Gepubliseer in Reisjoernaal

Pret en petaljes eerste twee weke in Almaty

Ons is nou twee weke in Almaty. Aan die een kant het die tyd gevlieg, aan die ander kant staan dit stil. Want dit wat ons die graagste wil doen, kan ons nie doen nie. Maar, dat ek dan maar van die pret en petaljes gedurende die eerste twee weke vertel.

Ek gaan sommer deurmekaar vertel, soos dit opkom. Sal dalk later probeer om dit te organiseer. Vir nou moet ek die onthou net in rat kry.

Interkom en ons bokse wat afgelaai moet word

In Öskemen het ons geen interkom gehad nie. Mense het net voor my deur opgedaag en dan was ek aanvanklik bang om oop te maak as ek alleen is. Hier het ons ‘n deftige interkomstelsel.

Die eerste dag het manlief en die manne met die trokkie wat die bokse gebring het, mekaar langs die pad verloor. En so daag manlief op en hulle nie, maar hulle was voor hom. Hulle bel en vra ons moet oopmaak, manlief gaan af en wag en wag en wag.

Kwaad kom hy terug, daar is niemand.

Die ou bel weer, hy is by die deur. Manlief is af, daar is niemand. Ek gaan saam af, dalk kyk hy verkeerd. Daar is niemand maar hulle sê hulle is hier. Ons is vies en besluit om maar daar te wag en daar kom die man van die kant van die gebou af.

Ons woonstelblok bestaan uit vier verskillende blokke.

Hy verduidelik hy is by ander deur. Ons het geen idee waar die ander deur is nie. Weet ook nie hoe om daar te kom nie.

En manlief kan dus nie gaan oopmaak nie. Iemand het vir hom oopgemaak, toe ek weer sien, is die bokse by my deur. En manlief wag onder by dooiemansdeur, hy dog hulle kom terug na hom toe.

So, waar gooi mens vullis weg?

In Öskemen het ons ‘n skag gehad, jy gooi alles daar af en dit verdwyn. Hier is ook ‘n skag, maar hy is toegemessel. Dus moes manlief probeer uitvind waar vuilgoed weggegooi word. Hy is om die gebou en by die ander kant het hy opgestap, mens ry op na die vierde vloer toe. So ontdek hy toe die deur waar die manne die bokse ingedra het. Op die vierde vloer van die gebou. Wie sou nou daar gaan soek om oop te maak.

Daar is egter geen plek vir vullis nie. Twee dames kom uit die gebou met hulle vullissakke en hy vra of hy hulle kan volg. Mens moet dan bo-oor die winkelsentrum wat van vloer 1 – 3 strek, na die punt van die andr blok woonstelle stap. Dan gaan jy daar in, kry ‘n ander hysbak wat jou na een neem, stap uit en om die hoek en daar staan die bakke en wag vir die vullis.

Unsafe lift, sê sy

So moet ek en manlief die volgende dag al die bokse uitvat om te gaan weggooi. Die manne wat die bokse gedra het, verstaan nie glase of fragile nie en dra een van die bokse onderstebo. Met die gevolg dat die mooi suiker wat ek hier gekoop het, uit hulle boksie val omdat manlief dit nie toegeplak het nie.

Die suiker lyk soos kristalle, bruin en swart en snaakse kleure vir suiker. Ek het dit nog nie probeer bedien as ek gaste kry nie. Wat my nou daaraan laat dink dat ek nie gaste kry nie … Dit is mos grendeltyd.

Ken jy dit? Ek het ‘n paar natgelek om te wys hoe hulle lyk as hulle skoon is. Toemaar, ek het daardie weggegooi … eet wil ek nie.

Ons lyk soos Hansie en Grietjie wat die krummels agterlaat soos wat manlief die bokse dra met kristalle wat elke nou en dan verloor. Ek raas as hy dit tiep en nog uitval. Hoeveel is nog oor? Dan stop ons, tel op en stap verder. Toe ons onder kom en uit die hysbak klim, laat hy weer bewyse in die hysbak agter.

Voor ons kan keer, roep iemand die hysbak en daar gaan hy. Ons besluit om skoon te maak as ons weer boontoe ry. So ver soos ons loop, mors manlief, dan stop ons, tel op en stap verder. Nadat ons die bokse weggegooi het, wag ons vir die hysbak wat skoongemaak moet word.

