Die sentrale verhitting is aan

Sjoe, wie sou kon raai dat ek sou dink dat dit ‘n titel vir ‘n inskrywing kan wees? Ek is egter so dankbaar dat ek dit net so moes beskryf.

Ek sit elke dag met my voete op die verwarmer, wat nou so drie of vier maande lank yskoud was. Voete in die lug. Om te keer dat ek my bene doodsit.

Want sien, as ek eers met die navorsing besig is, vergaan tyd. En dan protesteer my bene as ek wil opstaan. Dus hou ek die voete in die lug, om te kan werk sonder om my aan ‘n gekerm te steur.

Toe ek my voete vanoggend weer ingedagte daar sit, kry ek ‘n verrassing, dit is warm. Eers kliek my brein nie, want ek is met data besig. Toe protesteer my voete, hulle brand. Ek wou hulle eers nie glo nie, want ek het nie vanoggend in ‘n warm huis opgestaan nie.

En ek weet al hoe warm word ons huise as die sentrale verhitting aan is. Mens loop dan nie met ‘n langmou slaaphemp nie, jy sal veel eerder kaal in die winter loop as om warm pejakkies aan te trek. Dus is ek dalk van die eerste mense in Qazaqstan wat weet dat die sentrale verhitting vanoggend aangeskakel is.

Toe hol ek kamer toe en maak manlief wakker met Raai wat? Net so terloops, ek pes dit as hy my so wakker maak. Met ‘n vraag. Want hoe moet my brein nou so vinnig van zero na hero oorskakel met ‘n antwoord?

Dus gee ek die antwoord toe hy net omdraai met ‘n mmmm-uhhhmmm. Sommer in Engels, al is die konteks verkeerd. “The heat is on!” Dit het net so lekker op die oomblik geklink.

Want sien, ons het begin koud kry in die huis. Dit is nie so koud soos Suid-Afrikaanse huise nie omdat die mure baie dik is en al die vensters en deure dubbele glaspanele het. Ek het al vertel hoe dit werk.

Maar dit word koud genoeg dat ons die baie dik warm kombers, wat ons in April met beterweterige Wie de ongeluk gebruik so ‘n dik kombers hier? bo-op ‘n kas gaan sit het, twee weke gelede gaan afhaal het.

Om net asseblief nie in die nag met yskoue lywe wakker te word nie. Want dit raak al ‘n geruime tyd sub-zero (-7) in die nag. Soggens is dit nog subs as manlief werk toe gaan.

En ek het reeds ‘n geruime tyd die hortjies, skuus vir die misbruik van die woord, dig gehou. Alle vensters en deure is bedags toe, maak dit net vir ‘n rukkie op die Qazaqstan manier vir ‘n vinnige lugverkoeling oop. Dan is dit weer dig.

Die Qazaqstan-manier is ook al verduidelik, die vensters kan op twee maniere oopmaak. Gewoonweg en kantel. Die kantel maak dit moontlik om ‘n klein bietjie lug in te laat sonder om die hele vertrek eensklaps ysig te maak. Want glo my, jy kan nie voor die venster staan as dit so ysig is nie.

Dit voel op die oomblik soos in Metro (Weltevredenpark) by die yskasgedeelte. Jou klere word dadelik ysig, jou neus brand van die koue en die lus vir vars lug verdamp soos mis voor die son.

En nou is dit warm in die huise, dus gaan die koue skok seker nog groter wees as ek ‘n venster oopmaak.

Maar ek gee nie om nie, ek het in die week met ‘n warm onderbaadjie in die huis begin loop. Dus gaan ek binne ‘n dag oorskakel na bandjiesbloese en kort broeke in die huis.

Wat beteken dat mens se brein weer in eerste rat moet werk. In sulke kleertjies sal mens beslis vries as jy die gebou verlaat.

Wat ek natuurlik nie sal doen nie, ek gaan nie met sulke kleertjies aan dorp toe nie. Maar as ek sou, sou ek gou my fout agterkom, sodra ek die buitedeur van die gebou oopmaak.

En dan sal dit ‘n hele misie wees om warm te gaan aantrek. Wag vir ‘n hysbak wat ‘n ewigheid vat om af te kom en nog een om op te gaan. Vir hom is agt vloere baie, baie hoog! Vir my ook as ek dit te voet sou moes doen.

Ons sou vandag gaan winterslakens koop het, nou is dit nie meer nodig nie. Ons gaan, sodra die huis snoesig is, die dik kombers terugsit waar hy lank gewag het om vir twee weke gebruik te word. Bo-op die kas. Ek is egter so dankbaar dat ons nie van hom ontslae geraak het om plek in ons woonstelletjie te maak nie.

Ons is dus nou amptelik besig om gereed te maak vir ‘n ysige winter. Wat snags in die sub-zero’s naby -40 kan gaan speel.

