Gepubliseer in Reisjoernaal

Eerste Maandag in Almaty, laaste Maandag in Öskemen

Ons is nou een week in Almaty. En ek kry nou eers kans (of lus) om hierdie artikel klaar te maak.

Die laaste Maandag in Ust word ek wakker gemaak, dit is tyd om klaar te maak. Gisteraand het ek die “groot” verrassing gekry, my goed pas toe nie so mooi in my tasse nie. Maar, nadat ek van ‘n toerygdrasakkie ‘n handsak gemaak het, sodat my handsak styf daarin pas, kon die laaste reënbaadjie ook inpas. En was ons lank voor sewe reg om te gaan.

Sewe-uur is ons af om die uittog na Almaty aan te pak. Ons sou die sleutels vir die woonstel onder by die dames afgee wat daar werk. Daar is mos drie wat beurte maak. En soms is daar ‘n vierde een. Maar Ust het mos weer Vrydag in ‘n strenger grendeltyd ingegaan. Wat tot 12 Julie sal duur. Ek het nie besef die vrouens gaan nie meer daar wees nie.

Ons het vier bokse mooi sjokolade gaan koop vir die vrouens. En ek het die een solank vir die vrou gaan gee wat Vrydag gewerk het. Toe ons afgaan, is daar niemand in die kantoortjie nie. Gesluit. Soos Saterdag en Sonadg ook. Ons moes die huis se sleutels by hulle los, maar maak plan. Die taxi sal sleutels en die drie bokse sjokolade by tolk gaan afgee. Hy sal die sjokolade hou en die sleutels gaan afgee. Ons is op pad.

Dit voel so vreemd om deur die strate te ry om weg te gaan.

Ek onthou toe ons in Januarie 2019 daar geland het. Met sneeu wat dik oor die aarde lê. En mense wat oral heen stap. In die ysige koue. Ek meen, sien jy kans om jouself poppie grootte te maak en in jou diepvries te gaan rondloop vir die lekker? Toe was dit -38 grade Celsius in die nag.

Huisies soos in hierdie foto se dakke was vol laag op laag sneeu. Die blomme by die lughawe (op die tweede foto) was onsigbaar, alles by die lughawe het onder lae sneeu gelê. Ek is in Öskemen vir die eerste keer aan tee wat van vrugte en groente en kruie gemaak word bekend gestel. Lief dit baie en gaan dit saamneem SA toe. En die sirkel met haar dansende poppies (laaste foto) was toe onder die sneeu. Hierdie perde op die voorgrond het ook in dik laag sneeu gestaan. Alles, maar alles wat wit.

Soveel anders as die sneeu weg is. Soos toe ons in Junie vanjaar Öskemen verruil het vir Almaty. Sommige plekke is beslis mooier met lae sneeu bo-op. Soos die huisies. Maar ek kan nie stry nie, die wondermooi van die somer is weer iets op sy eie. Hier is nie iets soos ‘n vaal voorseisoen nie. As die sneeu smelt, word die aarde groen. Blom die rose, kom die varings weer ‘n keer uit en groei hulle asof hulle betaal word. Want binne ses maande kom die sneeu weer om alles onder haar mantel toe te vou. Geen groen mag sigbaar wees nie. Alles word wit.

Toe is ons by die lughawe, moet ons met maskers op een stoel ver van mekaar af sit. Manlief moet R1000 inbetaal vir die tas met skoene wat hy vergeet het om op die trok te laai. En ons beide se tasse was oorgewig.

Ek kom moeilik deur die skandeerders. Beide my tassie en my rugsak gee probleme. Die skandeerders het die fotoraam in my GHD-houer opgetel en hulle is tevrede dat dit nie gevaarlik is nie. In my rugsak het my sak met juwele probleme gegee. Dit is ook nie gevaarlik nie.

Die wagtyd is gevolglik gou verby en voor ek my oë te veel kon knip, was ons in die lug. Vir my was dit ‘n aaklige vlug.

Ek moet aan ‘n lekker suig om te keer dat my ore pyn. Ons het die vorige aand laas geëet en dit was na naby 10 uur die oggend. Toe suig ek twee of drie glukose lekkers. Al wat ek in Öskemen kon kry wat ek kon suig. En dit het my bloedsuiker eers die hoogte ingestuur en toe te laag laat sak. Ek wou flou word, maar het net geweet dat ek nie mag siek voel of lyk nie, dan gaan hulle dink dat ek ‘n virus het. En my isoleer tot die toetse die teendeel bewys.

Ek kon nie van die kos eet nie, broodrolletjies, en die sjokolade sou verdere moeilikheid veroorsaak het. Toe sit ek maar net met toe oë en hoop en bid dat ek nie wel flou word nie. Ek kon mos nie so in Almaty begin nie? Ek het darem so nou en dan ‘n foto geneem.

Veilig terug op moeder aarde het ek my verkyk aan die berge wat al langs my uitgestrek het. En waarna ons reguit op pad was toe ons eers draai. Ons nuwe tuiste is naby die berge, maar kyk noord in plaas van suid.

