Why women kill – ‘n nuwerige reeks op DSTV

Die sosiale afstand ding maak dat ons meer in die huis bly as wat ons uitgaan. Dus kan ons, sonder om skuldig te voel, reekse ‘binge’ kyk. Dit het ons verlede jaar met When Calls the Heart gedoen. Op warm somersnaweke in die bed gebly en die een episode na die ander een gekyk. Tot ons moes wag vir nuwe reekse, wat tot ‘n jaar kon wees.

Ons is egter fitterig oor wat ons kyk.

Sommige reekse word begin en sit ons so gou af dat ons binne die eerste paar minute besluit dat ons nie verby die eerste episode van ‘n reeks gaan kyk nie. Ek kan nie eens opnoem nie, ek weet net dat daar baie was.

Ander word langer gekyk, soos die een oor die Man in die hoë toring. Of Anne with an E. Dan besluit ek nee wat, daai is te erg vir my en loop ek om iets anders te doen. Of ek is verveeld en het beter dinge om te doen. En as ek weer sien, het manlief ook besluit dit is nie ‘n kyk werd nie. Soek ons verder na ‘n reeks om te kyk.

Ander reekse hou ons aandag van dag een af. Veral as dit Afrikaans is. Ons is nie so fitterig oor die taalgebruik nie, as hulle meng dan meng hulle. Ons hoor hier in die verte geen Afrikaans behalwe ons twee se Afrikaans nie, dit is vir nou wonderlik om Afrikaans te kyk en hoor.

Ons kyk Byl. ‘n Suid-Afrikaanse reeks oor reeksmoordenaars wat my al so bang gemaak het dat ek nie kon slaap nie. Sommer ook minder kwaai met manlief gemaak het nadat daardie een sielkundige kompos gemaak het van vrouens wat soos sy kwaai vrou lyk. En nie betyds gevang is om haar te red nie.

Ek sukkel egter om die hele tyd vir die TV te kyk as Byl aan is. Die indoena van reeksmoordenaars se handlanger kom te na aan Byl. Het reeds twee vroue na aan hom vermoor, sonder dat hy betyds kon weet en keer. Ek kyk nie na al die grusame detail nie, ek sal dan nooit weer kan slaap nie.

Dan druk ek my oë en ore toe en moet manlief sê wanneer dit verby is. Ek moet egter weet dat hy gevang gaan word. Gaan hy? Dus volg ek die reeks. Sal seker binne die volgende paar weke weet, die reeks is aan die gang, dus kan ons nie ‘binge’ kyk en klaar kry nie.

Ons het When the Heart Calls as een van die beste nog beleef. Skoon, mooi, liefde, die goed wen elke keer oor die kwaad. Lewenslesse, sommer vir ons op ons oudag ook. Mens raak aan die slaap met ‘n gevoel van vrede in jou hart. Ons het gebingekyk tot ons die eerste reekse opgevang het. Nou moet ons wag tot volgende jaar voor die huidige reeks, wat tans in Amerika uitgesaai word, beskikbaar is. Dan sal ons weer aanmekaar kyk en weer wag vir ‘n jaar om die volgende reeks te sien. Ek hoop daar gaan weer wees …

So van die reeks gepraat, Abigail was die sagste vrou in die reeks, ek was skoon hartseer toe sy nie in die laaste reeks wat ons kon kyk gespeel het nie. So voorbeeldig en hulpvaardig. Was dus geskok om te sien dat sy tans tronkstraf uitdien. Darem oor geld en nie moord of so iets nie. Maar steeds, sy het haar TV-beeld ernstige skade aangedoen.

Manlief het Crown gekyk. Die eerste paar reekse se aktrise wat die Engelse koningin gespeel het, het my verveel. Die aangeplakte hoogvarendheid het my geïrriteer. En dat sy nie ouer geword het nie, dus was sy naderhand ‘n meisie wat ‘n ouer vrou speel. Natuurlik ook dat sy, wat haar gesin betref, werk bo haar naastes plaas. Mag so wees, maar ek wil nie kyk hoe iemand haar eie suster se geluk ondergeskik aan haar werk maak nie. Die akteur wat haar man gespeel het, het my ook verveel. Daai vreemde afkop opkyke van hom was onuitstaanbaar irriterend. Toe manlief weer sien, word die aktrise met ‘n ouer vrou vervang. Dit was vir hom, wat die reeks gebingekyk het net een te veel.

