Ons het die laaste twee weke in Öskemen nie gebraai nie, waarskynlik omdat manlief mos so gou begin pak het. Alles wat in hulle eie bokse kon kom, is in hulle bokse gesit en toegeplak. Die elektriese braai ook.
Die eerste week in Almaty het gevlieg, soveel dinge om te doen, plekke om te soek waar ons vleis kan koop. Vriende vertel dat ons vleis by Ramstore en Galmart kan koop. Ramstore is net oorkant ons woonstelblok, Galmart vra so ‘n entjie se stap. Twee blokke op, na Dostyk Mall toe.
Nie een van die twee plekke het vleis wat ons wil braai nie. Die vleis is wel agter glastoonbanke en nie sommer net so oop en bloot op tafels soos op die oop mark nie. Ek is gewoond aan Freshmarket waar ek kan deurstap en my stuk vleis kan kies en koop. Kan sowaar nie glo dat ek aanvanklik so gekla het oor die manier waarop ek in Öskemen vleis moes koop nie.
In die groot, “fancy” stadswinkels is een van die snitte soos in Öskemen. Behalwe dat daar nie keuses is nie. Een kleinerige ronde stuk vleis, vat of los. Dan is daar ‘n snit wat lyk of dit die filletdeel kan wees, maar dit is nie. Ons kies dit maar saam, ons wil wors maak.
Manlief dra aan die drie stukke vleis soos ‘n pakdier. Ons skat dit was so 5 kilogram vleis. Dit is nou wel net twee blokke ver, maar dit voel soos myle as mens so swaar dra. Ons het kosgoed ook gekoop. En ‘n teepot waarin ek los tee kan maak – reg geraai, ek kan tee nie los nie. Daar was ‘n sitrus ene wat ek nie ken nie.
Vark? Geen. Nie in Galmart of Ramstore nie. Qazaqstan is mos hoofsaaklik ‘n Moslemgebied.
Weer skakel ek die agent wat ons help huis kry het. Waar kan ek vark koop? Green market is vir ‘n maand gesluit, daar weet ek hoe om my vleis te koop. As gevolg van jy weet wat, ek gaan daai ding nie meer ‘n naam gee nie, is die mark gesluit.
By Magnum ATAK, laat weet sy. Ek soek op 2GIS, die kaarttoep wat hier gebruik word en kry baie meer as een Magnum. Sy het gesê ek kan soontoe stap, dus kies ek die een naaste aan my. En sowaar, toe ek ATAK bytik, kry ek hom.
So stap ek en manlief weer in ‘n ander koers, so 2 km ver. Om vark te koop. Lekker ongeduldig, want die vark is maar pieperig, maar ons kan darem spek ook te koop kry. Nou kan ons luidrugtig saampraat, ons mis Freshmarket by Öskemen, waar die dames en die man my ken en waar ek kan kies watter vleis ek wil hê.
Moeg gestap eet ons eers ietsie by Central Cafe, ‘n straatkafee by Dostyk Mall. Heerlik, ons kan van Engelse menu’s af kies wat ons wil eet. Ek kies hoendervlerkies, wat toe alles behalwe min vleis aanhet en manlief kies ‘n lamskenkel, wat groter is as wat hy verwag het.
Lekker vol kom ons tuis, met drie stukke beesvleis en twee stukke vark wat wag om word te word. Ons het elkeen meer as 15 000 treë gestap om die vleis te kry. Dit voel verkeerd om te ry, die plekke is net 2 of 3 km van ons af.
Ons besluit om eers te rus en dan die wors te maak – dus het ons naby middernag steeds wors gemaak.

Die sagte vleis word in blokkies gesny vir sosaties of in repe vir braai. Die res word in blokkies gesny vir die wors, die varkvleis ook.
En nou moet ek eers vertel. By Freshmarket weet ek waar my vleis is. Presies waar perd is, want dit word soos pes vermy. Toe ek die groot ronde stuk vleis begin sny, is dit te donker na my smaak. Sien die donkerder vleis tussen die ligte rooi vleis.
Ek vra manlief of hy seker gemaak het ons koop bees. Ja, sê hy, die outjie het gesê ‘beef’. En toe vertrou ek dit niks.
Dieselfde outjie kon nie verstaan ek soek die twee stukke vleis wat netjies in ‘n swart polistreen bak toegemaak is nie. Hy het een uitgehaal, ons het gewys soek al twee. Toe vat hy die ander een. Ons sê toe, nee, ons soek beide. Hy verstaan niks nie. Gelukkig het die dame langs ons gehelp, vir hom gesê ons soek beide stukke. Dié word toe onseremonieel in ‘n plastiese sak gegooi en geweeg. Hoe moet ek glo hy weet wat bees is?
Ek maak myself naar, manlief sê ek is laf dit is bees en gaan sit weer in die sitkamer tot ek klaar is. Toe neem ek die plakkers af en lees dit in my Google Translate in. Eers toe ek self sien dat beide etikette sê dat dit beesvleis is, werk ek verder. As dit nie was nie, sou ek nie my mond aan die vleis gesit het nie. Gelukkig weet manlief ek eet makliker vark, hoender en vis as wat ek wors eet. Wonder net of hy sou eet? Ons twee weier volstrek om perd te eet.
Ons het aanvanklik gesê dat ons nie ons troeteldiere eete nie, maar ons het die Qazaqs so beledig. Toe vertel my pa waarom ons nie perd eet nie. Moes hom lankal gevra het, hy was ‘n slagter. Dit is teen ons geloof om diere te eet waarvan die hoewe nie gesplete is nie. Dit verstaan die Qazaqs beter. Geloof is belangrike faktor.
Drie derms is volgemaak, twee daarvan is op die onderstaande foto.

