Gepubliseer in Reisjoernaal

Om aan te stuur, of nie …

Vandat die SARS-CoV-2 virus in Sjina ontstaan het, word ek gebombardeer met grappe en spotprente en spottende teks oor die virus wat vinnig oor die grense van Sjina na ander dele van die wêreld versprei het.

Aanvanklik was dit net langs ons, ons deel ‘n baie lang grens met Sjina. Dus was dit die afgelope drie maande elke dag intens in my gedagtes. Hoe gaan ons dit hanteer in ‘n land waar die mense so yl versprei is?

Hier is werkers uit Sjina sommer dadelik vir twee weke onder kwarantyn geplaas, hier kan nie kanse gevat word nie. Liewer twee weke in isolasie as om ‘n hele myngemeenskap aan te steek.

Qazaqstan het dus eers heelwat later die eerste gevalle aangeteken, maar my hart het gekrimp elke keer as ek sien dat die virus al nader aan Suid-Afrika kom.

Omdat mense nie hulle vakansies of kongresse sou uitstel of afstel om die verspreiding van die virus hok te slaan nie. Ten spyte van die feit dat Italië erg getref is, is ski-vakansies steeds onderneem. Om die virus so na Suid-Afrika te neem.

In Brittanje en Monako is die prinse aangesteek omdat hulle ‘n kongres oor die klimaat bygewoon het. In ‘n tyd toe die virus al oor Sjina se grense was. In ‘n tyd toe hulle al geweet het dat manne wat ‘n kongres in Singapore bygewoon het, die virus oor die land se grense gevat het.

Uit Suid-Afrika het die boodskappe met spot ingestroom. Moenie bubble wrap pop nie, die lug kom van Sjina. die virus gaan nie lank hou nie, Made in China. En so het dit aangehou.

Hulle het eers van die erns van die saak bewus geraak toe die staat die land se grense toemaak. Almal tot hulle huise beperk. Vir 21 dae, dit behoort genoeg te wees om die virus tot die draers te beperk. Toe eers is die erns van die saak besef. Bykans drie maande nadat Sjina die eerste gevalle aangeteken het. Drie maande van spot is uiteindelik verby.

Nou kry en aangestuurde boodskappe waarin oulike kleintjies vertel waarom mens die virus moet vermy. Liewers in jou eie huis moet wees.

Nou kry ek goeie boodskappe van predikante en rabbi’s wat moed inpraat, vertel dat God ons nie verlaat het nie, eerder bietjie tot besinning bring.

Nou kry ek boodskappe waarin goeie gebede, kort en kragtig, gebid word. Met versoeke om dit aan my eie vriendekring aan te stuur.

Nou kry ek elke dag statistiek oor die virus in Suid-Afrika. Hoe dit hanteer word en wie daardeur geraak word.

Nou kry ek nuwe inligting oor hoe die virus aansteek. En ja, dit kan tot 8 ure in die lug hang voordat dit uitsak aarde toe. Wat gebeur daar daarmee? Trap ons dit in ons huise in saam met stof en modder aan hierdie kant? Jy moet dus vir meer koes as iemand se hoes in jou gesig.

Hierdie boodskappe lees ek een vir een. Kry waarde daarin en voel die behoefte om dit aan te stuur.

Wat die gebede betref, weet ek net dat die Here ons verseker dat hy na gebede luister, ook waar een of meer vergader, daarom stuur ek aan.

Wat die oulike video’s van kinders betref, stuur ek aan. So kan mammas besluit om dit vir hulle eie kinders te wys, of selfs vir kleinkinders. Kinders doen veel makliker wat die portuur doen as om vir ouers te luister.

Wat die boodskappe van predikante betref, stuur ek aan. Sommige predikante verstaan nog nie die erns van die saak nie, ander dra die boodskap nie so goed oor nie. As ek dink dat ek by die persoon geleer het, die saak dalk uit ‘n ander lig ook kan beskou, stuur ek dit aan.

Wat die statistiek betref, kry ek daagliks verslag deur my susters, waarvan een ‘n hoogsgekwalifiseeerde suster is. Ek vind dit kosbaar, want my hart kry ‘n gerustheid dat duisende al getoets is en ‘n klein persentasie daarvan positief getoets het. Daar is hoop dat die hospitaal nie oorbevolk gaan wees wanneer my kleinkind gebore word nie. Dat my sus se lewe nog nie in gevaar is wanneer sy ander help oorleef nie.

Wat kure en hulp betref, stuur ek aan. Ek vind dat dit die moeite werd is om te toets, daar is nie ‘n kuur nie en dalk kan een daarvan net help?

Wanneer ek iets as waardevol gevind het, kliek ek op die aanstuurknoppie en kies uit my lys van kontakte vir wie ek die inligting aan moet stuur. Omdat my hart my lei.

