Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Laaste Vrydag in Ust – Dusty bestyg haar koets

Ek het Donderdag begin skryf, want dalkies sou ek Vrydag glad nie tyd kry nie. Teen Vrydagmiddag vyfuur moet die trok gelaai wees. Om Dusty en ons paar bokse en tasse na Almaty te vat.

Blykbaar ‘n hele ding hier. Manlief moes brief by prokureur (notarius) laat opstel wat verduidelik dat dit sy kar is en dat die bestuurder toestemming het om sy kar te vervoer. Dit is Donderdagaand gedoen. Nadat hy die naam van die bestuurder gekry het.

Ons het Donderdagaand saam met ‘n Suid-Afrikaanse vriend sy verjaarsdag gaan vier. By een van ons gunsteling restaurante. En toe ons tuis kom, is ek nie lus vir pak nie.

Daar was mos min oor, manlief het die huis twee weke gelede al begin oppak. Terwyl ek aan ‘n hoofstuk skryf. Dus het ons gaan slaap. Om vandag vroeg op te staan en klaar te maak.

***

Vrydagoggend word ek wakker met die son wat al redelik hoog is, hy kom mos al voor vyf op. En toe ek omdraai, kry ek die geur van koffie in my neus. Manlief is al op, sien ek so deur die blare. Klaar weer aan die pak. Die koffie help om die slaapnewels weg te kry, was sommer heerlik om nie met ‘n hoofpyn op te staan nie.

En toe pak ons die laaste goedjies klaar, ook vir Dusty, want sy moet gelaai word.

Sy het nogal ‘n vraggie in haar. My twee groot tasse, drie klein tassies, haar vier bande, Thermie, op my sitplek nogal, en ook die vier potplante wat ek hier gekoop het om my aan Suid-Afrika te herinner. Skoonma se tong. En aalwyne. Beide soorte plante wat my mindergroen vingers kan oorleef.

Op pad terug in die woonstelblok keer die tannies wat ons woonstelblok beskerm ons voor. Een het foon in haar hand en bel haar susterskind wat met my Engels moet praat. Wanneer gaan ons? Ek verduidelik trok gaan vandag, ons gaan eers Maandagoggend. En ek vra of ek die sleutels by haar kan los. Die landlord het so gevra.

Ek, wat nie van lysies en goedjies hou nie, gebruik my foon se nota toep om elke boks se nommer op datum te hou. Met wat daarin is as dit nodig sou wees. En ‘n lys van die goed wat in Dusty gelaai is.

Teen tienuur wil ek ontbyt maak, maar ontdek ek dat ek alles het. Hoender. Check. Groente. Check. Pot. Check. Speserye. Oeps, klaar toegeplak. Sout. Oeps, ook klaar toegeplak.

Toe glip ons twee af en gaan eet ontbyt-middagete onder by Oliviers. Soort van instaprestaurantjie, wat mens aan koshuisdae herinner. Behalwe dat jy vir jou skinkbord betaal voor jy kan gaan sit en eet.

Ons moes so rukkie wag voordat twee vriende hier was om ons te help trek. Dra aan die bokse wat op die trok moes kom. Gou-gou is dit gepak en weg is die drie mans om ons vraggie te gaan laai.

Manlief moes trok huur wat Dusty kan laai en oordra op die trok wat haar Almaty toe vat. Daar selfde ding. En … groot trokke mag nie in die stad ry nie, hulle gaan tot op ‘n punt. Dan moet kleiner trokke die vrag in die stad inry. Geen wonder die strate is so mooi nie.

Dit is net so effens ongerieflik as mens trek. Maar, hier trek mense mos nie soos in Suid-Afrika nie. Jy huur jou volledig-gemeubileerde woonstel. Dit is net jou ekstras wat vervoer moet word. En ons twee gaar lyk my baie maklik te veel ekstras op. Voor ons teruggaan huis toe, sal ons van baie daarvan ontslae moet raak …

Dusty en die trok gaan eers Maandagaand in Almaty wees. Ons sal teen middagete al in die nuwe woonstel wees. Manlief stuur foto’s soos ek gevra het. Dusty op die trok. En die bokse, hoe dit gepak is. Sy kry seil om in te slaap vir die drie dae. Om haar teen stof te beskerm.

