Ek was op ‘n dag verby kwaad vir my skoolhoof. Onregverdigheid het my nog nooit aangestaan nie en sy onregverdigheid het alle perke van redelikheid oorskrei. So laat ek eers die storie vertel.
Die skool se eerste rugby-, eerste meisies hokkie- en eerste netbalspanne het ‘n tradisie gehad om Maartvakansie op toer te gaan. En die nuwelinge in die span moes hare op sekere plekke afskeer.
Die rugby nuwelinge se hare is vir hulle afgeskeer. Dan stap hulle met sulke spierwit koppe by die oefenkamp aan op die eerste dag.
Die hokkiemeisies se een kant se ooghare is afgeskeer. Dan loop hulle met kaal ooghare rond, wat baie, baie snaaks lyk.
Die netbalmeisies moes ander hare laat waai. En ek het nooit die detail daarvan uitgevra nie. Ek wou nie weet hoe dit gedoen is en hoe die ander meisies geweet het of dit gedoen is nie. Dit was vir my baie verkeerd.
Die seunshokkie het eers teen 2000 by die skool begin en ons het die rugby tradisie ook gevolg. Hulle hare is geskeer.
Toe klim die staat in die prentjie in. Geen ontgroening word nêrens toegelaat nie. Die dag voor ons op toer gaan, word die preek ons deeglik afgesteek. Spelers en juffrou. Geen seun of dogter se hare sal waai nie.
So is ons Potchefstroom toe. Die eerste dag kom die hokkiemeisies by die veld aan, trots op die ooghare van die nuwelinge wat gewaai het. Vertel vir my die rugbyseuns wat in die Kaap gaan toer het, se hare het ook gewaai. Die netbalmeisies is ook trots op hulle dade. Word vir my seuns vertel.
Ek is kwaad. My hokkieseuns het vir my geluister, geen haar het gewaai nie. Ek bel die hoof, laat weet die hare het wel gewaai. Hy beloof straf soos niks as die skool begin. En ek verplig my seuns om nie ook te ontgroen nie.
Die eerste dag terug by die skool, staan die leerders met hulle afhare by opening buite. Die son blink op hulle pankoppe. En geen haan kraai nie. Ek wag. Dit is onmoontlik om dit mis te kyk, hulle sit soos bandiete in die saal. Kaalkop geskeer. Koppies nie meer so wit nie, die son het hulle gelooi. Die tweede dag gaan ook verby. So gaan die week verby. Geen straf nie.
Ek gaan vra, hy sê hulle gaan nog gestraf word. Soos wat mens maak as ‘n klikkiebek nuus aandra. Niks gaan daarvan kom nie.
Vrydag kondig ek af. Die eerste seunshokkiespan moet my pouse in die klas ontmoet. Daar was niks ongewoon aan nie, dus vermoed niemand niks.
My opdrag was wel ongewoon. Elke nuweling in die span het ‘n keuse of hy sy hare gaan laat waai of nie. Enigste voorwaarde is dat hulle dit self moet doen. Die woord ‘ontgroen’ mag op geen manier by die saak betrek word nie. Niemand van die span mag hulle hare vir hulle skeer nie. Eie besluit. Geen vinger mag na ‘n ontgroen kan wys nie.
Maandag sit ons op die verhoog toe my nuweling seuns in die saal instap, hulle koppies spierwit van geen son. Hulle staan soos seer oë in die saal uit.
En wat doen die hoof?
Hy bekyk die kaal koppies en jaag my hokkiespan uit die saal uit. Voor al die spelers van al die spanne wat wel ontgroen het. Hulle moet voor sy deur gaan wag. En almal weet dit is oor die hare wat gewaai het. Die hele eerste hokkiespan. Want sien, hier is mos ontgroen. So dink hy.
Ek het al soveel keer vertel hoe skaam ek is. Maar as ek kwaad is, moet skaam eers terug tree. Dan wen kwaad geheel en al.
Ek staan ook op en stap van die verhoog af. Saam met my seuns wat gehoorsaam was. Hier sal nie vandag gestraf word nie. Hy moet verby my kom om my seuns te straf. Hy roep terug “Mevrou van Staden” en ek ignoreer hom soos ‘n stopstraat. [Waar kom dit vandaan? Ek stop by elke liewe een]. Hulle gaan my seuns nie sonder my spreek nie.
