Gepubliseer in Joernaal,Reisjoernaal

Laaste Saterdag in Ust – verrassings en teleurstellings

Donderdag het ons reeds geweet. Ust gaan weer terug in grendeltyd, van Vrydag af sou dinge weer anders wees. En ons sit hoog en droog hier oor die naweek, as ons Vrydagaand al na Almaty kon vertrek.

Gisteraand moes ons reeds middernag in die huis wees. Die naweek is ons terug by elke tweede dag uitgaan, slegs vir kos en medisyne. Voel so vervlaks onwerklik. Ek sal nie omgee as hierdie pandemie na ‘n kant toe staan nie.

So staan ons vanoggend op met ‘n paar verrassings en teleurstellings.

Daar is nie kos in die yskas of vrieskas of kaste nie. Dit is gistermiddag als op die trok gesit. Om Dusty en paar bokse na Almary te vat. Om ons Maandagaand daar te ontmoet. Maar dit is mos nie probleem nie, ons kan mos tydens grendeltyd kos koop?

Dan ontdek manlief ‘n hele sak van sy skoene in die spaarkamer. Ek is gelukkig totaal geheel en al onskuldig. Hy het alles daar uitgedra, pak al twee weke lank aan ons bietjie besittings. Ek het die gaassak met skoene gesien, gedog dit is sy mynklere. Ek weet daar is ‘n gymsak vir die klere gekoop en ek was verras dat dit nou in ‘n gaassak is. Maar, hy het seker ander planne met sy sak gehad. Ek weet ek wou nog daaroor vra, want ons moes winkels toe ‘n week of twee gelede om die sak te koop. Waarom is dit nie gebruik nie?

Manlief is verleë oor die ontdekking. Ek lag my slap, sowaar hy het iets vergeet?

Hy vra vir tolk of die trok al weg is, dan kan die sak op die trok. Want dit gaan ons arm en been kos om die ekstra tas op die vliegtuig te laai. Trok vertrek oor uur, te min tyd om daar te gaan lol. Die sak skoene moet maar saam met ons met die vliegtuig gaan. En die klomp winterstewels is lekker swaar.

Ek is lui, wil nie opstaan nie en wil nie aan my nuwe blogartikel werk nadat ek Gedigte se pragtige reeks gedigte oor tieners gelees het. Anne se fotografie waardeer het. En gelees het aan Woordnoot se storie oor hoe sy ‘n towerin geword het. [Julle weet ek is ook een?]

Toe wil ek opsluit my deel skryf oor hoe ek ene geword het. En so loop ek terug op my blogartikels van die begin af. Vertel eers so bietjie oor hoe ek begin blog het. My eie suksesse en mislukkings. En teleurstellings. Tot ek oor my lewe in Qazaqstan begin vertel het. En wonderlike vriendinne en vriende in hierdie virtuele wêreld gemaak het. Soos Pete. En Coetzee. En Abrie. En almal wat saamgesels en aanmoedig as mens sukkel.

En hy wil dorp toe om ‘n tas te gaan koop. Vir sy skoene wat verdwaald agtergebly het. So geskok was hy dat hy sommer gou vanaand al sy klere gepak het. En te vertelle het dat ek nie vir hom Maandag moet sê dat ek iets vergeet het nie. As ons sleutels klaar ingegee het. Ek twyfel of dit gaan gebeur. Maar laat ek liewer nie die noodlot tart nie. Hy is baie keer reg, nie altyd nie …

“Dit is nege-uur” teem hy.

Ek skryf.

“Ons moet tas gaan koop” herinner hy my. So gaan, dink ek, maar vra eof ek moet saam. Wetende dat ek moet, ons stap altyd saam. Dusty is op pad Almaty toe, ons gaan nie na Metro kan gaan nie.

So stap ons na цум (Tsoem) toe om ‘n tas te koop. Het dit heelwat goedkoper daar gesien nadat ons die 4 ekstra tasse gaan koop het.

Dit is net na 10, winkels hier maak mos eers 10 uur oop. Maar, ai, die strate isndarem baie leeg. Geen busse, ons is terug by geen openbare vervoer oor naweke. Min karre, ons is terug by privaatverkeer beperk tot die met toestemming. Dit is stil, maar daar is hoop. Die mense slaap laat en gaan laat eers slaap. Tolk se meisie staan eers teen middagete op. Sy is ‘n fotograaf.

Maar ons word teleurgestel. Al die deure is toe. Ons lees 10-8 op die deure, maar ons kan nie in. En dit is na 10, dit moet mos oop wees.

Ek haal my Google Translate te voorskyn en rig dit op die kennisgewings. Die winkel is oor naweke toe! Almal om hom ook.

Ons stap terug, verby Kentucky wat weer op deurloopfase is, binne mag jy nie bestel nie. Ons besluit om by ADK winkelsentrum te stop en ontbyt in die Food Court te eet. Of kos by A+ supermark te koop. Maar nee, die hele winkelkompleks is weer toe. Nadat dit hierdie jaar eers oopgemaak het en al twee maande toe gestaan het. Behalwe vir A+ wat kos kon verkoop. Vandag mag ons nie eens daar in om klaargekookte kos vir middagete te eet nie. Die kennisgewing sê die plek gaan die hee nuwe grendeltyd, tot middel Julie toe wees. Vir noodsaaklike herstelwerk. Regtig? Die plek is splinternuut, skaars in gebruik geneem.

