Ons het in die hoëveld na aanhoudende, deurdringende reën as geelperske reën verwys. Sagte reën wat soms dae lank kon val. Soos wat dit op die oomblik by ons val. En dit bring herinneringe aan vervloë dae …
Hmm, vervloë? Daardie een sou seker vir meneer Marais genoodsaak het om vir my ‘n goeie punt vir my opstelle te gee. Maar ek wonder, volgens hom was my maatjie die enigste ene wat opstelle kon skryf.
Die eerste herinnering is aan my hoërskooljare. In sulke reën het ek en my sus net jonger as ek ons reënjasse aangetrek en op ons fietse geklim om die kilometers na Ermelo hoërskool kaf te trap. Ek dink ek het al oor die afstand geskryf. Ons het oorkant die vendusiekrale op ‘n plot gebly. En die skool was presies aan die ander kant van Ermelo.
Met geen kortpad daarheen nie.
Soms het ons die grondpad regs om gevat en deur die dorp gery om by die skool te kom. Maar, die meeste van die tyd het ons linksom verkies en die grondpad tot by die Camden/Piet Retetief pad gevat en aan die skougronde se kant die dorp binne gery. Daar was een geweldige afdraende af die dorp in – wat smiddae een geweldige opdraende terug huis toe was.
Maar, ons het dit gedoen. Eerder as om sstop-stop deur die dorp te ry.
Ons het ons fietse bo my ma se vervoer verkies. Om verskeie redes. Een daarvn was dat my ma ons met die verflenterde plaasbakkie skool toe geneem het, waarvoor ons twee oudstes om verskeie redes skaam was. Nie omdat die bakkie oud was nie, maar omdat ons twee oudstes agterop moes sit sodat die drie kleintjies by my ma kon sit.
Maar dit was nie die enigste rede nie, my ma het dit veel erger gemaak deur ons laat reg by die plek waar opening gehou word af te laai. Dit nou nadat die kleintjies, wat die rede vir die laat was, eers by hulle skool in die middel van die dorp afgelaai is.
Nee wat, dan trap ons eerder ons fietse om betyds by die skool te wees. Interessant genoeg het ons twee juis beroepe gekies wat van mens vereis om betyds te wees, naamlik verpleegster (sy) en onderwyseres (ek). Ek verpes dit steeds om laat te wees, my sus het nie veel erg aan tyd nie.
Ek onthou hoe die reën mens in jou oë gepiets het, maar ook hoe ysig my hande was wanneer ek by die skool aankom. Ons het handskoene gehad, en ek het dit later nie meer gedra nie omdat ek my horlosie oor een aangesit het en dit so by die fietsloods verloor het. Toe ek na opening gaan soek, was dit net weg. Ek dra steeds daagliks ‘n horlosie, al is dit nie meer so noodsaaklik om iewers betyds te wees nie.
Die tweede herinnering is aan vroeg 1988. Ek het al vertel dat twee van ons motors afgeskryf is in 1987, een gesteel en een afgeskryf weens ons ongeluk. Dat ons toe ‘n mynmotor gekry het omdat manlief bevorder is. En dat die motor ook gesteel is en dat ek daarvan sal vertel.
Wel, dit het vroeg 1988 gebeur. Manlief was by opleiding in Johannesburg. Ek en die twee kinders het op die bus geklim om hom in die groot stad te ontmoet. Vandaar sou ons Ermelo toe vir ‘n week. Seun was babatjie, hy is Desember 1987 gebore. En dollatjie was so vyf jaar oud. Ons almal het net mooi herstel na ons karongeluk die vorige jaar waartydens haar bobeen, my nek en pa se dele van sy rugwerwels gebreek is.
Dit was voor selfone, so jy kan net dink hoe goed ons moes beplan om mekaar wel in die groot stad te kry. Dit was nog vroeg en ons het besluit om eers ‘n deel van ‘n groot gholftoernooi te kyk. Ons het alles in die kar gelos, pa se tjekboek – ja, dit was voor die stelsels wat ons nou het, al die kinders se klere vir ‘n week by ouma en oupa op die plaas, al my en manlief se mooi klere. Toe ons terug stap na waar ons geparkeer het, was ons kar weg.
