Sonvanger op Ys

So beskryf Pete, een van my blogvriende my onlangs in ‘n antwoord op een van my plasings.

Sonvanger op Ys.

Ek kyk so na die beskrywing en wonder so by myselwers of hierdie beskrywing gepas is. Is dit?

Die op ys gedeelte is wel waar.

Ons stad is sedert November 2019 ‘n stad met bevrore paaie.

Januarie 2020. Sneeustorm oorval manlief op pad terug van Shemonaikah

Kyk hoe blaas die sneeuskraper daar voor die sneeu van die hoofpad af. Verstom my dat hy die sneeu so links oor die pad gooi en nie na regs.

Sneeu is soos stof, kan jy dit oorvertel? Ek was so bekommerd toe manlief Vrydag die pad van die myn af aanpak, ‘n erge storm is voorspel.

Ek het gewonder hoe die mense, maar veral manlief se drywer, weet van erge weer. Toe hulle die vorige keer op pad myn toe was, het die drywer omgedraai. Hy is laat weet dat die pad vorentoe toegemaak is. Man, ek was beïndruk daarmee.

Maar dit het gekrap. Hoe de ongeluk het hulle geweet hy is op daardie pad? Om hom te laat weet dat sy pad vorentoe toe is. Qazaqstan was voorheen onder Rusland se beheer, dus ‘n kommunistiese bestel. Was nie lekker om daaraan te dink dat Big Brother (of is dit nou Mother) mens dophou nie.

Ek wou weet hoe die drywer geweet het. Manlief het gesê dat hy dink dat die drywer se maatskappy hom dalk laat weet het dat hy moet omdraai.

Nou weet ons uiteindelik hoe dit werk.

Ons kry gereeld sulke Qazaq/Russiese sms’e op ons fone wat iets van die weer vertel. Maar ons vertaaltoeps wou dit nie vertaal nie. Dus het ons ons ook nie daaraan gesteur nie.

Vrydag gooi ek dit weer in die toep, want daar het iets van Shemonaikah gestaan. En manlief was in die storm op pad huis toe.

Uiteindelik het die vertaling gewerk. Ons word per sms laat weet van slegte weer. Regoor Qazaqstan. Van alle paaie wat toegemaak is ook.

Manlief het reeds vroeg laat weet dat die pad tussen die myn en die dorp toegemaak is net nadat hulle daardeur is. Toe was hulle ‘n paar uur op die myn vasgekeer.

Toe die pad oopgemaak is, het hulle dadelik begin ry. Want ‘n driedaagse storm is voorspel. En hulle het van die storm af weggery op pad huis toe.

En toe kry ek die sms vertaal. Die hoofpad tussen ons en Shemonaika is toegemaak, met wind wat 15m p/s gewaai het. En hulle was op daardie pad.

‘n Paar motors het langs die pad vasgeval omdat hulle nie winterwiele op het nie.

In een daarvan het ‘n jong man gesit wat van die twee vrouens saam met hom verwag het om die motor in die ysweer teen die bult op te stoot. Dit het nie gewerk nie. Hulle wou ook nie die twee Qazaqs saam met manlief se raad vat om na veiligheid om te draai nie.

Op ys? Ja wel, ons stad het sedert November bevrore strate.

Januarie 2020, Kazakhstanstraat, Oskemen ala Ust’-Kamenogorsk

Die sneeu hoef nie lank te val nie voordat die strate in wit gehul is nie. Kyk hoe hoog is die geskraapte sneeu al teen die kante opgehoop.

Op ys? Ons stad het sedert November bevrore sypaadjies.

Kazakhstanstreet, January 2020

Die paaie en loopvlakke word daagliks oopgeskraap nadat dit gesneeu het.

Die res word gelaat omdat dit nêrens heen kan gaan nie. As die hope te hoog raak, kom trokke dit oplaai.

Onder hierdie dik laag ys langs die kante van die sypaadjie is blombeddings. Wat voor die eerste sneeu reeds bewerk is. Sodat die saadjies geplant kan word sodra die sneeu gesmelt het. Om die strate met blommeprag te versier. In die somer. Hoe pro-aktief is dit! Positiewe mense, die Qazaqs.

Op ys? Ons ondergrondse garage se ingang se buitedeur, muur en oproldeur is bevrore.

Buitdeur van die ondergrondse garag, Januarie 2020

Hmmm, laat dit jou nie aan ‘n vrieskas dink wat ontvries moet word nie? So lyk die binnemure waar die garage bogronds is.

Bogrondse deel van die ondergrondse garage se mure vries

Selfs die oproldeur van die ingang is bevore.

Bevrore oproldeur Januarie 2020

En ja, Pete, ek is dan seker ‘n sonvanger, want ek moes net terugdraai om die foto van lig te neem toe ek afstap na ons garage toe.