Foto: Dusty in haar huisie vir die volgende drie dae. Die huisie en ek en manlief se uiteetfoto. Lekker langnaweek vir haar …

Manlief moes nog dik houtbalke gaan koop. Dit is aan die kante van Dusty in die vloer van die trok ingebout. En ook agter en voor haar. Massiewe boute wat deurgeboor is. Blykbaar tot amper by die wiele van die trok. O ja, en Dusty se wiele is so bietjie afgeblaas, dat sy nie van die trok af wil hop nie.

Terwyl die mans weg is, gaan stap ek een van my laaste stappies hier in Ust. En dit is met regte heimwee dat ek my gunstelingpaadjie stap. Voor die gebou verby tot by ADK-winkelkompleks, ons mooie nuwe mall wat nog skaars oop was toe die pandemie haar deure vir haar toemaak. Sommer vir maande lank.

Oor die groot straat vanaf Dedeman se kant in die rigting van die amfiteater waar ons nog Maslenietsa gebrand het om die lente te vier. En toe maak die pandemie die lente ‘n inperking in jou eie huis. Vir twee maande lank.

Links by die Irtish na Dedemans se kant toe. Om te kyk of Shashlik oop is. Want raai net wat? Die pandemie hok ons weer in het so wraggies weer in. Restaurante toe, behalwe as hulle plek het waar mens buite kan eet. Shashlik is oop, yeah! Ons het darem vanaand kos.

Tot ver verby Dedemans waar ek weer na Kazakhstanberg kan kyk. Hy en sy monument lyk soveel kleiner as vanuit my woonstel op die 8ste vloer. Draai om en weer terug.

Onder deur die brug. Om te kyk op die drie bote daar staan. Hulle doen. Of hulle gaan werk, die weet ek nie. Ons mag net elke tweede dag uit. Om kos of medisyne te koop.

Foto: Kazakhstanberg van die Irtish af bekyk, Die amfiteater langs die Irtsh, Hotel waarin Sashlick is, Irtish onder die brug, lekker breë Irtish en die oulike sportwinkeltjie langs die rivier.

Ek wou nog gaan fiets huur het om langs die rivier te ry, nou sal dit seker ook nie gebeur nie. En ek wou op die bote ry. Wat so in grendeltyd moes wag om in gebruik gestel te word. En moes wag dat grendeltyd verbygaan. Nou kan ons dalk nie ry nie. Ek het gereeld bekyk en gevra om te ry. Sal tog maar een aand gaan stap en kyk of ons mag ry. Dalkies net?

Ek is sommer vies vir myself dat ek manlief maar net laat begaan het. Ek wou die naweek al in Almaty wees. Wat se lawwigheid om Maandagoggend te vlieg? Ons is nou die naweek in Ust.

Met absoluut niks om te doen nie. Dalk het ons die rus nodig?

Nou goed, ek kan seker nie kla nie? Met niks om te doen nie, is daar niks wat my keer om die hoofstuk klaar te maak nie? Is daar? 😊🙃😊

Ek het hierdie foto op Instagram by #ilovealmaty geleen. Ek kan begin uitsien, want raai wat?

Yeah! Almaty lief ons …

Hooffoto: Ekke by die oulike swaaie in die parkie by die I ❤️ Ust-Kamenorgorsk teken.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

5 gedagtes oor “Laaste Vrydag in Ust – Dusty bestyg haar koets

  1. Wanneer jy terugkom moet jy nie jou goedjies daar los nie. Pak dit in bokse en stuur dit terug. Dis jou koestergoedjies. Jou herinneringe van ‘n ekstra spesiale tyd in jou lewe. 😁

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.