Gepubliseer in Joernaal

Eindig woord op d of t?

Ons taal is ‘n taal wat kinders kan verwar. Veral wanneer letters soortgelyk kan klink maar anders gespel word. Die Russe het ‘n ander plan. Hulle spel woorde met die regte letter en dan word kinders geleer watter letters sagter maatjies het sodat hulle die woorde reg uitspreek. Julle sal nogal verras wees om te weet watter letters as watter se sagter maatjies saamwerk. Interessante taal, Russies.

Wat Afrikaans betref, het ek gevind dat leerders dikwels sukkel om te verstaan of ‘n woord op ‘n “d” of ‘n “t” eindig.

Sukkel jou leerders ook daarmee?En hoe leer jy hulle om die woorde reg te spel? Ek glo nie aan lyste met woorde nie, ek kan dit soos masjien opnoem sonder om te weet wat dit beteken. Of om om te gee hoe dit gespel word.

Daarom het ek vir my kinders eerder kortpaaie geleer.

Ek het hulle geleer om die woord in die meervoud uit te spreek om te bepaal of dit ‘n d of ‘n t moet wees. Om een of ander rede word die woord dan reg uitgespreek.

Byvoorbeeld:

  • Hand – hande : d
  • Tand – tande : d
  • Kat – katte : t
  • Saad – sade : d
  • Mat – matte : t
  • Vraat – vrate : t
  • Koerant – koerante : t

Soms kan die woord nie na die meervoud verander word nie. Dan het ek hulle geleer om ‘n e agteraan die woord te sit en dit uit te spreek.

Byvoorbeeld:

  • Sand – sande : d

Ek vermoed mens se mond neig om die maklikste pad te vat. Sante is moeite om uit te spreek, sande werk makliker. Dus spreek hulle die woord gewoonlik reg uit. As hulle net praat sonder om te dink. As hulle eers begin dink, neig hulle om ‘n t of d uit te forseer. Hulle moet dit net gemaklik uitspreek.

Daar is natuurlik grensgevalle wat veroorsaak dat hulle foute maak, maar ek het tog gevind dat die metode baie gehelp het om die spel van woorde wat op ‘n d of ‘n t eindig te verbeter. Ek gebruik hierdie kortpad gereeld as ek oor die spelling van ‘n woord twyfel.

Gesels asseblief saam.

Watter raad het jy? Hoe leer jy die kinders om reg te spel?

En dan natuurlik. Ek moes dit tog iewers self geleer het. Ken jy hierdie metode? Of het ek dit dalk uitgedink om kinders te help om reg te spel?

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

14 gedagtes oor “Eindig woord op d of t?

  1. Nog nooit daaraan gedink om kinders te leer om korrek te spel nie. Ek sukkel nog om volwassenes se taalmisbruik te bekamp. Kyk op Facebook watter gruwelike woorde mense daar skryf. Soos HONT. Oppas, die honT byt. Hoe lyk daardie HONT in sy/haar kop, dan? Het dit ‘n sterD? Hehehehe. Jenny Mossris laat weet dat Kersvader ons twiets gelees het en dat almal woordeboeke kry vir Kersfees. If only……

    Like

  2. Ek het op ‘n Afrikaanse taal webwerf ook die “tip” van die meervoude gelees. Ek het nog altyd gesê, as jy die klanke reg uitspreek, sal jy reg spel. Die enigste ding waarmee ek soms sukkel is die samestellings – los of vas geskryf?

    Like

  3. Hierdie Tuisskool-mamma is vanoggend baie dankbaar vir hierdie raad, van wanneer om n woord met n t of n d te eindig… Vir my kom dit maklik, maar hoe help ek my 7jarige met dit? En hier kry ek die antwoord in jou artikel! Wonderlik!! Dankie!

    Liked by 1 person

    1. Dankie, Driekie, as mens self ‘n juffrou is, dan ontdek mens planne wat werk. Dit werk steeds vir my. Vra gerus as ek met iets kan help, ek geniet Afrikaans. En … ek kan artikels daaroor skryf as dit moet.

      Like

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.