Die hart se padkaart na sorgelose kinderdae

My blogvriendin Una se plasing oor ‘n plekkie in haar verlede wat sy nog net met die hart se padkaart kan vind, het my hart dadelik aan die werk laat spring. Om ‘n padkaart te bied na die plaashuis waar ek tot einde standerd 4 (nou graad 6) grootgeword het.

Sedert 2005 ry ons gereeld op die N12 verby Westonarea, Hillshaven en Glen Harvie. En ek het dikwels daaraan gedink dat ek net effens moet afwyk, die pad na Vereeniging moet neem by die groot Westonarea-Randfontein kruising en dan by Jachtfontein regs moet draai op die Fochville-pad wat deur Modderfontein gaan. Om ons plaashuis weer op te soek.

In 2018 het ek alleen na Potchefstroom gery en was ek vroegerig op pad terug huis toe. Toe vat ek die spoor van Glen Harvie se kant af, maar die wêreld daar het so na my graad 6-jaar verander dat ek die huis nie kon opspoor nie.

Nuwe paaie en nuwe ontwikkeling. Selfs ‘n nuwe laerskool. Ek kon die pad nie met die padkaart in my hart vereenselwig nie. En is teleurgesteld terug huis toe.

Later die jaar het ek weer probeer. In my gedagtes uitgewerk dat die wêreld van Jachtfontein se kant nie soveel kon verander nie. En die keer het ek die plaashuis opgespoor. Van ‘n afstand af.

Snaaks hoe mens meer as 40 jaar later steeds onthou hoe die plek gelyk het, waar bekende bakens behoort te wees en hoe om te ry om daar te kom. So laat ek van my ondervinding vertel.

Ons huurplaas was op die grondpad tussen Jachtfontein en Fochville, die gedeelte wat as Modderfontein bekend staan. Die ingang na die plaas was oorkant ‘n grondpad wat regs, vanaf Jachtfontein se kant, uitgedraai het. Ons moes die hek oopmaak en deur ‘n stukkie van oom Danie van der Walt se plaas ry om by ons plasie uit te kom.

Aan oom Danie se kant van die pad het ‘n ry varkhokke teenaan die aan die linkerkant van grondpaadjie gestaan. Vir die varke in die varkhokke was ek soggens doodbang, want ons moes van ons plaashuis se kant verby die varkhokke met groot wit varke stap. En die hekkies was dikwels oop. Die varke het ons nooit gejaag nie, ek was net doodbang vir hulle. Hulle het die manier gehad om mens so aan te kyk asof jy ook iets was om te eet.

Die plaaspaadjie het verby landerye aan die regterkant en linkerkanten ‘n plaasdam aan die regterkant gelei. Tot by nog ‘n hek wat oopgemaak moes word om die werf binne te ry.

Die plaasdam was nie die hoëronde soort nie, maar eerder ‘n regte dam met ‘n modderwal en ‘n windpomp. Op die dam was daar bykans altyd baba-makoutjies. Ek sien deesdae so min makoue. Is daar ooit nog makoue in die land? Ons mag nie by die dam gespeel het as my ma nie by was nie.

Net voor mens deur die hek gegaan het om die werf binne te ry, was daar ‘n beeskraal aan die regterkant van die pad. Ons is soggens eers gou daar in met ons bekertjies om varsgemelkte melk te drink. en dan het ons met roombaarde gespog op pad na die bushalte. Dit is darem afgevee voordat ons op die bus geklim het.

Ons is soggens bykans laaste opgelaai, dus het ons soggens voor in die bus gesit. Smiddae is ons bykans eerste afgelaai, daarom het ons smiddae ook voor in die bus gesit.

Die plaashuis was klein en vierkantig, met twee slaapkamers, ‘n sitkamer en en ‘n kombuis. Die toilet was buite en ek kan nie ‘n badkamer onthou nie, maar daar moes seker een gewees het? Daar was twee stoepe, een by die agterdeur en een by die voordeur.