Dit was seker vir kykers in die lande waar dit regstreeks uitgesaai word, iets waaraan hulle geleidelik gewoond kon raak. Daar is tydgapings tussen reekse en ek neem aan hulle sou ook adverteer en die kykers so daaraan gewoond maak. Ek kan nie verstaan waarom hulle die aktrise nie met grimering geleidelik ouer gemaak het nie. Veral omdat hulle van kantaansigte van die gesig hou. Sy lyk nanders, baie anders.

Nou is Crown op die lysie wat nie sommer klaar gekyk gaan word nie. Tog siet ons soms een episode aan as daar geen reeks is wat gevolg word nie en ons Afrikaanse reekse opgevang is.

Maandagaand soek ons weer iets om kyk. Want ons kan nie ons Suid-Afrikaanse reekse Maandae kyk nie, ons moet wag vir Dinsdae, want dit word uitgesaai wanneer ons lankal in droomland is. Soos ek geskryf het, ons smag na Afrikaans en ons kyk: Arendsvlei, Byl, Sara se geheim, Projek Dina.

Ons kyk ook twee realiteitsreekse, die een agter die hand gefluister want Trap dit my Huis val werklik onder swak smaak, maar ons moet nou weet wie wen. Buitendien is een van die grootste vloekers nou uit die huis.

En ons kyk die nuutste Amerikaanse Survivor, wat op die dish uitgesaai word, waarvoor ons ook moet wag omdat dit uitgesaai word wanneer ons al slaap. Dit is wel Engels.

Beide hierdie realiteitsreekse val nie in ons smaak nie, die deelnemers vloek soms soos matrose. Dit is soveel anders as die Suid-Afrikaanse reekse, waar die mense nogal op taalgebruik let.

In elk geval, Maandagaand soek ons weer iets. En kom op Why women kill af.

Na Byl wil ek niks weet nie, ek het net mooi genoeg gehad van moord en doodslag en redes waarom reeksmoordenaars moor as ek klaar na Byl gekyk het, maar manlief dink ons moet dalk kyk.

Ek weet dit kan verander as die reeks verveel, dus stem ek maar mismoedig in.

En toe trek die reeks my in.

Die strokiesprent trek my aandag, voel of dit so bietjie ligter gedoen gaan word as onse Byl. Spottenderwys half, satiries dalk, maar tog met ‘n soort van lewensles ingebou. Sagter op die maag, makliker om nie naar te word nie.

Eintlik is dit op ‘n manier vreksnaaks.

En nou ‘binge’ kyk ons twee die reeks, so twee episodes per aand.

Die reeks gaan oor drie paartjies en speel in verskillende tydvlakke af, al drie paartjies het voorheen in die spesifieke huis gewoon.

Ek wil nie te veel weggee nie, net sê dat daar goed is wat my dwars in die krop steek, maar ek sou verstaan waarom moord gepleeg word. Wie vir wie gaan vermoor is nie ‘n uitgemaakte saak nie. Dat dit ‘n vrou gaan wees, is wel ‘n uitgemaakte saak as mens na die titel kyk. Watter een is nie ‘n uitgemaakte saak nie.

Die een paartjie het ‘n derde persoon in hulle verhouding toegelaat, jaloesie kan beslis ‘n rol speel. Onaanvaarbaar, maar dit is beslis ‘n rede waarom ‘n moord gepleeg sou kon word. Die twee ander paartjies se verhoudings word deur ‘n derde persoon as buitestaander bedreig en die vrouens hanteer dit op verskillende maniere. Die een vrou kry ‘n toyboy (!), die ander een maak vriende met die derde party (!). Wie vir wie gaan vermoor is in die een geval dalk voorspelbaar omdat daar net een vrou in die een driehoek is, maar dalk is daar ‘n kinkel in die kabel.

Die storie is lig, interessante maniere word tussenin gebruik om die kyker in te lig, soos byvoorbeeld ‘n baie mooi tango waarin almal in rooi geklee is en ‘n storie deur dei dans vertel word en die begrafnisondernemer se vertelling. Nie oor die gevalle nie, eerder oor redes waarom mense wel sou kon moor, dit is mos sy werk om met die vermoordes te werk.

Die kleredrag, meubels, motors en so aan is ook eie aan die tydperk waarin dit afspeel. Ek herken dit omdat ek die kleredrag en motors in my eie leeftyd beleef het. Klere en motors en grimering het so verander.