Op pad kantoor toe maak ek my handsak oop. Drie Rescues onder die tong. Teen die tyd wat die hoof met saal klaar is, sal dit reeds goed ingewerk het.
Wel, dit het. Ek het nie, soos wanneer ek voel dat ek onregverdig behandel word nie, aan die tjank gegaan van kwaadgeit nie. Ek was so koel soos die spreekwoordelike komkommer.
Die seuns staan maar lekker benoud voor die deur in gelid. Ek gaan staan heel voor, glimlag vir hulle en sê as daar vandag gestraf word, is ek die enigste een wat gestraf gaan word.
Ek is verby kwaad omdat my seuns so verneder is. Veral omdat die watsenaamskeerders, die ooghaarskeerders en die kopskeerders dit besonder baie geniet het dat my seuns gestraf gaan word.
Ek maak nie eers voor die deur seker dat hulle self geskeer het nie. Ek en die groep seuns was reeds vier jaar lank ‘n span. Hulle sou nie vir my lieg nie.
Toe die kaptein ingeroep word, stap ek saam in. Hy was my eie kind. Hier gaan hare waai, want dit is nie alleen my span wat onregverdig gestraf gaan word nie, maar ook my eie kind. Hy was toe in standerd 9 en is geleer dat mens jou nie vir ‘n skoolhoof opruk nie. Sy kop was spierwit.
Die hoof sê dat ek buite moet wag. Ek verduidelik dat dit my span is. En ek het hulle opdrag gegee om hulle hare self te skeer. As hulle wou. Om ook te kan wys dat hulle nou deel van die eerstespan is. Soos al hulle ander sportmaats wat ontgroen is. Hulle is nie gestraf nie, herinner ek hom.
Die seuns is nie ontgroen nie. Dit was elkeen se besluit. So word die seuns ingeroep, een vir een. Met my en die kaptein wat binne moet staan. Niemand word uitgelaat om die boodskap oor te dra nie. Want sien, ons hoef nie te gaan waarsku om saam te lieg nie.
Een outjie wou nie hare skeer nie. En hy het vir sy maats gestaan en lag. Hulle wou mos.
Een vir een word gevra wie sy hare geskeer het. En een vir een sê hulle hulle ma, pa of hulle self. Niemand het gaan betaal vir die maklike snit nie.
Die hoof se hande was afgekap. Daar het nie ontgroening plaasgevind nie. Dus kry ek die skrobering. En my Rescue-gelaaide self antwoord terug.
As meneer die ander gestraf het soos jy beloof het, was daar nie vandag seuns om te verneder voor die hele saal nie.
Daarna het ons nie weer hare geskeer nie. Kinderagtige tradisie vir uitverkorenes. Wat ‘n belaglike, stupid, kinderagtige, kêns tradisie is dit in elk geval nie. Watter lekker is daar in om spanmaats te verneder?
Elke lid van my span is deel van ‘n ketting waarvan die swakste skakel veroorsaak dat jy kan verloor. My seuns sou nie verloor nie. Hulle het elke jaar hulle ligas gewen en elke jaar is meer as die helfte van hulle in die provinsiale spanne opgeneem. My trots. Al kan ek self nie hokkie speel nie.
Maar ek was kwaad. En die een onderhoof het my kwaad gesien. Teen die Vrydag was ek nog glad nie afgekoel nie. Toe gaan sien ek haar. Ek wil die saak aangevat hê, my seuns is verneder terwyl geen van die ander spanne se ontgroendes aangespreek is nie.
Hulle het geluister, ons het na die tyd opgetree toe niks gebeur nie. En toe word hulle verneder. Ek soek bloed.
Toe sē sy ek moet die naweek ‘n brief vir die hoof skryf en dit die Maandag vir haar bring.
Die hele liewe naweek het ek aan die brief geskryf. Oor en oor begin. Weer en weer geredigeer. Tot al my punte netjies gestel is. Oor onregverdigheid, onnodige vernedering, die hokkieseuns suip elke keer aan die agterste speen. Want in die skool word die rugbyseuns verafgod.
Sit hulle soos ongepoetste buffels in my klas. Vertel hulle my selfs dat hulle nie geskors sal word nie, want dan kan hulle nie Saterdag speel nie. Hulle punte is swak, baie het swak gedrag en tog word hulle verafgod.
