As die landlord ‘n Mi box TV wil insit …

Ek het al vertel oor ‘n paar insidente (goeies) tussen ons en die landlord. Hy en sy vrou verstaan nie Afrikaans of Engels nie, ons nie Russies of Qazaq nie. Dus is saamgesels ‘n probleem.

Aanvanklik het manlief se tolk vir ons getolk, maar toe sê die landlord nee, ons moet direk met hom praat.

So probeer ons toe op ‘n stadium om te reël dat ons ‘n garage vir Dusty op sy naam koop, ons mag nie op ons eie naam nie en huur gaan nie werk nie want die garages word onder mens uit verkoop. Dusty kan nie in die winter buite staan nie. Buite staan het uitdagings waarvan ons twee boertjies nog moet leer.

Hy stuur toe WhatsApp dit is reg, maar ons moet dan verstaan dat dit dan sy garage is.

Sy naam, sy garage. En toe besluit toe, nee, ons geld, ons garage. Die naam is blote formaliteit, dit is ons garage omdat ons dit nie op ons naam mag koop nie, maar beslis nie syne nie.

Dus besluit ons om latere drama te vermy en eerder verder te soek. Dusty het toe wel ‘n garage gekry. En van daar af is landlord nie meer so vriendelik soos aan die begin nie.

Gelukkig sien ons die man min. Van die begin af is die ooreenkoms dat ons min met mekaar praat. Ons betaal geld in hulle rekening en praat net met hulle as ons iets kort.

Dus praat ons min met mekaar. Ons kort min, koop self wat ons nog nodig het, maak reg wat blaas of oppak. Soos gloeilampliggies en drein. Koop ons eie stofsuier toe hierdie een nie meer wil werk nie.

Ek het wel een keer gevra vir ‘n hangkas in die tweede slaapkamer en gaas voor die een venster wat nie het nie. Manlief se baadjies word al meer en die winterbaadjies vat baie plek. En gaas voel so klein bietjie veiliger as heeltemal oop, geen tralies voor vensters nie. Ons geboue het mos nie tralies voor vensters nie, maak nie saak hoe hoog dit is nie.

Ek het die hangkas gekry, maar toe ek vra oor die gaas toe hulle uitstap, het sy vrou met haar arms iets beduie soos vlieg. Ek het nie verstaan nie.

Ek het ook nie weer gevra nie, weet nie wat sy daarmee bedoel het nie. Dat dit nie kan nie, want dit gaan afval en ver na onder vlieg-val? Of gaan ek deur die venster vlieg as ek weer vra?

Laasgenoemde is ‘n moontlikheid, dus het ek nie weer gevra nie. Ek het nie vlerkies nie … Buitendien, ek neem die mooiste sonsopkomsfoto’s deur daardie gaaslose venster.

Die foto’s sou ek nie kon neem nie omdat die gaas dit onmoontlik maak. En die vensters aan die buitekant nie baie skoon is nie. Ek gaan dit egter nie was nie. As ek gly, is daar geen tralies om aan vas te hou nie.

Nou die dag vra hulle vir manlief deur sy tolk of hulle maar die TV kan stop, dit is die kanaal TV wat in Russies is en ons nie verstaan nie. Ek kyk soms Engelse kanale, maar dit is dood en moord en Trump en ander verkiesings waarin ek nie belangstel nie. Dan sit ek Russies aan dat ek aan die uitspraak van woorde gewoond kan raak. En woorde kan leer ken.

Die TV sou soos ‘n groot swart oog teen my muur sit, toe weier ek. Manlief moes maar laat weet dat die TV nie kan gaan nie, ek leer Russies so tussendeur. Iewers het daar weer besprekings plaasgevind, manlief het tuis gekom en gesê dat ons ‘n ander soort TV kry. Basta daarmee, hy het geluister wat hulle versoek. Ek was vies, maar wat kan mens nou maak?

So paar aande gelede kry ons ‘n WhatsApp, is ons tuis?

Ons is ja, maar dit is laat, ons twee is al in ons nagkoebaai. Dit was Sondagaand en Sondae laat ek die kombuis maar oorstaan vir Maandag. Hy laat weet dat hy binne minute by ons is. Vir die TV.

Manlief weet weer nie dat nee ook ‘n antwoord is nie.

Dus is ek in my klere en kombuis toe om skoon te maak.

Vies omdat ek my laat ompraat het om vroeg te gaan slaap. Ons het die middag wors gemaak en ek sien speserye op die vloer, was toe sommer gou die vloer ook, dan is die werk vir Maandag sommer minder.

