VVVTT – Hoofstuk 2: ‘n Wilde rit in Qazaqstan

Die V(lieënde)V(irus)V(lugtende)T(owerin)T(ent) het sy opwagting in die vorige hoofstuk gemaak. En ons na ‘n eiland geneem waar ons goed die skrik op die lyf gejaag is. Ons was almal nog lekker bewerig na die skrik, maar die een wat die VVVTT na die volgende plek moet stuur, moet vinnig regkom en vergeet van bewerige bene.

Hierdie hoofstuk vorm deel van die nuwe uitdaging vir Afrikaanse bloggers wat as die Towerinne bekend staan. Ons is die hoofkarakters in ons eie vervolgverhale (natuurlik) en ons fantasie stories is vir ander ondenkbaar, ondoenbaar, onverklaarbaar. Maar nie vir die Towerinne nie.

As jy die verhaal wil volg, moet jy op die onderstaande skakel kliek om die eerste hoofstuk te lees. Na myne sal daar gereeld nuwe hoofstukke bygevoeg word. Totdat ‘n ander fantasie ons aandag vereis. Dan begin ‘n nuwe vervolgverhaal, ek bedoel avontuur.

Lees die ander bloggers se bydraes by ons InLinkz-skakel https://fresh.inlinkz.com/party/935a80f8f1d64f4f8f4a491bb1abb030

***

Ek (Christa) skuif gemaklik agter die beheerpaneel van die VVVTT in. Ons het agtergekom dat ons kan kies. Of ons vryf die munstuk en land iewers, of ons besluit self waarheen ons wil gaan. Ek kies die een waarin ek in beheer is. Nadat ons net-net betyds by die eiland weg is, het ek geweet waarheen ek die towerinne gaan neem. Ek wou eers Almaty kies omdat dit my splinternuew tuiste is, maar die pandemie hok ons hier in. Ons sal sluipers moet wees. Dus gaan ons die suid-oostelike hoek van Qazaqstan verken. Die deel wat ek al so klein bietjie ondersoek het.

Dit het my soos ‘n donderslag getref toe ek besef dat ons daar geen poliesman of verkeerskonstabel gaan sien nie. Die platteland na aan die Sjinese grens. En daar sien jy elke 100 km niks. Bedoelende mense.

In ons VVVTT kan geen pandemie ‘n stokkie voor reise steek nie. Sal ek liewer skryf een massiewe paal? Of dalk eerder ‘n telekommunikasiemas? Of wat sal langer as dit wees? Want mens kan nêrens heen gaan nie. Openbare verkeer word weer beperk. Mens mag nou net in groepe van drie op straat wees. Hulle sal by my moet bly, want hulle gaan die Qazaqs nie verstaan nie.

Toortsie het ons getel toe ons in die tent ingehardloop het toe ons van die eiland af moes vlug. Sy het 28 bene gedeel deur 2 getel. Dus is daar 13 ander vrouens saam met my in die tent. Ek vertrou Toorts se getellery, sy kan beeste tel en daar moet jy deur vier deel om te weet hoeveel beeste verby is.

My hart wil niks weet van oor Sjina vlieg nie, al is dit ‘n korter pad na Qazaqstan vanaf Papua Niew Guinea na die suid-oostelike hoek van Qazaqstan waar Almaty geleë is. Ek sien nie kans vir die volgende virus wat dalk al klaar daar aan die uitbroei is nie. Mens weet ook nie of die goed kan vlieg nie, ek speel eerder veilig en vlieg oor Indonesië, waar my skoolmaat Marinda woon. Ek wonder in watter berg hulle myndorpie is.

Dan is ons weer oor die grote oseaan en ek sien hoe my Towerinvriendinne se gesigte straal toe hulle opgewonde vertel van hulle avonture in sommige van hierdie lande. [onthou om in die kommentaar te vertel asseblief …].

Ek weet ‘n hele paar het al daardie deel van die aarde besoek. Una gee egter vir niemand kans om ook te vertel nie. Sy wys na dele op die groot elektroniese kaart teen die een muur soos wat ons vorder. En vertel opgewonde wat hulle hier en daar en oral beleef het.

Tussen die opgewonde gebabbel deur het ons oor Viëtnam, Thailand en Myanmar gevlieg.