My saak is oor die naweek sterk gemaak. Lekker dik brief waarin ek my griewe lug.
Maandag kan ek nie wag om dit vir haar te gaan gee nie, net na saal staan ek voor haar deur. Sy gaan die hokkieseuns se saak vir hulle baklei.
Toe nie.
Sy wil nie die brief vat nie, sê vir my ek het my saak nou goed deurdink, genoeg daaroor getob. Ek moet dit opskeur en weggooi.
Nou kyk, ek het groen oë. En hulle spat vonke wanneer ek baie kwaad is. Die keer was ek baie, baie kwaad.
As sy nie die brief vir die hoof gaan gee nie, doen ek dit myself. Soos wat ek klas toe stap, het ek egter besef dat sy reg is. Hierdie saak gaan nie gewen kan word nie. Ek gaan elke keer ongelukkig uit die skermutseling stap. Want die rugbyseuns en die ander spanne gaan nie gestraf word nie.
Ek moet my houding verander. Anders na die saak kyk. My seuns word met waardes grootgemaak, hulle was van die toppresteerders in die skool. Daar was nooit klagtes oor hulle akademie nie, want dit is hoe die hokkieseuns is. As hulle presteer, het ek onskuldig onder die hoof se neus gevee … die kinders van my was akademies sterk.
Hulle gaan onregverdig behandel word, hulle lewe deur. Hulle kan net sowel nou reeds leer om dit te verwerk. En so het ons ons eie tradisies begin.
****
Nou waarom vertel ek dit nou?
Ek het verlede Vrydag vir die eerste keer sedert daardie dag weer so aangevat gevoel dat ek my hart moes uitskryf. Toe skryf ek op hierdie aanlyndagboek. Om die kwaad uit te praat. Dit sou agter slot en grendel met ‘n wagwoord wees. Soos die brief wat ek nooit vir die skoolhoof gaan gee het nie.
Ek was na een die nag klaar en ingedagte het ek gepubliseer. Ek het dadelik gesien dit is nie agter slot en grendel nie, dit verander. Maar WP het daardie weergawe per e-pos aangestuur. En die persoon vir wie ek vies was, kon dit lees – sonder om ‘n wagwoord nodig te hê.
Ek trek nie my emosies of gevoelens terug nie. Dit het my die hele naweek gevat om oor en oor aan die stuk te skryf tot my hart die saak kon hanteer.
Nou lē die eier daar. Oop en bloot.
Die aap is uit die mou …
Die koeël is deur die kerk …
Dit is egter ook water onder deur die brug.
Ek gaan WP nie maklik weer vertrou met sy slot en grendel nie. Hoe kon dit gelees word sonder dat die persoon die wagwoord intik? As ek weer so iets nodig het, sal dit op papier gestel word …
Jou onderhoof was reg: dit help baie om iets neer te skryf, oor en oor tot dit reg voel. Teen daardie tyd is die woede onder beheer en ons kan beter oor iets dink. Jammer oor jou WP ervaring: ek het altyd vir my kollegas hierdie raad gegee as hulle woedend ‘n e-pos skryf: stop, read, pause and consider before you press send.
LikeLike
Ai Anne, ek ook. Altyd. Moenie praat as jy kwaad is nie. Maar, ek moes dit met myself uitpraat, en ek moes nie middernag gewerk het nie. Slegte les, maar ek voel vry. Op ‘n manier. Want ek sou net weg gebly het. Sonder om te verduidelik. Dit is seker erger?
LikeLiked by 1 person
Ek wil sommer oor die rugby skryf wat oral so opgehemel word. Ek kom uit die mysiekkringe wat mos heeltemal aan die agterspeen suig. Ek het gesien hoe juffrouens hulleself moeg baklei.
Vir my dogter het ek gesê, moenie baklei nie, selfs al wil jy. Hulle gaan nooit hoor nie. Dis soos om teen donderweer te baklei. Sy het geleer om haar ding te doen op haar manier. Soos jy ook met die hokkie reggekry het. Geluk met jou hokkiekinders en hulle goeie maniere en prestasies. Jy mag trots voel.
LikeLike
Dankie, Toortsie, ek het steeds ‘n baie goeie verhouding met baie van die seuns en hulle ouers.
LikeLiked by 1 person