Gepubliseer in Reisjoernaal

Aalwyne en ander huisplante in Qazaqstan

Ek dreig al so lank om hierdie artikel te skryf. Toe oortuig Anne, ‘n blogvriendin, se kommentaar op my kommentaar op haar foto my om dit vandag te skryf. Ek skryf oor die stoute sprinkaan wat die blare eet en sy antwoord dat aloes en grasshoppers ‘n wêreld verwyder is van waar ek nou is. Ek is regtig so ver weg, 10 000 km, of is dit nou nadat ons nader getrek het 9000 km?

Toe nie, Anne. So kom ek vertel my storie oor aalwyne …

Ek is nie met groen vingers gebore nie, my plante kan maklik vrek. Die een oomblik is hulle nog mooi en dan tree piep in. En ek weet dan nie hoe om hulle reg te maak nie, hulle vrek sommer. So het die mooiste orgidees al in die stof gebyt. In so mate dat ek soos plantmoordenaar voel. En nie weer een wil koop nie.

Tog is my tuin by my stadshuis mooi. Elke plantjie is met sorg gekies en self geplant. Daar was niks, net grond. Ons het selfs die gras aangeplant. Ek kon die Jakaranda van ‘n saadjie laat groei. Daardie ene groei pragtig by die hek van ons stadshuis. Hemelhoog. Hy is veilig, sal die dag afgekap word as leiers die wette wat hulle maak self gehoorsaam.

Toe ons verlede jaar in Öskemen ingetrek het, het die vuil lug op sommige dae ons kele seergemaak. Net soos by ons huis in Gauteng. Dus is ek en manlief winkels toe. Om potplante te koop. Wat lug kan skoonmaak, maar dalk sommer ook suurstof in die lug kon sit.

In ons stadshuis in Gauteng het ons reeds met die idee begin speel. Om potplante in die huis te sit wat suurstof maak en lug skoon kan maak. So beweer die mense.

Die slangplant ( Sansevieria Trifasciata) is blykbaar ‘n plant wat mens vir die doel kan gebruik. Hy is hoog op baie lysies van plante wat lug skoonmaak. Die plant staan ook as skoonma se tong, viper se boogstroop hennep en die swaard van Saint George (in Brasilië) bekend. Hierdie plant is familie van die tuinaspersie en inheems aan tropiese Wes-Afrika. Hulle is blykbaar goeie huisplante, kan enige toestande weerstaan. Dus het daar slangplante in my stadshuis gestaan.

En wat kry ek toe by Fresh Market in Öskemen? ‘n Slangplant. Skoonma se tong, ek is mos ‘n skoonma. Die plante is so mooi, skoonma se tong is dan seker nie te skerp nie … Of is hierdie nou swaer se tong? Ek weet nie? Boonste twee foto’s hier onder.

Ons het net vier potte gekoop, een vir elke venster van ons Ust woonstelletjie. Die wit potte met die klippie-effek. Ek het grond gekoop, die piepklein plantjies oorgeplant in wit plastiese bakke en dit het gegroei. Toe ons hierheen trek wou ek hulle los op die trok sit. in bokse.

Manlief het geweier. Hulle staan voor in Dusty op die trok. En sal veilig wees. Ek het net gedink hulle gaan verlep, want dit moes baie warm in Dusty word. Hy moet dan vensters klein oopmaak. Trok se bestuurder het gesê nee, elke venster moet toe. Anders gaan Dusty vol stof wees.

Ek was vies, maar die mans het gewen. En hulle was reg, ons potplante het mooi by ons aangekom. Asof hulle nooit op ‘n trok was nie.

Ons het so pas weer grond en bakke gaan koop, die wat lyk of hulle gehekel is. Die een slangplantjie het twee geword en een daarvan is nou in sy eie pot geplant. Groot ene, hy staan by my studeerkamertafel op die stoep. Hier in Almaty.

Ek is nie seker wat die naam van die onderste twee plante is nie. Is ook verdeel om hier in twee potte te staan. Ek verbeel my die plantjie is ook ‘n lugsuiweraar. Dalk het ek nou skoonma se tong en swaer se tong?

Nog ‘n plant wat op lysies van lugsuiweraars voorkom, is die aalwyn wat ons in Suid-Afrika ken. Aalwyne is iets wat eg Suid-Afrikaans is. Of is dit? Ek sien hierdie plante is afkomstig van Noord-Afrika, Suid-Europa en die Kanarie eilande. Dus nie Suid-Afrika nie? Wel, Suid-frika het so baie wat wild groei dat ek dink dat hier ‘n fout kan wees. Dit voel wel eg Suid-Afrikaans.

Sien Anne, ek het ‘n aalwyn in Almaty, Qazaqstan. En hy is in Öskemen gekoop. 10 000 km van Suid-Afrika.

Mens kan nou nie regtig wys hoe groot die linkerkantste ene is nie. Ek skat ‘n meter hoog? Hy maak gereeld babatjies aan die voet van sy stam. Hy was kleiner as dié aan die regterkant toe ek hom gekry het. Dus het hy in die 18 maande mooi grootgeword.