En wip my, soos altyd, uit my kassie toe manlief juis toe iets in die kombuis moet doen. Skoonseun het dit een keer by die rivier probeer en voor ‘n ultimatum gestaan toe hy nie verstaan nie. As hy oor my vloer loop voor dit droog is, was hy die vloere die volgende dag. Maklike oplossing om enige man te laat verstaan ek is kwaai, maar nie vir manlief nie. Manlief stap egter net voort en ek sis in sy ore dat die vloere nie droog gaan word nie. Ons albei weet mos hy gaan nie die vloer was nie. Ek dink daaraan dat ek so bietjie voel soos ‘n gans langs die dam, waarsku, maar hy gaan nie luister nie en ek gaan nie byt nie. Ewenwel, die huis was binne minute mooi skoon en toe die twee opdaag lyk alles in plek.

Die landlord haal baie tevrede ‘n piepklein boksie uit ‘n sak. ‘n Mi Boks.

Ek kyk die gedoente wat hy uithaal so, want dit lyk baie soos ‘n weergawe van ‘n Apple TV. Kleiner. Ek weet darem al dat die dingetjie ‘n dooie TV ‘n TV kan maak. Ons het ‘n Apple TV, maar ons het ‘n ekstra TV gekoop omdat manlief nie die plek kon kry waar die Apple TV met die TV moes konnekteer nie.

Ons glimlag vir mekaar, hy gaan sukkel, sy nuwe TV gaan nie werk nie. Die TV het nie ‘n koppelvlak nie. Landlord stoot my bank weg en probeer die TV van die haak teen die muur afhaak. Hy sukkel, manlief staan nader om te help, maar word met ‘n handgebaar weggewaai. Hy praat met sy vrou en sy tik op haar foon dat daar vertaal word. Die metaal stem vra ‘n skroewedraaier. Het ons so iets?

Manlief verstaan en vra ster of plat, die landlord dink daar is verkeerd vertaal want manlief verstaan nie. Hy kens mos nie Engels nie. Noudat ek daaraan dink, as daar vir my gevra is, sou ek waarskynlik plat gaan haal het. Nie eens aan keuse gedink nie.

Manlief stap maar kamer toe want ons het beslis ‘n skroewedraaier. Hy is soos ‘n seuntjie met sy ‘tools’. Elke keer as ons Komfort toe gaan, kort hy iets. ‘n Hamer vir tentpenne inslaan vir die koeltetent langs die kar as ons na die mere reis. ‘n Stel skroewedraaiers is beter as een. En toe ek weer sien, het hy binne ‘n jaar ‘n gereedskapkis gekoop en vol gemaak. Tot oorlopenstoe vol. So ja, manlief het ‘n skroewedraaier.

Hy kom triomfantelik met die hele kis te voorskyn, beïndruk die landlord daarmee, hy kan kies en keur watter een hy wil hê.

Manlief wil help, maar landlord se houding is bly net uit die pad, ek weet wat ek doen toe hy hom weer net met ‘n ‘tak’ wegwaai.

Tak is ‘n Russiese tussenwerpsel wat enige iets kan beteken van: laat ek net gou dink waar die plek is wat jy soek, tot wag ‘n oomblik, ek sit my brein in rat want jy verstaan nie …

Sy vrou probeer help en hy laat haar toe, seker maar omdat sy en hy mekaar se taal verstaan. Ek kom egter tog agter dat hy ‘n regte chauvinis is, kortaf met sy vrou ook, hy weet mos beter as sy.

Ongeskikkerig met manlief kan ek verstaan, mans is mos maar so as hulle sukkel. Altans myne. En hulle dink hulle kan dit beter doen. Of liewer, hulle werk makliker self. Dus sien manlief ook nie veel verkeerd daarmee nie.

Sy steur haar nie te veel aan hom nie. As dit ek was, het manlief al ‘n kyk gekry en as hy aanhou, het ek gaan sit en hom gelos om self te sien en klaar te kom. Anders kan ek oorborrel as hy voor mense so ongeskik met my is. Soos toe ons nog karavaners was.

As ons aankom, moes almal by die karavaan bly, dit moet eers opgeslaan word. Ek en die kinders wou help en alles regkry, ons was by die see. Vir ons part kon die opslaan die aand ook gebeur. Maar nee, ons moes eers daar bly.

Dan het ons ons handig gemaak en op punte begin om net klaar te kry. En raas gekry, ons moes wag tot hy sê wat ons mag doen. Sy karavaan, sy gereedskap (het ek al gesê hy is heilig op die goed, maar nie ook geskryf dat hy nie verstaan waarom die gebruik van my kleremaakskêr om enige iets anders as materiaal te sny ‘n onmiddelike ontploffing veroorsaak nie). Ek dwaal af.

Landlord haal die TV met ‘n groot gesukkel en ‘n gekreun en steun en ‘n tak elke nou en dan af en sowaar, daar sit die plek waar die Apple TV sou kon inprop. En ons het sowaar verniet ‘n hele nuwe TV gaan koop. Een wat nou in die kamer staan, iets wat ons eintlik nie moet doen nie. Of nee, dit was nie verniet nie, nou het ons ‘n Android en ‘n Apple TV.

