Gepubliseer in Reisjoernaal

As ‘n Qazaq-paartjie ons twee as voorbeeld van getroudwees sien …

As mens vir my kinders, toe hulle kleiner was, sou vra, sou hulle waarskynlik antwoord dat ek en manlief nie baie gelukkig getroud is nie. Gits, as ek nou so na ons tweetjies kyk, kan ek nie glo dat ons soveel vasgesit het toe hulle nog in die huis was nie. Hy is tog my droomman, die enigste ou waarmee ek wou trou.

Maar, hulle het gootgeword in ‘n huis waarin ma ‘n juffrou was en dus was sy dikwels kort van draad as sy moet merk en voorberei en pa soek kos. Of pa wil hê dat ons uitgaan en kan nie verstaan dat my punte môre in moet wees nie. En pa se werksdruk gedurende die klim van die leer het hom nie noodwendige ‘n maklike maat gemaak nie.

Ons het ook dikwels oor die kinders gestry, ons kom uit verskillende huise. Sy ouers het hulle graad 1 in die koshuis gesit, hulle was net vakansies tuis. My ouers het nêrens gegaan as hulle vyf dollatjies nie ook kon gaan nie. So was ons op my een niggie se troue die enigste kinders. Anders het ons die troue nie bygewoon nie.

Ek is dan ook ‘n leeu (Augustusbaba) en leeumammas is kwaai met hulle welpies, maar niemand anders mag wees nie. Ook nie pappa-leeu nie, behalwe as sy dink dit is nodig. Daarom onthou my kinders dat ek vir pa gesê het hulle kort vandag nog pak. En weet hulle nie hoeveel keer ek gekeer het dat hulle pa hulle boude gewiks het nie.

As ek nou oor moes begin, sou ek my kinders waarskynlik nie pak gegee het nie. Dan wonder mens tog? Hulle het baie mooi maniere, is ten spyte daarvan baie lief vir my en manlief. En ons het pak gegee oor maniere. En natuurlik wanneer die kinders met ons ‘cheaky’ is. Waaroor ek weereens wonder, was dit dalk net omdat ‘cheaky’ kinders ‘n onaangenaamheid in my klasse was? Ek weet die pak het vooraf gegaan met: “My kinders sal nie sulke slegte maniere hê soos die in my klas nie.”

Ek het hulle as arende grootgemaak en as hulle hulle boudjies vir my gewip het, het ek geweet dat die vlerkies sterk raak om self te kan vlieg. Veilig te wees wanneer ek en manlief nie meer daar is om vir hulle te sorg nie. Dit was altyd my grootste vrees, dat ek iets sou oorkom en ‘n opvolgmamma nie weet hoe om na my arendjies om te sien nie. Hulle dalk selfs afskeep en seermaak.

Dus onthou die kinders dalkies net ‘n pa en ma wat vir mekaar kon blaas oor nietighede? Ek wonder tog nou daaroor. Beide is al lank genoeg getroud om te weet dat mens soms oor nietighede vassit.

Dus is ek nou sommer onnodig krities op ons twee. Ons het lekker tye saamgehad. Is steeds mekaar se beste viiende. Ons is lief vir mekaar. Vakansies was die beste tye, as ons alwee ontspanne kon wees. Ons het gekamp, saam gespaar vir dinge wat ons graag wou hê, ons was en is steeds ons kinders en mekaar se grootste ondersteuners langs die veld. En hulle moes altyd saam met ons wees. Dit is steeds ons lekkerste tye, saam met die kinders.

Ons het altyd in die dorp hande vasgehou, dit was die lekkerste van inkopies doen en uitgaan, om so langs my manlief in die straat of winkels te stap. Veilig en gebonde. Het dit ‘n tyd lank nie gedoen nie, maar ons loop deesdae weer gereeld hand aan hand in die straat.

Tog het ons al in ‘n oomblik van kwaadwees vir mekaar gesê ons wonder waarom ons met mekaar getrou het. Dit het ek ‘n week na ons troue gesê. Ek gaan nie vertel waarom nie, net dat manlief gereeld vir mense sê dat ek dit gesê het en na bykans 40 jaar steeds sy vroulief is.

Nou waarom vertel ek nou vandag die storie? Presies net oor hierdie geskenkie van manlief se tolk.

Is hulle nie oulik nie?

Die Sondagaand voor ons die volgende dag na Almaty sou trek, bel hy ons. Is ons tuis, hy wil vir ons ietsie bring. En toe manlief die boksie oopmaak, kry ons hierdie oompie en tannie in hulle volla met die nommerplaat “Forever.” En as jy die slingertjie draai, speel dit die mooiste musiek.

En sy rede vir die geskenkie?

Ek en manlief is vir hom en sy Natalja die perfekte voorbeeld van getroudwees. Ons is altyd saam, lag vir mekaar se grappies, beleef die avontuur hier in Qazaqstan saam. En ons is baie lief vir ons kinders en kleinkinders. En ons is al baie, baie lank getroud.

Dit is juis ons voorbeeld wat hom en sy Natalja laat besluit het dat mens die knoop kan deurhaak. En dit gaan die twee doen. Dalkies nog hierdie jaar, dalk volgende jaar.

Volgens hom hou huwelike in Qazaqstan nie, die egskeidingsyfer is blykbaar 80%, wat volgens hom, beter as is in Rusland, waar 95% van die huwelike in die stof byt. Ek het die statistiek tog bietjie gaan opsoek, dit klink onmoontlik.