Bondels wys verskrik na die Sjinese grens wat al hoe nader kom en ek draai skerp regs, stuur ons oor Indië en die twee puntjies van Afghanistan en Pakistan. Ek waag eerder ons kanse met daardie klomp veglustiges as met die virusse wat in Sjina uitbroei. En ek kan sien Scrapy is sommer weer vriendelik, sy sien ook nie vir die virusse kans nie. Sy wou hoeka haar vurige ryding ook in die tent laai, ons moes net keer.

Dan is ons oor Tajikistan en Kyrgyztan. En vir die eerste keer is Una stil, staan die towerinne op om deur die patryspoorte te kyk na die wêreld onder hulle. Ons is oor ‘n deel van die aarde wat nie een van ons al ooit gesien het nie.

Toe ons bo-oor die Alatau-berge is wat Kazakhstan van Kyrgystan skei, draai ek eers noordoos in Almaty se rigting. Almaty lê aan die voet van hierdie berge waarvan die hoogste piek, Pic Talgar, 4 979 m bo seevlak strek.

Ons is veilig in hierdie land van die vredeliewendste mense wat ek ken. Die Kazakhstanis. Toe eers waag ek dit om laer te vlieg. Net-net bokant die skerp punte van die Alatau-berge waarvan die hoogste punte aan die begin van Julie nog vol sneeu lê.

My oë soek die syroete, die hoofpad wat die Sjinese help bou om die eertydse syroete tussen die ooste en Europa baie gangbaar te maak. Te veel na my smaak, maar kom ons laat dit daar.

Ek het hierdie snelweg in Maart saam met ‘n toergids gery, maar ek sal moet kophou om die pad te vind na die plek waarheen ek die Towerinne wil neem. Want ek het een massiewe nood gehad, en die vrou wou nie stop nie. Ek dink ek sal elke bossie langs die pad beter onthou as die pad self.

Dan herken ek die snelweg en volg hom in ‘n suid-oostelike rigting tot waar ons regs moet draai na die ooptes toe. Ek probeer om so na aan moederaarde te beweeg dat my maters die aarde onder ons mooi kan sien. Lang, uitgestrekte vlaktes, met sonneblomne aan weerskante van die pad. Hulle koppies is nog nie groot nie, maar mens kan sommer sien hulle is na die son gedraai.

Toe herken ek die afdraaipad en ons vlieg hoog genoeg bokant die pad dat die verkeerskonstabels ons nie kan sien nie. Net vir ingeval, verander ek die prent aan die buitekant van die tent na die een met die blouselblou lug met die spierwit bolletjies wol vir wolkies. Ek is gek oor Cumuluswolke.

Ek stuur ons effens na regs van die pad af om oor Lake Kaindi te vlieg. Hierdie meer het in 1911 as gevolg van ‘n baie groot kalksteen grondverskuiwing gevorm toe die aarde ingesink het. Nou staan die bome in die meer wat op plekke tot 30 m diep is.

Foto geleen by Wikipedia

Die towerinne verkyk hulle aan die bome en Perdebytjie neem foto’s vir al wat sy werd is. Seegogga wonder of daar enige krappe en krewe en ander seegoggas in die meer kan wees.

Kyk net die pragtige kleur wys sy vir ons toe ons al oor die meer vlieg. Ek verkyk my so aan die blou van die water dat ek amper in ‘n boom vasvlieg.

Foto geleen

Dit is so mooi dat ek wonder of ons nie net hier op die meer moet land nie, ons kan die kante afslaan en roei. Ons het mos veiligheidsbaadjies met liggies en fluitjies. Maar dan dink ek daaraan dat ek die towerinne verder geneem moet word. Dit is steeds te naby aan die beskawing. Ek wil ver van enige virussoeker wees.

Ek sien die laaste dorpie aan my regterkant, stuur so hele entjie regs van die dorpie verby, sien die laaste padblokkade wat mense keer om in en uit die stad te ry, hou die kleur van die tent so dat die verkeerskonstabels ons nie sien nie.

Maar Toortsie is op haar stukke, vra dat ons nader gaan. Voor ek kan keer, trek sy die toeter soortgelyk aan dié van groot vragmotors. Dit maak een oorverdowende geluid en Woordnoot en Vuurvliegie lê soos hulle lag.

