Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Sykouse in Qazaqstan

Nou ja toe! Wie sou kon raai dat mens ‘n inskrywing oor sykouse sal kan maak. Veral ekke, wat dié kledingstukkies maar verdra het toe ek moes.

Sykouse is ‘n onding in ‘n klas! Tog moes ons dit in my beginjare as juffrou winter en somer dra. Daai tyd het mens nog opgetof vir skoolhou.

Sykouse leer vinniger as die oplettendste kind in die klas. Lyk sleg daarna, elkeen wat ‘n oog het om te sien, sien die lang leer met sy duisende trappies wat so vinnig soos die wind op en af teen jou been gehardloop het. Met ‘n Kimberley se gat waar die kous gehaak het. Aan die gespe op Jannie of Sannie se tas. Of ‘n houtbank.

In die somer is sykouse ook ‘n onding in ‘n klas. In die klasse van Welkom High wat nie gebou was om lug te sirkuleer nie, het ‘n sweetstraaltjie maklik teen my been afgehardloop. So erg dat ek bekommer was dat ‘n nat streep teen my romp sou wys. Want jy voel hoe die sweet jou aftap! Letterlik.

Soms kan jy met deurskynende cutex red. Wat dan so ‘n lelike mat prent op die kous agterlaat. Ander kere is jy te laat en lê die leer oor jou been.

Daar is nie vir ons geld voorgeskiet om die kledingstukkies te vervang nie. Mooi sykouse is peperduur.

Tog dra ek sykouse wanneer ek vroulik wil voel. Ek dink nie eens fyn kant onderklere kan daardie kits gevoel van sexy bied nie. Die oomblik wat die kouse syagtig in plek is, voel ek vroulik verby.

Ek hou veral van die soort wat hoog teen my been optrek. Maar net kous is. Daarom eindig dit met fyn kant met rek in op die bobeen. Om daar te bly en nie af te sak nie. Goeie rek, plak half aan mens se been vas. Daai soort is peperduur. Daarom dra ek dit min. In Suid-Afrika is dit ook nie oral beskikbaar nie.

Hier dra die vrouens sykouse. By plat skoene, stewels en selfs tekkies. Want hulle dra ook rompe en rokke. Ek het die gedoente so staan en bekyk en besluit dat ek nie rompe gaan dra in die winter nie.

Hoe kan daai kousies warm wees?

Toe onthou ek. Het ons dan nie juis in Ermelo in die winter warm gebly met die tights aan nie. Daardie kouse was nie sexy nie, dit was bloot prakties. Maar ek het steeds gewonder of sykouse bene hier warm kan hou.

Toe ontdek ek ‘n wêreld van sykouse.

In Qazaqstan.

Hier is sykouse anders. Ek het al met die naam van die soort in die hooffoto gespot. Kyk maar self of jy dink dit is ‘n mooi naam vir sykouse. Elegant nogals.

Ek het al oor die paar sykouse vertel. Moes dit volgens die verkoopsdame wat ‘n aandrok aan my verkoop het, gaan koop om my maag in toom te hou. En dit het ek nie in woorde verstaan nie, maar uit haar gebare. Maak of sy sykouse aantrek, optrek en wys toe soos die pyle op die foto om haar maag. Dit moet styf sit om rok mooi te laat sit.

Die ander bekende maak is Minimi. Oulike naam, as ek maximi (maksi ekke) voel, maak die naam van die kouse daarvoor op.

Hier kry mens sykouse vir elke geleentheid. Regtig. In Suid-Afrika moet jy moes soek na ‘n plek wat sykouse verkoop. Hier kan ek by die supermark baie goeie sykouse koop.

Sykouse wat ‘n magie ondersteun, vir swanger vrouens. Ragfyn sykouse, sykouse met prentjies. Gekleurde sykouse. Sykouse wat hoog optrek, maar steeds kouse is.

