Ek het vertel dat vanuit ons woonstel kyk vier geboue wat soos die hekpale van ‘n imposante woning lyk. Die twee hoë geboue met die geroeste vierkante op die dak, lyk soos die hekpale. En die lang wit geboue, wat rond raak na die hekpaal se kant toe, lyk soos die muur van die ingang. Toe reën dit en moes ons skuiling teen die reën gaan soek.

Wel, ek het ook vertel dat ek vreeslik nuuskierig daaroor is, want die gebied tussen die geboue lyk op 2GIS soos ‘n vuurpyl. En vuurpyle is kenmerkend aan Qazaqstan. Amerika en Rusland het bemande vuurpyle van Qazaqstan af in die lug ingestuur. Dit kon dalk simbolies wees. Sien jy die vuurpyl op die foto?

Hy lê in die boonste helfte van die foto, met sy neus na bo, blou in die vlerkies.
Wel, ons het toe gaan kyk. En dit is op ‘n manier mooier as op die kaart. Al is die vuurpyleffek seker bloot toevallig. Niks oor maanreise daar raakgeloop nie. Maar wel, eie aan Qazaqstan, fonteine in verskillemde vorms, ‘n laning bome tussen twee geboue in die nesudeel van die vuurpyl. En die absolute gevoel van saligheid en rus en vrede.

Die hoë geboue is woonstelblokke, nogal oud en verwaarloos (foto 1 bo). En … hulle staan edelik ver van die lang geboue af (foto 2). Die lang geboue is nogal mooi van die kant af (foto3). In elkeen van die drieboeke is ‘n baie groot dam met fonteine (foto 2 af), en die laning bome in die lyfgedeelte van die vuurpyl is pragtig (foto 3 af).
Die swart kolletjie op die kaart, tussem die twee sirkels agter die blou driehoeke is ‘n baie hoë monument, waarvan ek later sal vertel. Mens sien dit so (groot foto bo), as jy van die lyf se kant af na die straat terugstap. Die fonteine is in die driehoeke soos reeds verduidelik.
Toe staan ek en wonder. In Maart het die gids my en ‘n vriendin hierheen gebring, 17 km in die koue laat stap, dit het die volgende twee dae gesneeu. Ons het baie betaal vir die voorreg om haar as gids te hê en so ver te stap. Ek het die hekpaal vorm toe nie herken nie,
Miskien omdat mens nie agterkom dat twee geboue eenders is as jy stap nie?
O ja, nou onthou ek!
Ons moes deur die neus van die vuurpyl gestap het, want ons het die monument van agter genader. In Qazaqstan word fonteine in die winter met houtrame toegemaak om die pype te beskerm, dus sou daar toe geen fonteine gewees het nie. Ek onthou ons het die monument van agter benader.
Op die oomblik is die twee sirkels op die foto langs die swart kol toegemaak. Hulle is besig om te bou en breek. Ek wonder wat dit kan wees? Ek het gou op my foto’s van Maart gaan kyk. Daar het vaal bome gestaan, maar hoe moes ek nou weet dat ek nou so nuuskierig sou wees? Ek het nie foto’s van die grondoppervlak geneem nie.
Ek kan wel aanvaar dat dit twee eenderste strukture gaan wees. Een aan elke kant van die monument.
Ek sal nog van die monument vertel, moet weer gaan oplees, maar dit het iets met man, vrou en kinders en ‘n gelofte of belofte te doen.
Oral sit mense op bankies rond, speel kinders met hulle skopfietsies en raai wat, dit is nie die eerste keer wat ek die blokke vir hop scotch (reg gespel?) met bordkryt getrek op plaveisel in Qazaqstan sien nie.