Sjoe, ok, in Augustus 2019 is daar verslag gelewer dat 30 000 paartjies in Qazaqstan sedert die begin van die jaar geskei is. Blykbaar is inmenging van familie die grootste rede vir egskeidings. Volgens die statistiek trou die Qazaqs vroeg en maklik, maar een derde van die huwelike land in die skeihof, dus 33%. Baie minder as tolk se persentasie, maar dit hang dalk van streek tot streek af. Die Russiese egskeidingsyfer is wel baie hoër, ek kry 51%. In Suid-Afrika hou 44% van die huwelike nie tien jaar nie. Dus skei ons land dalk makliker.

Ek kyk elke dag as ons in die sitkamer sit, na die oupa en ouma in die karretjie. Hulle is uitgestal op die tafeltjie voor ons. Nie die soort kuns wat ek sou koop nie, maar dit is so waardevol en met soveel deernis vir ons gekies dat dit altyd ‘n ereplek in ons huis sal hê.

Ek en manlief.

Manlief sê ek moet haar haartjies kleur, myne is nog swart. Ek lag net, ek hou van haar net soos sy is. Ek sal dalk eendag so grys word, maar dit gaan nie gou wees nie. My ouers is oor die 80 en steeds nie heeltemal grys nie.

So sal die karretjie ons daaraan herinner dat ons groot skoene moet volstaan. ‘n Qazaq-paartjie bou hulle waagstuk om in die huwelik te tree op ons twee se voorbeeld. Sonder dat ons ooit ‘n woord oor so gepraat het.

Die twee het ons net dopgehou. En vir dophou was daar baie tyd toe hulle drie dae lank saam met ons in Dusty op die pad tussen Almaty en Öskemen was toe ons laas jaar kar gekoop het. Ek skat drie dae lank in twee getroudes se geselskap gee baie stof vir nadenke. En oor ons. Ek het nie geweet ons word dopgehou nie.

Dankie, Ruslan en Natalja, dit is regtig ‘n baie spesiale geskenk. En ‘n baie spesiale herinnering om ons huweliksbeloftes in stand te hou.

Ons twee is gelukkig saam. Ons het al baie sakke sout saam opgeëet, was selfs al baie kwaad vir mekaar. Maar elke keer het ons mekaar gekies, saam besluit saamwees is lekkerder as alleenwees. En dit is baie lekker om saam met my manlief te wees.

Ek sê nou die dag vir iemand wat op skei staan, dat ek dit eerder van ons as van hulle sou verwag. Hulle is op elke foto wat ek van hulle sien die spreekwoordelike voorbeeld van gelukkig getroud.

Ek en manlief lyk dikwels vreemd op foto’s. Omdat ons so sukkel om selfies te neem. Hy is veel langer as ek en teen die tyd wat ons tevrede is dat ons inpas, is ons nie meer so baie lus om te lag nie. Dit gaan dus oor veel meer as dit wat mens op ‘n foto sien.

Dit gaan daaroor om elke keer mekaar te kies. As ek moet dink, is ons wenresep eenvoudig:

Geloof, hoop en liefde.

God saam met ons in die verhouding, hoop dat ons mekaar steeds gelukkig kan maak en liefde vir mekaar, ongeag tekortkominge.

Ek kan nie help om te wonder of hierdie ouma eendag gaan begin om haar haartjies so te dra nie? Sy hou mos nie van vasgemaakte hare nie. Dit is nogals mooi. Manlief is na aan reg, Russiese pet en al. Hy lief die pette en lyk baie mooi daarmee. Hy moet net nie snor groei nie …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

27 gedagtes oor “As ‘n Qazaq-paartjie ons twee as voorbeeld van getroudwees sien …

  1. Ek is net so gelukkig en kan my eie lewe deur jou beskrywing sien. Die lewe is nie altyd maklik nie en ons moet geduld en liefde vas hou.

    Like

  2. So bly oor dié stuk. Julle stel ‘n wonderlike voorbeeld.

    Ek kan so bekommerd raak oor al die egskeidings. Kinders kry soveel skade!

    Ons is volgende jaar 40 jaar getroud. Die saamwees en saamdoen is só lekker!

    Natuurlik is konflik deel van die pad, maar om jammer te sê, help altyd. En vergifnis ook…💙

    On Fri, 10 Jul 2020, 06:03 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” As mens vir my kinders, toe hulle kleiner > was, sou vra, sou hulle waarskynlik antwoord dat ek en manlief nie baie > gelukkig getroud is nie. Gits, as ek nou so na ons tweetjies kyk, kan ek > nie glo dat ons soveel vasgesit het toe hulle nog in die huis was n” >

    Like

  3. Dis nou n prettige paartjie in die karretjie. Gesiggies glimlag heel gelukkig. Mens groei vas aan mekaar deur die jare. Ons het ook altyd hande vasgehou maak nie saak waar nie. Lekkerste is om in die kerk te sit en hande vas te hou.

    Like

  4. Dis so mooi geskryf. Julle klink na ‘n paartjie wat ‘n voorbeeld vir almal is. Wat ‘n eer dat hierdie twee julle só gesien het. Daardie karretjie is kosbaar.

    Like

  5. Kosbare skrywe, Christa. Ons het dit almal nodig om die suksesverhale te lees, dit bring hoop en moed hier in ons land waar die syfer so onmoontlik hoog is.

    Like

  6. Ag ou Harmansdrup (blykbaar n ander naam vir agteros) wil ook net haar eier lê. Dis die mooiste geskenkie omdat dit soveel betekenis het…..julle is voorwaar n voorbeeld vir soveel. En dit was die rede dat jul daar beland het…om n voorbeeld te stel……

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.