Ek onthou dat my pa een dag by die tafel gesit het en sy geweer skoongemaak het om te slag. En dat ‘n skoot per ongeluk afgegaan het, wat ‘n gaatjie in die muur van die stoep voor die kombuis gemaak het. My pa het hom asvaal geskrik. En ons ook.

By die trappies van voorstoep het ‘n struik met groot blomme gestaan. Ek is gek oor hierdie blomme wat soos balle klein blommetjies lyk. As dit in suur grond geplant word, is die kleur van die perserige blommetjies anders. Blou blomme. Of is dit nou andersom? Ek het nou sowaar die naam vergeet.

In my volwasse jare het ek verskeie kere probeer, maar die blom uit my kinderdae gaan by my dood. Ons het ure onder hierdie struik gespeel.

Ons het ook ure onder die lukwartboom wat naby die agterdeur gestaan het, gespeel. Daar het ons die mannetjies wat mens in die mango-roomys gekry het, ook begrawe. Om hulle later weer op te grawe. Ek wonder waarom ons begrafnis gehou het. Ek kan nie onthou dat baie van my ooms en tannies in daardie tye oorlede is nie. Inteendeel, die Fouries lewe besonder lank. Ek onthou eerder baie troues van nefies en niggies.

Daar was aanvanklik nie krag nie, my pa moes saans die generator aanskakel om krag te voorsien. En ook wanneer my ma iets bedags wou bak. My suster net jonger as ek het een keer amper haarself en my pa verongeluk toe sy die generator gaan aanskakel het en die handvatsel in sy plek vergeet het. As dit losgekom het, kon dit haar en my pa beseer het.

Ek onthou hoe ek en my pa in die sitkamer gesit het om die blokkiesraaisels in die Rapport getrou te voltooi. En gepos het. Sonder enige sukses. My ma was baie vies as ons twee in die middel van die nag opgestaan het om oor die radio te luister hoe dit met Pierre Fourie en Gerrie in hulle oorsese boksgevegte gegaan het. Daardie tyd moes ons met kerse lig maak.

In die huis was ‘n AGA-stoof waarop ‘n ketel met moerkoffie gestaan het. Mens het nie gewag vir ‘n ketel om te kook nie, jy het net gestap en jou koppie vol gemaak. Toe was koffie vir my sleg, het ek dit net gedrink wanneer ek moes. Want moerkoffie het die narigheid om moer onderin die koppie agter te laat. Ek drink nou nog nie die laaste sluk koffie of tee nie. Dit moes vir my erg gewees het om ‘n blywende indruk te laat.

Vir my pa was dit hemels want koffie het toe skaars die Suid-Afrikaanse mark getref. Hulle was gewoond aan tee. Volgens my pa (Desember 2019) is dit waar die naam boeretroos vir koffie vandaan kom. Hoe gepas, die naam het soos ‘n neet vasgeklou.

Ek onthou nie dat ons op ‘n stadium net tee in die huis gehad het nie, ek onthou koffie. My ma het baie mooi Royal Albert teekoppies gehad, maar dit is selde gebruik. Ons het koffie aangebied as gaste kom kuier.

Aan die onderkant van die plaashuis was ‘n land wat bewerk is en daaragter was ‘n rivier. Ons het nooit by die rivier gaan speel nie, maar ons het wel soms saam met pa en ma oor die spruit gestap na die bure aan die anderkant van die rivier. Ek kan egter nie onthou dat ons groot vriende was nie.

Ek kan wel onthou dat die seun van die bure op skool swak presteer het. En gedruip het. Ek het vir die juffrou gesê dat sy van my punte kan vat om hom te help. Ek sou steeds eerste staan as sy punte wegvat. Sy wou nie. Ek het eers later jare besef dat mens punte nie soos kos kan weggee vir iemand wat dit nodiger as jy het nie.

