Dit is nie vlieë wat pla nie, dit is die Sitte

Liewe hemel, wie het besluit om ‘n vlieg ‘n Vlieg te noem? Waarom het Langenhoven nie sy mag gebruik en die naam na Sitte laat verander nie? Hy het tog toe al geweet dat dit die belaglikste naam vir hierdie goggas is!

Vlieë!

Dit is die Sitte wat pla!

Ek moes nou eers stop, in die middel van ‘n verslag oor ‘n artikel wat ek moet keur. Want as ek dit nie doen nie, sal die verslag beslis my irritasie met die enkele Sit weerspieël.

Ek tik en hy Sit. Ek skud my arm. En hy vlieg. Ek tik en hy Sit! Ek skud my arm en hy vlieg. Die goed laat my aan padwerkers dink.

Het geen idee waarom hulle padwerkers genoem word nie. Want waar ek ookal staan en wag of met moeite op die grond verby hulle ry, sien ek nie werkers nie. Ek sien baie mense … wat sit. Sou padsitte dan nie ‘n beter beskrywing wees nie. Dan het ek darem geweet waarom die pad nie klaarkom nie. Hulle werk nie eintlik nie.

Maar weer terug by die enkele Sit!

Wens hulle kon weet dat ek nie van die reuk van gif hou nie, ek ruik dit selfs as daar reukloos op die blikkie staan.

Ek hou nie van vlieëvangers nie, lyk so grillerig, die lyke op die taai, geel strook.

Ek hou nie van vlieëplakke nie, dit is so geweldadig!

Maar ek gebruik dit alles. Gif! Vanger! Plakker!

Net om asseblief nie aanhoudend die veerligte, grillerige gevoel van ses pote op my arm te voel nie.

As die Sitte net die eerste keer wil verstaan dat ek skud omdat ek hulle nie op my lyf wil voel nie.

Maar doen hulle? Nee, daarom moes ek nou eers opstaan om vlieëgif te gaan soek.

Spuit!

Deur toetrek!

En op my blog kom stoom afblaas.

Daarom gaan ek dalk ‘n versoek moet rig!

Verander asseblief die naam na Sitte! Soos Langenhoven lankal reeds aanbeveel het. Dit is nie die Vlieg wat pla nie, dit is die Sit!

4 comments

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.