Gepubliseer in Reisjoernaal

‘n Vinnige uitstappie afgerond met ete by Mado in Almaty

Ons het gistermiddag gaan stap. Manlief was klaar in ander klere en glad nie lus om te gaan stap nie. Maar, ek kan nogal oortuigend wees as ek moet.

Ek weet van ‘n riviertjie naby ons, vertel ek. Ag nee wat, sê hy, kan nie wees nie. Regtig, sê ek, dit is naby ons. Ek kry my iPad nader. Maak 2 GIS oop. Kyk nou hier. Daar is eintlik twee naby ons. Die een lyk groter as die ander een, maar hy is verder. Ek moet manlief oortuig, dus is die nader een my keuse.

Hmm, sê hy, hy dink dit is eerder ‘n spruit. Ag, toe man, vra ek, dit is naby, spruit is ook goed.

Dit is regtig net so blok op in die straat, oor Dostykstraat wat na regs na die ski-oord gaan en na links afgaan stad toe, dan een klein blok op in die rigting van die ski-oord en dan weer links tussen geboue deur. Ons stap oor smal straatjies met hoë mure aan weerskant van die straatjie, rye huisies as mens regs kyk. Ek skat ons is oor twee sulke ssmal straatjies en toe lê in groterige hond op die sypaadjie.

Swart. Met effens ander kleur in hom. Reg voor ons. In die pad.

Ek wil aan die oorkant van die straat gaan loop en kyk solank waar wegkruipplek is. Ek is doodbang vir vreemde honde.

Manlief sê hy gaan niks doen nie en loop reguit aan. Dit is nou dieselfde ou wat op skool deur honde op sy fiets aangeval is. Ek vertrou nie sy oordeel nie.

Die ou hond kyk op, kyk vir ons en lê sy lê. Geen lus om ons te byt nie. Herken net die mense om hom, kyk dan verveeld weg. Of is hy moeg? Verwaarloos?

Toe stap ons oor ‘n bruggie en oor ‘n spruitjie. Hy was reg … en aan die ander kant van die spruit is ‘n wandellaan. Al langs die spruit.

Sommer net so naby ons. Bome, water wat oor klippe lawaai soos spelende kinders, kabbel gaan nie werk nie. Ek dink dit is die woord wat dit die beste kan beskryf. Luister net hier …

Dit is hemels. Ou bome wat langs die spruit staan, afgekamp aan beide kante. ‘n Lang wandellaan waarlangs ons kan stap. Met die rustigheid van water wat alle ander stadsgeluide verdryf. Dat dit al is wat ek kan hoor. Ek dink hierdie rustigheid moet na my huisie in Rebusfontein verplaas word.

Ek was altyd verras omdat my dollatjie sulke harde geluide van water by haar kinders in die kamer sit om te slaap. Dit pla my, ek kan nie slaap nie. Nou weet ek, dit is lekker as alle ander klanke uitgedryf word. Ek raak rustig daar, soos wat ons verder stap. Ek weet egter nie of ek daar kan slaap nie.

Dit ruik soos vars grond, soos mos, groen blare, water, blare wat verrot. Hemels. Plaas. Dit voel soos plaas. Vakansie.

Dit is vol lewe. Mense kom aangedraf, aangestap, op hulle fietse en skopfietse verbygery. Almal is net lekker rustig in die natuur.

Foto’s: Die spruit kom onder deur die snelweg, tafeltjies waar kens skaak kan speel, ek het opgesien na die trappe na bo, maar dit stap nogal gemaklik, blou geverfde klippe met die teken (is dit wat mens dit noem) van die jaar, ek het muis (vanjaar) en koei ( volgende jaar afgeneem), fietsryer en parkie.

Het ek al vertel dat hier oral, naby alle woonstelle, speelparkies is? Vir kinders. Kleurvol en mooi. Sommiges by ouer geboue verwaarloos, maar steeds mooi.

En so van die tekens van die jare gepraat. As vanjaar die jaar van die muis is, behoede my asseblief van die koeijaar wat kom. Is koeie nie leliker met mens as muise nie, figuurlik gesproke?

Ek is mal oor koeie met hulle sagte oë, bang vir muise …

Toe ons bo kom, is ons amper bo-op Kok Tobe, die kabelkarretjie se boonste stasie waar mens kan uitspan, ek bedoel ontspan. Die stasie aan die onderkant is ook naby ons. Stapafstand. Hierdie mense loop mos oral, ons is nou ingeburger. Dusty staan in haar garage.

Ons twee gaan dalk net-net die berg soos bobbejane klim eerder as om karretjie te ry. Dit het ons al meer as een keer gedoen. Ek moet nog daarvan vertel.

Ek wil regs draai en huis toe stap, al langs die hoofweg en dan weer regs af in die Nazarbajev straat tot by die huis.

Manlief wil weer in Dostyk afstap, af na Dostyk Mall, want hy is lus vir uiteet. En nie braai nie. En ek het vleis vir braai uitgehaal! Soms maak dit my vies, maar uiteet kan werk.

Hy oortuig my en ons is verras oor hoe ons die straat ken, ons het voorheen so gestap, maar nie herken nie, ons het aan die ander kant van die pad gestap.

Ons is in Maart in een van die smal agterstraatjies waarvan ek netnou vertel het afgelaai. Ek wou ‘n part vir my Thermomix koop, dit was lang naweek en plekke was toe. En ons is in Almaty in die agterstraatjie afgelaai, met geen idee waar ons is nie.

Ons 2GIS het vir ons die gebou gewys, die man moes ons aan die voorkant aflaai en nie by die huisies nie. Ons het nie die woorde om rigting te vra nie, die man in die sekuriteitskantoortjie van die hoë gebou langs ons verstaan ons nie.