Die hysbak kom af en by die beheerpaneel staan ‘n verskrikte vrou wat vir die vloer kyk en met iemand oor die interkom praat. Unsafe, unsafe sê sy. Ons twee buk, tel ons “krummels” op en klim op ons vloer af. Toe ons weer afgaan, is die skoonmakers besig om te kyk wat die probleem is, want hulle sien niks. Die vloer is mooi skoon.

Ook maar goed die vrou kon net Engels praat, ek dink die opsigter het nie verstaan wat so onveilig in die hysbak is nie. Daar was dan niks?

Vriendin hier wil sien hoe dit lyk, volgens haar was hier al aanvalle van ‘n sekere groep. Mens kan dus nooit te versigtig wees nie. En glo my, min mense sal dink dat ons krummels suikerklonte is.

Ons tweetjies stap alweer in die reën

Ons bly so twee groot blokke van Dostyk winkelsentrum af. Ons het verlede naweek besluit om eers een massiewe blok af te stap in die stad se rigting om te gaan uiteet. Toe stap ons vandaar die twee groot blokke in Dostykstraat se rigting om dan aan die ander kant van die massiewe blok in die oorkantste straat op te stap tot by Dostyk winkelsentrum.

Toe ons by die straathoek kom, begin dit liggies reën en ons besluit om in die winkelsentrum in te gaan om goedjies by die groot supermark te koop. Toe ons uitkom, sous dit katte en honde.

Toe stap ons maar weer terug, loop deur die sentrum, maar rêrens kan ons ‘n sambreel koop nie. Toe ons deur al die vloere is, en na buite stap, reën dit liggies. Dan maak mens maar soos die Qazaqs as jy in Qazaqstan is.

Net soos in Öskemen, stap die mense in die reën, geen sambreel of reënjas nie, lyk nie eens of dit hulle pla nie. Ons het redelik klam geraak en koud gekry, want hier aan die hang van die hoë berge waai die wind gereeld. En koelerig, ek voel baie keer of ek warmer wil aantrek as ons buite is.

Internet en interkomprobleme

Die internet net net drie dae gewerk, toe is daara niks. Die agent het die landlady laat weet en sy het Telekom uitgestuur om te kom regmaak. Ons moet goeie opvangs hê, die Telekompaal is omtrent in al my foto’s so naby is ons daaraan.

Ons moet oorbegin en weer begin, dit werk steeds nie. Toe moet die tegnikus uitkom. Ons is nie gewoond daaraan om ‘n interkom te hê nie, dus kliek ons eers nie dat ons interkom ons roep nie. Manlief gaan antwoord, praat Engels en sê hy moet Engels praat. Hy ken nie van die taal nie en naderhand sit manlief neer, niks gebeur nie.

Die interkom roep weer, ek antwoord en vra internet, hy da-da-da. Ek sê vir die man in Engels door is open, pull. Hy verstaan nie en ek weet nie hoe om te help nie, maar herhaal net weer. En toe is hy weg. En sowaar, ‘n rukkie later is hy by die voordeur.

Ons verstaan mekaar glad nie, maar die modem is vervang, ons het nuwe naam vir die internet en ‘n wagwoord, ons en hy het mekaar op ‘n manier verstaan.

Kan jy glo? In derde woonstel in Qazaqstan bou mense ook bokant ons!

Ons het uit die eerste woonstel in Öskemen getrek omdat daar ‘n groot lawaai was. Hulle het bokant ons gekap. En geboor. Tot elfuur in die nag. En dit was baie ver van die werk en alle ander winkels af.

In die maand voor ons uit die tweede een na Almaty getrek het, het die vinkwyfie bokant ons se mannetjie die nes oorgebou. Nadat sy dit uitmekaar geskud het. En ek was dankbaar dat ons na Almaty trek.

En sowaar, ‘n vinkwyfie hier het ook haar nessie uitmekaar gepluk. Manlief werk van eerste dag in Almaty vanaf die huis. Omdat mense in die kantoorblok positief getoets het. Heerlik, hierdie huis is groot en hy kan maklik werk sonder dat ek en hy mekaar pla. Want dit is mos virtuele vergaderings elke tweede of derde uur.

