Gepubliseer in Joernaal

‘n Mat vir my sitkamer in Ust’-Kamenogorsk

Ek het vertel van die TV wat die landlord kom insit het. Toe het ek sommer met sy vrou met behulp van ‘n toep gesels oor ‘n mat.

Toe ons ingetrek het, het sy gesê dat die mat vir die sitkamer op pad is, dit is by die droogskoonmaker. Ek het gesê dat ek nie ‘n mat mens is nie, dit moet asseblief nie kom nie. Hulle kan maar stoor.

Intussen het ek van mening verander, die mat kan dalk net lekker wees. Om die sitkamerdeel van die vertrek meer sitkamer te maak. Ons kan weens die virus nie op vakansie gaan nie, maar hulle dink mos ‘n verandering is so goed soos ‘n vakansie. My huis het verandering nodig.

So kry ons eergisteraand ‘n klop aan die deur. En ‘n tweede, harder een.

Ons twee was al in ons slaapklere. Manlief maak sommer so in syne oop, ek druk die kamerdeur net betyds toe. Want ons kamerdeur maak in die voorportaal oop, by die voordeur!

Ek hoor hulle ‘n woord of twee wissel en die deur gaan weer toe.

Manlief maak die kamerdeur oop en voor my lê ‘n opgerolde mat.

Opgewonde sleep ek dit sitkamer toe, sny die sellotape los en rol af.

En is dadelik spyt.

Waarom het ek nie maar eers gevra hoe die mat lyk voor ek dit gevra het nie?

‘n Moderne, dik swart mat lê voor my, en soos ek verder afrol, sien ek dat dit wit en swart en grys blokke het.

Vir ‘n sitkamer met bruin banke, met outydse Amerika-agtige prente op die kusssings, in bruin en beige, met mure met bruin plakpapier beplak waarvan die patrone teen die patrone op die swart en wit mat skree?

So op die foto lyk dit regtig mooier as in die werklike lewe.

Behalwe vir die plakpapier hou ek van die rusbanke, dit word beddens as my kinders ooit eendag sou kom kuier. Ek vermoed hulle gaan nie, al betaal ons hulle onkostes, dit is baie ver om hierheen te kom, met ‘n ou babatjie aan seun se kant (binne die volgende paar daggies) en drie woelwaterseuns aan dogter se kant.

Ek raak nou gewoond aan die bont spul, maar ek dink tog ‘n spieël teen die muur, ‘n baie groot ene, kan die baie bont muur breek. Die swart mat en die bruin reflekteer, om ‘n eenheid te skep.

Die twee veranderende skilderye help my om te ontspan.

Die TV is nie meer ‘n blink swart gat nie, ons het mos ‘n Mi Boks by die landlord gekry.

As ek die Mi-TV aanhou, het ek ‘n skildery teen die muur wat die hele tyd verander. Die mooiste foto’s van plekke in die wêreld. En dit verander elke paar minute.

Anders as my Apple TV se video’s wat na ‘n rukkie herhaal, word ek nie moeg om te kom sit en kyk na die foto’s nie. Met Afrikaans onderaan die skerm …

Ek hou dit sommer dag en nag aan. Saans skep dit ‘n dowwe lig in die vertrek. Dit voel sag, skoon, huis.

Die afstandbeheerder is weggesteek.

Manlief kom na werk in die huis en skakel my TV af, luister na sy musiek. En dan kom ek eers die volgende dag agter dat my skildery weg is. Moet ek sukkel om weer die Russiese TV aan te kry, die Mi Boks te laat werk. Nou is die twee afstandbeheerders weg. Soos wat ek maak as vriendin met haar tweejarige kom kuier. Wat mens nie sien nie, pla mens seker nie?

Manlief vra nie die afstandbeheerder nie, ek verduidelik nie. So paar aande later vra ek of hy die mooi prente gesien het wat die hele tyd op die TV in die sitkamer wys.

“Ja” sê hy, ons moes saans afsit.

“Nee” sê ek, dit bly net so aan. My skildery teen die muur, wat die hele tyd verander. En die sitkamer saans in sagte lig omhul. Ek sit soms sommer net daar om my aan die foto’s te verkyk.

Oorkant die TV is die groot vensters wat na buite kyk. Oor die vaal geboue, die huise, om die Hollywoordagtige Kazakhstan berg vir my te wys. Daardie een wat twee weke gelede nog spierwit was.

My uitsig deur die vensters, elke dag anders, elke seisoen anders. Hoe kan mens ooit daarvoor moeg raak?

En nou os ons berg weer amper groen waar die sneeu gesmelt het.

Kan jy glo?

In Suid-Afrika sou die bome en blomme en plante pap gehang het. Swartryp rig baie skade aan.

Hier is dit bykans dadelik groen waar die sneeu smelt. Hoe kan mens dit verklaar?

Iedergeval, ek het nou twee skilderye in die huis wat die hele tyd verander.

Die een wat veronderstel is om ‘n TV te wees.

En die een oorkant die TV, die uitsig op die berg deur die vensters.

Om my te verkyk aan die natuur daar buite.

 

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

4 gedagtes oor “‘n Mat vir my sitkamer in Ust’-Kamenogorsk

  1. My seun het ‘n projektor wat heeltyd mooi prente teen sy een hele groot sitkamermuur gooi. Hy is in die mediabefryf en werk heeldag en aldag met lekker speelgoed. Soos 25 en 50kW klankversterkers, laserligte, die werke. Jy sal onafskeidbaar raak van jou mat.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.