Qazaqs en baadjies met kappies

Ons het begin Maart 2019 na Öskemen verhuis. Toe was dit nog koud, maar die sneeu het reeds baie gesmelt. Ek het een jas met ‘n kappie gekoop om warm te bly. Op ‘n dag was ons twee in die stad en ver van ons huis toe dit ewe skielik baie koud was. En ons sonder warm goed by ons gevang is. Want hier kan die weer binne bestek van ure van warm na koud verander.

In die winkels was ek geïrriteerd toe ek ‘n ligte baadjie soek. Want almal het, soos my jas, kappies gehad. Ek het ‘n kleintjie dood aan kappies aan jasse. Dit kom dalk van my kinderdae.

My pa was baie kwaai oor ons velletjies. Ons is dogtertjies. Dus moes ons kappies dra. Nie sommer enige kappie nie, ons s’n het soos Voortrekkerkappies gelyk. Breë rand, af om die ken, valletjie in die nek en twee punte wat saamgevat moet word om die kappie styf te trek.

Toe was ek baie ongelukkig oor die kappies as ons maatjies kom kuier. Hulle het nie kappies gedra nie. Ons was ook nog van die enigste vrouens wat Sondae met hoede kerk toe moes gaan. Ons het mooi kerkhoede gehad. Maar mooi beteken nie dat jy soos seer vinger in die kerk wil uitstaan nie.

Maar ons het nie baklei nie, pa se woord was wet. Ons het maar die maatjies se spot verduur. Vandag is ek spyt ek het dit nie met grasie gedra nie. Of liewer dat ek nie gehelp het om ‘n tradisie te laat voortleef nie. Ieder geval, ek sal nou maklik Sondag ‘n hoed kerk toe dra. Al doen niemand anders nie.

Terug by die kappies. Ek was ontevrede en wou nie ‘n baadjie met ‘n kappie koop nie. Die meeste is ook vasgewerk, mens kan hulle nie afrits of afknoop nie.

Ek het egter gou besef waarom mens kappies nodig het. En waarom hulle sommer aan die baadjies vasgewerk word. Waarom selfs bloesies hier te hoop is met kappies aan.

Die son skyn nog so lekker en dan word jy op pad dorp toe deur reën oorval. Ek het laas jaar geskryf dat reën hier onaangekondig val. Sommer net val. Geen weerlig om dit aan te kondig nie.

Wel, ek was verkeerd. Ek kry nou twee dae na mekaar smse wat sê dat weerlig 48 km en 8 km van hier gewaar is. En later die dag brom en kla die wolke terwyl hulle leeggetap word. Hulle was seker goed op pad see toe. En toe dêps ons boere eers die water. Nou moet hulle weer gaan soek om verder te kan dryf oor hierdie uitgestrekte aarde.

En daarom het alle baadjies kappies. Om net gou oor die kop te gooi en verder in die reën te stap. Want sien, hier help ‘n sambreel nie veel nie.

Die wind waai gewoonlik saam met die reën. En dan vou jou sambreel agteroor, of keer dit te min om dit die moeite werd te maak om ‘n sambreel saam te dra. Kry ek die foto sowaar nou-net. Toe las ek dit gou in.

Van September af was ek dankbaar oor my ligte baadjies met die kappies want die wind byt goed in mens se nek as dit begin koud word. Maar van 12 November 2019 af het ek goed verstaan waarom mens kappies moet hê. Vas aan jou jas. Dat jy dit nie per ongeluk by die huis vergeet nie.

Want die koue vingers van hierdie winters dink -38 grade Celsius is ‘n goeie temperatuur vir die winter. Dit is so koud dat mens dit nie lank buite mag waag nie. En nekvelle word besonder koud as die ou jassie se kappie nie beskerm nie. Dus is my kappie met sy nagemaakte pels altyd oor my kop as ek buite is. Dit is nou die kappies wat ek so vuil uitgekyk het toe ek hier aangekom het …

Ek gooi selde my kappie oor my kop as dit sneeu. Dit is dan baie warmer en te lekker as die sneeu sulke wit spatsels op my mussie maak. O ja, daarsonder waag ek dit nie buite as dit subzero is nie. As jy dan die kappie oor jou kop gooi, kan jy slegte verrassing kry as die ysige sneeuvlokkies teen jou nek afgly.

Öskemen se weer is interessant die afgelope tyd. Ek het vanmiddag die video gemaak om te wys hoe hard dit reën. En daarin vertel dat dit nie in Öskemen hael nie. Of altans dat ek nog nie hael gesien het nie.

En raai wat? So pas laat weet manlief dat dit so 800 m van my af by sy kantoor hael. En ek kry sowaar op Instagram bewyse daarvan.

Dalk het dit hier ook gehael terwyl ek skryf. Want ‘n klompie meisies het net voor hy laat weet het hier onder gegil. Aangesien hier nie boewe is nie, kan ek aanneem dat die haelkoreltjies hulle gevang het. Hierdie mense loop sommer net so in die reën as dit reën. Asof dit sneeu is. En nie papsopnat kan maak nie. Kappie op, koppie af en daar gaat hulle.

Ek het darem al ‘n somersbaadjie met kappie ook aangekoop, want die wind waai die afgelope twee weke lekker koud as die son nie skyn nie.

Vandag toe ek bietjie in die winkels gaan loer vir ‘n bloes, is daar sowaar bloese met kappies. Dun goedjies, daai kappies gaan nie veel help nie. Ek het nog nie opgelet dat die vrouens sulke bloese dra nie. Hulle dink seker ook dat die dam darem nou heeltemal onder die eend uitgeruk word.

Of word dit? Dit word tans baie warm. Ek het wit strepe oor my voete waar my sandale sit terwyl ek stap. My arms is al goed donker nadat dit die winter bietjie wit geword het. Dus sal ek seker aandag daaraan moet gee om my vel teen die sonstrale te beskerm. Die bloese se kappies is seker vir die doel?

Ewenwel, ek dink nie ek gaan so iets koop nie. Dus moet ek net onthou dat daar sonskerm is. Ek moet dit net dra. Die hoed is reeds gekoop om my teen die son te beskerm.

Ek weet ook na my onbesonne haarsny in Desember waarom al die vrouens hier lang hare dra. Hare maak nekkies warm … Myne kom aan, die winter gaan hulle weer werk.

Die paaie in Öskemen dreineer nie goed nie. Selfs nuwe paaie. En dan kan ek nie wag om uit te gaan as die druppels ophou nie. Want ek leer nou om spieëlbeelde of weerspieëlings af te neem. Moet blykbaar so na aan die spieël kom as moontlik. Ai tog, ek sukkel nog so bietjie met daardie een. Mens moet kan opkom ook ….

Foto’s: Van links na regs, van bo na onder: Vanaf ADK, parkering voor ons woonstel, vanaf ADK, straat voor ons woonstel by die garages, die toring weerkaats in die water, parkering by ADK.

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.