Gepubliseer in Joernaal

Waterlose Kathu maak my lam …

Ons het die afgelope weke soveel reën gekry dat Kathu se velde groen van die gras staan. Gister die hele dag weer, met donderweer wat die krag in die huis uitgeslaan het. Ek het my koud geskrik.

Maar, in ons huise is dit ‘n stryd om oorlewing. Nou goed ja, nie so erg nie, maar dit is frustrerend. Ons is gereeld waterloos – van voordat ons dag om halfvyf begin tot slapenstyd.

Elke tweede week het ons Maandag, Woensdag en Vrydag geen water in die huis nie. Maar dit het ek eers nou behoorlik agtergekom, nadat ek die hoof van Remax gekontak het en gevra het of ons saar ‘n skedule is. Vir die wateronderbrekings.

Ek is nou moeg om te kyk hoe manlief soggens om vyf uit ‘n warm stort klim. En as ek na die huisskoonmakery, so teen sewe wil gaan bad, is daar geen water nie. Nou het ek darem ‘n skedule.

Ons het ook ‘n skedule vir wanneer ons kragloos gaan wees. Dit het sy ook vir my gestuur. Dit is nie soos in Roodepoort waar ons krag so gereeld soos klokslag gesny word nie, soms meer as een keer per dag, sonder dat ons op enige skedule is nie. Ons buurt is op geen skedule nie, maar die afsny van ons krag is wel.

Daar het ek gewerk en dan was ek net ewe skielik net sonder krag.

So besluit manlief Dinsdag ons gaan ‘n plan maak. Hy draai die kraan van die bad in die ander badkamer oop. Ons moet badwater hê vir toilet en so aan. Dan voel mens net minder magteloos. Want ek weet nie of ek totaal onnosel is nie, maar ek staan elke keer met ‘n handvol seep en as ek die kraan oopdraai, is daar geen water om dit mee af te was nie. Net soos wat ek by die kete staan en wag dat dit kook en later onthou daar is mos nie krag nie. Of sien dat daar nie is nie.

Wat ‘n gemors. Die badwater sou die probleem oplos.

Hy vergeet egter van die water en dit loop die bad vol, oor die rand van die bad, die hele badkamer vol en was mooi op pad kombuis en spaarkamer toe. Ek weet van niks.

Ons lê rustig in die bed en stories kyk, ek het geen idee van die werk wat op my wag nie.

Sy foon lui en hy is kombuis toe, sommer om ook in te skep.

En toe gee hy so ‘n gilletjie soos ‘n meisie. Manlief gee nooit sulke gilletjies nie.

Ek dog die ou van die werk het iets vreesliks gesê. Daar is mos maar altyd die moontlikheid dat iets op die myn fout kan gaan. Of dat hy sy vingers met die potte verbrand het terwyl hy met een hand probeer inskep. Hy glo my mos nie heeltemal dat mens nie met ‘n nat lap aan die potte kan vat nie.

Hy kom egter na die oproep baie skuldig in die kamer in.

Ons het ‘n probleem volgens hom. Ek dink aan baie goed, die rivierhuis gaan weer oorstroom (dit word ‘n al groter werklikheid), iemand het seergekry en hy moet uit myn toe, iets soos dit.

Hy soek egter die mop. Dit kan mos nie erg wees nie?

Ek klim maar weer uit die bed om te gaan kyk waarvoor. En loop my vas in die gemors in die huis as ek regmaak om my sepies te kyk en te gaan slaap.

Ewenwel, die man probeer droogmaak met die mop. Hy dink mos in die laaste tyd hy weet hoe om huis skoon te maak. En ek laat hom eers begaan. Kyk hoe hy nie daarin slaag om die watervlak te verminder nie. Want sien, gelukkig is die vloer skeef, die meeste van die water lê in die badkamer.

Toe hy goed gesukkel het, gooi ek handdoeke op die vloer. Want dit is wat ek doen as ek per ongeluk ‘n kraan oopgelos het. Dit het al gebeur, ek maak seker ek maak ‘n knoop in my oor as water iewers oop is. En haat die skoonmaak daarna.

En toe staan die man verstom oor hoeveel water ‘n handdoek op een slag kan opsuig.

So maak ons saam-saam die gemors skoon. En word daar in die nag wasgoed gewas, die volgende dag sou mos waterloos wees.

Ek wou nogal sê dat hy nooit help as ek dit doen nie, maar sy bedoelings was goed.

Dus lag ek net vir hom. Ek is mos nie verniet besig met ‘n 28 dae leesplan oor die pêrels van die huwelik nie. Hierdie is ‘n pêrel, as ons saam kan skoonmaak waar een van ons drooggemaak het – al is dit in die geval eerder natgemaak het.

En ek neem ‘n foto wat hom vies maak, ek beter dit uitvee, waarsku hy.

Watwou, dit is dan mos bewys dat hy help …

Ek gaan dit tog gebruik …

Woensdagoggend is die water voor vyf reeds af, ons het die vorige dag gesien dat baie water by die opgaartoring in die hoofstraat lek, die hele straat vol.

Dus is manlief sonder ‘n stort werk toe. Hy gaan beslis nie in ‘n goeie bui wees nie, hy moet sy lang stort elke oggend neem.

En ek? Ek het ‘n bad vol koue water.

Om my hande te was as ek vergeet die krane is leeg. Om die vloere te kan was. En dalkies besluit ek om ‘n koue bad aan te durf voor ek die water vir iets anders gebruik.

Sy inisiatief was goed.

Ek het in die waterlose dorp ‘n bad vol water.