‘n Russiese tannie vra my vrae, ek het geen woorde om vir haar te sê die kompleks is toe nie. Ek dink sy kan nie self lees nie, want ek wys na die woorde wat sê die plek werk nie (не en iets van rabota wat werk beteken). Sy en haar vriendin staan verslae, dit is na 10, die plek moet oop wees?

Toe is ons by Muken in om kos te koop. Hulle is oop en het klaargemaakte kos. Hoender vir my, ek het brocolli in die yskas om gaar te maak. Manlief eet dit nie. Hoender en aartappels vir hom.

Maar die probleem is nie opgelos nie, manlief se skoene moet in ‘n tas kom.

Hy bel tolk en tolk vind uit, Metro is oop. Manlief wil nie taxi bestel nie, tolk moet. Ek kan nie, my data is so wraggies vir die eerste keer opgebruik. Tolk bestel taxi en ons kry oulike wit karretjie eat ons oplaai. Taxi’s het beslis nuwer geraak in die jaar wat ons nie meer taxi nie.

Die bestuurder ry nie baie mooi nie, en ons is vir hom baie snaaks.

Eerstens omdat manlief sy masker opsit toe hy inklim, ekke ook, maar ek sit agter.

Hy skreeulag vir ons, en côwit, côwit. en lag dan weer. Ek verstaan sy Russies nie, wat de ongeluk is côwit? Dan sien k hy wys na man se blokkiesmasker. Covid. Ag hoe kan ek so simpel wees. Daar is mos ‘n woord wat elke mens op aarde seker op die oomblik dieselfde uitspreek?

Manlief wys na die poliesmanne in die sirkel en beduie vir hom. Ja, en jy moet joune opsit, die polieste gaan jou vang!

Dan vra hy of ons Amerikanski is. Ons praat Engels. So smaaks dat hulle nooit vra of ons Britte is nie, dit is altyd Amerikano?

Nee, ons is van Afrika. Hy verstaan nie. Manlief verduidelik Journa, dit is hoe hulle Suid-Afrika ken. En toe is die man eers pienk getiekel oor ons. Ons lyk nie soos hulle mense van Suid-Afrika voorstel nie. En hy wys na sy vel. Ja, daai is waar, sê manlief. Ons is van Suid-Afrika.

Genadiglik is ons by Metro en kan ons uitklim. Die man dink ons twee is vreemde verskynsels. Veral toe ons Afrikaans met mekaar praat. Dat hy net verstaan Engels is vir ons ook vreemde taal. Maar nie so erg soos vir hom nie. Gelukkig is ons tweetalig deur die skoolsisteem.

Ons kry nog ‘n tas en toe moet tolk weer vir manlief ‘n taxi bestel. Die keer is dit ‘n Lexus.

Ek stel dit oud en amper reg vir die skrootwerf voor, soos wat ek al verrassings gekry het met Mercs en Audi’s wat my kom oplaai het. Die swart gevaarte wat stop, is egter baie nuut. Die sitplekke sag en wit. Die musiek goed, En die bestuurder is ook netjies geklee. My mond val oop, ons ry in gerief huis toe.

Ek het juis voorgestel dat ons die entjie huis toe stap. Die weer is winderig vandag, die lug is bewolk. Ons sou dit kon stap. Veral omdat tolk sukkel om taxi’s te kry. Hulle is ook stil vir die dag.

Tuis gekom doen ons wat mens doen as daar niks is om te doen nie. Behalwe om die huis ‘n laaste skoonmaak te gee. En die huis is maar klein, dit gaan môre in minute gedoen kan word.

Manlief bestel pizza vir môre by sy tolk. Ek gaan my laaste brocolli eet vir ontbyt, middagete en aandete. Dink ekke?

Dan gaan ek teem dat ons laaste stappies stap. Om laaste foto’s van Ust te neem. Ek weet nie wanneer ons weer gaan terugkom nie. As die pandemie eers weer grendeltyd vra, kan ons nie maandeliks kom om hier ook te wees nie. Dan gaan mense weer “remote” werk.

En ons gaan dalkies die eerste ruk in Almaty tuis wees. Manlief dalkies weer in sy tuiskantoor.

Laat ek dinge liewer nie vooruit loop nie. Want daar is ‘n ander bekommernis. Gaan ons Maandag na Almaty kan vlieg? Want as ons nie kan nie, gaan dit ‘n ding afgee. Dusty land Maandag daar, ons goed moet afgehaal word om self na ons nuwe huis te neem.

Daar is darem ‘n ander oplossing: Die trein. Ons sal dan net so dag laat wees.

Vir nou dink ek ons is ok. Klink wel of hulle nog oorvlieg. Hoor dit, kan nie sien nie, dit is bewolk.

Ek hou asem op …

Foto: Mooie blommetjie wat sommer net so groei. Amper soos kosmos … op die sypaadjies waar hulle nie blommetjies aanplant nie. Het lanklaas ‘n kosmos gesien, hoe naby lyk dit aan ene?

 

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “Laaste Saterdag in Ust – verrassings en teleurstellings

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.