Ons is met trappies af, wat hy beduie het, na die voorkant van die hoë gebou. Meisie in ontvangs het geen idee wat ek vra nie, ons is waarskynlik by die verkeerde gebou. Manlief is vies, dit is koud en ons wip ons, ons gaan dan maar taxi kry om terug te gaan na Almaty hotel toe. Ons gunsteling hotel hier.

Maar die dag is nie klaar met ons nie. Die taxi bel, ons verstaan niks. Ons kyk op en af in die breë Dostykstraat, nee daar is niemand nie. Hoe moeilik is dit om net op jou kaart te kyk waar ons staan? Daar was nie eens baie verkeer nie. En dit was baie koud, het in die nag gesneeu.

Die ou bel weer, ons verstaan niks. Kan ook nie die taxi kanselleer nie. Toe besluit ons hy kan gaan bars, ons gaan koffie by ‘n plekkie oorkant die straat drink. Hy moet maar kom soek.

Net toe ons wou bestel, bel hy weer. Ek prop die foon in die kelner se oor en beduie hy moet praat. Maar o wee, hy verstaan net Russies, verstaan my nie.

Ek tik op manlief se foon in Google Translate, please explain we are here! Hy verstaan.

Hy verduidelik, die taxi kom en ons twee, wat al redelik vies vir mekaar is, begin lag. Taal en ons sukkel, ek wil Russies leer, maar dit is te moeilik om net so aan te leer.

Iedergeval, soos ons afstap herken ons die plekke … Haai kyk, ons het daar afgestap, sê manlief. Onthou jy, hier by die Panasonic bord.

Ek lag, hoe kan ek vergeet? Ek was toe al lekker vies vir hom.

En kyk, sê hy weer. Ons het daar hulp gekry, by daarde restaurantjie. Dit lyk nou effens anders, tente op die stoep opgeslaan want mens mag mos buite eet, maar nie binne nie. Maar ja, dit is die restaurantjie.

En toe is ons by Mado, op die hoek by Dostyk Mall.

Ons spyskaarte is in Engels en Russies en ons kan maklik kies wat ons wil eet.

Ek kies warm salm slaai, heerlik. Manlief kies iets vreemd, lyk soos twee dun lagies deeg met maalvleis in. Maar, hy maak eers seker dit is nie perd nie. Dan is hy gelukkig, dit is sy kos.

Mens drink mos nie hier Fanta en Sprite en Coke en sulke goed nie, jy bestel tee of varsgemaakte lemonade.

Hierdie een het suurlemoen en mint ingehad. My vriendin Mia sou vir my lag, ek hou nou selfs van tee met mint blare in. Sy het altyd die mint uit my tee gevat.

En elke keer verlang ek na haar as ek mint in my tee kry. Sy is nou 1000 km ver en ons het nie gegroet nie, dit is darem intussen reggestel.

O ja – ons kelner het Engels verstaan! Interessant, want hy is ‘n ouer man, Engels het eers onlangs hier in die skole ingekom.

Maar, ek moet vertel. Daar is ‘n tweede spyskaart!

Roomyse. ‘n Hele dik boek vol verskillende roomyse.

Ek weet nie hoe mens kies nie, daar is baie om van te kies en keur. Ek het nog nie so iets raakgeloop nie. Het jy?

Ek mag nie roomys eet nie, maar daar is een wat vegan is, ek neem aan dit is melkloos ook. En dit gaan ek kom toets. Een middag wanneer ons ver gestap het. Dat ek die kilojoules weer kan afstap. Maar daar gaan ek beslis weer sit. Om ‘roomys’ te eet. Dit lyk baie lekker, ek moet net. Kleurvol, diep pers en groen as ek reg onthou. As dit sleg is, het ek probeer.

As dit lekker is, gaan Thermie op aandag moet staan, sy kan dalk net ook moet maak. Ek sal resepte soek en ook maak. Uiteet kan duur raak in Almaty. In Ust het ons selde 10 000 tenges (R400) betaal. Hier kom ons selde onder 10 000 weg. Wêreldstad. Ust was ‘n werkerstad, alles was goedkoop daar.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

11 gedagtes oor “‘n Vinnige uitstappie afgerond met ete by Mado in Almaty

  1. Daardie omgewing waar jy stap, sal vir my sielerus verskaf. Dis so mooi. Dankie vir al die fotos. ek lees so lekker aan jou woorde.
    Ek wonder net hoe kry julle meer as 1 foto langs mekaar. Ek sukkel nog daarmee.

    Like

    1. Appeltjie, ek gebruik die gratis weergawe van die toep Picolage. Jy kan dan ‘n grid kies, ek kies baie keer die een met 5 kleintjies en een grote, dan kies jy die ses foto’s (of minder afhangende van die grid) en dan skuif jy hulle so bietjie rond in die grid tot dit mooi pas. Jy kan daarby skryf ook. Ek doen soms. En dan save jy dit as ‘n foto. Dan laai jy die een foto op, in plaas van ses aparte foto’s. So spaar ek plek want dan kan ek baie meer foto’s oplaai in die bietjie plek op WP.

      Liked by 1 person

  2. Dis so mooi daar! Oor die klank van water: daar is vir my geen mooier klank nie. Dit maak n mens s rustig. Interessabte idee om dit vir kinderstjues te speel as hulle gaan slaap!

    Like

      1. Ja, agv baarmoederklanke. Ek is mal oor d seeklanke as ons daar is. My man is nou ok maar vroeer jare kon hy ook nie slaap nie. Die geluid het vir hom soos rekenaars geklink( vroeër het rekenaars sulke fan’s gehad)

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.