En dan kry jy baie dik sykouse. Sykouse wat so dik is, dat dit soos ‘n langbroek gedra kan word. Ek doen dit nie, dit voel darem regtig net te kaal om as langbroek te dien.

Dan kry jy sykouse wat nog dikker is, sykouse met kameelhaar aan die binnekant om bene warm te hou. En sykouse wat van ‘n soort riet gemaak is, wat blykbaar warm is. As dit baie laag subzero is, verkies ek ‘n langbroek bo-oor die sykouse. En dan kan ek steeds koud kry.

Om af te sluit, ‘n erge verleentheid het my in ‘n fancy hotel by die OR Thambo lughawe oorgekom. Ek het my kous gehaak en moes gou ‘n paar koop. Die enigste beskikbare paar op di4 lughawe was one size fits all.

Ek verstaan nie hoe iemand kan dink een grootte kan almal pas nie. Sykouse moet nommerpas wees. Anders maak dit rimpels oor die bene. As mens sit en weer opstaan, kan die knieë vreeslik lyk.

Daarom verstaan ek nie waar my gedagtes was toe ek ‘n paar one size fits all sykouse gekoop het toe myne alweer akademies geraak het nie. Maar ek het, kan nie met ‘n geleerde kous rondloop nie. Selfs al is dit middernag terwyl ek wag dat my mense kom land.

Ek was op die lughawe, wagtend vir manlief en die kinders wat op twee aparte vlugte ingekom het. Albei erg vertraag, seun moes al die vorige dag geland het. Manlief vroeër die dag. Toe bespreek ek maar kamer. Slaap en wag. En so het kous ook in die slag gebly. En moes ek die paar koop.

Ek is weer terug hotel toe omdat manlief se vlug verder vertraag is. En toe gaan soek ek kos. Gelukkig in die middel van die nag. By die hysbak kyk ‘n man my vreemd aan en staar na die klein deeltjie van my bene wat onder my lang romp uitsteek. Kyk dan weg. Maar hy sê niks.

Gewoonlik trek ek die sykouse bo-oor my onderklere aan, maar die paar het soos ‘n slordige tiener se jean tussen my knieë gehang. Toe trek ek maar ietsie bo-oor die sykouse aan. En dit het so met die stap afgeskuif sonder dat ek agterkom. Om om my enkels te gaan lê toe ek by die hysbak stilstaan. Ek het dit in die stywe romp nie agtergekom nie.

Ek het die man wat my so aangestaar het nie vertrou nie. Dus het ek nie saam met hom in die hysbak geklim nie. Toe hy weg is, kyk ek na my spieëlbeeld in die glasvensters. Om te sien waarna hy gestaar het.

Sien, ek sou seker ook stilgebly het as ek hy was.

Gelukkig het ek nie saam met hom in die hysbak geklim nie. Anders het ek dalk ingeval. As gevolg van die ietsie wat die sykouse soos ‘n slagyster gestel het.

Dit was die laaste keer ooit wat ek te groot sykouse gekoop het, dan loop ek eerder met kaal bene saam met die hoë hakke as om weer in so ‘n verleentheid te beland.

Ek dink ek het al vertel dat ‘n soortgelyke ding met my gebeur het toe ek jong juffrou was. Ek was gelukkig buite op die stoep in klastyd toe my onderrok se rekkie skiet. En sy ewe ongeskik tot op my voete val. Toe klim ek maar uit en gooi haar in die asblik. In my hand kon sy nie saam terug in die klas ingaan nie … Nie as jy vir matrieks skoolgee nie.

Daarna het ek my eie onderrokke gemaak. Met rek wat vasgewerk word. Geen kans vir ingerygde rekkies om te skiet nie.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

50 gedagtes oor “Sykouse in Qazaqstan

  1. Sjoe, nou het ek lekker gelees. One size fits all werk glad nie vir my nie. Nooit nie, tensy dit ‘n sjaal of iets is. Ek is net te lank.
    Ons vrouens kan in vreeslike verleenthede kom. Ek was een keer in een wat ek nooit eers sal oorvertel nie. Maar ons is vroue en sterk in die hart, né.

