Is dit nie ‘n deeglike beskrywing van my lewe hier in die Kalahari nie. En ek kan natuurlik nie help om die ooreenkomste en verskille tussen my K-lande, streke en dorpe raak te sien nie. Hulle het een ding gemeen, as die son lui raak, is dit KOUD!
Soos jy seker weet, het ons tussen 5 Maart 2019 en 5 Oktober 2020 in Kazakhstan gewoon. My K-land bloot omdat die naam van die land met ‘n K begin. Daar het ons in Ust’-Kamenogorsk (sien die K-dorp) gewoon, vanaf 4 Maart 2029 tot einde Junie 2020. Ust beteken by die mond van ‘n rivier of waar twee riviere saamloop. Kazakhstan het geen oseaan nie en dus ook geen mond van ‘n rivier nie, maar Ust’-Kamenogorsk lê waar die Irtish en die Ulba-riviere mekaar in die noordooste van Kazakhstan ontmoet.
Die K kan ook staan vir koue, want dit was daar baie koud. Ek het ligte vriesbrand in my vingers opgedoen toe dit -28 grade Celsius buite was, maar dit word snags nog kouer. Die kwik sukkel nie om na -38 grade Celsius te daal nie, dit sukkel eerder vir sewe maande van die jaar om bo zero te styg.
Terug in my land, trek ons tweetjies so vinnig vanaf ons K-dorp (Krugersdorp) na twee K-dorpe in die Noord-Kaap (sien K in die provinsie ook) naamlik Kathu en Kuruman. En wil jy nou meer, dit is sowaar in die Kalahari – dus bly ek selfs in ‘n K-streek. En hier is die winters ook koud – dus kom ek nie van die K’s af weg nie.
Net soos in Kazakhstan, is die son hier in die Kalahari lui. Hy kom nie meer oor ons huis se dak op nie, hang eerder iewers laer in die lug omdat hy kortpad vat. En so loer hy bedags so half lui by die kamervenster in, net om seker te maak dat ek op is. Maar glad nie om warm te maak nie.
Ek is wel vanaf vieruur soggens op. Maar ek is net tot vyfuur uit die bed uit. Daarna klim ek terug en werk ek in die bed tot die kamer warmer voel. Want goeie genugtig, dit is koud in Kuruman. En die son is heeltemal te lui en laat om my te vroeg uit die bed te haal om die koue aan te durf.
Dinsdagoggend besluit ek om wasgoed te was. Anders as in Kazakhstan, waar my wasgoed in die huis opgehang is om droog te word, hang ek die wasgoed buite op. Dit is mos sonnige Suid-Afrika, ek bly in ‘n huis en daar is ‘n wasgoeddraad. In Kaz het niemand hulle wasgoed buite gehang nie, dit het in ‘n oggend in die huis droog geword. En natuurlik so ook vog in die huis gesit, want die land se lug is besonder droog.
Toe ek die tweede vrag wil ophang, kon ek sweer dat ek waterdruppels op my gesig voel. En sowaar, daar reën dit. In die winter. In die Kalahari. Dit is natuurlik La Nina se skuld, sy laat dit vanjaar meer as normaalweg reën, in die winter ook. En toe sous dit saggies elke nou en dan deur die dag. En moes ek die klere in die koue huis probeer droog kry.
Anders as in Kazakhstan, het die wasggoed langer as ‘n dag binne gehang, om droog te word. Die huis is natuurlik aansienlik kouer as wat woonstelle in Kazakhstan is. Daar was die temperatuur in die huis winter en somer bo 24 grade Celsius. So warm dat ek met kortbroeke geloop het in die middel van die winter as dit buite sneeu en die temperatuur na -38 grade Celsius daal. Geen japon, geen pantoffels, dit was onnodig. Hier loop ek met japon en dik slaapklere en pantoffels in die huis, met geen sneeu om die koue die moeite werd te maak nie.
Dit reën ‘n dag later steeds. Die lug kreun en steun en dan val die kosbare druppels uit die lug. Iets wat mens sommer sleg laat voel, want daar is blogvriende wat maande laas ‘n druppeltjie gevoel of gesien het.
