‘n Geregistreerde pakkie vir my

Gister, toe ek by die vrou, wat die ontvangshokkie van ons woonstelblok beman, verbystap, groet ek vinnig en draai weg om by die deur uit te gaan. Sy herken my en klop hard en ongeduldig aan die venster wat ons twee skei.

Ek is self haastig, het manlief so pas deur die glas van die deur gesien. En hy is reeds op pad boontoe om my te kry. Ons is op pad om by die vat-wat-jy-wil-eet-en-betaal restaurantjie onder die woonstelblok langsaan middagete te eet. En daar is nie baie tyd nie, ons moet gou maak.

Toe ek terugkyk, lyk sy kwaai. Swaai ‘n briefie in die een hand en wys met die ander dat ek die deurtjie moet oopmaak en inkom. Sy sit nou lekker.

Aanvanklik was ek skrikkerig vir hierdie vrou.

Sy is geset, wat nogal baie opvallend is in hierdie land van dun vroutjies. Ek wil nie sê maer nie, hulle lyk nie maer of uitgeteer nie. Hulle is net dun. Nie kort nie, net dun. Die meeste van die vrouens.

So dun dat klere vir vrouens by ‘n XXXS (ekstra-ekstra-ekstra klein) begin. So dun dat XL (ekstra groot) net in sekere winkels vir vrouens aangebied word, groter as dit kry jy nie sommer in Oskemen nie. Tot groot frustrasie van my een Suid-Afrikaanse vriendin.

Ek is egter dankbaar. My grootte 8 (of small) is in al die winkels in oormaat beskikbaar. Wat ‘n fees om keuses te hê. In Suid-Afrika verdwyn my grootte van die rakke af.

Wat ek eintlik wou sê, is dat ek vir haar skrikkerig was. Sy het aanvanklik selde geglimlag.

Wat my nou aan my juffrou-dae laat dink. Sy het seker ook maar geleer dat mens aanvanklik maar kwaai moes wees sodat die huurders en woonstelbewoners nie kanse vat nie.

Wel, sy het haar goed van haar taak gekwyt.

Ek was skrikkerig vir haar, sy het my aan juffrou Rottenmeier van Heidi-faam herinner. En vir haar was ek net so skrikkerig soos wat Heidi vir juffrou Rottenmeier was.

Intussen het ek van mening verander. Sy het teenoor ons ontdooi en dikwels selfs eerste gegroet. Gister het ek egter vinnig onthou dat ek eintlik vir haar skrikkerig was.

Toe ek die deurtjie oopmaak, was ek vir haar houding so skrikkerig soos wat ek was as die hoof my inroep omdat ek iets verkeerd gedoen het waarvan ek nog nie weet nie. En nou gaan hoor.

Die gevoel gaan nie weg toe sy die waaiende papiertjie in my hand prop nie. Ek kyk so na die swewende letters, want sonder my leesbril beteken die papiertjie niks nie.

En sy praat en praat en praat en praat. In Russies, dalk Qazaq. Ek verstaan egter niks nie. Nie ‘n enkele woord nie.

Ek vergeet skoon om te sê: “Ja ne panemajo po-Ruskie” (ek verstaan nie Russies nie) en gaap haar net aan.

Ek het geen idee wat die stortvloed woorde beteken nie. Al wat ek weet, is dat ‘n naam in pen op die papiertjie vol getikte woord ingevul is. En dat sy besig is om vir my te vertel wat ek met die kennis op die papiertjie moet doen.

Ek sê net in Afrikaans dat ek regtig jammer is, maar ek verstaan niks. Dat ek die papiertjie huis toe sal vat en gaan vertaal en dat ek dan sal doen wat ookal van my verwag word.

Sy praat verder en beduie na papiere op haar tafel. Ek verstaan niks, maar vermoed dat ek dalk iewers iets verkeerd gedoen het.

Dalk het dit met rommel te doen, wonder ek en manlief terwyl ons eers eet voor ons die fone uithaal om Yandex Translate te gebruik om ons uit die verknorsing te kry.

Wat het ons verkeerd gedoen? Sy was so kwaai. Ons gooi ons rommel soos almal in die woonstel se skag af. Het ons iets geblok? Waarom is sy so vies?

Die persoon aan wie die briefie gerig is, se naam is in handskrif ingevul. Hulle gebruik lopende skrif en ek moet daardie een eers gou vertel.

Asof dit nie genoeg is dat hulle alfabet anders as die een lyk wat ek ken nie, maak hulle mens verder deurmekaar met hulle lopende skrif. Verskeie bekende letters lyk soos ander letters, dus kan mens nie sommer net wegval en lees nie. ‘n Lopende skrif m is byvoorbeeld ‘n t!

Jy kan baie verkeerd wees as jy dit probeer lees. En daai alfabet het ons eers laat vaar. Die drukskrif een is moeilik genoeg.

Ons weet dus ook nie aan wie die briefie gerig is nie.

Ons verstaan egter wel dat daar ‘n brief is wat ons by die poskantoor moet gaan afhaal. Aan wie dit gerig is, weet ons glad nie, maar ons moet ID-dokumente saamvat om dit te kry.

Manlief se tolk by die werk vertaal dit toe beter vir ons. Dit is ‘n geregistreerde brief van Air Astana. Qazaqstan se nasionale lugredery.

Ons gunsteling omdat mens ten minste ‘n broodjie kry wanneer jy met hulle vlieg. En ook omdat hulle gewoonlik betyds is. Die vliegtuie is ook nuwer.

Ek het al van ons vlug met Khazakh, een van die goedkoper lugrederye vertel. Wat ‘n belewenis!

Sy vertaal ook dat die brief vir my aandag is. Wat my nogal opgewonde laat. Al wat dit kan wees, is dat my Nomad-lojaliteitskaart afgelewer is. Uiteindelik.

Nou moet ek net wag om te kyk wat afgelewer gaan word. Dit kan ook my Miles & Smiles kaart van Turkish Airlines wees, want hulle werk nou met Air Astana. En ek het verlede week versoek dat daardie kaart afgelewer word. Omdat die eerste een nooit opgedaag het nie.

Ek is egter opgewonde.

So … die posdiens werk?

Op pad terug in die woonstel, stop ek en se Spasieba! (Dankie) en sy glimlag vir my. Hoe kan mens so verkeerd verstaan? Ek dog ek het iets aangevang en dat ek in die sop is daaroor.

15 comments

  1. Dis darem maar interessant hoe sekere mense jou op jou pasoppens maak. Ek is bv een van die waarvoor die kinders veral in die begin baie skrikkerig is. Ek het maar n kwaai juffrou gesig. Op die ou end as ons mekaar ken is almal lief vir my. Moet sê ek vat nie sommer nonsies nie. Wonder ook wat is so geregistreer en belangrik.

    Like

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.