Verlede week Maandag is daar een oorverdowende gekappery bokant ons. Klink vir my soos mure wat uitgebreek word, manlief sê dit is teëls wat afgekap word. Dit klink of dit deur my kop kap. Teen Vrydag is ek kwaad en stuur ek ‘n WhatsApp met die gekappery na die agent, kan hulle asseblief uitvind wanneer dit gaan ophou. Ons probeer werk.

Ek skat dit kom van vloer bokant ons, maar daar is dit stil, dus gaan ek een op. En sowaar, die matjie voor die deur is vuil en die gekappery kom van binne. Ek is so dankbaar ons was nie die middelste vloer nie.

Ek stuur die nommer aan en sy laat weet landlady stuur haar drywer om die probleem op te los. Later die middag lui die interkom, ek antwoord maar verstaan niks. Maak net oop en hoop hy kom nie na ons toe nie. En later kry ek boodskap, die gekappery is klaar. Ons sal rus en vrede hê.

Nou kyk, ek weet nie wie sy is of wat haar drywer se houding was nie, maar dit is van daarde oomblik af doodstil bokant ons. Ons hoor nie ‘n gekap nie en tog moet hulle mos regmaak waar hulle gewerk het? Niks, dit is doodstil.

Hierdie bouers het die koek gevat, hulle was so luidrugtig asof hier nie nog mense in die gebou is nie. En ek kon nie glo ons landlady kon hulle gaan tjoepstil maak nie.

Ek is egter nou regtig moeg vir vinkwyfies, kan hulle asseblief nou van hulle nessies hou? Ek hou van myne …

Oompie wat laaistok ingesluk het

Ek en manlief stap die een dag om die vuilgoed te gaan weggooi. Ons stap nou eerder om die gebou, straat af. Uit een van die ingange van ‘n gebou kom een oompie die trappies afgestap. Maer soos ‘n riet, lyk of hy laaistok ingesluk het soos wat hy sulke koddige vinnige treetjies stap.

Om sy nek hang een van daardie maskers wat bouers gebruik, die soort wat een of ander filterkontrêpsie het wat soos ‘n mondjie lyk. Die masker hang styf teen sy nek, en ek sê vir manlief hy moet na die groot adamsappel kyk.

Toe die oompie op die sypaadjie is, kyk hy vir ons, beweeg daardie kort Charlie Chapman vinnige treetjies af van die sypaadjie, om die ligpaal ver van ons af en ek dog hy wou so oor die straat stap.

Manlief sê hy loop myle om ons twee en ek dog so by myself hy is verkeerd. Want sien, ek het vergeet hy het ook toegeknoopte sakkie vullis in sy hand. En wraggies.

Ek kon nie help om hard te lag toe ek omkyk nie, daar beweeg Charlie Chapman soos in die outydse movies, hy het regtig net anderkant die ligpaal geloop om by ons verby te kom.

Ek neem hom natuurlik nie kwalik nie, maar die sypaadjie is so breed dat ons maklik die nodige sosiale afstand tussen ons en hom kon handhaaf.

Hy het egter vir ‘n baie prettige aandwandeling gesorg.

Ons is amper in ongeluk as gevolg van laan van baan wat skielik swenk

Saterdag soek ons na ‘n lig vir manlief se studeerkamertafel in die TV-kamer. Ons gebruik 2GIS en ek vra lights. Ek weet, dit was seker dom soektog, maar ek kry toe Dream Lights. Klink of hulle weet van ligte. Ons ry uit die stad uit, tussen huisies aan die rant van die stad in. Mens sal dit agterstrate en agterbuurte kan noem.

Skielik swenk ons baan na regs en manlief moet ook na regs swenk om in sy baan te bly, gelukkig ry hy baie stadig. Die ou in ‘n wit karretjie kom van agter gejaag, druk vir ons toeter, swenk ook om ons mis te ry en beland in stadige aksie op die randsteen van die pad met sy een wiel.

Dit was nie manlief se skuld nie, maar hy het so sleg gevoel dat hy uitgeklim het om te gaan help. Toe hy die skade sien, het hy aangebied om vir die herstel te betaal. Kan jy nou meer, die ongeluk het reg by ‘n bande plek gebeur! Mens sou sweer dit was so beplan?