    Like

  2. Die liewe sykouse. Ek het begin skoolhou met egte regte sykouse wat met( wat noem mens die stukkie ondergied met daardie bolletjies wat so in n opening geskuif word met koud tussenin?) Vasgehou is. Dieselfde jaar het hul begin om kouse met rekke Bo in te maak. My bo bene was te maar en kouse wou nie Bo bly nie. Lekker dae. Ek hou ook van sykouse en goeie skoene in geval van deftige geleenthede.

    Like

    1. Oe, ja, Scrapy, niks laat mens so vroulik voel soos sykouse nie. Ek het geen idee nie, gaan my ma moet vra. Ek het dit net gemis, maar dit was ‘n vreemde kontrepsie wat die kouse bo moes hou. Mooi, maar vreemd.

      Like

    2. Die suspender belt? Daai het ek gelukkig misgeloop. Pantyhose het op die winkelrakke verskyn toe my ma my op 15-jarige leeftyd gedwing het om kouse te begin dra (kerk toe!).

      Like

      1. Ja dis waar suspender belt! Is daar nie n afrikaanse woord voor nie? Ek het selfs op kollege sykouse gedra. Mos nie regtig langbroeke gedra daardie tyd nie. Ons moes ook sykouse elke dag dra met soolhou. Broekiekouse was darem n groot verbetering gewees,

        Liked by 1 person

        1. kous’gordel s.nw. Kousophouer vir ‘n vrou, bestaande uit ‘n betreklike smal, gew. rekbare gordel wat onder die klere gedra word en lang, verstelbare aanhegsels met knippies het waaraan die kouse vasgemaak word. Uit WAT – Woordeboek van die Afrikaanse Taal.

          Like

          1. Ja, einste. Ek moes my ma heel dikwels help om haar kouse met die donker soom agter reguit te trek en dan die rubber bolletjies vas te druk.

            Like

          2. Haha, ja en onthou jy die dubbele tone en hakskeenstukke? Ek het ook n stukkie geskryf oor die kouse storie. Moet nog bietjie skuur daaraan want my eerste skryfsel kan maar heel deurmekaar of agterstevoor wees. Hopenlik plak ek dit more of Woensdag op my blog.

            Like

          3. Nate. Dis die woord wat ek so in my geheuebank gesoek het en al wat ek mee kon opkom is some. Ek gaan my blog opdateer om van nate te praat Dankie Scrapy!

            Like

          4. Dis reg so. Die some het my ook gepla toe ek begin skryf daaroor kom die nate toe sommer vanself in my kop. Ek het n stuk oor kouse geskryf maar moet dit nog edit om darem leesbaar te wees. Wil dit graag pos
            n a v jou lekker skrywe.

            Liked by 2 people

  3. Kostelike vertelling! Ek loop ook draaie om sykouse nadat die vorige geslag ons jare gedwing het om dit te dra!

    Vriendin, is die sinus al beter? Hoe bly die woonstel?

    💖

    On Thu, 09 Jul 2020, 06:00 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Nou ja toe! Wie sou kon raai dat mens ‘n > inskrywing oor sykouse sal kan maak. Veral ekke, wat dié kledingstukkies > maar verdra het toe ek moes. Sykouse is ‘n onding in ‘n klas! Tog moes ons > dit in my beginjare as juffrou winter en somer dra. Daai tyd ” >

    Like

  4. Ek het ook ‘n sykousstorie wat onoorvertelbaar is… een van die grootste verleenthede in my lewe!!
    Mooi geskryf Christa… maak my sommer lus vir sykouse, wat ek in geen jare meer dra nie.

    Like

      1. Myne was strate erger as joune. Ek was nog ‘n student en het heeldag tussen my klasmaats geloop sonder dat iemand my gewaarsku het. Wat ‘n skok toe ek later in my spieël kyk!!

        Like

Lewer kommentaar op Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.