Die storielyn is na my mening lig en ek giggel nogal heelwat tussenin as ek kan voorspel wat volgende gaan gebeur. Dit maak die storie nie vervelig nie, inteendeel hulle doel is om mens by die storie te betrek.

Waarskynlik om simpatie uit te lok, maar dalk veel eerder net om ‘n swaar onderwerp ligter te hanteer. Waarskynlik ook om lewenslesse te leer …

Ons gaan die reeks beslis klaar kyk, al is daar goed in wat teen my beginsels is.

Die akteurs speel na my mening so effens te, so asof dit eers vir ‘n gehoor bedoel was. En om die gehoor saam te trek in die gebeure. Veral gedagtig aan die tussenspele waarvan ek vertel het.

Ek geniet dit.

Baie!

22 gedagtes oor “Why women kill – ‘n nuwerige reeks op DSTV

  1. Wens ek kon dit kry, ons het net ‘n paar kanale en SABC. Maar ons is nie televisiekykers nie en het vir meer as 20 jaar nooit een in die huis gehad nie.

    Byl verwys moontlik na baasspeurder Piet Beyleveld.

    Stories soos dié van Daisy de Melcker fassineer my. Heelwat vroue is gewelddadig, alreeds met die tong en met gesindhede, maar rand ook ander fisies aan. Mans rapporteer dit nie want hulle sal uit die hof gelag word. Intussen word baie mans vermoor en word hulle ingekerker onder enjinkappe in garages waar hulle lewende lyke gebalsem word met brannas en kouk. Party se lywe word ook vermoor. Sommige vroue is fisies gewelddadig, het dit ongelukkig al self gesien gebeur in ‘n gesiene, gesofistikeerde huishouding en in hoër middelklashuise.

    Op mannekampe sien ek die stukkende cowboys wat dáár kom hulp soek en heling vind.

    Geslagsgebaseerde geweld het meer fasette as net dié wat die hatige media aanblaas.

    Like

    1. Sjoe, Pete, jy laat my nou sommer anders na die artikel wat ek geskryf het kyk. Dit is waar, geslagsgeweld is nie ‘n grap nie. Dit is net op die oomblik lekker om die reeks te volg, ek geniet die aktrises in die reeks baie.

      Like

      1. Ek kyk graag Forensic Files, Medical Detectives. Jy sal nie glo hoeveel vroue moor nie, sommige is ongelooflik wreed. Ek kyk vir die forensiese wetenskap, want ek het in my vorige lewe forensiese oudits onderneem. Dis hoekom ek werk met feite en opinies minag.

        Like

          1. Waarop baseer mense opinies? Op persepsies, en persepsies kan soms baie verkeerd wees. Soos “alle wittes is rassiste” of “Madiba het SA gered.” As mens die feite ken, weet jy hoe misplaas die openbare mening is. Ongegrond.

            Like

          2. Menings, persepsies en opinies help om mense te verstaan, te weet waar foiut gegaan het en te verstaan hoe dit opgelos kan word. Die rassisme-ding sal ek nooit verstaan nie. Dit is ‘n tweesnydende swaard, nie iets waarvan ‘n groep beskuldig kan word en die ander groep nie.

            Like

          3. As mens met materiaal en wiskunde werk, ja. Nie as mens met mense werk nie. Wat vir een mens ‘n feit is omdat hy dit so beleef – die hoof haat my – is nie noodwendig die waarheid nie. Dit is ‘n persepsie, wat kan verander as dit ondersoek word en die oorsaak vir die persepsie gevind en aangespreek kan word. En Pete, vanuit ‘n kritiese mens se oogpunt, is wiskunde nie noodwendig reg nie, 1 + 1 is nie altyd twee nie. As dit nie afgerond is nie, kan die antwoord selfs 1 wees. ,5 + ,5 = 1

            Like

          4. Ja, maar mense soek nie die oorsaak van die persepsie nie. Min mense weet wat 1853 in Loopstraat gebeur het. Feite help regtig, ek sal ‘n kontroversiële stukkie uiteindelik moét skryf nadat ek sedert 2007 daaraan herkou.

            Like

          5. Dit klink of dit kan werk. Streng ouditprosedures leer mens om ten eerste jouself te stroop van vooroordeel.

            Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.