Sneeuspykers: die lekker wat ek nie wou toets nie

My een Suid-Afrikaanse vriendin hier het vir die winter gevlug. Laas jaar was genoeg vir ‘n leeftyd, sy het die hele winter in Suid-Afrika gaan woon. Hierdie winters is nie vir haar nie. Ek verstaan dat dit verlede jaar baie kouer was as vanjaar. En ek het simpatie met haar.

As die temperatuur laer as -15ºC raak, weier ek om uit te gaan. Dit was laas jaar blykbaar gereeld laer as -20ºC. ‘n Onmenslike temperatuur om buite te wees. My oogballe word dan selfs koud. En lank nadat ek terug in die huis is, voel ek dit steeds as ek my ooglede toemaak. Die ysige koue oogballe, so koud dat dit my ooglede koel maak.

Sy het egter spesifiek die winter vermy oor die gladde sneeu waarop mens kan gly. Dit verstaan ek ook. Verlede winter het dit baie minder gesneeu. Dus was die strate net vol ysige sneeu wat nie kan smelt nie omdat die temperatuur nie bo zero wou styg nie.

In ons huis sou dit ongekende oorlog veroorsaak het. Want manief wil stap as dit so koud is.

Ek weier.

Dus het ons hierdie winter elke naweek as dit so koud was, goed vasgesit. Hy wil nie alleen dorp toe nie, ek wou nie weer waag om my vingers aan die koue lug bloot te stel nie. Omdat vriesbrand my defnitiewe voorland sal wees, dit het ek mos reeds beleef!.

Weet jy hoe koud is -20ºC? Ek kan dit nie eintlik verduidelik nie, maar ek gaan tog probeer. Druk jou hand in die vrieskas en hou dit ‘n rukkie teen die ys teen die kante. As daar is. Daardie koud is maar -18ºC. En dit is die koud wat teen ons gesigte voel as ons buite stap as dit -18Cº is. Glo jy my nou dat oogballe koud kan word?

Ons het die afgelope 4 maande op ys gestap as ons buite is. En my tone het die eerste ruk verkluim. Manlief wou my buite hê. Was bang dat ek aan kajuitkors sou begin ly.

Nee, ek sal nie.

Wie ly aan kajuitkoors as jy veiliger in jou eie huis is as buite?

Het Rooikappie en die varkies aan kajuitkoors gely toe die wolf buite geraas en blaas het? Aikôna, ek twyfel of hulle het. Hulle was dankbaar oor die skuiling wat die huisie gebied het toe wolf buite was.

Ekke ook. My huis is snoesig, ek loop met bandjiesbloese en kort broeke in my huis rond. Buite was dit nie snoesig nie. Buite kan mens verkluim. Hier weet mens dat Racheltjie de Beer nie ‘n verhaaltjie uit iemand se verwronge gedagtes is nie. Hier weet ons dat mens wel sal kan verkluim.

Hierdie winter was warmer as laas winter, maar ons temperature was vir maande lank ver onder -10ºC. Warmer weer het met meer sneeu gepaard gegaan, daarom het ek maklik buite gaan stap as dit sneeu.

Die korreltjies of vlagies of vlokkies sneeu gaan lê op die bevrore grond om ‘n vlak te skep waarop mens nie sommer gly nie. Dit is ook aansienlik warmer, selde onder -7ºC as dit sneeu. Salig in hierdie land Al dink elke Suid-Afrikaner dat dit baie koud is.

As die sneeu ophou, word dit koud. Onmenslik koud. En die wind waai huilend om die hoeke soos die wolf om Rooikappie se huisies. Seker maak in die hoop dat hy warmer kan word as hy ons uitlok omdat hy van ons hitte kan steel.

Ek lag dan vir die wind, 1,2,3 blok myself.

Veilig in my huisie, gaan waai oor die berge, los my uit.

Nadat dit gesneeu het, word die sneeu weggeskraap om loopvlakke vir mense te skep. Het ek al gesê dat daardie arme mense wat dit doen, medaljes kort?

Hierdie loopvlakke word seepglad soos mense oor dit stap. Veral wanneer die son sy luiheid vergeet het. En die boonste laag so bietjie laat smelt het. Saans as die son weg is, vries dit weer. Om die volgende oggend so glad soos seep vir ons te wag.

Ek kla nie oor die wind nie, dit moet ek ook eers vertel. As die wind nie waai nie, is ons lug erg besoedel. Omdat ons in ‘n kom lê. Dan kan ek nie die vlag op ons Hollywoordagtige Qazaqstanberg sien nie.

En dan het ek ‘n baie seer keel. Vergelyk sommer met hierdie foto om te verstaan waarom ek die wind, hoe koud ookal, bo geen wind verkies.

Die Qazaqs verwys liefdevol na hierdie berg met sy Kazakhstan teen die hang as die Hollywoordagtige berghang.