Foto: Op vliegtuig, twee laaste foto’s oor die Irtish by Öskemen, foto van meer naby Almaty, en twee foto’s van die berge by Almaty.

Toe ons land, hoor ons dat Dusty reeds hier is. Sy het mos per trok gekom, so pas aangekom. Die agent bel om te hoor wanneer ons vlieg en ek laat weet ons is klaar op die lughawe. Sy beduie vir die taxi-bestuurder ‘n korter pad na ons nuwe tuiste en so kom ons en sy saam by die woonstel aan.

Ek bly tuis terwyl manlief se werk hom kom oplaai om hom na haar te neem. Daar is foto’s om te neem. Die plek is ruim, pragtig teen ons tuiste in Öskemen, bykans twee keer so groot. En luuks, voel of ek in ‘n hotel woon, behalwe nou dat skoonmaak my werk is.

Toe neem ek eers foto’s en gaan verken ek die winkelsentrum onder ons. Dit is reg, ons bly bo-op ‘n drieverdieping winkelkompleks. Met ‘n lekker groot A+ supermark en ‘n apteek, bank en ek weet nie wat alles nie. Want daar is twee gyms ook. My verskoning is dat ek kos in my lyf nodig het … Ek is so dankbaar oor die winkels, in die winter is alles baie naby aan ons.

Foto’s: Ons woonstelkompleks, uitsig op die president se huis, twee foto’s van berge agter ons woonstelblok, die winkelkompleks onder ons woonstelblok en sy koepeldak wat lig gee aan die sentrale deel van die sentrum.

Ek kan 270 grade deur die woonstel se vensters foto’s neem en as ek uitgaan, kan ek die berge agter ons afneem. Om ‘n bykans 360 grade uitsig oor Almaty te hê.

Foto: Eerste ry: Uitsig oor deel van berge vanuit sitkamer, uitsig op die president se huis in Almaty, wat net gebruik word wanneer hy hier is. Die hoofstad het mos na Nur-Sultan (Ou Astana) geskuif. Uitsig op die Instituut vir Wêreld Ekonomie en Politiek. Kolom af: Ligblou dak is die Sentrale Museum van die Republiek van Kazakhstan en onder is uitsig op die berge vanuit die woonstel.

Die groot foto is my uitsig vanaf die veertiende vloer op die winkelsentrum onder ons se dak. Het in vorige foto gewys hoe dit van onder af lyk.

Ek pak maar solank my groot tas en my kleintjie uit wat saam met my gereis het. Besef dat die kas wat ek wou vat, manlief s’n gaan moet word. En pak my goed in die kas wat ons saam besluit het syne sal wees. My jasse moet maar in die spaarkamer hang, te veel vir die een kas.

Manlief laat weet dat Dusty veilig is en dat al ons bokse daar is. Hulle laai net die trokkie wat gehuur is en dan kom hy huis toe.

Foto: Gedeelte van die uitsig vanuit die stoep wat my werkskamer geword het (en manlief se stoorplek vir sy speelgoed), Dusty in haar nuwe garage, drie verdiepings ondergrond die keer, ‘n vuil Dusty word op die trok oorgelaai wat haar aarde toe sal vat, Dusty van voor in haar nuwe garage, wat groot genoeg is vir twee. Haar winterwiele staan oop en bloot langs haar, dit gaan nie gesteel word nie, en regtig: sy staan op vlak -3.

Doodhonger stap ons twee uit om oorkant die pad by Angel in Us kos gaan eet. Was nie so lekker nie, dus het ons nog nie weer daar gaan eeet nie. Ons het ‘n paar basiese goed by A+ gaan koop.

Toe begin die groot uitpak. Ons twee het eers na middernag gaan slaap, ons wou die huis so gou moontlik reg hê dat ons kan werk.

Ons eerste dag in Almaty was ‘n werkersdag. En ek voel vreeslik bederf. Ek en manlief is dit eens. Öskemen was lekker en mooi vir ons. Maar, as ons van hier na daar moes trek, sou ons baie, baie moeilik aangepas het. Hier voel dit soos in die hemel. Almaty is inderdaad ‘n pragtige stad.

Hooffoto: Uitstalstukkie in Central Cafe by Dostyk Mall.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

17 gedagtes oor “Eerste Maandag in Almaty, laaste Maandag in Öskemen

  1. Ek is bly julle voel gelukkig in julle nuwe woonstel – hoe wonderlik dat julle nie ver hoef te loop om by die winkels te kom, veral gedurende die winter! Die uitsig van die berge lyk baie mooi.

    Like

  2. Nou het mens darem lekker gery, gekuier, gevlieg en Dusty sy sexy grysgatjie is ook daar, duidelik reg vir nog ‘n uur van avontuur. Jou stories moet op RSG voorgelees word. Maak werk daarvan.

    Like

  3. Ek het op ‘n manier hierdie bydrae gemis. So bly julle het so ‘n oulike plek gekry. Jy is gelukkig om soveel winkels en geriewe om jou te hê. Dit sal beslis die winter draagliker maak. Ek dink jy gaan ook lekker kan werk met die interessante uitsig! Geniet al die nuwighede. Dit is ‘n voorreg.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.