Baba was darem in sy waentjie, maar banke was besig om toe te maak. Ons het na ‘n bank gestap en kon sonder identifikasie of tjekboek genoeg geld trek om babadoeke en treinkaartjies terug na Welkom te koop. Op die stasie het ek kalamari gekies en dit was so sleg dat ek nie geëet het nie. Baba was darem op ma se bors, dus hoef ons nie vir hom ook kos te koop nie.
Ons trein het deur die nag na Welkom gery, ons sou vroeg oggend daar wees. Dit het die hele nag deur sag op die treindak gereën, so sag dat ons eintlik heerlik geslaap het, maar ook koud gekry het.
Onthou, ons het net die klere aan ons lyf gehad, geen tandeborsels, kamme, niks nie.
Die volgende oggend het ons die skok van ons lewe gekry, ons kan nie huis toe gaan nie. Die sagte reën het landwyd geval, en die treinbrug by Kroonstad is oorstroom. As jy al ooit na Welkom gery het vanaf die N1 net na Kroonstad afgedraai het, sal jy ons ongeloof verstaan. Jy ry dan onder deur die treinbrug en dit voel steeds absoluut onmoontlik dat die water bo-oor daardie treinspoor kon vloei. Maar, dit het!
Die kondukteur het ons twee keuses gebied: Hy kon ons gratis terugneem Johannesburg toe (wat my toe vir die eerste keer laat huil het oor die ongerief, ons wil nie teruggaan nie) of ons kon op die teein op die stasie wag tot die water sak.
Manlief is af die dorp in (Kroonstad) om by Pep vir ons elkeen ‘n warm trui te koop. En tandeborsels dat mens darem goed kan voel. Laat middag het die water genoeg gesak dat die trein oor die brug kon gaan, maar ek het dit steeds gesien toe ons oorry. Daar was geen pad nie, net ‘n watermassa.
Ons het die vorige aand met vriende gereël om ons by Welkomstasie te gaan afhaal, maar die terin kon nie Welkom toe nie. Welkom was oorstroom, dit het ons in Hennenman afgelaai. Daar moes ons die vriend weer bel, kom haal ons asseblief in Hennenman.
By die huis gekom, moes ons inbreek, ons sleutels was mos ook in die kar.
Ek wonder of ek al ooit daarna so bly was om weer by my eie huis te wees. In my eie bed te slaap en ander klee aan te trek.
Ons rivierhuis oorstroom ook as dit deurdringend in die Vaalrivier se opvangsgebied gereën het. En die bestuur van die dam draai voordat hulle sluise begin oopmaak. Dit is dan baie vreemd, daar is dit kurkdroog, terwyl ‘n massa bruin water stadig hoër en hoër styg om die huis uiteindelik binne te gaan.
Ek het al daaroor geskryf, sommer baie.
Hier is foto’s wat ek van die 1988 vloed in Kroonstad kon vind.
Geelperske reen … Anton Goosen sing mos ‘n liedjie hieroor. Ek kan nou net die eerste reel onthou: “As die geelperske reen veertien dae in die boorde val, in die Wes-Transvaal”. Jy het sulke lekker (en dalk ook minder lekker) herinneringe opgeroep van jou geelperske reen onthou oomblikke. Ek hou van die fiets ry skool toe storie 🙂.
LikeLiked by 1 person
Ag dit is lekker, ons het sulke dikwiel swart fietse gehad. Joune?
LikeLiked by 1 person
Goeie herrinneringe, Christa, goeie tye. Om so veilig te kon fietsry is iets wat min kinders deesdae kan waag. Ek moes glimlag vir die skaamwees deel, ons het in die laerskool ñ yslike Ford gehad. Een met sulke vlerke. Ek het plat op die agter sitplek bly lê tot my ma in die parkeer area gestop het. So asof almal nie tog geweet het dis ons nie.
LikeLiked by 1 person
Oe dit is baie snaaks, Una. terwyl ons ouers heel baie van hulle rydinge gehou het.
LikeLiked by 1 person