Aan die regterkant van die landery was ‘n boord vrugtebome, ek dink dit was net perskes. My ma het die vrugte ingelê en ons het dit in die wintermaande vir nagereg geēet. Bottels en bottels vol van hierdie lekkerny wat ons met room geniet het. Vars van die plaas. My pa het ‘n klompie beeste gehad wat gemelk is.

Ons kon ‘n voetpaadjie om die dam volg tot by die heining tussen ons en oom Danie se plaas, deurklim (dink ek) en dan na sy plaaswinkeltjie stap om vir my ma husse met lang ore te koop.

Ons moes net ‘n briefie vir oom Danie gee. Hy het die husse dan in koerantpapier toegedraai en vir ons gegee. Ons het geen idee gehad wat husse is nie, maar ook nie probeer uitvind nie.

Een aand, toe ons dokter-dokter saam met ons Page-maatjies gespeel het, het my een sus die husse se lusse om haar ore gehaak om haar rol mooi te vertolk. En is sy tot my ma se verleentheid so sitkamer toe.

Daarna het ons wel geweet dat husse private goed is, maar steeds nie waarvoor dit gebruik word nie. Ek was, toe ek besef het waarvoor dit gebruik word, baie dankbaar dat husse intussen gemoderniseer het. Weet nie hoe vrouens daardie kontrepsies gebruik het nie.

Ek het al vertel van 100, ons bul wat geslag is omdat hy te groot vir die koeie geraak het. Die mooiste wit Brahamaan. Sy vleis sou ons dogters nie eet nie, dit is onder die tafel vir die wagtende honde gevoer. Wel, 100 het in die kamp by die dam gewei voor hy geslag is.

Ons was nie ryk nie, moes elke sent mooi omdraai. Veel meer nog omdat boere geld vir die maer jare moet spaar. Daardie tyd het die bank state gedruk in rooi en swart. Die rooi gedeelte het aangedui dat mens meer uitgegee het as wat in die bank is. My pa het nie van die rooi gedeelte gehou nie, gesorg dat sy state in die swart bly. Dit is waarom hy op sy oudag steeds vir homself en my ma kan sorg.

Ons het plaaslyne vir telefone gehad. Ons nommer was iets soos twee kortes en ‘n lange. En mens kon op die lyne inluister waaroor die bure met ander gesels. Dit sou ons nooit waag nie, my pa sou ons velle aftrek.

In November van my standerd 4 jaar het ons ‘n 10 syfer telefoon nommer gekry, wat met 011 begin het. Johannesburg. Ons het nooit gedink dat ons so naby Johannesburg grootgeword het nie. Maar ons het. En my pa is gereeld stad toe om voorrade vir die slaghuis aan te koop.

Ek het in 2018 weer probeer om die plaashuis te kry. Die keer van Jachtfontein se kant af.

Die eerste baken was daar, aan die linkerkant van die pad. Modderfontein Laerskool, wat aan die einde van my standerd 4-jaar na Hilshaven geskuif het. Ons wasdie laaste groep leerders wat in die ou plaasskool skoolgegaan het. Ek was nooit in die een op Hilshaven nie, ons het Chrissiesmeer toe getrek aan die einde van my stander 4-jaar.

Ek het oor die spruit gery wat ons plaas van die bure geskei het en geweet dat dit nou naby moes wees.

Die tweede baken aan die linkerkant moes oom Danie se winkel wees. Dit was daar, maar dit was vervalle. ‘n Bouval. Sy plaashuis ook.

Toe ek die uitdraai regs kry, met die myn aan my regterkant, het ek geweet dat ek naby die ingang van ons plasie was. Oorkant die pad wat na die myn lei. Dit was egter toegespan, daar was nie meer ‘n hek om na die plasie te gaan nie. Nie eens ‘n aanduiding dat daar eens op ‘n tyd ‘n paaspaadjie was nie.

Ek het stadig gery en van die pad se kant probeer kyk of ek die huisie kan gewaar. Dit was diep in. En laer as die pad. Ek kon wel die dak van ‘n bouval uitmaak. Die bouval wat eens ‘n huisie was waar ek gelukkig grootgeword het.