Manlief kry kwotasie vir die kostes met behulp van tolk wat toevallig daar verby draf. Die eienaar van die winkel sien die mannetjie van die karretjie wil manlief inloop en keer dat hy te veel betaal vir die band met die rim en balansering. Want toe wil die mannetjie dit nie meer by die plek laat regmaak nie, hy soek net die geld, sal self op ander plek laat regmaak. Wat mens weereens laat voel dat die “ongeluk” beplan was.

Ons het nie omgegee nie. Die man kon teen die daardie spoed sleg getref het, in my kant van Dusty vasgery het. Ons was net dankbaar dat hy die randsteen gekies het en nie ons nie. Ek kon ernstig seergekry het en wie wil nou in ‘n hospitaal wees? Beslis nie ekke nie. Ek sal dooi as ek alleen daar moet lê, met niemand wat my mag besoek nie.

Die Dream lights plek toe nooit ontdek nie. Toe ek later onder oorsigte (reviews) gaan lees, kom ek agter dat hulle dalk eerder motors se kopligte doen as wat ek ligte vir ‘n huis daar sou kon opspoor. G’n woord verstaan nie, behalwe dat hulle van BMW’s en ander motors praat … En dat almal baie tevrede was, vier sterre gemiddeld gekry.

Ons is steeds lamploos, winkels is toe en ons kan nie aanlyn bestel nie. Dit maak eers 3 Augustus oop. Dalk.

Uiteet en kitskos

Uiteet is by die meeste plekke pret. Die menu’s is halleluja in Engels. Ons weet wat ons bestel. Die meeste plekke bring egter ook die kos soos wat dit gaar word. Ek of manlief is klaar geëet as die ander een se kos opdaag. Hulle verstaan nog nie daardie een nie.

Behalwe by Beefeater, daar kry almal aan die tafel tegelykertyd kos. Hoe lekker is dit nie?

So is ek lus vir KFC, hier is Kentucky in Almaty, 27 takke, onthou, in die winter stap mens kort afstand om kos te koop. Die vorige dag het manlief Kentucky geruik toe hy ons ver laat stap het. Ons het gedink dit is by die Forum winkelsentrum. Toe nie.

Toe ons daar kom, wys die veiligheidswag met gekruisde arms dit is toe. 2GIS wys daar is een 2 km verder en ons stap daarheen. Om op die ou iende 6 km te stap as ons 2 wou stap om kos te koop. Dit help darem om treë te bou op my Garmin horlosie.

Toe ons instap, kom twee poppies saam met ons van buite ingestap, die een vertel vir ons ons moet maskers opsit. Terwyl beide maskerloos is. Kyk hoe staan hulle twee daar voor waar mens bestel sonder maskers en gesels met die man agter die toonbank. Hy het wel masker gedra.

Mens sal sweer ons het nie ‘n kar nie. Maar, dit is nou waar die ander probleem lê. Ons het nog nie ons hernude lisensies gekry nie. Ons wag vir ‘n pakkie uit Suid-Afrika …

DHL en ‘n pakkie van Suid-Afrika

My lisensie het laas jaar verval, manlief s’n het Januarie verval. Ons het 3 Januarie hernu, sou dit gaan afhaal as ons teruggaan vir kleinseun se geboorte. Wat toe mos nie kon gebeur nie omdat beide lande middel Maart in grendelstaat ingegaan het.

Die tydelike lisensies hou ses maande, maar raai, ons kan steeds nie gaan nie en die ses maande is so pas verby. Dus gaan haal seun af en pos hy dit met DHL. Die pakkies sou vandag hier aanland.

Ons hou op die web dop, Bahrain. Waar is dit, moet eers soek om die plekkie in die Midde-Ooste te ontdek. Nogal van Johannesburg na Bahrain. Amper naby ons.

Toe foeter dit Leipsig toe, Duitsland. Weg van ons. Goed, dink ons, sal seker van daar hierheen vlieg, maar nee, daar gaan dit na twee plekke in London toe. Om die 5de Julie te sê “depart from Heathrow” en nooit weer te land nie.

So tik ek vandag op die webwerf in. Haai, die pakkie kan nie 5 dae in die lug hang nie, vliegtuie moet weer land? Waar is ons goed, ons het dit dringend nodig.

Kry ek in gebroke Engels antwoord, sou die 8ste uitvlieg, maar de cargo was te swaar, sal later uitvlieg. Wag vir vlug op Heathrow. Nooit weer gesê dit het toe nie depart nie. Volgens seun is daai maar logistieke terme, dit beteken nie dit is uit die lnd uit nie.