Die verkeerskonstabels en weermagmanne met hulle groot gewere kyk op en soek in die lug waar die geluid vandaan gekom het.

Net vir die snaaksigheid hardloop Virgo C ook na die paneelbord. Daar is nog baie knoppies om te druk. Sonell hardloop nader om te keer, maar Virgo C het die buitekant van die VVVTT reeds verander. Op ons skerm sien ons dat ons nou in een massiewe pienk varkie rondvlieg!

Die weermagmanne lê aan om die vreemde vlieënde verskynsel af te skiet en Positief sê gebede namens ons almal op. Vandag is ons laaste dag op aarde – en sy wou nog ook ‘n beurt kry om te vertel. Ons na haar wonderwêreld te neem. Ek jaag deur die skerms om weer by die blouselblou lug met die donsagtige wit balletjies wol uit te kom.

Net betyds!

Onder skud die manne hulle koppe. Vanaand gaan geen kind sy pappa glo oor wat hy vandag op die verlate vlaktes van Qazaqstan gesien het nie. As hulle maar kon weet dat die pienk varkie vol vrouens was …

Hester is skoon wit geskrik. Sy het vergeet om haar kenmerkende waddehel te sê. Ek dink die hoogte bo seespieël speel ook ‘n rol. Sy is so gewoond aan geen meter bo seespieël.

Daarna volg ek die pad, skaars bokant die grond, my oë soekend na die een ding wat ek hulle graag wil wys.

Ek sien die wilde perde van Qazaqstan en trek hulle aandag vir eers af. Dat hulle nie kyk nie. Ons sal terugkom hierheen. Eers gaan ek vir hulle Qazaqstan se eie Grand Canyon wys.

Die towerinne kyk oral, maar sien niks. Frannie vra waarheen ons nou op pad is, sy sien net ‘n plat aarde. Ek weet, dink ek, ek het self so gewonder toe ons oor die vlaktes gery het. Niks, absoluut niks anders om te sien nie. Wag net geduldig, julle gaan nou sien, dink ek so by myselwers.

Toe ek om die draai kom waar die murasies van die blokhuise nog staan wat gebruik is toe Qazaqstan sy gebied teen die Sjinese beskerm het, sien hulle dit ook.

Links is Qazaqstan, regs Sjina.

Postitief is in absolute verukking. Die rivier ver onder wat so klein lyk, het deur die jare sy krag gebruik om sy vallei diep uit te kalf. Die ou riviertjie het seker geweet dat hy die gat baie diep moet uitgrou om die Sjinese uit die land te hou.

Perdebyjie gebied my om dadelik te stop. Sy moet foto’s van ons op die rand van die afgrond neem. Die towerinne bondel uit die tent uit en elkeen staan en pose om op haar beste te lyk.

Dan bondel ek almal terug in die VVVTT sodat ons terug kan gaan dat ek die tent al in die droē riviervallei af kan stuur. Ons verkyk ons aan die rotsformasies van die geel deel van die Charyn Canyon.

Vuurvliegie sê sy kan nie glo dat die aarde so plat is (kyk bo-oor formasies) en dan is daar ewe skielik hierdie pragtige afgronde nie. Dit moes eeue en eeue geneem het om die rotse so uit te kalwe.

Almal neem foto’s, selfone neem net so goed soos regte, egte kameras vertel Kameel vir ons. En dan is ons onder by die ander riviertjie wat deur die rotsformasies vloei.

Ek stop op die wal van die rivier en ons neem pragtige foto’s van die vallei. Sommer ook van mekaar. Op die boomstomp, in die oulike kamplekkies, langs die massiewe rotsformasies. Selfs ewe laf met opgerolde broekspype of opgetrekte rompe in die ysige water. Onthou, dit is gesmelte sneeu …

Dit word laat en ons moet vertrek, maar eers is daar ‘n laaste verrassing. Die wilde perde wat ek langs die pad gesien het. En so moes sukkel om almal se aandag af te trek.

Maartmand het hulle so in die sneeu gewei

Almal is in vervoering, hulle het nog nooit wilde perde van naderby gesien nie. Anders as Maartmaand is die gras lowergroen, die vulletjies is egter nog steeds hulle spelerige self. Ek wil nog vir hulle vertel dat dit Przewalksi’s is omdat ek die regte Przewalkski’s nog nie vandag gesien het nie, toe ‘n paar regte, egte Przewalski’s oor die bult aangehardloop kom.

