Reëlings om Dusty in Almaty te kry

Ons het Dusty mos in Almaty gekoop en die 1000 km hierheen met haar gery. Ons sien egter nie kans om die 1000 km terug ook te ry nie.

Om verskeie redes. Dit is belaglik ver. Die pad is so lank soos van Pretoria na Kaapstad, maar dit is baie, baie anders.

Eerstens is daar twee groterige dorpe langs die pad, een 300 km uit Almaty en een so 150 km voor Ust. Die pad tussenin het nie dorpe nie, net gehuggies. En die gehuggies het nie eens petrolstasies nie.

Tweedens is die pad baie eentonig, lyk amper oral dieselfde. Aan die een kant die bergreeks wat Qazaqstan van Sjina skei, aan die ander kant gelyktes. Ver uitgestrek. Met hier en daar ‘n koppie. So hier en daar dat manlief elke keer moes stop dat ek ‘n foto neem. Ek het alles laas jaar hierdie tyd afgeneem toe ons Dusty gaan haal het. Niks wat ek weer wil sien nie.

Derdens, wil ons nie die tolk saampiekel nie, en hy is absoluut noodsaaklik. Want die mense op die platteland het nog nooit iets anders as Russies en hoofsaaklik Qazaq gehoor nie. Dus is ons verlore as daar fout sou gaan.

Laastens was die pad sleg. Baie sleg. So sleg dat ons die dele verkies het waar hulle met padwerke besig was. Dan het ons darem die slaggate misgery. Mense ry so mis-mis, en almal geenvir almal pad wat jou baan gevat het. Soms is daar in elk geval minder as een baan van de pad oor. Hulle het hard gewerk en ek is amper seker dat die pad nou al heel gangbaar gaan wees. Ongelukkig wil ons nie graag beproef nie.

Want Dusty is te klein om al ons bagasie te vat. En ek wil nie dat manlief ‘n sleepwaentjie koop nie. Julle verstaan nie. Die man is soos ‘n kind met sy speelgoed. Hy sal haak laat aansit en waentjie koop en dan wil hy dit nie weer laat gaan nie. Nee wat, om die verdriet te spaar, sou ons ander plan moet maak.

Ek stel trein voor. Daardie een wat ek nog self wil ry. Nog self gaan ry. Dusty saam met ons op die trein, die bokse en tasse mooi gelaai, ons kom saam-saam in Almaty aan. So bietjie meer as 12 ure op die spore. Klik-klak-klik-klak. Ek het so uitgesien.

Tolk sê egter, nee, daai gaan nie werk nie. Dusty moet op ‘n trok Almaty toe gevat word. Manlief wil eers sien waar en wanner en hoe, dus moes ek gister na sy werk stap en saam gaan kyk.

Tot my absolute verrassing is die plek in ‘n vervalle deel van die stad, tussen ou huisies. Hier in Ust is party geboue sommer net nie klaar gebou nie. Ander is murasies, maar word nie afgebreek nie. Ewenwel, so is ons agter tolk aan. Hy moet nog draai by sy bakkery gaan maak.

En hy verdwaal. Elke keer as hy by ‘n plek inry, sien ons trokke uit Noag se ark. Ander is beslis nie gebou om ‘n motor te vervoer nie.

Nou kyk, ek glo dat hulle nog ry. Maar 1000 km na Almaty is dalk so bietjie bokant hulle vuurmaakplek. En ons harte spring in ons keel.

Dit lyk verlate, ek wil niks in Dusty sit nie. Twyfel of ons goed ander kant gaan uitkom. Maar ons weet ook dat hierdie land se mense nie skelms is nie. Buitendien, tolk sal die kant seker maak dat geregtigheid geskied as goed wegraak. En ons is nog in die land. Kan self kom kyk.

Maak planne, dalk is dit nie so slegte idee om waentjie te koop nie, por ek. Manlief is altyd die praktiese een. Ons kan die myn nie so rondfoeter nie, die vliegkaartjies is reeds gekoop. Ons moet maar mooi kyk, want tolk is nog nie tevrede dat dit die plek is nie. En weer woerts ons weg, ek en manlief ewe dankbaar dat dit toe ook verkeerd was.

Het ek al vertel dat dit grondpaadjies is, kan seker maar straatjies noem? Ek het geen probleem daarmee nie, ses maande van die jaar lê dit in elk geval onder ‘n dik laag sneeu. Gelukkig het die sneeu lankal reeds gesmelt, anders het ons seker goed vasgesit.

Intussen stop tolk en vra. Njet, hulle ken nie die plek nie. Uiteindelik weet iemand van die plek en beduie mooi hoe om daar te kom.