Toe ons in Januarie kom kyk het, het die kinders gevra hoe mens oorleef. My seun speel nou met my antwoord. Koud is koud. Maak nie saak hoeveel onder zero nie.

En dit is waar. En tog ook nie. Hier is grade van koud. Nie gemeet met termometers nie. Maar aan wind.

Sub-zero sonder wind is koud wel koud.

Sub-zero met wind is ‘n ander storie. Dit is onmenslik koud. Die wind waai jou yskoue hare in jou gesig. Die wind druk yskoue broekspype teen jou bene vas. Die wind druk yskoue baadjies teen jou rug vas, om deur ‘n onderhemp en ‘n bloes voelbaar koud te wees. Die wind laat jou ore pyn, jou oë traan. Die wind waai deur elke gaatjie in ‘n serp.

Die wind druk ons in dik wintersjasse met pels om die kraag en handskoene en skoene met pels uitgevoer. In serpe en mussies. Om amper om te kap van hitte-uitputting as jy in ‘n gebou instap.

Dan pluk jy jas oop, handskoene af en verwens jy die warm skoene. Waarin tone kla omdat hulle warm kry. Te warm. Myne wat altyd koud is, is dan te warm.

Die dae sonder wind smokkel met jou kop. Dit is dan ook warmer, sodra jy begin stap, verwens jy jou slim idee na die vorige dag se koue broekspype om sykouse onderaan te trek. Word die rits van die gaansveerbaadjie oopgemaak, sweet jy in die baadjie as jy dit nie doen nie en wil jy dit uitpluk as jy in ‘n winkel instap. Stap jy spelende met die ritssluiter soos ‘n kind. Af om af te koel, op want dit is tog koud, af om af te koel.

Tog bid mens hier vir wind. As die wind nie waai nie, en die vlag op die berg hang soos ‘n nat waslap aan sy stok, kan mens nie asem kry nie. Slaan jou sinusse toe. Protesterend teen vuil lug. Want ons bly in ‘n nywerheidstad. Aan die voet van ‘n bergreeks. Wat die lug hier gevange hou. As die wind nie waai nie.

Die wind is ons genadig. Waai gereeld dat die vlag punt in die wind staan. In al vier windrigtings. Seker maar om met die mooie vlag te spog.

Sommige winkels het sulke groterige poshokkies met sleutels in die slotte. Jy kan, as jy instap, jou jas en warm goed insit, sluit en weer vat as jy loop. Ek het nog nie, is te vergeetagtig. Sodra dit baie kouer is, sal ek dit wel doen. Mens sal nie vergeet om jou baadjie te gaan haal nie …

Ek glo dat ons ‘n ruk te warm gaan kry met die verhitting wat aan is. Maar ek gaan nie kla nie. Was bekommerd dat hulle gaan vergeet. En dan is ons in vir ‘n yskoue verrassing as die sneeu eers begin val. Dit gaan blykbaar einde Oktober gebeur.

O ja, hier is die weervoorspellers op die bôl! As dit buite reën, reën dit ook op my toep. So ook met sneeu en ysreën en wolke en sonskyn en hitte en koue. Hier kan jy op jou toep kyk om reg aan te trek, die aanvoelbare temperatuur word ook gegee. Want as die wind waai, is die baie kouer as wat dit regtig is.

Foto: Kazakhstanstraat, naby die mark. 3 Oktober 2019, herfs in Qazaqstan.

10 comments

  1. Christa, ek het matelose verbeeldingskrag en elke keer as ek lees van die koue daar by julle, trek ek my baadjie aan. Ek het reeds vir die ander bloggers vertel van my en my broer (ek toe nog in die laerskool, hy 5 jaar ouer) wat Heinz Konzalik se boeke gaan uitneem het by die biblioteek. Ons sit op sy bed en lees vir mekaar voor. Strafkamp in die Berge. Dit sneeu in Seberië, die gevangenes in die strafkamp het nie warm klere nie en hulle kry net koue sop gemaak van vrot kool om te eet. En ons begin koud kry. Laat die middag toe my ma van die werk af kom, sit albei van ons onder ‘n dik pak wolkomberse – in die hetige Desember-somervakansie – en ons het die hele yskas leeg geëet. Hou maar die voete warm, hoor.

    Like

  2. O jinne ek sal dit glad NIE maak daar nie. Ek is vreeslik pieperig in die winter, kry niks gedoen. En dan is dit nie eers die helfde so koud soos by jou nie. Sjoe sjoe. Sterkte daar, bly warm en gesond❣

    Like

    1. Hi Bondels, ek stem, winter is wild. Maar ons winters in ons huise is warmer as herfs en beslis baie warmer as SA se winters. Ek kry nou weer gewerk, het so vir drie weke koud gekry in die huis. Nie erg nie, net genoeg dat mens dink jy moet in winterslaap in gaan …

      Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s

This site uses Akismet to reduce spam. Learn how your comment data is processed.