Qazaqstan se Przewalski’s

Daar is tot onlangs geglo dat Przewalski’s die enigste soort wilde perd is wat in die natuur oorleef het. Hierdie perde, wat duisende jare gelede die Steppe van Qazaqstan en Mongolië bewei het, is in 1969 amptelik as uitgesterf verklaar, maar daar is nog sowat 2 000 van hulle oor.

Grootoog luister almal toe ek hulle vertel dat nuwe navorsing toon dat die Przewalski’s nie wilde perde is nie, maar wel afstammelinge van makgemaakte Botai-perde, wat 5 500 jaar gelede as voedsel en ryperde in die noordelike dele van Qazaqstan gedien het. Tans word aanvaar dat die Przewalksi’s afstammelinge is van makgemaakte Bontais wat ontsnap het.

Ek het die VVVTT se buitekant reeds verander, ons lyk nou soos deel van die omgewing. Selfs ‘n perd hier en daar op die tent. Ek land saggies om die perde nie die skrik op die lyf te jaag nie. Die towerinne is eers baie huiwerig om uit te klim.

En ek weet dit is ‘n groot jok, maar ek moet net op een van hierdie perde ry. Hulle was mos aanvanklik rydiere, dus behoort hulle te onthou hoe dit voel om ‘n ruiter op die rug te kry? Ek moet net weer, soos toe ek ‘n kind was, die wind in my hare voel as die perd onder my in ‘n gallop oorslaan.

Ek sit my beste pokergesig op en vertel dat ek gehoor het dat Towerinne met hulle kan praat, fluister eintlik, en dan kom hulle na ons toe sodat ons op kan spring en sommer net so bloots oor die aarde kan jaag. Net waarheen ons wil. Hulle luister vir ons.

Toortsie is dadelik gereed om uit te spring om een nader te fluister, maar ek hou haar terug. Sy is aan die stuur van ons volgende reis en kan nie nou ‘n arm of been of nek breek nie. Sy verstaan dat sy solank moet kyk of haar reisplan reg ingelees is.

Ek klim uit en fluister vir die perde na aan ons. Ek het by een van die grootstes kom land. En so wrintie waar, hier kom hy na my aangestap, kniel sowaar dat ek op sy rug kan kom. Maar ek wag eers dat almal vir hulle ‘n perd nader gefluister het.

Toe almal op is, skop Hester en Sonell hulle perde soos wafferse cowboys hard in die lies om te begin draf. Hierdie perde verstaan nie geweld nie, jy moet fluister in die ore.

En daar vlieg die twee perde weg, met Hester en Sonell wat soos maervarke skreeu, Sonell se pragtige krulle staan stokstyf in die wind. Frannie, Scrapy en Positief se perde skrik en volg die eerste twee teen net so ‘n stywe pas. Jy sien net hare waai.

Una skreeu vir Virgo C dat sy hulle gaan moet inhaal, daar gaan bloed wees as hulle val. En sy en Virgo fluister vir hulle perde om die twee voorste perde in te haal. Gelukkig ken Virgo van Arabiese perde, sy jaag soos ‘n pro. Toe vlieg Kameel, Woordnoot, Seegogga, Bondels, Vuurvliegie en Perdebytjie se perde by my verby. Jy sien net hare in die wind.

Toe kom ‘n veertiende perd met ‘n towerin op verby. En wraggies ja, Toortsie het nooit haarself bygetel nie. Wonder wat haar naam is.

Ek sit geskok, my perd wag vir instruksies. Geen woord kom uit nie. Ek weet dit gaan my skuld wees as iemand seerkry en ek vra my perd mooi om vinniger as al die ander perde te wees. Om daar voor te kan help keer.

En so jaag ek en my Przewalksi die res van die towerinne agterna. Die wind in my hare voel hemels, ek vergeet skoon dat ek bang is om bloots te ry. Dit was my skoolvriendin se droom, ek verkies ‘n saal en toom. My bene klou soos almal s’n om ons perde, ons hande klou aan die maanhare. Niemand waag om links of regs te kyk nie. Ons maak net seker dat hierdie perde nie selfmoordgedagtes het en met ons oor die afgronde gaan hardloop nie.