Soos ek reeds geskryf het, het ons aan die einde van my standerd 4-jaar na Chrisssiesmeer getrek. Dit het so gekom.

In my standerd 3 en 4-jare was die Westonarea gebied bekend vir sinkgate wat as gevolg van mynbedrywinghede ontstaan het. Die koerante was vol foto’s van huise wat ingeval het, motors wat op die rand van die gate gehuiwer het of hulle wil val of bly. Skade aan skole en geboue. My pa se slaghuis was op ‘n gebied wat as gevaarlik geïdentifiseer is. En hulle het hom uitgekoop om die area te verlaat.

Ek was in standered vyf in Chrissiesmeer Laerskool, een van minder as tien standerd vyfs. Daarna het ons Ermelo toe getrek ek het ek my hoërskoolloopbaan in Ermelo Hoërskool voltooi. Toe was die gebied bekend as Suidoos-Transvaal.

Ek kan nie onthou dat iemand na ons in die plaashuisie ingetrek het nie omdat ons die plaas gehuur het. Dalk was daar ander inwoners? Ek het wel iewers gehoor dat oom Danie of een van die bure die plasie uitgekoop het om hul eie plaas te vergroot. In so ‘n geval sou die huisie nie as huis gebruik word nie. Dalk eerder as stoorplek?

Soms moet mens nie op ou paaie teruggaan nie. Eerder die padkaart in jou hart in jou gedagtes volg. As jy weer daar wil vertoef. Om ‘n wyle in jou jonger self se skoene te gaan staan. Want sy is blykbaar hier, sy onthou die goed asof dit gister gebeur het.

Alhoewel ek nie die verwoesting van die huisie van naby kon sien nie, weet my hart nou dat daardie huisie nie vir ander geslagte kinders die droomhuisie is wat dit vir my en vier my susters as kinders was nie.

In my gedagtes is dit steeds ‘n droomhuisie op ‘n droomplasie waar vyf dogtertjies gebore en gelukkig grootgeword het. Daardie deel van die storie kan nie deur mot en roes verniel word nie. Dit word eerder met die jare iets magies.

Soos die magiese gevoel wat ek gehad het as ek onder die staanradio gaan lê het om te probeer om te sien wie die mooi musiek gemaak het. Ek het later jare eers besef dat dit die plek is waar my liefde vir klassieke musiek gebore is …

Dankie, Una, my hart moes my net ook op my paadjie lei waar ek gelukkige kinderjare onthou.

Foto: Reënboog in die sproeiers onder die bome op die sypaadjie langs Kazakhstanstraat, Oskemen, Qazaqstan, somer 2019

26 gedagtes oor “Die hart se padkaart na sorgelose kinderdae

  1. Ek is nog besig om te lees en geniet dit baie. Is dit krismisrose waarvan jy praat? Ek was ook nie suksesvol daarmee nie. Dit moet aan die suidekant van jou huis geplant word.

    Like

  2. Ag jinne ek het nou lekker saam met jou plaashuis, plaas pad, bus ry, plaasdam en koffie op die stoof herkou. Ek het dit ook as kind geken en dis heerlik om terug te dink. Dankie vd stukkie nostalgie

    Like

  3. My herhinderinge lê op ‘n plaas in destyds se Betsjoeanaland. Ek is ‘n paar jaar gelede terug… daar was net fondasies van dit wat was. Mens vergeet nie. Baie van dit wat jy vertel identifiseer ek mee.

    Like

  4. Ek is besig met my skooldae en plekke waar ons gebly het. Die skryf bring n goeie klomp herinneringe. My laerskool tyd was ongebonde en veilig gewees. Ek en kleinsus het in 2010 na ons blyplekke gaan kyk. Dit is nog baie dieselfde maar die omgewing self het heeltemaal verander met al die uitbreidings.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.