Dit is ys en nie klippe nie …

Ons woon nou 10 dae langer as ‘n jaar in Öskemen. In die tyd het ek geleer hoe warm dit hier kan wees, maar beslis ook hoe koud dit hier kan wees. Koud is baie erger as warm, ons het al -38ºC beleef. En raai wat, ten spyte van my vrese dat ons in yspilare gaan verander, het ons nie.

Ons het die eerste winter oorleef. En glo my, as iemand begin Desember 2019 vir my gevra het of ek hier gaan bly, sou die antwoord ‘n besliste nee wees. My vingers was seer na die ligte vriesbrand wat ek ontwikkel het en ek was bang vir buite wees.

Die paar weke in Suid-Afrika in die middel van die winter het mens weer tyd gegee om perspektief te kry. Dit is die moeite werd om die drie jaar hier te bly, ek moes aanpas.

Dit is koud, ja, maar koud kan oorleef word.

Ons het koud oorleef.

Ons kan die winter oorleef en perspektief kry. As ons vir ‘n paar weke na die sonnige Suid-Afrika terugkeer. En dit is presies wat ons gaan doen, want dit is noodsaaklik om ons vitamien D aan te vul. Is dit nou nie ‘n lekker verskoning nie?

Hier skyn die son in die middel van die winter vir minder as 7 ure per dag. En sulke lang nagte gee die son te min kans om die aarde te probeer warm maak. Terwyl die sonkoningin elke week kom kuier en ‘n laag sneeu bo-oor alles gooi. En as die wind daarna oor die sneeubedekte aarde jaag, vries ons as ons buite kom.

Is gooi ooit die regte woord? Sy strooi dit liggies oor. Soos die chefs maak wanneer hulle koeke met los versiersuiker bestrooi. Dit word egter hier so dik gedoen dat gooi wel ‘n goeie beskrywing kan wees.

Interessant genoeg kry die sneeu nie regtig kans om in die tonnels onder die woonstelgeboue so dik soos buite in te waai nie, maar elke keer word ‘n lagie sneeu wel deur die wind ingewaai.

En hierdie sneeu vries snags vas. Omdat dit ver laer as subzero word. Eintlik dubbeld so koud soos in my vrieskas. En julle weet tog dat vleis in daardie temperatuur reeds bevrore bly?

Natuurlik ook omdat die son nie in die tonnels inskyn nie.

Hierdie sneeu word deur die bande van motors wat daaroor gaan verfrommel en verdraai. Om later soos seepgladde stukkies rivierklippe te lyk.

Dit is nogal ‘n hele proses om van die een kant na die ander te stap, want mens gly op hierdie yspunte. En ek doen baie om seker te maak dat ek nie hierop gly nie. Ek dink dit kan ‘n paar blou kolle op ‘n heup- of boud instamp.

Veral omdat ons nou begin om die jasse eenkant te sit. Ons boude word nie meer deur die sagte kussings van jasse beskerm nie.

Dit is tyd om lente te groet.

Hmmmm, moet ek byvoeg dat net bo subzero lente is? Daai voel vir my soos SA winter? Wel, hier is dit lente en dit is heerlike temperature om buite te wees. Mens vergeet maar dat jy nie sandale en rompies kan dra nie.

Laat ek nou nie so pedanties wees, soos Paula in 7de Laan sou sê nie.

Wie wil nou stry dat Maart lente in die noodelike halfrond is?

Dit is lente en ek dink ek en manlief is so opgewonde soos skoolkinders omdat ons nou buite kan stap. Ons gaan sommer oral stap …

3 gedagtes oor “Dit is ys en nie klippe nie …

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.