As dit koud is, val mens maklik omdat jy op die seepgladde ys kan gly. Ek het gedog dat ek goed moet keer omdat ek ‘n arm of nek of been gaan breek as ek val. Toe nie. Ek het nie een daarvan gebreek toe ek minder as ‘n week voor ons ‘n jaar hier gewoon het, wel geval het nie.

Tot toe het ek geleenthede om te val beperk. In my huis gebly as dit nie sneeu nie. En uitgegaan om buite te stap, soos die voëls ook maak. Hulle baljaar in die sneeu wat val.

Ek het buite stap vermy omdat ek so maklik op die gladde dele gly. Gewoonlik gly mens se voet nie te ver nie, maar dit is ‘n onaangename gevoel as jy jou voet dankbaar neersit en die volgende treë waag. En weer gly.

Ek moet egter bieg dat die vier maande vir my lewenslank gevoel het. Die vriendin van wie ek praat, het gesê dat ek vir my spykerskoene moet koop. Soos die soort in die regterkantse hoek van die foto hieronder.

Ek het die winkel in die somer reeds gaan soek. En gekry. Die skoene het ‘n spesiale gereedskappie wat saam met jou moet gaan waar jy gaan. Want die rooi dele moet daarmee omgedraai word om die spykers te ontbloot, of weer netjies te bêre. Ek sou dit in my handsak kon saamdra, want sy gaan waar ekke gaan.

Ek het dit oorweeg om hulle te koop. Regtig. Al het die skoene meer as R2000 gekos. Goedgespandeerde geld het ek myself oortuig, ek het mos net een paar skoene nodig? So oortuig ek manlief om saam te gaan, om vir ons twee te koop.

Daar gekom kry mens dit net vir vrouens en kon ek myself net nie oortuig om veilig te wees en hy nie. Dus sou ons dit nie koop nie. Buitendien, hoe verander mens die goed in die straat voor jy in en uit sentrums gaan? Ek is seker dat dit mens sou laat gly om die blink marmerteëls in die enigste sentrum wat ons tot toe gehad het.

Ek toe dink ek aan my stryd met inklipskoene vir my bergfiets.

Wou die goed nie hê nie, kon dit nie regkry om maklik in en uit te klip nie. Ek het my tekkies se growee sole op ‘n outydse trap verkies.

Ten spyte daarvan dat ek my atlete geleer het om nie vir ‘n groot ren met nuwe skoene op te daag nie, het ek my inklipskoene die eerste keer op ‘n bergfietsbaan uitprobeer. Omdat manlief syne gebruik het. En ek het darem redelik goed in die gym op die spinfietse daarmee oor die weg gekom.

Wat ‘n fout!

Of sal ek sê reeks foute?

Eerstens het ons verkeerd geoefen. Ons twee het by die rivier grondpad geoefen, ribbebeen en al. Lang, plat grondpad. Twintig kilometer op ‘n keer tjop-tjop platgedraf.

Ons het ons tye geneem en oe jitte, ons sou die kinders ‘n stryd kon aansê, hoor, ons tye was goed. Lekker in ‘n droomwêreld geleef.

Ons het mos nie geweet hoe die roetes lyk wat oorywerige adrenalienjunkies vir mens uitlê nie?

Die skoene het ingeklip en geweier om weer uit te klip. Toe ek die resies begin. Ek was op die fiets vas. Ons was een. Ek, wat my voete afgooi en rem as ek nie vir ‘n plek opmdie pad kans sien nie. Veilig op my eie bene daaroor stap en dan eers weer opklim. Ek en my fiets was een, ek het haar naam nou vergeet, was iets soos Juliet en onthou net wat haar lot was …

Liefdesverhoudings met Juliets eindig nie goed nie. Ekmwas darem nie Romeo nie … dus het ek seker ‘n kans gestaan om lewendig uit die situasie te kom?

Ons is deur dik sand en ek wou af en stoot toe dit begin gly, maar nee, die voete was in, ek moes op bly.

Toe maak die pad, as mens dit so kan noem, so wye draai en voor my oë lê ‘n dun damwal waaroor ek moes gaan. Ek kon nie af nie, selfs as ek maar val om van die trappe los te kom. Ons was reeds op die wal.

Aan die een kant was die bome se toppe my hoogte, ek kon nie waag om daai kant toe te val nie.

Aan die ander kant diep genoeg af dat ek ‘n nek gaan breek en beslis ‘n been soos dit saam met die wiel om en om draai terwyl ek val. Of daarna.

Ek het gebid vir genade en hulp, ver voor my gekyk soos wat mens maak as jy leer bestuur om nie heen en weer te ry nie en die ander kant veilig bereik.

Ek het geen idee hoe ver dit was nie, al wat ek weet is dat ek by ‘n boomstomp gestop het. Vasgehou het en my een voet met mag en mening uit die trap gepluk het.

En toe die ander een. Die gereedskapkassie agterop my fiets afgehaal het die klips afgehaal het.