Hoe gelukkig kan ‘n vrou nie daaroor raak nie …

Gelukkig het ek die water nie uitgetap nie, want raai wat?

Ons het opgestaan in nog ‘n waterlose Kathu – op ‘n dag wat nie op die skedule aangetoon word nie.

Dit maak my moedeloos, maar daar is dalk ‘n ligpuntjie?

Ek moet net twee weke uithou – en ons gaan die naweek ook weg. Dan kan ons die probleme van ‘n ander Noord-Kaapse dorpie gaan uittoets.

Ek sal die dorpie met sy mooi hoofstrate waarskynlik mis. Sonder water kan mens egter nie die dorpie geniet nie. En soos op die skedule, is ons vandag, 12 Februarie 2021 weereens sonder water.

Ek het so bietjie vergeet, want manlief kon stort. Gelukkig het ek so pas onthou, gaan stort en was ek net betyds om die laaste druppels uit die stort te kry om sjampoe van my hare af te was.

Dit is hoegenaamd geen grap nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

28 gedagtes oor “Waterlose Kathu maak my lam …

  1. Dit is regtig geen grap nie. Ons kry dit soms in Struisbaai. So 2 jaar gelede het die hoogliggende huise bedags nie water gehad nie. Elke dag nie. Saans 12 uur kom die water en al die pype ruk. Dan vlie ons op, stort, maak al die leë kanne vol, die skottelgoedwasser was en hopelik môre-oggend kan ons nog betyds ‘n bondel wasgoed of twee was voor die krane weer leeg loop. Met ‘n huis vol mense was dit geen grap nie.

    Liked by 3 people

  2. Vir die laaste paar weke het ons water elke tweede dag; ons damme is leeg en die hoogliggende huise soos ons’n moet ook tot laat in die aand wag voor daar genoeg waterdruk is om die stort of bad te gebruik.

    Liked by 1 person

          1. By die rivier is baie water, ons gaan sonpanele ook doen. Die ding is, dit was lekker om te weet daar is ‘n skedule, dan kan mens plan maak. Nou is dit sommer net sleg.

            Like

  3. Sjoe, so verlig dat ek asems uit Kathu uit kon opsoor. Ek is pasgetroud en my manlief het moontlike offer om op Kathu se myn te werk gekry! Ek was so onsteld toe ek hoor! “Noord Kaap? In ‘n myn? Daar is dan niks in die Noord Kaap nie!” was my onmiddelike gedagtes.

    Ons altwee werk en leef in besige maar gerieflike Pretoria.
    Ek weet nou nog nie wat om te dink nie..is dit wyse skuif? Sy salaris sal soveel minder wees.
    Maar hy verseker my ons sal die plot lewe geniet. Help? Ek moet ondersoek instel, en dis toe ek hier gekom het.

    Enige gerustellende advies of is dit erger as wat ek dink?

    Liked by 1 person

    1. Hi Vera, gaan hy naby Kathu op myn werk? Of naby Hotazel. As hy naby Kathu is, kies Kathu. Ou klein dorpie, die waterprobleem is blykbaar verby, die myn het pype reggemaak. Sishen onderhou die dorpie. Dit is klein en landelik, mens kan glad nie met Pretoria vergelyk nie. Maar dit is lekker om dorp toe te gaan. Die basiese is hier: Game, Checkers, Edgars, Spar, Woolies, Pick n Pay, karwasplekke. Pragtige gholfbaan met gym as julle gym. Self gym ek nie, het nog nie gaan kyk nie, maar dit is nuut. Nandos, McDonalds, Kentucky is ook hier. Mens koop jou drinkwater by groot winkels soos Checkers en PnP vir R1 per liter, dus nie te slegte prys om te betaal nie. Mens kan blykbaar die water drink, maar almal wat ek ken beveel aan dat mens koop. Dus koop ons maar. Hier is ‘n Curo skool , hoër-, laer- en tegniese skool. Ek weet nie hoe goed nie, maar ek kan uitvind. Dit is stil, rustig en die dorp maak Daterdae en Sondae vroeg toe. Hier is ook ander uiteetplekke soos Spur, Panarotis, the Daily. Ek geniet die skoon lug baie, dalk te veel om weer terug na ‘n stad wil gaan. Plot? Daaroor moet ek vir jou uitvind. Waar?

      Like

    2. Ons trek die einde van die maand Kuruman toe, my man op Hotazel en die pad tussen Hotazel en Kathu is verskriklik sleg, vol slaggate. So erg dat motors an die verkeerde kant van die pad ry. Die pad tussen Kuruman en Hotazel is baie mooi. Ek ken twee jong paartjies hier. Die mense is vriendelik, opreg en Afrikaans, suiwer Afrikaans. Ek geniet di4 baie nadat ons in Kazakhstan net Russies kon hoor. Dankie vir die inloer, ons sal vir julle na omgewing van plot kan gaan kyk as jy raad nodig het.

      Like

    3. Hi Vera, ek het geantwoord, lyk my dit het nooit geplaas nie. En ek sit die heke tyd en wonder. Kathu is ‘n klein, plattelandse dorpie. Die mense is vriendelik, anders as in die stad. Jy word bykans orals Afrikaans aangespreek. Waar gaan hy werk? Naby Kathu of by Hotazel? As hy naby Kathu kom werk, is Kathu die beste. Drie winkelsentrums, veilig. Daar is PnP, Checkers, Woolies, Spar en verskeie ketiing eetplekke. Hier is ook,’n Game waar mens alles kan koop. Dischem is so 56km weg in Kuruman. Ek antwoord graag as jy vrae het. Ons teek Kuruman toe, nader aan die myne by Hotazel.

      Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.