Dit is buitendien in die winter lekker om maar eerder in die bed te wees as om soos twee kuikens op die bank in die sitkamer te sit en kyk. Ewenwel, die man prop in en stel die boksie vir ons in.

En raai wat? Toe hy deur die tale blaai sien ek Afrikaans! Ek kan dit sowaar stel dat dit in my taal is, Afrikaans. Hy kyk gesteurd op en wil by sy vrou weet wat dit nou is.

Ek staan op en gaan wys Afrikaans op die skerm. Hy tak weer en waai my weg. Hy is besig, ek moet kyk hoe hy YouTube instel op die TV.

Hy ken my egter nie so goed nie. Weet nie dat ek nie sy vrou is nie en dat ‘n wegwaai ‘n wegwaai is. Hy kan in sy noppies vlieg, ek stel nie belang in wat hy doen of wil wys nie. Sal later kyk as hy uit my huis uit is.

YouTube is onder sy naam ingestel, dus wys dit net Russiese videos. Hy sê ongeduldig manlief moet instel op sy YouTube, maar die ding is dat manlief nie sy eie YouTube het nie. Hy weet dus nie wat die man vra nie.

Ek het ‘n kanaal, maar gebruik dit selde. Sonder my bril is ek in elk geval ‘n nul op ‘n kontrak, kan nie wat op die skerm staan nie.

Woorde het ek nie, wys ek net nee ek gaan nie. Sy TV, sy probleem, ek sal later wanneer hy weg is die ding probeer uitsorteer. Anders as met ons Apple TV kry ek dit die volgende dag nie reg nie. Ek kan hom uitteken, maar ek kan nie inteken nie. As ek wil inteken is hy die enigste keuse. Dit kan ook sonder sy hulp opgelos word, hy het in elk geval nie geweet dat dit die probleem is nie.

Ek sien hy vererg hom, maar laas toe ek gekyk het, was hy niks van my nie. Hy kan maar gaan stoom afblaas by die huis.

Vir my kan hy nie hiet en gebied in my eie huis nie. Ek kon sien hy is gewip toe hy sê hulle loop, maar daai pla my min. Hy was meer as een keer ongeskik, het my weggewaai en dit is waar ek gaan bly.

So staan ek die volgende dag voor die TV. Ek kan op YouTube inskakel, maar ek kan net op sy naam inteken. Anders as die Apple TV is daar nie keuses vir meer as een intekenaar nie. As ek hom uitteken is hy uit, as ek weer wil inteken is hy die enigste keuse.

Ek weet ek kan Google om te verstaan hoe om die probleem op te los, maar ek kan ook vra. Weet jy hoe om dit te verander?

Intussen hou ek die TV aan, dag en nag, want ek verkyk my aan die mooiste foto’s wat vertoon word.

My eie veranderende skildery. In Afrikaans! Al is die taalgebruik so effens flou.

Daarvoor sal ek nie moeg kan word nie … Vir TV word ek gou-gou moeg.

4 gedagtes oor “As die landlord ‘n Mi box TV wil insit …

  1. Word die wi-fi verskaf deur die landlord, want jy moet dit koppel aan die wifi. Die MiBox is ‘n Android-stelsel en die landlord het dit heelwaarskynlik gekoppel deur sy eie foon, dis waarom jy sy YouTube sien. As jy nie ‘n androidfoon het nie, behoort dit nog steeds nie ‘n probleem te wees nie, want jy kan blybaar jou eie android en google-rekening skep. As jy nie weer kan inteken nie, kan jy probeer om ‘n factory reset te doen van die main menu af. Heel eerste kies jy jou preferred language (Engels gaan dalk beter wees agv al die terme) en dan volg jy net die stappe op die skerm. Hier is ‘n dokument op google wat sal help – https://beebom.com/how-set-up-use-android-tv-box-mi-box/ – maar moet asseblief nie jou wifi-konneksie of iets breek nie, want dan kom raas jou man dalk met my. Of anders moet jy dalk ‘n vriendelike buurman se hulp inroep.

    Liked by 1 person

    1. Hi Hester, baie dankie vir die raad. Ons het meer as een wifi, dus kan een maar sukkel as ek fout maak. Die een wat die landlord geen sukkel baie, toe koop ons ons eie een. So tussen die twee het ons darem gereeld wifi, soms sterk, soms flou. As dit flou is, gebruik ons ons fone as spots. Ek en die vriendelike buurman sal mekaar nie verstaan nie, en ek dink hy weet dalk min van tegnologie af. Het nie Android foon nie, wel rekenaar. Sal dit kan help?

      Liked by 2 people

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.