Ons harte word ligter. Mooi, groot, moderne trokke wat staan en wag. Lyk of hulle die pad sal kan vat. Dusty word opgelaai, blokke word in die vloer van die trok geskroef en sy word daaraan vasgemaak. Dan word die seile toegemaak om haar teen stof te beskerm. Klimk goed.

Volgende Vrydag moet sy gaan. Saterdagoggend vat sy die pad na Almaty, lekker grênd tussen seile toegemaak. Daai soort soos wat Coke trokke het. Slaat my dood met ‘n slap snoek, ek het nooit geweet ‘n kar kan ook so vervoer word nie.

Dan is ons tweetjies die naweek in die woonstel om laaste skoonmaak en mooimaak te doen voor ons die volgende oggend baie vroeg op die vliegtuig na Almaty klim.

Dit is so lekker om weer te kan vlieg. Sonder permitte, want ons is nie babas nie.

Ek sien ewe skielik baie uit om weg te gaan. Nuwe dinge om in Almaty te gaan ontdek. Nuwe plekke om te sien, ander foto’s om vanuit my huis te neem.

Hooffoto: Geneem die naweek op pad terug van Almaty af. Die mere onder is groot omdat dit hierdie jaar meer as normaal gesneeu het. En daar was dus baie sneeu om te smelt. Kyk hoe pragtig! Mens sal sweer dit is die see. Maar, Qazaqstan het geen see nie.

48 gedagtes oor “Reëlings om Dusty in Almaty te kry

    1. Seegoggatjie, jy sal verras wees. Hier is egter goeie verdediging daarvoor. Die land is ses maande onder sneeu, en die sneeu eet aan die paaie. In die ander ses maande moet geskraap, reggemaak en geteer word. En as alles nog so mooi reg is, val die sneeu al weer. SA het geen verskonings nie. Vat tot 45% van mense se inkomste – hier vat die staat 10%. SA het 56 milj mense, Qaz het net 18 mil mense. Daar is dus baie minder geld om goed reg te maak.

      Liked by 1 person

          1. Die Sentrale regering bloei ons provinsie dood want hulle wil hulle kommunistiese chaos oral skep, ordo ab chao.

            Like

          2. Ons werk hard daaraan agter die skerms. Maar dis hoekom hulle bv 70% van ons treine verwoes het. Tipiese Bolshevisme van ‘n eeu gelede. Daardie treine was meer as 90% betyds, maar staan verwoes nou. Mense is dom genoeg om te glo sosialisme, kommunisme is dood. Rusland se president dien al in sy vierde of vyfde termyn, een daarvan op armlengte. En Wuhan en Bill Gates het ons gewys watter slinkse planne mense maak. Maar toe ontsnap ‘n virus eendag voortydig uit ‘n petri-bakkie. .

            Like

        1. Absoluut!! Ons is baie meer okay as wat ons dink. Ek het pas gesien hoe lyk die lorrie in annerland waarop iemand se kar duisend my ver agterop geskud gaan word. En dis in wese ‘n Dacia en nie ‘n vrekvrystaal handgesweisde Geländewagen nie.

          Liked by 1 person

  1. Hier in SA is dit maklik, as jy nie my kon kry om vrywilliglik vir ou Dusty padlangs te kon neem nie. Hier laai Prasa gereeld Ferrari, Lambo, Merc, Beemer, Roolesr en Bentleys, Gelandewagens en al sulke dyyr ystergoed agter in die PremierClasse of ShosholozaMeyl en daar gaat hulle. Selfs eendag ‘n rooi- en wit 1953 ‘Vette en ‘n pienk padblokkade (Landrover.)

    Like

      1. Daardie vragmotors stamp vreeslik en dit verouder onderstelkomponente en selfs bussies en goed op die stuurstelsel baie. Treine loop baie meer egalig, as dit passassierstreine is.

        Liked by 1 person

  2. Sjoe! Die trek is naby! Dit gaan so lekker wees om alles nuut te gaan ontdek.

    En ons sien uit om alles deur jou oë te ervaar. Lekker vlieg! 💖

    On Thu, 18 Jun 2020, 06:00 Dr. Christa van Staden, wrote:

    > Dr Christa van Staden posted: ” Ons het Dusty mos in Almaty gekoop en die > 1000 km hierheen met haar gery. Ons sien egter nie kans om die 1000 km > terug ook te ry nie. Om verskeie redes. Dit is belaglik ver. Die pad is so > lank soos van Pretoria na Kaapstad, maar dit is baie, baie ande” >

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.