Die garages is dieper as 1,8m ondergrond om motors warm te hou

Op ys? Kinders se speelparkies in Ust’-Kamenogorsk is bevrore.

Tulippark se speelpark vol sneeu, Januarie 2020

Op ys? Ons Irtishrivier se een draai is ook bevore. Wit van die sneeu.

Sytak van Irtishrivier Januarie 2020

En hierdie sonvanger vang die skaam son gereeld op foto’s vas,

En kan jy glo? Die hele Oskemendam is bevore, met wit sneeu bo-op die ys na die daelange sneeu.

Bevrore Oskemendam, Januarie 2020

Hierdie sneeu voor die muur is so dik dat ek nie wou waag om op die enkele spore te trap om nader te gaan om ‘n foto van die dam te neem nie. Of wag, ek het, toe vlieg ek om toe my voete dieper wil insak.

Op ys? Kyk hoe lê die skepe in die bevore water met sneeu daarop!

Oskemendam se hawe, Januarie 2020

Ons het hierdie tyd verlede jaar kom kyk hoe Oskemen lyk.

En tog besluit om te kom. Al was dit -38 grade Celsius in die nag, bedags net onder – 30 grade Celsius. Ons is goed ingelyf, want die temperatuur het na -38 grade Celsius gedaal, maar mens het dit nie aan die lyf gevoel nie.

Ons het vinnig uit geboue in wagtende motors geklim en is weer voor geboue afgelaai om in verhitte winkels in te gaan. Die land is goed toegerus om mense lewendig te hou in temperature laer as die van my vrieskas, wat op -18 grade Celsius alles bevrore hou.

Die wit stad was Januarie 2019 vir my prentjiemooi. Selfs die bome was wit.

Toe ons in Maart hierheen getrek het, het die sneeu reeds goed gesmelt. En was die paaie en sypaadjies ontvries, met stukke swart ys wat jou op jou alie kan laat sit as jy dit miskyk. Dit was vrieskaskoud. Maar die mooi wit was weg, die sneeu het vaalgrys vertoon. En ek het in Januarie nie regtig foto’s geneem nie.

Dus was ek vreeslik opgewonde oor die eerste sneeu wat in November begin val het.

‘n Paar dae later het al my enstoesisame soos mis voor die son verdamp toe ek binne vier minute ligte vriesbrand (frostbite) in al my vingers gekry het toe ek vinnig uitgewoerts het om ses foto’s buite te neem terwyl dit -28 grade Celsius was.

So vinnig soos wat ek die knoppie ses keer gedruk het om ses foto’s te neem. Lig genoeg om nie blywende skade aan te rig nie. Erg genoeg dat die dokter my gemaan het om nie weer eers drie dae later hulp te vra nie. Dit is nou te sê as ek steeds vingers wil hê. Seer genoeg om sommer baie, baie bang vir die ys rondom my te word.

Ek kon nie wag om Desember huis toe te gaan nie. Terug na die sonnige Suid-Afrika waar dit selde subzero in die nag word.

Die lae subzero’s van Oskemen, ala Ust’-Kamenogorsk, was iets waarvan mens net op Google en in handboeke gelees het. En natuurlik op die TV-skerm in vliegtuie gesien het. Nou het ek reeds gevoel hoe eina -28 grade Celsius vir meer as ‘n maand voel.

En ek wou met alle mag die son in Suid-Afrika gaan vang. Om nie sommer weer terug te kom na hierdie bevrore land toe nie.

In Suid-Afrika het die son Desember selde geskyn. En wie kan daaroor harsteer wees? Die aarde het mildelik reën ontvang.

Tussenin het my vingers tog ontdooi en die pynlike vingerpunte het gesond geword. My twee duime is steeds vies vir my. Duik in as ek op die punte druk en kom nie gou weer terug nie.

Duimvleis duik steeds in (Januarie 2020)

Dit voel darem nie meer soos lopende water in die duim nie. Die vleis word weer styf. Al neem dit ‘n hele ruk om na die regte vorm terug te gaan.

Ek moet bieg dat ek hartseer was omdat ek nie die simpatie van my naastes ontvang het nie. Want dit lyk my mens kry net simpatie as daar vreeslike skade is. Genadiglik was my skade gering. Dit het toe seergemaak. Dit het veral diep getref as mense daaroor lag, asof die onbekende ‘n grap is.

En ek het maar min oor die vingers gepraat. Al het die seer en vrees vir blywende skade aan my geknaag. Was dit al waaraan ek kon dink, want ek kon nie tik nie, dit was net te seer.

Sodra dit seer is, het ek onthou dat ek die beseerde vingers nie mag gebruik nie. Toe ontdek ek die lekker van luisterboeke. Om die dae om te kry, want buite wou ek nie wees nie.

