Ek skryf laas week in my dat ek ‘n kluisenaar is. Net een vriendin op skool gehad het. En een hier. Daarmee het ek ‘n hele klomp vriende te na gekom. Want ek het aan die mense gedink met wie ek baie ure van my lewe om ‘n potjie tee, vroeër koffie en nog vroeër ‘n glas melkskommel gedeel het.
Ek het egter meer vriende en vriendinne as die wat ek genoem het. En vandag wil ek net so bietjie op hulle fokus. Eintlik om jammer te sê dat ek aan enkeles gedink het toe ek dit geskryf het.
My een vriendin ken ek amper solank soos ek myself ken. Ons ouers was huisvriende wat ook vyf kinders gehad het. Ons twee oudstes het mekaar se vriendinne geword. As ons saam gekuier het, het ons twee saamgekuier. Ons hou steeds kontak, en ek was baie hartseer toe haar ma en pa in die jaar wat ons hier bly oorlede is. En ek nie kon gaan simpatiseer nie.
My ander vriendin is al vir meer as dertig jaar ‘n vriendin. Het mekaar deur ons Tuks mynboumanne ontmoet. Ek dink ons juffroupassie het ons band gebou. Ons het op ons tyd saam muurbal gespeel, sien mekaar min, maar wanneer ons saam kuier, is dit baie lekker om te weet dat sy altyd aan my kant is. En ons het nou nog meer om oor te gesels. Sy het so pas ook ouma geword.
Nog ‘n vriendin het ek aanvanklik ook deur my man ontmoet, mynbou. Evander, Welkom. Ons het saam muurbal gespeel. Ons dogters het saam ballet. Het Sankie, my swart Schnauzertjie aangeneem toe ek nie al die woewe hierheen kon laat kom nie, en toe kan geen een kom nie. Ek sou Sankie toe aan niemand anders toevertrou nie. Daardie kind van my moet met liefde omring word. En daar word sy gruwelik bederf.
My jongste skoonsuster is ‘n vriendin wat net die goed in my raaksien. Ons sien mekaar heeltemal te min. Maar saamkuier is altyd spesiaal. En wanneer ons saamkuier, kuier hulle dogter en haar aanstaande saam. Hoe spesiaal is dit dat die kinders saam met ons oues kom kuier!
Ek het by elke skool waar ek skoolgehou het spesiale vriendinne gemaak. Die sleg daarvan is dat die bande half ontbind wanneer ek die skool verlaat. Seker maar omdat ons gedeelde belangstelling, die spesifieke skool, nie meer daar is nie. Tog, as ons mekaar raakloop, is daar dadelik ‘n onsigbare band wat ons vashou.
Ek het vriendinne gemaak met die vrouens van mans wat manlief se vriende is. Ons kuier net saam wanneer die mans saamkuier. Gesels dan in die bondel, hou nie kontak nie. Ons gedeelde belangstelling is ons mans se wêreld.
Ek kom by reünies agter dat ek tog ‘n spesiale band met my jaargroep gebou het, al het ek net een vriendin gehad. Ken die meeste van die 120 portuurmaats as ons mekaar se name lees. Dalk omdat ons in mekaar se spasies gegroei en volwassenes geword het. En daardie onsigbare band hou ons veertig jaar later vas. Die matrieks van 1978. ‘n Hele paar van hulle het my aangemoedig om hierdie joernaal te begin en vol te hou.
‘n Hele paar van my dollatjie en seun se vriende tel onder my vriende ook. Mense wat altyd ‘n tydjie afknyp om te groet en hallo te sê.
Wie sou kon raai dat ‘n hele paar van my skoolkinders onder my vriende tel? En dan natuurlik die omgekeerde ook: Dat ‘n hele paar van my onderwysers onder my vriende tel. Op skool het ek net met hulle gepraat as ek moes. Op Facebook het ek geleer om met hulle te gesels.
Ek het vier susters. Maar susters is iets anders?
Ek het natuurlik ook kubervriende en -vriendinne. Mense wat ek nog nie in lewende lywe ontmoet het nie. Maar wat ‘n baie spesiale rol in my lewe speel.
Soos die drie onderwysers wat my help om my Facebookgroep RSA Onderwysers te modereer. Ek het die groep in 2012 geskep en dit het tans so 20 000 lede. Is die afgelope jare ons groep, want ek het vir hulle administratiewe rolle gegee omdat hulle soveel aandag aan die groep gee. Twee is nie eens van Suid-Afrika nie, een is van Abu Dhabi en een van Swaziland. Hoe wonderlik is dit nie om die drie vrouens as vriendinne te kan beskou nie.
