry parkerings ry om in die voorste een te parkeer, draai die mannetjie, wat toe eers by die parkerings kom, van voor af in. Doelbewus.
En daar staan die twee karre, want ons was reeds halfpad in die voorste parkeerruimte in.
Toe besluit manlief hy gaan sy staan staan. Hy gaan nie agteruit ry dat die man die eerste ry se parkering kan vat nie. Die parkerings aan beide kante van ons beoogde parkering is oop. Hy is aspris. Hy het gesien manlief is al halfpad in die parkering in.
Hierdie man soek duidelik moeilikheid.
Hy sien manlief gaan nie bes gee nie, die motor agter hom wag. Skakel oor na trurat en parkeer so twee parkerings van ons af.
Ons is uit, hardloop deur die reën na die afdak en die man en sy maat is agter ons op die stoep waar hande gewas word.
In Builders is hulle die hele tyd agter ons aan, soms nie so opsigtelik soos ander kere nie.
En toe staan die oorgroot buffel agter my en soek met manlief skoor met:
“Sit jou masker op …
en toe:
dat jy beter kan bestuur …”
In so ‘n temerige stemmetjie wat my dadelik die hoenders in maak. Ek het sy soort in my skoolbanke verpes. Moeilikheidmakers wat daarna maak asof hulle onskuldig is. En dit nie kan vat as hulle uitoorlê word nie.
Manlief dra altyd sy masker, soms skuif dit net so effens van sy neus af. Nie baie nie, sy hele mond en neus is steeds bedek.
Ek moet die rekkies kleiner maak.
Manlief skuif dit weer mooi oor sy neus. Vra sarkasties of die mannetjie tevrede is, en soek verder na dit waarvoor hy gekom het.
Die insident lankal vergete.
Maar ek laat dit nie daar nie. Juffrou Christa tree in en sit hom op sy plek met:
“Dit is jy wat nie kan bestuur nie, by elke robot!”
En hy dink hy gooi ‘n oulike antwoord terug met:
“Hy moet nie so jaag nie.”
Pateties!
Manlief het nie gejaag nie. Hy is rustig, kry nooit spoedboetes nie. Hy is besonder gesteld daarop om binne die spoedgrense te wees.
Manlief het hom seker iewers op die pad verbygesteek, daarom die mislikheid. Hy hom hom oom in die dorp verbygegaan het.
Die man het dus sowaar van die eerste robot op die brug af moeilikheid gesoek.
Met so iemand redeneer mens nie verder nie, dit is duidelik dat hy dit doelbewus gedoen het. Ek sou hom dalk net wou waarsku dat hy die truuk eendag met die verkeerde mens gaan trek. En dan sal ek werklik graag in die hof wou staan om teen hom te getuig. Want dit sal verkeerd wees as die persoon wat na die uittarting reageer, gestraf word.
Boelies maak my siek.
Seker gedink hy gaan die oom en tannie bietjie opvryf, dan is sy dag gemaak. Pateties.
Ek en manlief het net daar gestaan en toe hard en lekker daaroor gelag.
Dan sê ek in so ‘n temerige stemmetjie:
“S i t jo u m a s k e r o p … ”
En dan lag ons weer terwyl ons die goed soek waarvoor ons gekom het.
Ons nuutste gesegde vir iemand wat soos ‘n doffel optree is dan ook in sy stadige trekkerige stemmetjie:
“Sit jou masker op …”
En dan lag ons weer.
Want ons twee loop nie sonder maskers tussen mense nie. Hulle kan hulle kieme maar vir hulself hou! Hy ook.
Ek hoop hy het julle hoor lag! Simpel mannetjie met die kiewietmentaliteit.
LikeLiked by 2 people
Ek dink hy kon, maar ek weet nie. Ons gemoed was net lekker daarna.
LikeLiked by 1 person
Sies tog, hy get julle heeltyd probeer afskud en julle volg hom heeltyd. 😳😂
LikeLiked by 1 person
Lag ek nou lekker.
LikeLiked by 1 person
Dis n wonderlike nuwe uitdrukking wat julle nou ontdek het! So n ou boelie! Gelukkig het jou man besluit om nie hoflikheishalwe terug te trek nie. Gelukkig kan julle lekker daaroor lag. Ek is ook si n juffrou wat my sê sal sê ipv ignoreer
LikeLiked by 1 person
Klink na n regte grootmens boelie!
LikeLiked by 1 person
o dis lekker om vir ‘n boelie te kan lag. en nog lekkerder om sulke privaat gesegdes te hê. ek sal bv vir altyd dink aan “o flokit”. Onthou julle dit ook?
LikeLiked by 2 people
Ek gaan dit ook nie vergeet nie, Adri, dit is beslis lekker om sulke privaat gesegdes te hê.
LikeLike
Nee, Adri? Jy sal moet vertel. 🤠
LikeLiked by 1 person
Ek skud ook maar net my kop. Waar het sulke mense tog grootgeword!!!
LikeLiked by 1 person
Ek dink hulle is oral, daar was oral waar ek skoolgehou het boelies.
LikeLike
Ek het geniet om oor jou boelie te lees an ek hoop hy het sy les geleer.
LikeLiked by 1 person
Ai Anne, ek weet nie of hy geleer het nie, ek weet net dat ons lekker lag as ons sê sit jou masker op .
LikeLike
Dankie dat julle nie geskrik het nie. Daarvan hou ‘n boelie baie. Slegte nuus julle: die boelies sit die skoolbanke vol. Hulle word meer en meer…
LikeLiked by 1 person
En skoolhoofde se hande is afgekap. Dissiplineer hulle, is hulle in die moeilikheid.
LikeLiked by 1 person