Die res van die 20km het ek met die harde skoene op die trappe probeer bly. Daai inklipskoene is mos basies onbuigbaar. En kliphard en glad onder. Geen vastrapvlak vir ‘n trap nie. Die klips moes dit doen.

As die pad effens stamp, is die voet af, die ritme uit en moes ek weer begin sukkel om spoed te kry. Maar halleluja, ek was veilig.

Die Magaliesmonster was ‘n monster. Het jy hom al gery? My eerste eens was sommer die 20 km een. Kinders het gewaarsku, ma, nee, vat die 10 km. Maar ek en manlief het mos in dwaal geleee, ons kon 15 km maklikmkaf draf.

Ons was baie dom om te dink dat ons die kinders kan wen.

Dit was 2010. Nou is dit 2020, ‘n dekade later en hierdie storie is anders, maar ook eenders.

Hierdie keer het ek die spykers nodig om my voete op die grond te hou. Almal om my het die “oeps” gehoor as ek amper val, maar nie het nie. Ek kyk so vir die mense om my, hulle gly ook. Maar val ook nie. Die kinders loop selfs soms so gly-gly asof hulle op ‘n skaatsbaan is. Moeilikheidsoek het ek gedink. Want ek lees gereeld van valle wat mense in hospitale laat beland. Hier!

En toe val ek. Dit was so vinnig dat ek op my heup was voor ek besef het dat ek val. ‘n Russiese vriend het my opgehelp, manlief het nie gesien nie. En ek kon nie op my eie op nie, my voete het onder my uit bly gly.

Daardie duur skoene gaan ek nie koop nie, ek het reeds ontdek dat hulle nie dik genoeg vir die winter se koue is nie. Ek het baie dik skoene nodig. Ook nie van leer nie, want die leer bly koud. Myne is van dieselfde materiaal as baadjies gemaak. Hulle weerstaaan -20C se koue. Net-net …

Dus moes ek ander plan maak.

‘n Qazakvrou op Instagram het so ruk gelede aanklipspykers aanbeveel. Mens koop dit blykbaar op die mark. Dit het beter as die aanklipskoene geklink, maar ek het nog nie geval nie. Dus was die nood nie groot genoeg om op ‘n baie koue mark in koue, bevrore gangetjies te gaan sukkel om regop te bly nie.

Toe val ek mos en word dit noodsaaklikheid om die spykers te probeer.

Saterdagoggend oortuig ek manlief om by Limpopo te gaan stop. Dit is een van twee groot sportwinkels in Ust. Die ander een is Sportmaster.

Hy gaan nie saam in nie.

Ek stap in en weet ek weet nie hoe om te vra nie. Ek ken nie Russies nie en die kans dat hy Engels verstaan is baie naby aan zilts. Vies omdat ek nie in die kar die nodige vertaalwerk op my toep gedoen het nie.

Lig my voet op en vra spikes? En hy verstaan.

Vat na na rak met drie bokse (sien foto), bekyk my voete en kies die L vir my.

Ek weet my nommer 5 is groot vir ‘n vrou, my dogter dra ‘n 4’tjie. Maar as hy nie S (klein) wil gee nie, gee dan M (nog nie so groot nie).

Ek kyk hom aan en vra met oë gaan dit vir my pas?

Hy verstaan, haal uit, gee aan en ek moet aantrek oor my stewel.

Dit pas en daar gaan my ego. Hy glimlag, ken sy klante …

Vra die ander pakkie, dit is XL en ek kies dit ook, manlief gaan ook moet kry. Ek is beïndruk, die paar aantrekspykers het tot ‘n swart drasakkie daarvoor.

Die snaakse deel bo gaan oor die stewel se punt, die trekplek agter help om dit oor die hakke aan te trek.

Toe ons Dusty bêre, trek ons dit aan en stap van Dusty se garage af huis toe.

Hemels, ons kon groter treë gee, die spykers druk in die ys in en ons gly nie. Ek kan opkyk, want ek het in die vier maande dienQazaqstyl aangeleer. Oë op die grond, stap net reguit aan, die waaghaliges kan maar opkyk en botsings vermy.

Ons stap gemaklik tot by die woonstel en dit haal maklik af toe ons op die trappies van die gebou kom.

Sondag is ons na die park toe, die een waar kanonne en ander oorlogveterane erestatus gekry het. Ons stap gemaklik, oral oor die gladde en minder gladde sneeu.

Foto: Bo my spykers onder die skoen en die deel oor my warm stewels. Ons tekkies lyk amper soos Dusty s’n. Vol blinkertjies op die trapvlak. Maar ons is veilig, soos Dusty met haar spykerwiele. Res van die foto’s in die park geneem, ek sal meer deel wanneer ek ‘n kansie kry.

Ons het ‘n jaar gevat om te besluit om die lekker te toets …

Wat ‘n mors van tyd …

7 gedagtes oor “Sneeuspykers: die lekker wat ek nie wou toets nie

Laat 'n boodskap na Dr Christa van Staden Kanselleer antwoord

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.