Ek was eers te bang om aan die aalwyne by my stadshuis in SA te sny. Toe knip my dollatjie twee van haar eie aalwyne af, gee dit so wortelloos vir my en sê ek moet plant. Nou knip ek ook naby stam af, plant in die grond en ek het nog ‘n plant! Ek dog hulle gaan vrek, maar hulle groei …

Dus het ek nou al drie potte aalwyne. Die sitkamer het vier vensters wat uitkyk oor die stad en elkeen van hulle het nou sy eie wit pot met groen plantjie in. Met die groot taak om die lug skoon te maak.

En so het my vier wit potte nou sewe geword. Dalkies is ek besig om groen vingers soos my ma te ontwikkel? Sy kan enige ding plant en dit groei, suurlemoen, lemoen, avokado.

O ja, ek het ‘n paar avokadobome by die stadshuis in Suid-Afrika. Die pitte geplant en toe kom avokado-bome op. Al die jare het ek die pit bo-oor water probeer ontwikkel, daardie in die glas manier met ‘n stokkie deur die pit. Niks het gebeur nie. Dit vrot en die water ook. As ek hulle egter plant, kom hulle op. Almal van hulle …

So van aalwyne gepraat. Wat ‘n wonderlike plant om in die huis te hê. Ek druk nou die dag per ongeluk my vinger in die pan met olie, het nie gedink dit is so diep nie. Toe brand ek ordentlik. Die pyn het deur my vinger geskiet.

Geen tyd vir Aloe Vera room gaan soek nie, toe sny ek ‘n punt van ‘n blaar af, skeur dit oop en druk my vinger net so in die sap. Die pyn het verdwyn en daar was die volgende dag geen pynlike seer op my vinger nie. Geen bruin verbrande vleis nie. Niks. Asof ek nie gebrand het nie.

Ek smeer ook soms van die sap op my wange waar die ysige weer die vel beseer het. En dit lyk of dit werk. Dit is blykbaar ‘n kuur vir ysbrand, dit is dalk waarom mens aalwyne in Qazaqstan kan koop.

Hulle groei maklik. Al hierdie plante.

Ons was Desember ‘n maand lank weg, ek het vir hulle die gewone hoeveelheid water gegee, want die potte kan nie meer vat nie. Toe ons tuis kom, wag die plante ons in. Pragtig en groter dink ekke. Asof hulle nie meer as vier weke lank waterloos was nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

26 gedagtes oor “Aalwyne en ander huisplante in Qazaqstan

  1. Jy het beslis groen plante. Ek sou dink enige plant dra by tot die suiwering van lug? Party seker meer as ander. Oor orgidee. Ek het by ons plaashuis een gehad wat in ons badkamer gestaan het. Noorderson. Hy het blare bygekry, maar slegs die een keer geblom. Ek het nou weer orgideë. Weer in ons badkamer aan die westekant. Albei floreer. Gee herhaaldelik blomme. Ek moes hul al uitplant ook. Dalk was dit die probleem? Net in verkeerde kant van die huis gestaan? Ek is nie ‘n goeie tuinier nie.

    Like

  2. Ek het hierdie nou geniet hoor. Ek het ook nie groen vingers nie, maar partykeer dink ek dat hoe meer jy daaroor bekommer, hoe minder wil die plant groei. Nou los ek hulle, hulle kry water as ek onthou en hulle almal groei. Avokado’s in ons groentetuin is deur bok se kind opgevreet, ek sal maar weer moet plant

    Like

  3. Ah Christa, ek is SO bly julle het aalwyne – nou verstaan ek hoekom jy so speel-speel vir my vertel het dat hulle nie ‘a world away’ van jou is nie!

    Like

    1. Ek wou vertel, maar ek sou ‘n te lang kommentaar daaroor moes skryf. Ja, die outjies groei hier, ek gaan bietjie kyk of ek hulle buite gewaar. Ek het nog nie, en dit kan ek verstaan. Ek dink nie hulle wil onder sneeu staan vir ses maande nie.

      Liked by 1 person

    1. Seegogga, aalwyne groei so maklik, ek dink elke vrou moet een in haar huis hê. Ek het weer gebrand, die keer met stoom. Ek het amper gehuil van seer. Toe sny ek puntjie van blaar af, druk my vinger in die sap en die pyn was onmiddellik weg. Geen wonde om te wysbdat ek gebrand het nie.

      Like

      1. Die oumense (my ouers se geslag) het ook vas geglo in die geneeskrag van alwynsap en die sap van die suurvytjie se dik blare. Albei hierdie plante groei wild hier langs ons strande en hulle blom te pragtig.

        Like

          1. Nee, my ouma was die alternatiewe medisyne “verpleër” en my ma het so ‘n bietjie van die kennis oorgehou, maar ek het nooit veel aandag daaraan gegee nie. Ek weet byvoorbeeld dat ons die sap van die suurvy se blare aangesmeer het wanneer die bloublasies ons op die strand gepiets het, of andersins het ons die blare gekou vir keelseer. Of dit werklik gejelp het, kan ek nie sê nie.

            Like

          2. Ek kan nie onthou dat ek regtig siek was toe ons klein was nie, maar my ma het ook boererate gehad. Soos iets soos aluin om mee te gorrel. Dit het gehelp, dink ek. Dit was so sleg ons wou nie nog hê nie.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.