Hy doen toe vir ons navraag, ja, die pakkie wag vir vlug in London. Die kant toe. Oor ‘n vervlakste pandemie is alles vertraag. Asof die pandemie nie al maande lank almal se lewens beïnvloed nie.

Tog het hulle my pakkie aanvaar om te kom afgee. Ek kan net dankbaar wees, hoe moes hulle weet Qazaqstan sou 5 Julie weer in strenger grendel ingaan vir twee weke? Wat so pas verleng is.

Dus kan ons eintlik nie ry nie, al het ons ‘n kar. Dusty staan maar onder en mooi lyk in haar mooi groot garage of sal mens dit eerder parkeerplek noem?

***

Kry ek voordat hierdie geskeduleerde artikel geplaas word, die e-pos van DHL in Qazaqstan.

***

Snaaks hoe mens nie kwaad word nie, net dankbaar is dat die pakkie hier is. In Almaty. By ons. Seker nie 4km weg van ons nie.

Ons sal dit waarskynlik môre kry. Nou wel later as 13 Julie, maar ek kla nie. Dit het anders as wat ek kan, in verskeie lande gaan land en wag om uiteindelik vanaf Heathrow hierheen te kom. Vanoggend die boodskap gekry, word vandag afgelewer voor die einde van die dag.

Inkopies is meestal lekker in Almaty

Die meeste supermarkte is selfhelpwinkels, dus kan ek alles self vat en in die trollie laai, by die kassiere vra vir adien of dwa of trie pakket, afhangende van hoeveel ons benodig. Manlief betaal en daar gaat ons, geen gesukkel met ek wat duskant van ‘n toonbank staan en iemand aan die. ander kant in Engels moet beduie om iets vir my van die rak af te haal nie.

By Metro moes ons selfs leer om self ons groente en vrugte te weeg en die pryse opplak. Geen iemand wat help nie.

Petrolingooi is weer anders. In Ust raai jy hoeveel petrol jy nodig gaan hê, loop in en betaal. As jy te veel geraai het, stap jy terug en die kleingeld wag reeds vir jou!

Hier is petroljoggies wat selfs mens se ruite was. Jy kan dus ook vra om vol te maak, dan betaal jy sodra die kar vol is.

Ons is wel vreemde verskynsels. Sommige assistente dink ons is Duits, ander vra van waar. As ons sê Suid-Afrika, glo hulle ons nie.

In Metro moes ek hierdie foto neem.

‘n Legkaartagtige wêreldkaart. Interessant hoe hulle ook Afrika en Amerika op die voorgrond plaas en nie eerder Sjina, Indië en Rusland nie.

Die hooffoto is Suid-Afrika, met sy naam in Russies. Juzhnaja Afrika. En ek is verras dat Bloemfontein aangedui word. Hallo Bloemfontein uitgespreek as Blooomfontejin). Interessant dat hulle die geregtelike hoofstad kies vir Suid-Afrika, weet seker nie dat ‘n land meer as een kan hê nie? Ek dink tog Pretoria is oor die algemeen die hoofstad van die land. Anders is Pretoria en Kaapstad seker te moeilik om na Russies te vertaal?

Kyk sommer ook na die name van die lande om Suid-Afrika. By Namibië (Namibija) word Windhoek aangedui, uitgespreek as Windghoek. Hulle het mos nie ‘n H nie, die H is ‘n N. Probeer gerus die ander letters verstaan.

‘n Paar letters om te help:

  • ‘n г (lyk so bietjie soos r) is ‘n g
  • х = Gh
  • C = S
  • H = N
  • ю = you uitgespreek
  • ф – f
  • ж = zh
  • д = D
  • и = ie
  • р = R
  • п = P
  • б = B
  • я = ja
  • з = Z
  • в = W

Dit behoort te help, ek dink nie ek hoef alles te gee nie … Hier voel mens nie net ongeletterd nie, jy moet ook mooi kophou as jy lees. Want sommige letters lyk soos ons s’n, maar beteken iets anders. Ander lyk en beteken selfde en nog ander lyk anders en word vreemd uitgespreek.