My perd haal almal in. Ek is amper voor.

Toe sien ek ons is reguit op pad na Lake Kaindi toe. Dit is darem ver, hoe lank vat perde om moeg te word? Ek wil nie in ‘n 30 m diep meer weggesit word nie. Wou nie so aan my einde kom nie. En wat van my maters? Kan hulle swem?

Toortsie kom van agter af, jy hoor net hie-ha en dan jaag sy met die VVTT tussen ons deur. Almal koes om nie bo van hulle perde afgestamp te word nie. Ek skree vir Toortsie om die buitekant van die VVVTT in ‘n boot te verander. Boot, skree ekke.

Ek is voor langs Hester en Sonell, maar hulle perde wil nie na fluister luister nie. Myne verstaan hy moet maar de voortou neem. Ons jaag voor en hoop maar net dat die ander perde myne se voorbeeld gaan volg.

Toortsie het verstaan, die VVVTT staan gereed op die meer, sy kante afgeslaan, die reddingsbaadjies gereed.

Ek gee die opdrag en my perd gooi my met ‘n boog, reg in die boot in. Ek hop soos ek op die sagte kussings land. Darem nie af nie. Ek en Toorts staan gereed om die ander te help soos hulle perde hulle een vir een kom lanseer, reg in die boot in. Die nuwe towerin word laaste ingegooi en ons ander staan haar so en bekyk.

Hester stel haar eers gou aan ons voor, sy het nie gedink ek gaan hulle almal die skrik op die lyf jaag nie. Hoop nie jy het te groot geskrik nie, jy is in vir ‘n prettige wêreldreis saam met ons.

 

54 gedagtes oor “VVVTT – Hoofstuk 2: ‘n Wilde rit in Qazaqstan

  1. Christa, jy het my aandag omtrent gevange gehou! En dat ons boonop perd gery het ook, ek staan verstom. Jy het ons baie interessante plekke gewys, dankie dankie!

    Like

  2. Jy het my sowaar op ‘n perd se rug gekry en ek ly nogal aan hoogtevrees. Dit was ‘n wonderlike avontuur – geen wonder al my spiere is vandag so styf nie. En die blou kolle op my boude! Ek dink my laaste rit op ‘n perd se rug was in Lesotho net hier voor die draai van die eeu en ek het nou nog nagmerries oor daardie afgronde langs die bergpaadjies … Enniehoe, die landskap daar by julle is pragtig (baie mooi foto’s) en dit het definitief opgemaak vir die polisie wat ons wou afskiet en die perde wat ons wou afgooi. Welgedaan!!!

    Liked by 1 person

  3. Ai dit was nou lekker. Ek is mal daroor dat die tent so van vorm en kleur en alles kan verander. Die varkie en perde wen die koek. Aalsie is ons nuwe mater se naam. 😁

    Like

            1. Ek twyfel ernstig of dit duur is. Treinry is goedkoper as vlieg. Vliegtuie is nie so duur nie. Verblyf is ook nie so duur nie – kyk bietjie op booking.com. Ons betaal in goeie hotelle goeie pryse. Mens kan ook gemeubileerde woonstelle huur. En taxi’s is vollp en nie so duur nie.

              Liked by 1 person

  4. Heerlik, heerlik. Jy het ons na die mooiste plekke geneem. Daardie water en bome se weerkaatsing is ongelooflik mooi. Ek het net my asem opgehou dat ons oor Indië en Pakistan se dele probleme gaan kry want daar is dit vervuil van virus! Selfs China sn is nie so erg nie. Die tent met sy verandering maak dit darem maar heel onvoorspelbaar. Gaan ons dit oorleef, gaan ons veilig wees. Die perdry storie is nie regtig my sterk punt nie maar om so in die perd se oor te fluister en een te voel met die dier het my heel veilig laat voel. My perd was perfek vir my. Lekker besoek gewees.

    Like

  5. Ai Christa….dit lyk so mooi daar….ek is soos Hester bang vir hoogtes. Die eerste keer toe ek perd gery het het ek amper gehuil. Maar dis n pragtige land en n lieflike storie. Is bly die tent kan verander. Lyk my daai funksie gaan ons basse red,….

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.