Ek het in Ust ook een afgeneem. Dit lyk beslis vir my sooos ‘n speletjie uit my kinderjare.
Is daar ‘n Afrikaanse woord daarvoor?
Sjoe, dit vat mens mos baie jare terug.
Laerskooldae.
Toe ons die blokke getrek het en ‘n klippie in ‘n blok moes gooi en spring, maar ek kan nie meer onthou hoe dit werk nie. Net dat dit ‘n baie gewilde speletjie in my laerskooldae was.
En dat ek dit omtrent net so lanklaas gesien het, die blokke op die grond. Speel laerskoolkinders dit nog? Ek was mos hoërskooljuffrou. Hulle speel mos nie meer nie …
Hooffoto: Die gedraaide deel van die lang gebou en sy weerspieëling in die groot dam van die fontein.
Ek het hier oor hopscotch geskryf: https://somethingovertea.wordpress.com/2018/07/03/childhood-games-hopscotch/
Dit is interessant om hierdie stad saam met jou te leer ken.
LikeLike
Dankie, Anne, ek gaan lees om te onthou hoe dit werk. En jy daaroor voel.
LikeLike
Jitte, Anne, lees ek sowaar dat ek en jy selfde oor die speletjie onthou. In die laerskool self gespeel. nie gesien ons hoërskoolkinders speel dit nie en dit baie, baie lanklaas self gesien het. Nou moet ek my dogter gaan vra – het hulle dit gespeel?
LikeLike
Ek weet nie wat Hop Scotch in Afrikaans is nie. Ek het altyd saans as hulle melk, melkstal toe gegaan en daar het ons dit saam met die plaaskinders gespeel. Jy spring met een been dink ek en mag nie in blokke trap waar daar ‘n klippie lê nie. Ek sal graag due Afrikaanse naam daarvoor wil hê
LikeLike
Hmmm, ek ook, Toortsie. Wil weet wat die naam is.
LikeLiked by 1 person
Ek het eers later jare die Engelse naam geleer. Weet nie wat ons dit genoem het nie. Ek sien Google sê Eenbeentjie.
LikeLike
Eenbeentjie? Dit klink goed genoeg. Gaan my ma vra, dalk kan sy onthou?
LikeLiked by 1 person
https://www.google.com/search?q=hopscotch%20in%20afrikaans
LikeLike
Dankie, Toortsie, ek is skoon opgewonde dat dit ‘n Afrikaanse naam het. Ek proe aan die woord, voel of ek dit ken. Kon ons dit gebruik het?
LikeLiked by 1 person
Ek wens ek het geweet. Ek moet dalk vir San gaan vra. Ons het kleintyd saamgespeel.
LikeLike
Hmmm, ons moet.
LikeLiked by 1 person
Of van ons plaaswerkers?
LikeLike
Dit gaan nie in my geval werk nie, ons het aan einde van standerd 4 ver weggetrek.
LikeLiked by 1 person
Van ons plaaswerkers wat saam met ons groot geword het, werk nog by ons.
LikeLike
Ek lei so af uit ql jou blogs, jy gaan moet vra.
LikeLiked by 1 person
Ek het nou ons plaaswerkers gevra. Hulle noem dit Hokkie.
LikeLike
Hokkie, ek hou daarvan!
LikeLiked by 1 person
nee nee nee asb nie hokkie nie. Ek het dit ook as Eenbeentjie geken. Maar asb nie hokkie nie. Dit bring nare ervaring van die sport aanleer om vir kleintjies te leer terug. Ek verstaan nie die reëls nie, ook nie die bewegingstegniek nie. Ek moes entoesiasties wees oor iets wat my glad nie aangestaan het nie.
LikeLike
Soos hokkie die sport? Oe, ek hou baie van hokkie, al kan ek dit nie self speel nie. Ek hou van eenbeentjie.
LikeLike
Ons het ‘n verskuiwing van personeel gehad in my fase en ewe voorbarig bied ek toe aan om die sport af te rig (onderwyser is weg). Ek het tegniek geleer van stok vashou, die verskillende houe ensomeer. Lekker gespeel by die skool tot en met die eerste wedstryd. Wat ‘n skok. Erge nederlaag, geen benul van hoekom die fluitjie blaas. En geen verbetering van my kant af in ‘n jaar nie. Toe gee ek moed op.
LikeLike
Ek het die voordeel gehad dat my seun kan speel. En ek was hoof van seunshokkie,, met afrigters onder my. Kan dit steeds nie speel nie, al was ek die Voorsitter van Noord-Vrystaat seunshokkie. Maar dit was wonderlike dae.
LikeLiked by 1 person
Dit voel vir my ook meer bekend as eenbeentjie.
LikeLike
Ek stem saam, maar ek is baie mal oor hoe ander mense woorde skep in ons taal. Dit is beslis eenbeentjie.
LikeLiked by 1 person
Dit is oulik, en dalk word dit in ‘n ander streek nog altyd so genoem.
LikeLike
Skat so hoor.
LikeLike
Baie goeie skets van jou omgewing, Christa..Ek wou net aanhou lees!
LikeLike
Ag dankie, Letty-Anne, ek geniet die skrywery oor die omgewing baie.
LikeLike
Ek moet sê Christa, ek geniet ook jou beskrywings. Om die waarheid te sê ek begin kyk hoe om die wêreld om my te beskryf, stukkie vir stukkie. soos jy dit doen.
LikeLike
Dankie, Appletjie, ek doen dit om eendag wanneer die brein nie meer wil onthou nie, te onthou. In my eie woorde …
LikeLike
Soos altyd voer jy my mee op julle uitstappies, Christa.
LikeLike
Dankie, Una, ek hoop dit maak op vir die inperkings.
LikeLike