Tog kan ek nie help nie, ek verkyk my aan die nattigheid buite. Die druppels op die gras. Die woefkinders wat weier om uit te gaan – hulle loop nie op nat gras nie.
En wat doen ekke? Ek loop met my pantoffels en dik japon wat ek moes aanskaf om hier warm te kry buite saam met hulle. Sit selfs ‘n Kaz-mussie op om my hare warm te hou. Want die nommers moet nie in die huis gedoen word nie.
Wat ek eintlik wou vertel, is dat die son hier net so lui soos in Kazakhstan raak. Net so sukkel om die lug warm te maak. Maar darem heelwat langer lui in die lug hang. Om die idee van hitte te skep, maar as ek uitgaan, voel ek die koue van winterwind oor my skouers, tussen my blaaie, in my nek, oral waar die klere nie in meer as een laag oor my vel gedrapeer is nie.
Want dit is een ding wat ek in Kaz geleer het. Jy dra nie dik truie en baadjies nie, jy trek in lagies aan. Dunnes. Wat afgeskil kan word soos dit warmer raak en weer opgeplak (sic) kan word wanneer dit kouer raak.
Ek het die naweek my K-Way baadjie saamgevat stad toe (sien die K tot in my kleredrag?) En ‘n denimbaadjie. En ek sweer daar is iets met my inwendige termostaat verkeerd.
Staan ek in die son, kook ek in die swart denim en baadjie. Skuif ek na die koelte, vries ek. Gevolglik het ek trappies afgeklim tot in die son, opgeklim tot in die koelte. In die kort tydjie wat ek by my dogter staan en koffie drink het. Want – hoe kan ek vergeet – ons moes lou tee drink omdat die krag weer verdeel word in die ysige wintermaande.
Dit terwyl die diewe en hulle maters heerlik in weelde leef. So anders as in Kaz, waar diewe gevang en tronk toe gestuur word. Almal daar is bang vir die tronk.
My K-way baadjie het nie gehelp nie, die wind het deur my blaaie gesny. Soveel anders as in Kaz, waar ek die baadjie gereeld gedra het. Maar darem net in die lente en somer, want dit het met ons winter se temperatuur vergelyk. In die somer het mens ook die baadjies vir ‘n maand of twee gedra, want ‘n enkele maand is regtig warm, daarna begin dit reeds weer koud raak. Die temperatuur speel mos daar tussen +35 en -38 grade Celsius.
Ek het die naweek so koud gekry dat ek met ‘n mussie geslaap het – soos my oupa. En nie eens omgegee het dat my hare sleg gaan lyk as ek opstaan nie. Mens moet maar doen wat jy moet doen om warm te kry!
Iedergeval, gister toe manlief so halfses by die huis kom, moet ek saam om te gaan vleis koop. En het ek nie heerlik warm gekry nie?
Ek het ‘n dun, langmou bloes aangetrek, met my ligblou Kaz jas bo-oor. Sykouse, met kort kouse en my Kaz stewels met die skaapwol binne. Dit was absoluut snoesig, veral omdat die jas se kraag hoog teen die nek opkom om koue lug uit te hou. So hoog dat ek my gesig daarin kan verskans teen die wind. Ek was sommer vies dat ek nie ook ‘n mussie opgesit het nie.
Want een ding weet ek verseker. Suid-Afrikaners trek ook nie aan om hulself teen die koue te beskerm nie. Manlief het oorgeskakel na sy stewels van Kaz met die wol binne, sy Russiese pet en een van sy winterbaadjies wat laag oor sy boude hang. En almal by die werk verras met hoe om warm te bly.
En ek?
Ek het kyke gekry, en gelag. As hulle maar weet hoe snoesig ek was sonder om soos ‘n opgestopte wors te voel of lyk, bestel hulle dadelik ‘n ordentlike jas van Kaz af … met stewels.
Want kan ek maar vertel?
Ek het nie in Kaz so koud soos hier gekry nie.
Dit kan ook wees dat my lyf nou wolf skree as dit koel is, want sy weet hoe koud koud is. Maar dan besef ek dit is nie die probleem nie. Ons huis is koud al is daar ‘n twee vertrekke verwarmers wat heel dag brand. Help nie veel as die krag die hele tyd afgeskakel word nie.