Slegte verrassing: kurkdroë keel van kurkdroë lug

Word ek een nag in die eerste week wakker met die vreeslikste gevoel van dors. En ‘n kurkdroë keel. My neus was so droog, Virgo C, hulle sou tot in my longe moes grou om bietjie smeersel te kry om te toets vir ‘n gogga. Ek weier om daai woord weer oor my lippe te laat kom. Iedergeval, ek het opgevlieg, water en water en water gedrink en niks wou help nie. Toe krap en die lugbevogtiger masjien uit, wat sou dit in Afrikaans wees. Sukkel dit vol water en lē in die stoom om asem te kry. Iewers in die nag het ek weer aan die slaap teraak, maar daarna slaap ek nie weer sonder die masjien vol water nie.

Ek is nie seker of dit was omdat ons die lugverkoelers in elke vertrek aangesit het nie. Die sitkamer-eetkamer is so groot, daar staan drie sulke masjiene teen die mure.

Blykbaar is koue lug droog. Of omdat dit was omdat ons vensters oopgemaak het nie, ons bly sommige dae in die besoedelingswolk. Ons het geen idee hoe die winter gaan werk nie, ons het nie die warmwaterverwarmers in die huis nie. Kan seën wees, dit word soms te laat afgesit en dan vergaan mens in jou huis.

Ons moet dieselfde lugverkoelers gebruik om die huis warm te maak … Vermoed dit raak koud in hierdie woonstel, elke kamer het ook ‘n klein wit olieverwarmer wat seker nie verniet gekoop is nie. Dalk is dit net omdat dit die lug nie verder uitdroog nie?

Ons huis ruik nie lekker nie

Ek is regtig jammer as iemand wat rook nou gaan aanstoot neem. Dit is nie die bedoeling nie. Maar vir ‘n nie-roker ruik ‘n nuwe woonplek waarin ‘n roker gewoon het, nie lekker nie. Ek weet nie of die rook in die meubels intrek nie, maar ons ruik dit nie wanneer ons in die huis is nie. Raak seker daaraan gewoond.

Maar as ons uit was en inkom, slaan dit bedompig teen ons vas. So is ons winkels toe om bottels van daardie parfuum te koop waarin stokkies gedruk word om die geur te vesprei. Twee vir die groot sit-eetkamer, een vir elke ander verterk in die huis. Ons was amper bankkrot daarna, dit is nie goedkoop nie.

Manlief merk toe binne die eerste twee dae op dat die vlak wat gegeurde water in die bottels teen ‘n spoed laer word. Nog ‘n bewys van hoe droog die lug in die woonstel is.

Binne die eerste twee weke het net een botteltjie nog water ingehad. Die ander een is ‘n ander maak en het meer geurmiddel ook gehad, hy is heelwat langer.

Die huis ruik egter steeds lekker, ons sal seker maar elke maand koop tot ons die sigaretreuk uit die huis is. Ons hoop dat iemand dalk raad het om die reuk te verwyder.

***

Dit dan alles deel van die pret en petaljes van ons eerste twee weke in Almaty.

Ons kan nie kla nie. Ons smag net om na ons kinders te gaan, my kleinkinders te sien, my ouers en susters, my honde te vertroetel, braaivleis te eet.

Regte, egte steak.

Manlief.

Ek soek hoender of vark, sagter vleis na my smaak. Of ‘n salmpie. En dit is alles hier beskikbaar. Vark, as jy weet waar om te soek.

Goed dan, as ek so kyk, het ek nie goed georganiseer nie, maar dit is ‘n hele storie om dit nou te verander. Dus groet ek sommer so.

Die pret is veel meer as die petaljes. Ons kan nie kla nie. Inteendeel. Ons is gesond, wat meer kan mens op die oomblik vra?

Dat die Here asseblief ons kinders en kleinkinders en my ouers en ons almal se families en ons vriende en die hele Suid-Afrika moet beskerm. Eintlik die hele wêreld. En ons tweetjies ook asseblief.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

12 gedagtes oor “Pret en petaljes eerste twee weke in Almaty

  1. Ook lankal geleer, vinknes-suikerbekkies in die lewe se kwaad word het nog nooit busse, vliegtuie, skepe of treine se aankoms vervroeg nie. En pax to Raro, luggage to Baitang. Tasse en pakkies gebeur mos.

    Ek vind nie-standaard hysbakke afgryslik. Het ook al tussen verdiepings vasgesit.

    Dusty gaan langer hou.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.