En nou moet ek bieg.

Ek stuur dit nie aan al my kontakte nie. Ek gaan op die lysie af en kies per hand wie ek dink by die inligting, troos en statistiek kan baat. Nie dat ek dink dat ander mense nie daarby kan baat nie, inteendeel.

Die ding is net dat ek weens die aard van my werk duisende kontakte het. Sommiges is kennisse, ander vriende of familie en ander naby aan my hart. Mense wat my hart ken.

As ek aanstuur, neem ek nooit die eerste skrywer se werk oor en maak of dit my eie is nie.

Dit is plagiaat, iets waaraan geen navorser haar wil skuldig maak nie. Op klein skaal ja, maar plagiaat as ek iemand anders se mooi woorde neem en dit as my eie aanstuur. Daarmee misken ek die oorspronklike skrywer en maak of dit my eie werk is. As ek aanstuur, kan dit na die persoon teruggevoer word.

Soms antwoord die kinders van my dat dit ‘n ou video is, dat die goed op die rakke in ander tale geskryf is, dat die motors aan die verkeerde kant van die pad ry, dat dit ‘n ou storie is wat nou sommer weer vir die waarheid aangestuur word.

Dan voel ek dom, navorsers moet darem ook eers seker maak of iets waar is.

So gebeur dit dan dat ek iets lees, nie tyd het om te bepaal of dit eg is nie en dit nie aanstuur nie.

Al kon die inligting lewens gered het. Want ek is soms so besig met ‘n artikel dat ek nie my gedagtes op ‘n ander spoor wil stuur nie. Weet nie of dit ouderdom is nie.

Dan kom daar ‘n krisis soos die pandemie. En het ek die gevoel dat kennis mag is, dat ander maar later kan vertel dat die inligting verkeerd is, vir nou is dit net belangrik om my hartsmense in te lig.

Ek vermoed dit het iets met my liefdestaal te doen, om ander mense te probeer help maak my gelukkig. Daarom het ek ‘n juffrou geword. Toe juffrouwees nie meer lekker was nie omdat mens die hele dag voel of jy in ‘n hok sit en kinders jou met stokke steek om jou reaksie te toets, het ek die onderwys laat vaar. Om rus vir my siel te vind. Dit maak die passie nie dood nie, dit kanaliseer net in ander rigtings.

En dan kry ek ‘n boodskap wat ander kan help, gaan op my lys van kontakte af.

Kies my hartsmense, een vir een per hand, en stuur die boodskap aan …

Soos my hartsmense ook met my doen, hoop ekke. Dat ek ook op hulle lysie van mense is vir wie inligting, hoop en raad oor die virus gedeel moet word.

Foto: Ust’-Kamenogorsk vanuit ‘n ander hoek.

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

10 gedagtes oor “Om aan te stuur, of nie …

  1. Sulke soort ondersteuning deur middel van informasie, bemoediging, vertroosting, is van groot waarde gedurende hierdie tye waarin almal van ons maar redelik bang en onseker is. Dis goed om te weet iemand gee om en jy is nie alleen nie.

    Like

  2. Ek lees steeds jou stukke maar my “like” knoppie werk nie. Wil net laat weet dat als goed gaan onder omstandighede. SA situasie is beslis nie so kalm as wat dit lyk nie. Hier is alles gestop en ons sit tuis. Geen kontak met mense nie. Supermarkte is oop en net een een word ingelaat sodat daar genoeg spasie tussen mense is. Mooi bly daar in die koue wat besig is om warmer te word.

    Like

    1. Hi Scrapy, baie dankie. Ek is bekommerd oor die SA situasie omdat ek van mening is dat dit op ‘n ramp gaan afspeel as die informele nedersettings nie sosiale afstand handhaaf nie. Hulle kan in die drie weke aansteek en, sodra hulle na hullle werk terugkeer, mense aansteek wat sosiale isolasie gehandhaaf het. Bly dit gaan goed daar, hier is geen isolasie in ons dorp nie. Ek het egter gister begin om ‘n masker te dra. Self gemaak omdat dit ook nie hier te koop is nie. Dankie vir die inloer, mens het vriendelike geselskap nou baie nodig.

      Like

      1. Ek kry sommer n knop in my keel as ek aan SA dink. Dis n tydbom wat binnekort gaan ontplof. Daar is ook nie back up vir hulle nie. Ek weet maar nie. Gelukkig is dit hier redelik onder beheer. Daar is maar mense wat dikvellig is maar die polisie tree vinnig in om hul terug in hul blikke te druk. Ek skryf elke dag in my dagboek wat gebeur. My suster in Naboom kan nie haar pensioen kry omdat sy nie poskantoor toe kan gaan nie? Gevaarlike storie. Mooi bly .

        Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.