In Kaz was my huis warm en ek het geweet as ek uitgaan moet ek myself teen die koue beskerm. Dus het ek selde daar koud gekry. Hier is dit sommer binne en buite baie koud …
Dit kan natuurlik wees dat ek so bietjie vergeet het hoe koud Suid-Afrikaanse winters kan wees, want ek het drie jaar gelede ‘n winter in Suid-Afrika beleef. Maar nee, dit is nie die geval nie, want ek kry hier baie kouer as in Kaz.

Die foto is op 7 Maart 2020 by die Charyn Canyon geneem. Die rivier skei Sjina (regs) van Kazakhstan (links). Die ysreën het ons hard in die gesig gepiets. Toe het die virus in Sjina hoofopskrifte gehaal voor dit in ‘n pandemie ontaard het. Die Maandag is ons terug Ust toe en toe word die land ingeperk, ons ingeperk. Daarom is dit ‘n spesiale foto wat herinner aan ‘n tyd toe ons sorgeloos in Kaz kon toer om alles te besigtig. Dit is hierdie jas wat my snoesig hou in Kuruman …
Dit bly die pragtigste jas, Christa!
LikeLiked by 2 people
Dankie, Una, ek lief hom.
LikeLike
Ek dink ons raak gou gewoond aan die temperature van die omgewing waar ons woon. Besoekers van KZN of Gauteng by voorbeeld voel baie koud as hulle hier aankom vir die Nasionale Kunsfees in Julie-maand en dra dik truie of baadjies, terwyl ons wat hier woon nie SO koud voel nie. As ek in die winter die Laeveld besoek, lag ek as my skoonsuster ‘n trui aantrek en ek nie – want dit is koud vir haar, maar nie vir my nie: haar ‘koud’ is eintlik warmer as my ‘koud’. 🙂
LikeLiked by 2 people
Dit is so waar.
LikeLike
Ek is mal oor jou besmfywing van die son in Suid-Afrika wat by jou kamervebster inloer om te kyk of jy al wakker is.
LikeLiked by 1 person
Dankie, Letty-Ann, dit voel of hy vir my loer.
LikeLike
#beskrywing
LikeLike
Hier word daar ook telkens vir my vertel mens trek lagies aan in die winter. Ek kry klaar na 10 jaar hier nie meer so koud nie maar pas ek plaas op in berge vrek ek veral saans van die koue. N hout vuur is die lekkerste warm wat mens kan kry. Die Kalahari is bekend vir hul koue nagte in die winter.
LikeLiked by 1 person
Lagies in Suid-Afrika werk vir my. Dik jas en as dit warmer word, is ek dunner aangetrek.
LikeLike
Netso.
LikeLike
Ek dink ook mens se bloed raak dun…so dun dat die bloed eerder soos yswater lyk, want vet weet, ek kry ook vreeslik koud. Trek ook lagies en lagies aan maar word net nooit warm. En my nuwe blyplek het net son in die hoofslaapkamer…as dit bewolk is het ons ‘n tweeslaapkameryskas….
LikeLiked by 1 person
Nê, dit verklaar alles! Dun bloed wat soos water ys.
LikeLike
Ek het geen bebul waarvan julle praat oor koue nie😬. Wat ek wel weet is hoe ouer ek word hoe minder cope ek met hierdie hitte. Christa, -38, ek kan my nie eens dit probeer indink nie. Mal oor jou jas. En die foto…hoe min het ons geweet wat volg daai foto. Julle lyk pragtig daarop, koud, maar pragtig🌻
LikeLiked by 1 person
Dankie Virgo, en ja, min het ons geweet wat op ons wag.
LikeLike
Ons kan beslis nou by julle tweetjies leer van warm bly. Ek bly oggende ook in die bed met lees- en skryfwerf. Die koue huis mergel al my kreatieiteit uit my uit!
LikeLiked by 1 person
Net so, vriendin.
LikeLike
Lekker gelees
LikeLiked by 1 person
Dankie, vriendin.
LikeLike