En toe is drie weke net verby! Net so. Voor ek kon keer. En was ons op pad terug.

Sondagmiddag, 12 Januarie, het ek met ‘n seer hart uit die vliegtuig afgekyk na Qazaqstan wat steeds wit van die sneeu gelê het.

So wit dat mens dit vanuit ‘n vliegtuig kan sien. So dik dat alle gras en lande en bossies en selfs riviere daaronder bedek word. Hoe koud dit as as dit nie sneeu nie, het ek reeds aan eie blad gevoel.

Lugfoto naby Almaty, Januarie 2020

Ek dink egter ek kan op die oomblik met ‘n sekerheid in my hart sê dat my vingers herstel het.

En die son kruip weer stadig in die koue hoeke van my hart in.

Is ek ‘n Sonvanger op Ys?

Ek dink aan Valiant Swart se Sonvanger. Wat hy vir sy vriend se ma geskryf het nadat sy vriend oorlede is.

En ek besef dat ek dalk tog ene is.

Ene wat die son moet gaan vang om te keer dat haar gemoed subzero sak. In hierdie koue land nie bevrore raak nie.

Op die pad langs Oskemendam, Januarie 2020

Kan jy die koue in hierdie foto’s voel?

Terwyl dit sneeu is dit genadiglik warmer, so -5 grade Celsius en vandag gaan dit selfs bo vriespunt styg.

Sodra dit ophou sneeu, duik die temperature die laagstes in. Dus hou ek van die dae wat dit sneeu baie meer as van die dae wat dit nie sneeu nie. Dan kan ons buite gaan stap sonder om self bevrore te raak.

Sneeuvlokkies op die pels van my jas, Januare 2020

Ek dink egter ons het die truuk met Qazaqstan ontdek. Ons moet die lang, wit winter met ‘n paar weke in Suid-Afrika onderbreek. Om asem te skep en weer vir die koue kans te sien.

En so terloops, ek sit, sodra die son die dag deur die newels breek, in die vensterbank van ons woonstel op die agtste verdieping en afkyk op die wit aarde onder ons. Terwyl ek hoop dat die son Vitamien D in my vel inpomp. Voor dit weer verdwyn.

Want die yskoningin is ‘n jaloerse vrou. Sy maak die gaatjies sommer gou-gou weer toe. Dat mens skoon vergeet dat die son ‘n angel het!

Ek neem ook gereeld foto’s van ons skuiwende son op die horison.

Son op pad terug na sy somerstand Januarie 2020

So, Pete, waarom beskou jy my as ‘n Sonvanger op Ys? Vertel asseblief …

38 comments

  1. Ek is so bly jou vingers se lewe kom terug. Regtig bly. Jou foto’s is pragtig. Vasbyt, die somer kom aan. Jy kan amper sê jy het die winter oorleef. ‘n Derde amper verby.

    Like

  2. Die Sonvanger-deel kom uit julle onlangse blitsbesoek-bosberaad in die son. Sodat julle kan onthou hoe dit lyk, vang dit op met jou vel, stoor die son in jou siel. Dan sal dit jou hart warm hou op die grou dae.

    Like

  3. Ons besef nie wat die koue werklik is nie…..dit bly maar eintlik so effe onwerklik, so storieboekagtig. Dankie dat jy dit deel. EK sit nou sowaar en bibber…. maar ek dink die koue aircon het ook iets daarmee te doen.

    Like

  4. Grote genade, kannie indink hoe mense daar kan oorleef nie! Op die nuus hier was daar juis n stukie oor n woonstelblok wat se verhitting verbreek is. Nogal n arm plek. Alles was verys en toegeys, binne en buite. Jy het n mooi versameling fotos hier geplaas.

    Like

    1. Ag dankie, Scrapy, dit is sommer lekker om te hoor. Ja, nee, kyk, dit is ‘n beproewing, maar ons is positief oor die saak. Bly uit die weer as dit te koud is, ons gesigte kry regtig baie koud so in ons vrieskas.

      Like

      1. Ag toe sê ek nie? Skuus, hy het. Dit wil nie werk nie, stoom my bril toe. Sit tussen die duiwel en die diepblou see, maar ek is nie meer so bang vir die koue nie. Ek gaan nie uit a ek onveilig voel nie. Dankie vir die omgee

        Like

  5. Sjoe! Het jy nie handskoentjies gedra nie? Ek was 2x in winter oorsee in oostenryk( ook so -40)- waar jou bloujean eers nat word vd sneeu en die volgende oomblik om jou bene vries. Maar dit was net vakansie- ek glo “bly” is anders. Sterkte. Dankie vir d mooi foto’s

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.