Ons was nou reg vir braaivleis in Qazaqstan, maar die vleis het gekort. Die volgende dag koop manlief ‘n skaapribbetjie by Metro, wat nogal baie ver van ons af is. Ek dink 11 km. En toe moet ons braai …

Hier staan manlief in my kombuis op die elektriese braai en braai. Geen rook as mens water in die pannetjie onder gooi nie. Dankie Marinda vir daardie raad. Met ‘n uitsig op die huis van die president van Qazaqstan as hy in Almaty is. Hy woon mos nou in Nur-Sultan, wat sedert 1997 die nuwe hoofstad van Qazaqstan is.
Ons sal nog ons voete vind en die regte plekke kry waar ons vleis van gehalte teen goeie pryse kan koop. Die supermarkte is besonder duur.
Hoe opwindend, Christa. Jy maak die reisgogga in my gebeendere omtrent wakker.
LikeLike
Ag Una, ek en my man praat juis vandag daaroor. Wanneer gaan ons ooit weer kan vlieg?
LikeLike
Julle bly maar heeltyd op my gebedslys, Christa. Ons moet net bly glo dat die deurbrake sal kom.
LikeLike
Una, so baie dankie daarvoor, ons verstand aanvaar die vertragings, ons harte wil nie.
LikeLike
Vir n Suid-Afrikaner is dit moeilik om te verstaan dat mens so moet sukkel om vleis te kry. Is hulle meestal vefetariers?
LikeLike
Haai Seegogga, nee glad nie. Hulle eet vleis in alles, selfs sop. En baie daarvan. Hulle ken net nie van braai nie. Ons tolk koop nou die dag vleis om te braai, toe is dit vleis wat ek en jy in ‘n stoompot sal sit en kook. Toe ek die HR bestuurder op ‘n tyd gevra het hoe maak mens die vleis gaar, het ek gehoor dat mens alles in ‘n pot gooi en vir ses ure kook. Dus geen vleis om te braai nie …
LikeLiked by 1 person
Dit is belangrik om te braai – al eet ek nie self vleis nie, voel ek daar is geen lekkerde reuk as die van ‘n braai nie. En dit help julle seker om ‘n bietjie meer tuis voel.
LikeLike
Ek stem saam, dit gee ‘n Suid-Afrika gevoel. Al is dit op ‘n elektriese braaier.
LikeLike
Christa, ons kyk graag vreemde lande se kos-videos op You Tube en het toevallig die naweek ‘n video van die Zelenyy Bazar in Almaty gesien. Is dit dalk die green market waarvan jy praat? Die rakke was volgepak met vleis en dit het heerlik gelyk – ja daar is perd ook, maar in ‘n aparte rak wat duidelik gemerk is. Daar was ook vars produkte te kus te en te keur. Die Bazar word geadverteer as ‘n High-roofed indoor farmer’s market lined with stalls & tables selling meat, vegetables & dry fruits. Groot plek.
LikeLike
Dit is presies net so. Die Green Market, зелёный базаг, in Almaty. Baie groot met vars vleis so op die tafels. Dan loop jy van verkoper tot verkoper en koop so by hulle.
LikeLiked by 1 person
My man se asem het amper uitgegaan toe hy die baie vleis sien 🤣 Hier aan die Suidkus koop ons maar meesal by PnP en Food Lovers Market.
LikeLike
Aan die begin het ek my opgegril om die vleis so te koop. Nou geniet ek dit om my vleis amper te kan uitvoel voor ek vat,
LikeLiked by 1 person
Waar kry jy die derms Christa?
LikeLike
Ons moes van Suid-Afrika saambring, Dromer. Ons het een bondel saamgebring en daar is nog baie. Ek hou in yskas vars.
LikeLike