Gepubliseer in Joernaal

Ek verpes alles wat brand …

Ek verpes alles wat brand.

My koffie moet kouerig wees, kan selfs koud wees. Maar warm mag dit nie wees nie. So kuier kleinkind eendag by my en ek maak sy koffie kouerig, dat die ou bekkie nie brand nie. Sal die mannetjie my nie tereg wys nie, hy hou van sy koffie warm. Kokend warm. Ek wil nog verduidelik dat dit gaan brand, toe verduidelik hy dat hy ‘n blikkeel het. Wel, daarteen kan oumas nie stry nie. As dit van blik is, is dit seker waarom dit ook soveel geraas kan maak as sy boete en hy vir mekaar kwaad is? Een hengse kabaal …

My kos moet nie brand nie, ek word sommer kwaad as alle smaak weg is. En toe doen ek dit aan my gaste. Koop die mooiste klein soetrissies, onwetend dat die goed se naam jelapino’s is. Skoondogter se familie so ewe genooi om saam met ons kersete te hou. Haar boet brand maar sê niks.

Toe ek ‘n hap van die klein, rooi dingetjie vat, brand hy alles in my mond dood, so asof ek die virus het. Geen smaak, geen reuk. My oë traan, ek kan nie praat nie, ek soek melk, water enige iets wat kan help. En dat ek sommer nou vra, wat help? Want ‘n liter melk wou nie help nie. En toe is ek siek van die melk – skoon vergeet van laktose toe ek medisyne vir die brand soek.

Ek het geen idee hoe so ‘n klein vruggie soveel pyn kan veroorsaak nie, ek bly nou baie ver van hulle af.

Oupa hou van spicy hoendervlerkies, kleinkinders huil en sê dit brand hulle mondjies. En ouma raas dadelik, jy weet mos ek hou ook nie van goed wat brand nie. Maar, oe, ek kon nie help om te lag toe kleinkind die tong uitsteek en krap nie.

Waarom het ek nie daaraan gedink nie?

Ek het my tong opgepas, met melk probeer troetel. Dalk sou krap gehelp het?

Ongelukkig het ek dit ook dikwels reg gekry om my kos te laat brand.

So kom kuier dominee en mevrou by ons, eerste keer wat ons die mense in persoon ontmoet en saamkuier. Die kos is amper gaar, ek los die wortels op die stoof om te braai en …

… gesels …

So ruik sy die rook in die kombuis, sê eers toe die rook halfmas hang.

En daar is my wortels siek verbrand.

Houtskool gebrand.

Ons moes vensters oopgooi dat mens eers asem kan kry voor ons kon eet.

Dominee gewaarsku dat ek dit nie sal waardeer as hy dit van die preekstoel vertel nie. Want, hy kan tot manlief se groot verleentheid, dinge van die preekstoel af aanspreek.

Soos hoe kry mens nou weer jou achilles geskeur?

Dit was ‘n hele storie. Ons is die naweek plasie toe dat manlief die stelasie vir die tenk kan regop trek sodat die tenk opgesit kan word. Ek raas en baklei naderhand, die ding gaan hulle doodval. Dit is net hy en ons wag wat die massiewe stellasie wou lig.

Hy sou dit blykbaar met die bakkie regop trek.

Ek was naderhand smoorkwaad, maar hy wil nie hulp kry nie. Ek dink ‘n masjien is nodig. Nie sy plat bakkie nie.

Ek het verloor, in die huis gesit en geweier om te gaan kyk wat buite aangaan.

Want ek het verwag dat ‘n stellasie die man gaan dood val, of die bakkie plat. En as ek so lelik raas kry, bly ek net weg. Lekker. opgeblaas.

So kom manlief om die hoek gestap, wit in die gesig, voet wat sleep.

Sy achilles het geskeur terwyl hulle genadiglik nog besig was om die stellasie te probeer regdraai dat dit met die bakkie getrek kan word.

Nodeloos om te sê, moes ons terug stad toe, drie ure se ry.

En ek was siek, hy moes die helfte van die pad bestuur. Af achilles en al.

Daar gekom vertel die jong doktertjie by Wilgeheuwel hospitaal dat alles reg is, niks is blou nie. Ons kan huis toe gaan.

En bel ek my verpleegstersuster, help, wat nou? Manlief sê is geskeur. Sy luister, ek moet hier en daar kyk en ja, ‘n sonar moet gedoen word. Dit is af.

Ek moet dokter vra hoe gou moet dit geheg word. As dit af is, want dit is af.

Sy skrik, bel haar hoof, hy kom, laat manlief op sy maag lê, knyp die kuit en die voet bly hang.

So eenvoudige toets.

Hoe het sy dit nie geweet nie? En hoe moet mens vandag se dokters vertrou?

Manlief moes tot die volgende dag wag, toe is die achilles geheg.

En daarna moes hy met gips en maanskoene loop. Tot die achilles geheg is.

Hmmm, ek brand steeds om vir hom te lag, want ek lag as ek groot geskrik het. En die gevolge is darem nie te erg nie. Ek sou hom nie onder die stellasie kon uithaal nie, dit was baie beter om vir hom in die hospitaal te gaan kuier.

Asof ek hom nie al onder goed moes uithaal nie.

So ry ek en hy een keer oor die plasie, ook in bure se deel, waar daar hellings was. Ek dink een is te steil, ry stadiger en hy gaan op. Toe ek weer sien, tiep hy in stadige aksie om, masjien bo-op hom.

Ek het so groot geskrik.

Hy het soos insek onder ‘n plakkie gelyk.

Ek was bang om nader te gaan, maar toe sy bene beweeg het ‘n lagbui my oorval.

Ek het gesukkel om te help om die masjien af te lig. Hy is darem groot en sterk, kon help.

Die lag het daardie dag in my keel gebrand terwyl ek daardie groot wit dorings van doringbome – daai wat soos ‘n V lyk – uit sy rug te trek.

En ja, niks is so seer soos ‘n brand as gevolg van ‘n been wat te naby aan die enjin van ‘n quad gehou is nie.

Amper so seer soos die brand van ‘n perdeby te steek …

Wat my by nog ‘n storie bring …

Skrywer:

Navorser, oud-onderwyseres en -dosent. Ma van twee, skoonma van twee, ouma van vier en ek het 'n manlief wat al bykans 40 jaar die pad saam met my stap. Ek skryf oor die dinge na aan my hart.

9 gedagtes oor “Ek verpes alles wat brand …

  1. My genade ek het skoon jou storie gemis die week. Jammer hoor. Daardie brand is maar nie n lekker ding nie. My man besluit eendag hy spuit sy werkskoene met stoom af by die werk. Kom hy tuis kon hy skaars loop. Daar het n hele sak met water om elke enkel gehang soos hy homself gebrand het. Party dae kan die manne heeltemaal teslim wees vir hulself. Dankie dat jy geskryf het.

    Liked by 1 person

Lewer kommentaar

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.