Een kubervriendin is deur my akademiese skryfwerk gemaak. Dit is een plek waar ek nie gedink het ‘n vriendskap gebou kan word nie. Ons deel per e-pos en WhatsApp in mekaar se vreugdes en hartseer. Ek dink ons liefde vir die akademie, onderwysers, medemense en die taal is die grondslag van ons vriendskap.
Ek het ‘n hele aantal kubervriende en vriendinne deur hierdie joernaal ontmoet. Vir elkeen van hulle is ek dankbaar. ‘n Ander soort mens wat in die joernaalwêreld betrokke is. Hulle kommentaar is altyd opbouend. Wens ek kan elkeen van hulle in lewende lywe ontmoet. Ek weet net dat hulle spesiale mense is saam met wie ek om ‘n potjie tee sal kan kuier.
Ek het onlangs eers begin om by die kerk vriende te maak. Gewoonlik gaan ons twee kerk toe, luister na die preek, drink ons nie saam tee nie omdat ons niemand leer ken het nie en gaan ons huis toe. Dit het by Die Kruingemeente verander toe ons dominee en sy vrou uit hulle pad gegaan het om met ons te gesels. Ek vermoed dit gaan anders wees wanneer ons teruggaan omdat van die gemeentelede my joernaal lees. Dominee ook.
In die kuberwêreld is selfs ‘n paar manne wat saamgesels.
Een was saam met my in matriek. Saam in die Geografieklas. Ons was nie op skool vriende nie, ek dink ons altwee was maar skaam. Maar ons het mekaar op Facebook raakgeloop toe ons maats gesoek het wat na die reünies genooi moet word. Hy woon in Amerika, waar sy koud met my koud kompeteer. Het juis vir my verduidelik dat mens wel in hierdie koue kan oorleef. Toe ons nog oorweeg het om die sprong te waag.
‘n Ander een het in Sjina gaan skoolhou, deel my passie vir die akademie en ons gesels gemaklik oor die sprong na ‘n ander land. Ek dink die expat-wees (lelike woord) bind Suid-Afrikaners saam. En die saamgesels as ek iets plaas.
Twee ander mans skryf self joernale, een in Amerika en een van die Kaap. Ek volg hulle joernale en hulle myne. Ons gesels lekker saam.
Ek hoop nou regtig ek het nie iemand vergeet nie.
As ek het, vergewe en gesels asseblief saam. Hoe ken ek jou en hoe het ons vriende geword?
Onthou asseblief dat sommige vriende soos kennis is. Hulle is daar, ek het net vir ‘n oomblik die leidraad vergeet om die spoor na te gaan. Help met die leidrade …
Nou die dag het iemand op RSG besluit dat ’buite-burger’ ‘n goeie woord vir ‘ex-pat’ kan word.
LikeLike
Dit kan werk, dannie Anne, expat is vreeslik lelik, veral as mens nie beplan om
Ex te bly nie.
LikeLike
Dit is ‘n lelike woord – in Engels ook.
LikeLike
Ons het nie aanstoot geneem nie, ons is te lief vir jou. 😊
LikeLike
Sien Toortsie, dit is presies waarvan ek praat. Ek is ook baie lief vir julle. Sielsgenote.
LikeLiked by 1 person
❤️
LikeLike
Ek maak ook nie maklik vriende van die tee-drink en kuier soort nie. Eienaardig dus dat ek soms (byna altyd) ‘n stewiger band het met mense wat fisies ver weg van my af is. Buite my persoonlike ruimte. En tog emosioneel naby my.
LikeLike
Daar beskryf jy dit perfek, Hester, die bande met mense ver van mens is kosbaar. Ek dink dit is waarom ek van kuberkuier hou.
LikeLiked by 1 person
Lekkerste vriende ooit hier in die kuber-ruim.
Ons het toevallig nourie dag van Pandora gepraat en toe kan ek ook saampraat, te danke aan jou, voorheen sou iemand moes verduidelik wat dit is, mooi foto
LikeLike
Dankie Positief, dit is so lekker om met jou vriende te wees.
LikeLiked by 1 person
Ek het jou begin volg omdat jy in daardie land bly met die mooi naam….en omdat een van ons gereelde shuttle vriende ook daar werk. En die land fassineer my omdat jy dit so mooi beskryf!
LikeLike
Woordnoot, baie dankie. Dit is retig ‘n lekker land om te beskryf.
LikeLike
Ek maak ook nie maklik vriende nie. Veral naby naby vriende. Ek weet gewoonlik vinnig of ek aanklank vind by iemand.
Die towerinne is ‘n spesiale klomp wat ek net 5 van al ontmoet het maar graag almal sal wil ken..
LikeLike
Ek stem so saam Bondels. Ek wil almal nog ontmoet. En ‘n drukkie gee.
LikeLike